Die Skrif roep ons op om aan Jesus Christus Goddelike eer te bring

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-01-26
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 10
Preek Inhoud: 

Preek: 

 

Hierdie is die laaste van ‘n viertal preke oor Christus se Godheid, en dit aan die hand van NGB art. 10.

Die Bybel openbaar Christus se Godheid op ‘n uitbundige wyse.

Daarmee bedoel ek, dis nie net ‘n geïsoleerde teksie of twee nie.

Dis soos ‘n bulderende rivierstroom wat onstuitbaar is.

Eerstens gee die Skrif aan Jesus Goddelike Name.

Allerhoogste, Owerste oor die Konings van die aarde, Sterke God, en so meer.

Name wat vir ‘n blote mens onvanpas is.

Tweedens beskryf die Skrif Jesus se Goddelike eienskappe.

Hy is ewig, Hy is almagtig, Hy is alwetend, Hy is ... vul maar in.

Derdens, daarna het ons laasweek gekyk, beskryf die Skrif Jesus se Goddelike werke.

Dan dink ons eerste aan al die wonderwerke wat Jesus op aarde gedoen het.

Hulle was ‘n onstuitbare stroom.

Genesings, liggaamlik en geestelik, spysiging van duisende met enkele broodjies en vissies; loop op die water; wonderbare visvangste, en wat veral spektalulêr was: opwekking van mense uit die dood.

Die grootste wonders was dat Hy self uit die dood opgestaan het, en dat Hy opgevaar het na die hemel.

Die wonders, die Goddelike werke wat Jesus op aarde gedoen het, was soveel dat, skryf Johannes, dat as hulle beskrywe moes word, die wêreld self die geskrewe boeke nie sou kon bevat nie (Joh 21:25).

En dan vierdens, en dit is waarna ons vanaand kyk: Christus ontvang Goddelike eer.

Ook hieroor is die Bybel uitbundig.

Hoe daar in hede, verlede en toekoms aan Jesus Christus Goddelike eer bewys word.

Daarna mag ons vanaand vanuit die Skrif kyk, en ook hoe dit op ons lewe van toepassing is.

Die NGB verwoord hierdie werklikheid aan die einde van artikel 10: Christus is die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.

Nou kom ons leer vanaand hoe ons Christus aanroep aanbid en dien.

 

Tema: Die Skrif roep ons op om aan Jesus Christus Goddelike eer te bring

 

1 Goddelike eer met woorde en dade

2 Goddelike eer met geld en besit

3 Goddelike eer met tyd

 

1 Goddelike eer met woorde en dade

Elke doop vind plaas in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees.

Om in iemand se Naam gedoop te word, is ‘n eer wat net iemand toekom wat God is.

So word elke keer as die Naam van Jesus Christus by die doopvont klink, Goddelike eer aan Hom bewys.

Goddelike eer aan Jesus blyk ook daaruit dat mense in Hom glo.

Mense glo in Hom nie toevallig nie, maar omdat Hy self daartoe opgeroep het:

“... glo in God, glo ook in My” sê die Here Jesus vir sy dissipels in Johannes 14:1.

Goddelike eer aan Jesus blyk ook daaruit dat mense voor Hom kniel.

Ook daartoe word ons opgeroep in die Skrif.

Dink aan Filippense 2:9-10: “Daarom het  God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is.”

Hoewel die apostels self ook wonderwerke kon doen, onder andere Paulus wat hierdie opgeskryf het, was dit nie die bedoeling dat mense voor die apostels sou buig nie.

Toe die inwoners van die stad Listra, nadat Paulus en Barnabas daar ‘n wonder verrig het, voor hulle begin neerkniel, het hulle heftig gereageer.

“Ons is net sulke mense soos julle” (Hand. 14).

Hulle het die mense gekeer om enigsins verder voor hulle te kniel.

Daarenteen, as mense voor Jesus kom kniel en Hom aanbid het, het Hy hulle nie gekeer nie.

Dink aan Thomas, wat die opgestane Heer aanbid het.

Dink aan Maria Magdalena en die ander Maria wat knielend sy voete gegryp het en Hom aanbid het.

Jesus het dit toegelaat.

Jesus het die mense nie gekeer nie, wat Hy verdien Goddelike eer in woord en daad.

 

Die absolute hoogtepunt in die Bybel is die lied wat vir die Lam gesing word, Openbaring 5, waar die apostel Johannes getuig:

“Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende; en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.

En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (vers 12-13)

Hierdie, gemeente, gee vir ons ‘n voorsmakie van die hemel en die nuwe aarde.

Hoe die absolute, sublieme oneindige lof en eer aan die Lam, dit is Jesus Christus, gebring word.

Hoe verlang ons na daardie dag, as dit gaan gebeur!

Die rillings sal oor jou rug loop, as daardie massakoor begin sing.

Mens kan dink aan die slotkoor van G.F. Händel se Messiah Oratorium, wat hierdie teks uit Openbaring besing:

Worthy is the Lamb that was slain.

and hath redeemed us to God by his blood.

to receive power and riches and wisdom and strength and honour and glory and blessing.

Blessing and honour, glory and power be unto Him

that sitteth upon the throne and unto the Lamb  forever and ever.

En dan sluit die Messiah af met die uitbundige amen, wat die vier lewende wesens geroep het (Open 5:14).

Hierdie skouspel van klank wat Händel gekomponeer het, gee ‘n klein bietjie daardie ervaring, ‘n klein voorproefie.

Dit is goed as ouers, en ook oupas en oumas, hulle kinders en kleinkinders in kontak bring met sulke musiek.

Dit is ook deel van die geloofsopvoeding wat julle aan julle kinders en kleinkinders gee.

Laat hierdie koor van alle skepsele uit Openbaring 5 ons inspireer om aan Christus Goddelike eer te gee, met al ons woorde en dade!

Hy verdien Goddelike eer.

Hy wat aan die regterkant van die troon van God gaan sit het (Heb 12:2).

 

In hierdie massakoor staan iets waar ons nou in die tweede punt na gaan kyk, naamlik:

Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang al die rykdom.

 

2 Goddelike eer met geld en besit

Geld en besit is gevoelige onderwerpe.

In baie samelewings is dit so, en dit is ook so in ons s’n, dat daar twee dinge is wat mense se bes bewaarde geheim is: Hulle sekslewe en hulle bankrekening.

Dis dinge waar mense nie wil hê ander moet inmeng nie.

As ons sing: Neem my lewe, laat dit HEER, toegewy wees aan u eer, dan val ons geld en besit ook daaronder.

Dit is nie toevallig dat die Bybel soveel aandag aan geld skenk nie, selfs meer as aan seksualiteit.

Die Here weet waar mense se harte is.

 

Simon se hart was primêr by sy geld.

Die feit dat hy Filippus gevolg het, en begeer het om die tekens en groot kragte te hê wat Filippus gehad het, was vir hom ‘n middel tot ‘n doel.

Dit was vir hom soos ‘n baie belowende aandeel wat hy wou koop.

Hy was bereid om die nodige geld vir die aandeel te betaal, want hy het met sy eie oë gesien dat dit groot potensiaal het.

Hierdie aandeel sou vir hom baie dividente oplewer.

Dit was in Simon se hart.

Dit was wat hom beweeg het om by Filippus te bly.

Daarom het Petrus hom streng aangespreek: “Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry. Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie.” (Hand 8:20-21)

 

Ja gemeente, om aan Christus goddelike eer te kan bewys met ons geld en besit, moet ons hart eers reg wees.

In ons hart moet daar nie dollartekens wees nie – u verstaan wat ek bedoel – maar Christus moet groot wees in ons hart.

En hoe kan Hy nie groot wees in ons hart en lewe nie, as ons besef dat ons alles in elk geval van Hom ontvang het, dat Hy op die troon sit, dat alle dinge in elk geval aan Hom behoort!

Dat Hy dit ons in bruikleen gee om sy koninkryk te bevorder.

 

Gemeente, in ons hart is daar dikwels nog ‘n tweestryd.

‘n Soort kompetisiedenke.

Ons is bereid om vir Christus en sy kerk iets te gee, maar ons wil self wel baie oorhou.

Ons probeer ‘n balans te vind, ‘n balans wat so gunstig moontlik vir onsself uitval.

Maar as  Christus en sy koninkryk groot is in jou hart, dan verval daardie kompetisiegevoel.

Dan word dit werklik: Neem my lewe, Heer – en ook my geld en besit – laat dit aan U gewy wees meer en meer.

Nou laat die duiwel ons soms dink dat Christus se koninkryk onaangenaam is, saai, eentonig.

Maar dis die grootste leuen.

Christus het self sy koninkryk aangekondig met sy eerste wonder op aarde, deur water in wyn te verander, ja ‘n oorvloed aan wyn.

Om al jou geld en goed aan Christus se voete te lê in diens van sy koninkryk, beteken nie dat jy nie meer wyn mag drink nie, dat jy nie meer mag geniet nie.

Ons geniet van alles wat sy skepping bied, maar ons laat ons deur niks meer oorheers nie.

Al is daar ‘n oorvloed aan wyn, ons word nie verslaaf aan wyn nie.

Al is daar ‘n oorvloed aan geld, ons word nie geldgierig nie.

 

Daar is onlangs ‘n wetenskaplike studie gedoen oor waaraan die rykste mense op aarde hulle geld uitgee.

Die vernaamste bevinding uit die studie was, dat hierdie mense die meeste van hulle geld spandeer om hulleself te isoleer.

Om hulleself te isoleer van ander mense.

Hulle wil nie meer saam met ander mense in die vliegtuig sit nie, hulle verkies ‘n privaatvliegtuig.

Hulle wil nie in die hotel saam met ander mense in die hysbak staan nie, hulle verkies ‘n privaathysbak.

Hulle wil nie op die strand wees saam met ander mense nie, hulle verkies ‘n privaatstrand.

Ensovoorts.

 

Nou hierdie gedrag van die rykste mense op aarde om hulleself steeds meer af te sonder, hierdie gedrag staan haaks op die koninkryk van Christus.

In sy koninkryk is dit juis die mededeelsaamheid wat die botoon voer.

Dit is juis die saam ryk wees, saam met Christus, wat die vreugde bring.

In sy koninkryk is die grootste vreugde nie om te kry nie, maar om te gee.

 

Ons ken die pragtige voorbeeld uit Handelinge 4, uit die geskiedenis van die eerste Christelike gemeente.

Laasjaar het ek in ‘n preek hieraan aandag geskenk.

Niemand onder hulle was behoeftig nie.

Almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.

Lukas noem dan die voorbeeld van Joses Barnabas.

Hy het ‘n stuk grond verkoop en die opbrengs ter beskikking gestel aan die koninkryk.

So het hy Goddelike eer gebring aan Christus, nie net op Sondag as hy psalms in die erediens gesing het nie, maar ook met sy geld en besit.

Hy het geluister na Jesus se oproep, wat gesê het:

“Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Luk 12:33-34)

As Jesus oproep: verkoop julle besittings, bedoel Hy nie dat die hê van besittings op sig sondig is nie.

Dit is nie sondig om in aandele te belê om sodoende te voorsien vir jou oudag nie.

Dit is nie sondig om eiendomme te besit om met die opbrengs daarvan ‘n lewe te kan lei nie.

Maar laat ons terdeë besef dat al ons eiendomme en aandele van Christus is.

Laat ons terdeë bereid wees om wat ons oortollig het, om dit aan te bied, soos Joses Barnabas, sodra daar ‘n behoefte is vir die werk in sy koninkryk.

 

Die teks wat ons nounet uit Openbaring gelees het, verklaar:

Die Lam, wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom.

Christus het dit self ook gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde (Matt 28:18).

Aan Hom wat op die troon sit, behoort inderdaad alle dinge.

 

Dit is met hierdie besef wat ons met ons geld en besit behoort om te gaan.

Alles wat ons het, het ons in bruikleen van Hom ontvang.

Hy gee dit aan ons om ‘n bepaalde doel met te vervul.

‘n Doel wat alles te make het met die koms van sy koninkryk.

‘n Doel wat ultiem daarop gefokus is om aan Hom Goddelike eer te bewys.

 

(Tema: Die Skrif roep ons op om aan Jesus Christus Goddelike eer te bring

1 Goddelike eer met woorde en dade

2 Goddelike eer met geld en besit)

 

3 Goddelike eer met tyd

Tyd is ‘n relatiewe begrip.

Vir iemand wat arm is, is tyd veel minder ‘n faktor.

‘n Arm persoon sal nie omgee om ‘n kwartier in ‘n asblik rond te krap, om te kyk of daar iets waardevols in is nie.

As gemeentelede funksioneer ons egter in ‘n ander welvaartsklas.

Ons sal dit as tydmors ervaar om ‘n kwartier in ‘n asblik te krap, om dalk ‘n paar Rand te kan maak uit ou plastiek.

Ons tyd is vir ons meer werd as dit.

Of anders gesê, omdat ons nie honger ly nie, omdat in ons basiese finansiële behoeftes voorsien is, gebruik ons liewers ons tyd vir ander dinge.

Ons is baie meer in die posisie dat ons kan kies wat ons met ons tyd wil doen.

 

Nou hoe gee ons Goddelike eer aan Christus met ons tyd?

Ons het in hierdie verband ‘n gelykenis van Jesus gelees (Luk 14:15-24).

Oor ‘n man wat ‘n groot maaltyd georganiseer het en baie mense daarvoor uitgenooi het.

Hy het sy bediendes selfs uitgestuur om die mense te gaan haal.

Alles was gereed, en die mense kon maar kom.

Maar tot sy verbasing het ieder en elk toe ‘n verskoning gehad.

Die een het ‘n stuk grond gekoop en moes noodsaaklik daarheen gaan om daarna te kyk.

Het het verskoning gevra.

Die ander het sojuis vyf paar osse gekoop, en wou hulle uitprobeer.

Ek vra u, verskoon my tog, het hy aan die dienskneg van die man gesê.

Nog ‘n ander het sopas getrou en kon daarom nie kom nie.

 

Nou hierdie is tipies voorbeelde uit daardie tyd.

Maar sonder veel moeite kan ons dit oorsit in ons eie tyd.

Ekskuus, maar ek sal nie die gemeentedag kan bywoon nie, want ek moet plaas toe gaan.

Ons het ‘n plaas, en daar is dinge wat aandag vra.

Ekskuus, ek sal nie by die kothuismark kan help nie, want ons het laasweek ‘n nuwe karavaan gekoop, en wil dit gaan uitprobeer.

Ekskuus, ons sal nie die nagmaal kan bywoon nie, want ons is dan nog op honeymoon in Mauritius.

Nou al hierdie dinge is nie sondig nie.

‘n Stuk grond koop, ‘n paar osse koop, ‘n vrou trou, plaas toe gaan, met ‘n karavaan op reis gaan, wittebrood hou.

Dit is stuk vir stuk mooi dinge, wat glad nie op gespanne voet met die koninkryk hoef te staan nie, wat juis ook aan die koninkryk diensbaar gemaak kan word.

Maar soos ek nounet genoem het, die allerarmste mense het dikwels baie tyd, selfs om in asblikke te krap.

Hoe ryker mens word, hoe meer geleenthede mens in die lewe kry, hoe kosbaarder word jou tyd, hoe meer word dit ‘n keuse hoe jy jou tyd spandeer.

En dan veral is hierdie vraag dus baie relevant:

Hoe gee jy Goddelike eer aan Christus met jou tyd?

Laat ons onthou wat Christus gesê het, vanaf sy troon: Ek is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde.

Die implikasie van daardie uitspraak is dat alle tyd in elk geval aan Hom behoort, van de begin van die wêreldgeskiedenis af, deur die hede, tot die laaste dag toe.

Dus net soos met besit, is dit ook met tyd.

Die tyd wat ons hier op aarde kry, kry ons van Christus in bruikleen.

Laat ons, as medearbeiders in sy koninkryk, goeie rentmeesters wees van ons tyd.

Kan mens iemand wat ure per dag televisie kyk, ‘n goeie rentmeester noem?

Kan mens iemand wat 70 uur per week werk en dus nie by die gemeentelewe deur die week betrokke kan raak, ‘n goeie rentmeester noem?

Is dit reg as die kuierplekke jou gesig meer sien as die Bybelstudieaande, om nog nie te praat van die bejaardes en hulle wat eensaam in ons gemeente is nie?

Geliefde broeders en susters, laat ons Christus van harte eer met ons tyd!

Ek kan redeneer: My beroep is veeleisend en eis die meeste van my tyd op.

Daardeur maak ek my geld, en ek deel dit ook graag met Christus en sy gemeente.

Maar jou finansiële bydrae is eintlik dan ‘n bietjie om te kompenseer dat jy so min jou gesig laat sien.

Is Christus daarmee tevrede?

Dat jy sy gemeente rojaal wil ondersteun, maar nie werklik jou gesig laat sien nie, nie te veel ‘involved’ wil raak nie?

 

Geliefdes, ook u het ‘n uitnodiging ontvang na die groot maaltyd.

Hoe gaan u met daardie uitnodiging om?

Is u reaksie soos daardie mense langs die paaie wat gedwing moes word om in te kom?

Net vir die duidelikheid, die feit dat hulle ‘gedwing’ moes word, dui daarop dat hulle dit glad nie verwag het nie, dat hulle totaal oorbluf was.

Kom my so ‘n eer toe?

Kyk, daardie Jode wat reeds lank ‘n uitnodiging ontvang het, maar wat sogenaamd beter dinge gehad het om te doen, hulle is nie gedwing nie.

Maar hulle wat totaal onwaardig gevoel het vir so ‘n eer, hulle het hierdie ekstra aansporing nodig gehad.

Kom, jy mag regtig kom!

Die Gasheer wil dat sy huis vol word!

As die genooides nie opdaag nie, weens ander oënskynlik belangriker verpligtinge, sal die Gasheer se diensknegte aanbeweeg na ander.

 

Onthou, gemeente, die ewige vreugdemaaltyd begin al in hierdie lewe.

Die uitnodiging ontvang u al in hierdie lewe.

Dit is Christus wat deur sy diensknegte u roep na die oggend- en aanddiens.

Dit is Christus wat deur die week u tyd vra vir sy saak.

Laat ons die oproep nie van die hand wys nie.

Jesus eindig sy gelykenis deur te sê: “Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.” (Luk 14:24)

 

Ek kom tot ‘n afronding.

Ons mog in hierdie diens aandag skenk aan hoe ons Christus Goddelike eer bewys.

As ons dink aan hoe ons God behoort te eer, dan gaan ons gedagtes dikwels uitsluitlik na wat ons op Sondae doen, na dinge soos psalmsing en bid.

Maar in hierdie preek het duidelik geword hoe ons aan Christus Goddelike eer moet bewys in die volle breedte van die lewe.

Hoe ons dit doen met woorde en dade, met geld en besit, en met ons tyd, ekskuus ek bedoel met sy tyd wat Hy aan ons in bruikleen gee.

Genoeg om hierdie week oor te peins, en mee aan die werk te gaan.

Jesus Christus eis daarmee jou hart op!

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Kom ons prys dan nou Hom en gee aan Hom die Goddelike eer wat Hy so baie verdien in ons amenlied.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 111:1,2

Gebed

Skriflesing: Lukas 14:15-24; Handelinge 8:5-25; Openbaring 5:7-14

Ps 96:4-8

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 10 (Christus ontvang Goddelike eer)

Preek

Ps 113:1-3

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 27:1-3

Kollekte

Ps 75:1,4,6

Seën