Die Here Jesus Christus roep sy ampsdraers nie op grond van hulle meriete nie, maar omdat dit Hom behaag om hulle te gebruik

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria
Date: 
2019-12-01
Text: 
Mattheüs 9:9-13
Preek Inhoud: 

Die Here Jesus het verskillende soorte dissipels en apostels geroep.

Daar was apostels soos Petrus en Andreas, Jakobus en Johannes, wat vissermanne van beroep was.

Na hulle roeping het hulle, soos Jesus gesê het, vissers van mense geword.

Vissermanne was in daardie tyd, soos dit vandag ook nog maar is, nie baie ryk mense nie, ook nie hoog opgeleide mense nie.

‘n Hoogopgeleide apostel was iemand soos byvoorbeeld Paulus.

Hy was opgelei aan die voete van onder andere Gamaliël.

Ons sou vandag sê: hy het sy opleiding by die elite universiteit van die Jode ontvang.

En dan was daar Mattheüs.

Hy was weer ‘n heel ander soort persoon.

‘n Tollenaar wat weens sy beroep met ander tollenaars en sondaars omgegaan het.

Ons weet dat tollenaars hulleself dikwels op onregmatige wyse verryk het.

Dit was tipies ‘n soort beroep waaroor die ‘kerkmense’ van daardie tyd gefrons het.

 

Tema: Die Here Jesus Christus roep sy ampsdraers nie op grond van hulle meriete nie, maar omdat dit Hom behaag om hulle te gebruik

 

Nou hierdie tollenaar Mattheüs wat Jesus in ons teks as sy apostel roep, word in die ander Evangelies, in Markus en Lukas, Levi genoem.

Dit was nie ongebruiklik in daardie tyd dat mense meer as een naam gehad het nie, ‘n Griekse en ‘n Hebreeuse naam.

Net soos die swartmense hier in Suid-Afrika dikwels ‘n Engelse naam het, asook hulle oorspronklike naam in ‘n Afrikataal.

Mattheüs het as tollenaar waarskynlik baie met buitelanders omgegaan, Grieke en Romeine, en sodoende het hy ook ‘n Griekse naam gehad.

Sy Joodse naam was egter Levi.

 

Jesus het vir Mattheüs by die tolhuis, naby Kapernaüm, gevind.

‘n Besige pad het vanuit die suide, vanaf Egipte, deur Kapernaüm gekom, rigting die noorde, na Damaskus toe.

Die Romeinse oorheersers het op hierdie roete tol gehef.

Hulle het vir hierdie werk tollenaars, oftewel belastingbeamtes, aangestel.

Hierdie mense was oor die algemeen by die Jode gehaat, nie net omdat hulle by die Romeine in diens was nie, maar ook omdat hulle dikwels hulleself onregmatig verryk het.

Onregmatige verryking met tolgeld is skynbaar iets van alle tye.

 

Mattheüs se agtergrond was nou nie juis so dat mens kon voorspel het dat hy later een van Jesus se apostels sou word nie.

Tog het dit die Messias behaag om vir Homself ‘n apostel uit daardie milieu te roep.

‘n Milieu wat gekenmerk is deur groot geld en sedeloosheid.

Hoekom eintlik?

En wat nog meer opval, die evangelis skryf daaroor in ons teks:

Jesus het hom nie net uit daardie milieu weggeroep nie.

Hy’t hom nie as ‘t ware saamgevat en in ‘n klooster gaan sit nie.

Nee, nadat Mattheüs geroep is, lees ons dat Jesus aan tafel was by Mattheüs, wat ‘n feesmaal gehou het.

‘n Feesmaal waarby daar baie tollenaars en sondaars aanwesig was.

Jesus was as ‘n gas daar aanwesig.

Hy het daar, in die huis van die belastingbeampte, aangelê tussen al Mattheüs se kollegas en vriende, tollenaars en sondaars.

 

Nou wat bedoel die evangelis met die woord ‘sondaars’ as hy dit in vers 10 gebruik?

Elke mens op aarde is ‘n sondaar, dit is duidelik.

Dit sou die Fariseërs ook nie ontken het nie.

Maar in hierdie vers gebruik die evangelis hierdie woord soos dit in die omgangstaal toe normaal was.

Die tollenaars was mense wat woekerwinste gevra het, wat bekend gestaan het vir hulle oneerlike sake.

En waar daar baie geld is, daar duik al gou ook ander tipes mense op.

Slegte mense ... geld, drank en seks.

Die tollenaars het hulle geld uitgegee op hierdie soort genietinge.

Aan hulle feesmaaltye het die drank gevloei, en die prostitute het op hulle skote gesit.

 

Vir die Fariseërs was dit onmoontlik om soiets te doen – om aan ‘n maaltyd deel te neem in die huis van ‘n tollenaar.

Nie net omdat hulle op hierdie sosiale klas in die samelewing neergekyk het nie, maar ook weens godsdienstige redes.

Hulle godsdienstige ywer vir die reinheidswette en die spyswette byvoorbeeld.

So ‘n maaltyd in ‘n tollenaar se huis was tipies ‘n soort setting waar hierdie wette nie werklik nagekom is nie.

Hulle het hulleself daarom afsydig gehou van sulke sosiale geleenthede.

En dit het hulle opreg verbaas dat Jesus wel aan so ‘n maaltyd in ‘n tollenaar se huis deelgeneem het.

 

En soos dit dikwels gebeur, het hulle nie die moed gehad om Jesus op die man af te vra nie.

Hulle kla eerder bietjie by sy dissipels.

Hoekom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?

Hierdie was natuurlik ‘n suggestiewe vraag.

Dit was bedoel om die Meester by die dissipels af te kraak.

Die insinuasie was: Is julle Meester dan nie goed genoeg op die hoogte van al die voorskrifte in die wet oor die reinheids- en spyswette nie?

Watter soort leermeester het julle, wat sy Bybel skynbaar so sleg ken?

 

Maar dan ineens meng Jesus Homself in die gesprek.

Ineens word dit stil in die kringetjie, toe die persoon oor wie hulle skinder, self daar opdaag.

En soos Hy altyd gedoen het in sy bediening, gebruik Jesus nou ook elke geleentheid.

Hy sit die Fariseërs op hulle plek, met ‘n spreekwoord.

Die wat gesond is, het die dokter nie nodig nie, maar die wat siek is.

Jesus maak hier duidelik dat Hy self die dokter is.

En Hy ontferm Hom oor hulle wat siek is.

Dit in teenstelling met hulle wat nie wil meng met die siekes nie.

Laat dit duidelik wees, meng met die siekes beteken nie dat Jesus self ook siek geword het nie.

Meng met tollenaars en sondaars, het nie beteken dat Jesus self dronk en sedeloos geword het nie.

Uit die res van die Evangelie is duidelik dat Hy prostitute oproep om nie verder te sondig nie.

Maar Jesus meng met tollenaars en sondaars, om hulle op te hef.

Daarenteen was die Fariseërs seker die moeilikste pasiënte.

Hulle het gewalg van ander se siektes, in die waan dat hulle self gesond was.

Hulle het aanstoot geneem aan ander sondaars, in die waan dat hulle self regverdig was.

Maar Christus het nie gekom om sulke regverdiges te roep nie ...

Wanneer Jesus in vers 13 die woord ‘regverdiges’ gebruik, het dit ‘n ironiese byklank.

 

Jesus verduidelik sy spreekwoord met ‘n verwysing na die profeet Hosea.

Maar gaan leer wat dit beteken ...

Dit was ‘n tipiese uitspraak van die rabbyne, as hulle mense na die Skrif terugverwys het:

Gaan leer wat dit beteken ...

Dit doen Jesus nou met die Fariseërs, hulle wat insinueer dat Hy die Skrif so sleg ken.

Sê die HERE nie deur die profeet Hosea: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie?

Ek het behae in kennis van God meer as in brandoffers (Hos 6:6) ...?

Die HERE soek die hart van sy volk.

Net soos dit in Hosea se dae was, so was dit toe ook.

Die Fariseërs weet alles wat die wet voorskryf oor reinheid en spyswette.

Maar tog leef hulle ver van die HERE.

Dis nie dat die HERE brandoffers absoluut verwerp nie, maar hulle is minder belangrik as vroomheid en geloof.

God wil dat hulle Hom persoonlik leer ken, eerder as dat hulle alles van die brandoffers af weet maar ver van Hom lewe.

So was dit ook by die Fariseërs.

Hulle het ‘n ongesonde selfvertroue gehad op hulle wetswerke, en hulle het geen behoefte aan Jesus se ontferming gehad nie.

Aan ‘n dokter het hulle geen behoefte gehad nie.

En so het hulle, wat skynbaar die Skrif so goed ken, nie die boodskap, nie die bedoeling van Hosea se profesie toegepas nie.

Hulle het die tollenaars en sondaars, die dwalendes veroordeel, sonder om ‘n helpende hand na hulle uit te steek.

 

Christus het egter nie na die aarde gekom om na die Fariseërs se pype te dans nie.

In sy optrede het Hy Hom nie laat inbind deur al hulle voorskrifte nie.

Sy optrede het hulle inderdaad laat frons, om dit nog sag te stel.

En die keuse van sy dissipels en van sy apostels, dit was ook sy soewereine keuse.

In ons teks roep Hy nie een van hierdie Skrifgeleerdes of Fariseërs tot sy apostel nie.

Nee, sy soewereine keuse val op Mattheüs, die tollenaar.

 

So ons leer veral twee dinge uit ons teks.

Eerstens, Mattheüs moes Jesus volg.

Hy was nie meer sy eie baas nie.

Hy het nie meer sy eie lewe gelei nie.

Of Mattheüs op daardie stadium al volledig besef het wie hom roep, weet ons nie.

Hy, wat belastingbeampte was in diens van koning Herodes Antipas, kry nou die oproep om dadelik die belastingdiens te verlaat, vir ‘n hoër diens.

Dis die Koning van die konings wat hierdie opdrag gee, Hy aan wie alle mag gegee is in hemel en op aarde.

Maar hier, aan die begin van die Messias se ampsdiens, is Jesus se magtige posisie nog verborge.

Hy is nog op die pad van sy vernedering.

 

Tog het Christus dit deur sy Gees so gelei dat Mattheüs dadelik gehoor gegee het.

Dat hy die winsgewende posisie wat hy in die belastingdiens gehad het, opgeweeg het teen dit wat Jesus te biede gehad het.

En laasgenoemde het swaarder geweeg.

Mattheüs het Jesus gevolg omdat Hy in Hom as die Redder van die wêreld kon glo.

Jesus het barmhartigheid beoefen, op die manier soos die HERE dit deur Hosea bekend gemaak het.

Mattheüs het Jesus gevolg, ook omdat die Messias vir hom ‘n spesiale opdrag gehad het in die geskiedenis van God se heilsplan.

Dit ten eerste.

As Christus roep, moet ons volg.

Ook as Hy roep en ons oorsien nog nie al die implikasies van daardie roeping nie.

As Hy roep, laat ons gehoorsaam volg.

 

Maar ten tweede, wat ons ook leer uit die teks, is dat hierdie boodskap van heil juis ook bedoel was vir die milieu waaruit hy gekom het.

Hyself is geroep, nie net om lid te word van Christus se kudde nie, maar selfs om in die amp van apostel te dien.

So het Christus die wysheid van die wêreld beskaam (1 Kor 2:6).

Mattheüs is geroep nie op grond van sy eie meriete nie, maar op grond van God se genade.

En so werk dit tot vandag toe, dat elke evangeliedienaar, ook vandag ds. Erik, nie geroep word op grond van eie meriete nie, maar omdat dit God in sy genade behaag om van mense soos ons gebruik te maak, ons wat uit onsself niks vir Christus se kerk kan beteken nie.

Om saam met die apostel Paulus te praat: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is (1 Tim 1:15).

 

En vervolgens toe Mattheüs geroep is, het Jesus nie vir hom gesê:

Jy is nou my apostel, ek wil voortaan dat jy nie meer meng met die tollenaars en sondaars nie.

Ek wil dat jy nou in die kringe van die Skrifgeleerdes en Fariseërs begin beweeg.

Glad nie.

Inteendeel, die Messias se boodskap was: Mattheüs, jy is nou my apostel.

En ek stuur jou terug na jou milieu, om daar die boodskap van redding, die boodskap van barmhartigheid te bring.

Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat siek is.

En so is Mattheüs met sy huis en goed, en ook met sy kennisse, ook met sy kollegas, ook met sy hele vriendekring, in diens gestel van sy nuwe roeping, sy amp as apostel.

Mattheüs het nie stilletjies verdwyn uit sy milieu nie, hy het juis ‘n feesmaal aangerig.

Saam het die ander tollenaars en sondaars het hulle feesgevier.

Ja Jesus en Mattheüs het feesgevier, daar tussen die tollenaars en sondaars.

En die evangelis Markus skryf vervolgens dat baie van hierdies Jesus gevolg het (Mark 2:15).

 

Ds Erik, u word vandag bevestig as die herder en leraar van die VGK Pretoria.

Dit is ‘n nuwe fase wat aanbreek in die roeping wat Christus vir u hier op aarde het.

Laat dit wat ons uit ons teks geleer het, hoe en hoekom Christus vir Mattheüs geroep het, ook vir u rigtinggewend wees.

In die lewe van die apostels was die druk heeltyd daar, om na die pype van die Fariseërs te dans.

Hulle beoordelings en veroordelings het heeltyd in hulle koppe gespook.

Hulle opinies het saakgemaak.

Daar was ‘n moment wat die dissipels gevra het: Here, gee ons tog meer geloofwaardigheid ... (Luk 17:5-6)

Want die Fariseërs verag u, en hulle verag ons ook.

Jesus het toe vir sy dissipels geantwoord:

Al is jou geloofwaardigheid so klein is soos ‘n mosterdsaadjie, maak dit nie saak nie.

Al het jy geen enkele aansien in hulle oë nie, nog steeds sal jy kragtige dinge kan doen.

In my koninkryk is ons nie afhanklik van die opiniepeilings van die leiers van die volk nie.

Ds. Erik, mag hierdie ingesteldheid ook u toekomstige ampswerk hier in Pretoria kenmerk.

Al is ons klein en onaansienlik in die oë van die wêreld, in die oë van toonaangewende teoloë, in die oë van wie ook al, dit maak nie saak nie.

Christus doen kragtige dinge deur hulle wat onaansienlik is.

Mag dit ons ampswerk kenmerk.

Dat ons juis oog het vir hulle wat onaansienlik is, wat nie invloedryk in kerk en samelewing is nie, want in Christus se oë is die tollenaars en sondaars belangrik.

Ds. Erik, moenie jou beste tyd gee om hulle tevrede te hou wat steeds beswaarskrifte skryf nie.

Moenie die meeste van jou tyd gee om hulle tevrede te stel wat presies weet hoe ‘n goeie preek moet lyk nie.

Die Fariseërs sal sê, net soos destyds by Christus: u prediking is nie op standaard nie ... ons word nie gevoed nie ...

U moet meer klem hierop lê, of u moet meer aksent daarop lê ...

U moet aan hierdie element meer aandag skenk, of aan daardie element.

Ensovoorts.

Moenie die vryheid van die prediking inruil vir al hulle reëls en regulasies nie.

Gee jou beste tyd aan hulle wat aan die rand van die gemeente dreig om af te val, aan hulle wat onaansienlik is in die oë van die ander.

Sorg dat die prediking hulle bemoedig, vermaan, opbeur en aanspoor.

Die wat dink hulle het nie ‘n dokter nodig nie ... moenie bly klop op ‘n deur wat tog nie sal oopgaan nie.

Sorg dat jy daar is wat Christus deure oopmaak.

En ja, soos in die geval van ons teks, is dit nie altyd tussen die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie, maar dikwels juis tussen die tollenaars en sondaars waar die dokter homself sal ophou.

En so Christus, so ook sy dienaars.

Ook vandag wil die HERE dat sy kinders Hom ken, Hom liefhet, veel eerder as om alles van brandoffers, spys- en reinheidswette af te weet.

Natuurlik is dit nie ‘n absolute teenstelling nie.

Die wat die HERE liefhet, wil natuurlik ook sy Woord en wet steeds beter leer ken.

Maar sonder die lewende verhouding met die HERE, lei die wet tot ‘n Farisese selfvertroue.

‘n Selfvertroue, ‘n selfingenomenheid, wat die Fariseërs vervreem het van Jesus en sy tafelgenote.

Christus is deur sy Vader gestuur om vergewing en barmhartigheid te bring aan ‘n volk wat verslae van hart is.

Wat na Hom gryp as die laaste reddingsboei, wat besef dat dit nie help om na hulle eie wetswerke te gryp nie.

Met Hosea se profesie het Christus die Fariseërs geleer, nie in die eerste plek hoe hulle gedrag teenoor hulle medemens moet wees nie, maar in die eerste plek hoe hulle houding teenoor Hom, God se Gestuurde moes wees, en teenoor sy barmhartigheid.

Dat daar in hulle harte ook ‘n verlange na sy barmhartigheid sou begin groei.

Dat hulle sou begin besef dat hulle ook sondaars is wat bekering nodig het.

Vanuit daardie sondebesef en nederigheid, sou dan vanself ook barmhartigheid met hulle medemense voortkom; beseffende dat hulle niks maar ook niks beter is as die tollenaars en sondaars nie.

 

En u as gemeente, ontvang ds Erik as ‘n dienaar van God.

Hy is nie dienaar van die gemeente nie, Hy is dienaar van die Goddelike Woord.

Elke keer as u kerk toe kom, luister dan ook so na sy prediking.

Hy is ‘n instrument in God se hand om u hart te wen.

Moenie, soos iemand ‘n keer vir my gesê het, met die prediking omgaan soos ‘n fynproewer met rooiwyn nie.

Hy neem ‘n slukkie, hy rol dit in sy mond, hy behoordeel dit, en dan spoeg hy dit uit.

Sorg dat die prediking jou hart bereik.

 

En u, kerkraad, sorg dat u ds Erik se vryheid beskerm om werklik dienaar van die Woord te kan wees.

Maak dit vir hom maklik dat hy met vrymoedigheid dit kan preek wat die Woord aan hom voorhou.

Ook as dit pynlike boodskappe vir die gemeente moet wees.

Christus het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

So het ds Erik ook nie gekom om ‘regverdiges’ te paai nie.

Laat ons almal saam buig en bewe voor die Goddelike Woord.

Christus is met ‘n groot werk in ons midde besig.

Hy roep sy ampsdraers nie op grond van hulle eie meriete nie, maar omdat dit Hom behaag om hulle te gebruik.

En so is ons bede dat in sy hand ds Erik ‘n kragtige instrument mag wees in ons midde.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 100:1,2

Wet

Sb 49:1,4,5,6

Gebed

Skriflesing: Hosea 6:1-6 & Mattheüs 9:1-13

Sb 16:7-10

Teks: Mattheüs 9:9-13

Preek

Ps 145:5,6,7,10,11

Bevestiging ds Erik van Alten

Ps 134:4

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Kollekte

Ps 100:3,4

Seën