Psalm 23

Minister: 
Ds. R Pos
Church: 
Pretoria
Date: 
2019-11-10
Text: 
Psalm 23
Preek Inhoud: 

Gemeente. Psalm 23 is 'n ware troos psalm. Ons mag weet dat die Here omgee vir sy skape. Soos 'n goeie Herder versorg Hy sy skape groot en klein. Hy lei hulle na grasryke weiding met mooi helder water. Ja, dit klink alles baie idealisties. Maar daar is soms ook donker valleie en gevaarlike afgronde. En daar is wilde diere wat die skape se lewens bedreig. Gelukkig lei die goeie herder hulle en bied Hy hulle beskerming. Hy wys hulle die goeie pad, en Hy bemoedig hulle. Die stok en staf is simbole daarvan.

Ja, die eerste deel van hierdie Psalm herken ons dikwels ook in ons eie lewens. Al is die gras dalk nie altyd so groen soos wat hier beskryf word nie en die water nie altyd so helder en volop nie. Soms ontbreek water selfs heeltemal. Hier in Suid-Afrika beïnvloed die gebrek aan reën letterlik die bestaan van baie mense. En deur te min reën verander groen weivelde na dorre vlaktes of na dale van doodskaduwees. Soms word jou siel ook nie regtig verkwik as jy in die spoor van die Here se geregtigheid wil bly loop nie. Wie die Here volg kan juis as gevolg daarvan tromp-op bots met onreg en korrupsie. En soms raak dit jou werk, jou loopbaan en jou bestaan.

Die tweede deel van die Psalm teken 'n heel ander situasie. Die vyande is verslaan en die Here berei vir ons 'n oorvloedige maaltyd. Dit is 'n fees. Ons mag saam met die Here aan tafel sit. Selfs al die dae van ons lewens – sonder einde. Ja, dit bied 'n beeld van die oorvloedige toekoms wat ons te wagte is. 'n Beeld van wat die Here aan ons belowe. Al is dit nie reeds in hierdie lewe gerealiseer nie. Dit lê nog in die toekoms.

Ons het dus te make met 'n psalm waarvan die eerste deel oor ons huidige situasie sing, maar moontlik selfs beter as wat ons reeds vandag ervaar. En die tweede deel is natuurlik uitermate verhewe. Dit lê immers nog heeltemal in die toekoms. Maar, om dit ietwat oneerbiedig te sê: van hierdie belofte kan ek vandag geen maaltyd berei nie; Of: ek kan my maag nie met 'n belofte vul nie.

Dit is opvallend dat beide die eerste en die tweede deel van die Psalm ‘n maaltyd teken. Dit handel oor eet en drink. In die tyd van die Ou Testament het 'n maaltyd ‘n baie groter simboliese betekenis gehad as vandag. Destyds was 'n maaltyd simbool van die lewe, gasvryheid, gemeenskap en feesviering. In die maaltyd vermeld in die tweede deel van Psalm 23 kom al hierdie elemente in oorvloedige mate na vore. Die maaltyd vloei as 't ware daarvan oor. Maar al kan ons dit nie sê van die maaltyd in die eerste gedeelte van die Psalm nie, tog is al hierdie elemente steeds teenwoordig. Ja, soms skaars sigbaar as gevolg van donkerte en skaduwees van die gevaarlike valleie, en soms selfs heeltemal onsigbaar. Want die probleme en gevare vra al ons aandag.

Maar as ons goed lees en sorgvuldig sing, sal ons ontdek dat die Here ons vandag steeds al daardie elemente van gasvryheid gee. Dit wil sê genade, gemeenskap, lewe en feesviering. En ons sien dit ook in 'n baie gekonsentreerde vorm in die maaltyd wat ons gereeld saam hier in die kerk vier in opdrag van die Here self: Die Heilige Nagmaal. In gehoorsaamheid neem ons deel aan ‘n baie eenvoudige maaltyd. Maar dit verhef ons bo die berge en heuwels van ons lewenspad. En dit bied ons ‘n glimp van die toekomstige heerlikheid. Hierdie baie eenvoudige maaltyd verhef ons en verseker ons van die oorvloedige maaltyd wat in die verte spesiaal vir ons voorberei word. En die besondere is dat die Gasheer wat in die verte, in die toekoms, daardie oorvloedige feesmaal vir ons berei, dat Hy ook vandag die Gasheer van vandag se nagmaal is. En daarom weet ons heel seker: Hierdie gasheer sal ons nie met 'n stukkie droë brood en 'n slukkie goedkoop wyn afskeep nie. Nee, Hy vestig ons aandag daarop as Hy sê: So seker as wat jy nou die teken van my liggaam en bloed eet en drink, net so seker is Ek nou reeds besig om vir julle die ewige fees voor te berei. Daarom, brs en srs, onthou en glo dat die liggaam van onse Here Jesus Christus gebreek is en sy bloed vergiet is, sodat ons, vrygemaak van die sonde, vir ewig een kan wees saam met Hom. Met Hom wat ons uit genade waarlik uitnooi na Sy ewige fees.

Amen

Tafel 1

Wat ons nou aan hierdie tafel gaan lees vind plaas ná die verbondsluiting by die berg Horeb. Maar vóór die geskiedenis van die goue kalf. Die wet is dus nog nie op klip tafels gegraveer nie, maar Moses het die wet wel reeds opgeskrywe asook 'n aantal toepassing daarvan. Dit het bekend geword as 'die boek van die verbond'. Moses lees uit daardie boek voor ten gehore van die volk en gee daarna opdrag om offers te bring. Dit word duidelik: Sonder bloed vergieting kan daar geen verbond tussen die Here en die volk bestaan nie. Kom ons luister na die woord van die Here (Eksodus 24).

Die bloed wat as fondament dien van die verbond is op daardie oomblik nog afkomstig van diere. God aanvaar voorlopig daardie bloed as teken dat die sondes van sy volk weg gewas sal word. Daarom mag die verteenwoordigers van die volk reeds baie naby kom aan Hom, die heilige God. Hulle mag selfs in Sy nabyheid aansit om te eet. Sonder dat die Here hulle voor Hom wegvaag (Hy het Sy hand nie na hulle uitgestrek nie!). Hierdeur het die teken om saam met die Here te mag eet, ‘n simbool geword van redding. Die maaltyd saam met mekaar en met die Here simboliseer ons gemeenskap met mekaar en met God.

So mag julle eet en drink aan hierdie tafel. Ervaar daarin dat God sy hand nie teen ons. wat deur Hom genooi is, ophef nie. Ons verstaan: dit is slegs moontlik deur die bloed van Christus. Ons kan dit sien, en ons kan dit selfs proe deur die brood en wyn wat ons binnekort in ons liggame sal opneem. Ons is sondaars, maar tog een in Christus.

Tafel 2 (1 Samuel 16: 1-5)

Hier is weer sprake van ‘n maaltyd saam met die Here. 'n Offermaaltyd. Wat was die aard daarvan? Dit beteken dat jy eers jou offergawe aan die Here afgestaan het. Daarna is grootste deel daarvan aan jou terug gegee wat bedoel was vir die gesamentlike offermaaltyd. Dit beteken dat die Here as’t ware Sy voedsel met jou deel in die offermaaltyd. Samuel het in hierdie spesifieke geval 'n jong koei na Bethlehem gebring en aan die Here afgestaan. Dit beeld uit dat die Here self die voedsel voorsien. Maar diegene wat ge-offer het moes hulleself vooraf reinig. Jy moes voorbereid aan tafel aansit. Vir die nagmaal ken ons nie meer hierdie suiwerings ritueel nie, maar in beginsel geld dit nog steeds: Jy moet sorg dat jy reg staan teenoor die Here. En dan besef ons: Dit kan nooit sonder Christus nie. As Christus nie die belangrikste in jou lewe is nie, dan is die viering van die nagmaal uiters riskant. Maar met Christus is hierdie maaltyd juis 'n teken van jou redding deur Hom. Daarom, kom ons eet en drink met vreugde!

Tafel 3 (Sefanja 1: 7)

Hierdie oproep staan in die konteks van vuur en vernietiging. As die groot dag van die Here aanbreek, dan sal al sy vyande vernietig word. Maar wie die dag verwag en stil word voor God, mag weet dat God op daardie dag 'n offer-maaltyd sal berei. Met wie? Met sy gaste, diegene wat Hy geheilig het. Dit is nie mense wat heeltemal sonder sonde is nie. Dit is mense wat hul lewens aan God toewy. Hoekom? Omdat God hulle daarvoor geheilig en afgesonder het. Daarom is die offermaaltyd vir hulle bedoel! Sulke mense luister na die uitnodiging om te kom. Dit kan slegs gebeur as jy verbonde is aan Christus. As jy leef vanuit jou doop wat jou immers aan Christus verbind. Dan mag jy die maaltyd met Hom deel. Dan mag jy selfs vandag al begin met die viering van hierdie ewigdurende fees. Eet en drink daarom met vreugde!

Tafel 4 (Openbaring 3: 19-20)

Die Here staan by die deur van ons lewens en Hy klop. As jy oopmaak dan beteken dit dat jy breek met ‘n lewe waar Christus slegs 'n ondergeskikte rol speel. As jy oopmaak dan gee jy Christus die hoofrol in jou lewe en dan mag jy saam met Hom maaltyd hou. En om aan die maaltyd deel te neem is baie meer as om voedsel te gebruik. Dit is om jou lewe ten volle met Christus te deel en om reeds vandag fees te mag vier. Omdat jy reeds vandag ewig mag lewe saam met Hom wat ook vir jou die dood oorwin het. Hy sê: Ek is vir jou die brood van die lewe. Neem dus die brood en eet, en ontvang die beker en drink. En wees bly dat jy deel het aan Hom wat die lewe is.

Liturgie: 

Votum

Seëngroet

Psalm 98: 1,2

Wet

Psalm 81: 1,4,11

Gebed

Skriflesing: Psalm 23

Preek

Psalm 23: 1-3 (1ste beryming)

Lees Nagmaalsformulier

Apostoliese Geloofsbelydenis (Skrifberyming 71)

Gereedmaak van die tafel

Skrifberyming 18: 1-5

Tafel 1
Opwekking
Skriflesing: Exodus 24: 7-11
Psalm 40: 2

Tafel 2
Skriflesing: 1 Samuel 16: 1-5
Psalm 40: 3

Tafel 3
Skriflesing: Sefanja 1: 7
Psalm 40: 4

Tafel 4
Skriflesing: Openbaring 3: 19-20
Psalm 40: 8

Lofverheffing

Psalm 103: 11

Gebed

Kollekte

Psalm 98: 4

Seën