Asaf se bede dat die HERE sy wingerd sal herstel en sy aangesig oor ons sal laat skyn

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-11-17
Text: 
Psalm 80:4,8,20
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 80:4,8,20

 

Soms is daar mense wat soos varke in God se gemeente binnedring en links en regs alles bevuil en verniel.

Hulle laat die kerk nie agter soos hulle hom gekry het nie.

Solank hulle vryspel het, bly niks heel nie.

Dit is die noodkreet wat Asaf in Psalm 80 uit.

Hy smeek die HERE: kom tog terug.

Aanskou uit die hemel wat in u gemeente aangaan.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus, ons kyk vanoggend na die boodskap wat die Gees met hierdie psalm vir sy gemeente het.

 

Tema: Asaf se bede dat die HERE sy wingerd sal herstel en sy aangesig oor ons sal laat skyn

1 Asaf se driedubbele smeekbede

2 Die HERE se verrassende herstel

 

1 Asaf se driedubbele smeekbede

Soos altyd, om onder die indruk te kom van hierdie boodskap en dit te verstaan, sal ons moet kyk na die ontstaan en oorspronklike konteks van hierdie psalm.

Daardie wilde vark, waarvan Asaf in vers 14 praat, was Assirië.

Dit is die historiese konteks van hierdie psalm.

Dit is gedig deur Asaf in die tyd toe die Tienstammeryk deur Assirië verwoes en in ballingskap gevoer is.

En wat so ironies is, is dat die Tienstammeryk self hierdie wilde vark in die wingerd ingenooi het.

Dit was in die tyd van die goddelose koning  Agas.

Hy het die Assiriërs se hulp ingeroep.

Hy was selfs bereid om ‘n Assiriese altaar in die tempel te plaas (2 Kon 16:10-15).

Maar toe hierdie wilde vark eers in die wingerd was, toe was dit te laat.

Toe kon hulle hom nie meer uitkry nie.

Links en regs het hy alles verwoes.

Ja dit was die begin van die Tienstammeryk se val en hulle ballingskap.

 

Psalm 80 is eintlik ‘n klaaglied oor die Tienstammeryk.

Dit het met Jerobeam begin, wat eiewillige godsdiens ingevoer het, en sy onderdane in Dan en Bethel laat aanbid het, pleks van by die tempel in Jerusalem.

Toe al het die HERE deur die profeet Ahia sy volk laat waarsku, dat hierdie rigting wat hulle ingeslaan het, sou afkoers op die ballingskap, as hulle nie van rigting sou verander nie (1 Kon 14:15v).

Sedertdien het die HERE hierdie waarskuwing vir twee eeue telkens herhaal deur al sy profete wat Hy gestuur het.

In die boek Konings kan ons lees hoe baie moeite die HERE gedoen het om sy afvallige kinders vas te hou.

Profete soos Elia en Elisa het in die Tienstammeryk gewerk.

Ook het die HERE minder ernstige strawwe as ‘n ballingskap laat plaasvind, in die hoop dat dit sy kinders tot besinning sou bring.

Dink aan die bere wat die kinders van Bethel verskeur het (2 Kon 2).

Dink aan die oorloë met die Moabiete, Siriërs en Arameërs (2 Kon 3 - 5).

Dink aan die hongersnood (2 Kon 4).

Maar al hierdie waarskuwings van God is deur volk en koning in die wind geslaan.

Dit het die HERE daartoe gebring om die bedreiging, wat Hy eeue gelede al aangekondig het, nou te laat plaasvind.

Hy het gesorg dat ‘n wilde vark, om die beeld van Psalm 80 te gebruik, voor die mure van die wingerd opgedaag het.

Die wilde vark was Assirië, wat bekend gestaan het vir sy verskriklike wreedheid.

Tydens die regering van koning Menahem het die Assiriërs die eerste keer die grense van Israel oorgesteek (2 Kon 15:19v).

Israel moes met sakke vol geld die vrede afkoop.

Maar dit was slegs tydelik.

In die negende jaar van koning Hosea, 722vC, het die koning van Assur die hoofstad Samaria ingeneem en Israel in ballingskap gevoer.

 

Dit is in hierdie tyd waarin Psalm 80 sy ontstaan gehad het.

‘n Tyd waarin God sy volk ‘tranebrood’ laat eet het.

Die digter, Asaf, was onderdeel van die minderheid onder die volk wat nog die HERE bly vrees het.

Uit sy mond klink die wanhopige oproep tot herstel in hierdie psalm.

 

In sy psalm gebruik Asaf kragtige metafore.

Dit begin met die eerste woord van die lied, die naam wat hy vir die HERE gee:

o Herder.

As hy skryf, U wat bo-oor die gerubs troon, is dit ‘n duidelike geloofsbelydenis.

God troon nie bo-oor die goue kalwers in Dan en Bethel wat Jerobeam vir die Tienstammeryk laat bou het nie.

Nee, God troon bo die gerubs, soos hulle staan op die ark van die verbond in Jerusalem.

En al het die stamme afvallig geword, hulle is nog steeds sy skape.

So doen die psalm ‘n beroep op die Herder om die afgedwaalde skape nie af te skryf nie.

Ook die tien stamme was nog steeds sy skape, sy kleinvee.

 

Die digter doen ‘n beroep op die Herder se heldemoed in die verlede.

Sy leërskare het God toe ingespan om sy volk uit Egipte te bevry en in Kanaän in te lei.

Geweldige natuurkragte was sy leërskare – seewaters, berge en riviere.

 

Herstel ons, laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word.

Nou is die Hebreeuse woord vir herstel dieselfde as die woord bekeer.

Hieruit word duidelik dat Asaf goed besef dat Israel se probleem nie net die oorheersing van ‘n vreemde politieke mag is nie.

Dit gaan dieper.

Daar was afval van die lewende God.

Daar is bekering nodig tot Hom.

Laat u aangesig oor ons skyn, vers 4.

Hierdie uitdrukking herinner aan die Aäronitise seën, Numeri 6:25:

Die HERE sal jou seën en behoed, die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees ...

Hierdie seën het die priesters in die orde van Aäron steeds aan die volk opgelê, by die tempel in Jerusalem.

Maar daarvan het die Tienstammeryk afvallig geword.

Om die HERE se genade te ervaar, was terugkeer na die ware diens aan Hom nodig.

Die verlossing van Israel sien Asaf dus as ‘n saak van genade en bekering.

Tans ervaar Israel nie God se ligtende aangesig nie, maar donker dreigende wolke in die vorm van die bitter swaar Assiriese juk.

Maar om daarvan verlos te word, was bekering nodig.

 

So gaan Psalm 80 dieper as net die horisontaal politieke vlak.

Asaf staar homself nie blind op die Assiriese gevaar nie.

Hy sien agter hulle God se hand, God se toorn.

Dis Hy wat hierdie wilde vark ontbied het.

In die Assiriërs proe die volk nou God se toorn oor die ongeregtighede van Efraïm.

 

Ja, Israel het dit verdien.

Die Tienstammeryk het die land van afgodsaltare en –hoogtes geword.

Hulle het God se verbond verbreek, sy wette verag.

Hulle het sy profete geïgnoreer of selfs weggejaag en vervolg.

Hulle het die knie gebuig vir son, maan en sterre.

Tog praat Asaf nog van u volk, u skape, u wingerdstok.

Juis omdat hulle nog steeds sy kinders is, los God hulle nie uit nie, juis daarom besoek Hy hulle met sy pynlike straf.

Daarom dat Hy hulle tranebrood laat eet het.

Nederig erken Asaf dat God oor alle nasies regeer, en dat Hy die wrede Assiriërs op Israel afgestuur het.

Hy sien God se slaande hand hierin raak.

 

En noudat God self sy wingerd se mure stukkend gebreek het, nou vat almal hulle kans.

Die buurvolke is nou vinnig en gretig om Israel te verneder.

Tot drie keer klink die refrein in hierdie psalm: O God, herstel ons (vers 4, 8, 20).

 

Asaf herinner die HERE aan die grootse verlede van Israel, juis danksy wat God vir hulle gedoen het.

Hy gebruik daarvoor die metafoor van ‘n wingerd.

Eiehandig het God vir Homself ‘n wingerdstok uit Egipte uitgetrek, ander nasies uitgedrywe en so vir Israel plek gemaak en dit in Kanaän geplant.

Daar het Hy sy wingerdstok goed versorg, met die gevolg dat sy ranke uitgebrei het van die see tot by die rivier.

Asaf dink hier terug aan die tyd van koning Dawid en Salomo, toe Israel se invloed gestrek het vanaf die Middellandse See tot by die Eufraatrivier.

Maar, pleit hy, waarom breek U nou self sy mure af?

Waarom laat u toe dat almal wat verbykom, hom nou kan kaalpluk?

Die Assiriese wildevark het hom heeltemal opgeëet.

 

Steeds besef Asaf dat die volk in dit alles met God te make het.

Gemeente, sien ons dit in ons tyd ook nog raak?

Of staar ons onsself vas slegs op politieke magte, hier in ons land, en in die wêreld?

Ons het nog steeds met dieselfde God te make.

Is dit nie so dat God self in baie lande, veral in die Westerse wêreld, die mure van sy wingerd afgebreek het nie?

Is dit nie so dat God nou toelaat dat al daardie wildevarke wat die kerk in sy midde toegelaat het deur die afgelope eeue, nou hulle tol begin eis?

In die Westerse wêreld loop die een kerk na die ander leeg.

Dis nie omdat Moslims of Buddhiste of Hindoeïste die Christene verbied om kerk toe te gaan nie.

Dis die Christene wat self kies om die kerk te verlaat, en hulle lewe sonder die kerk voort te sit.

Die wilde varke van verwêreldliking, selfgenot, verslawings, materialisme, rassisme, ewolusionisme, en noem maar op, dis hierdie wilde varke wat die kerk self binnegelaat het, wat nou besig is om die kerk van binne uit op te vreet.

Lyk die kerk in die Weste nie inderdaad soos ‘n platgetrapte verinnerweerde wingerdstok nie?

 

O HERE, God van die leërskare, herstel ons!

Keer tog terug!

Laat ons saam met Asaf die HERE herinner aan die toestand van sy wingerd!

 

Aan die einde van die psalm spreek Asaf ‘n gelofte uit:

Dan sal ons nie meer van U afwyk nie.

Red tog net ons lewe, dan sal ons u Naam aanroep!

En dan eindig die psalm weer met die refrein.

Driemaal pleit Asaf:

Herstel ons.

HERE, bekeer ons!

Driemaal smeek hy: Laat u aangesig oor ons skyn!

 

(Tema: Asaf se bede dat die HERE sy wingerd sal herstel en sy aangesig oor ons sal laat skyn

1 Asaf se driedubbele smeekbede)

 

2 Die HERE se verrassende herstel

Geliefde gemeente, het die HERE geluister na die driedubbele smeekstem van Asaf en die getroue res uit Israel?

Wanneer het Hy geluister?

Het Hy weer sy lig laat skyn oor die land van Sebulon en Naftali?

Die Tienstammeryk oor wie die donker donker wolke van verbondswraak in Asaf se tyd gehang het?

Het God sy verdwaalde skape uit die Tienstammeryk ooit weer herstel, ja bekering geskenk?

 

Gemeente, die volgende Bybelteks klink u dalk bekend in die ore:

“Die land Sebulon en die land Naftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galilea van die heidene – die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan.”

Hierdie was profetiese woorde van Jesaja (8:23-9:1).

Tog kom hierdie aanhaling nie uit Jesaja nie, maar uit Mattheüs.

Ja in die Evangelie in die Nuwe Testament lees ons oor die HERE se verrassende herstel!

Die evangelis Mattheüs het sy evangelie geskryf, om duidelik te maak dat hierdie woorde van Jesaja in Christus vervul is!

En inderdaad, net so is die woorde van Psalm 80 in Christus vervul!

Asaf se driedubbele smeekbede het by God nie op dowe ore geval nie.

Die Tienstammeryk was inderdaad in duisternis, dit het ‘n land geword van die skaduwee van die dood.

En dit was hulle eie skuld.

Dit was hulleself wat hulleself onttrek en wegbeweeg het vanaf die plek waar hulle God kon ontmoet, die plek waar hulle God se ligtende aangesig kon ontmoet, waar die priesters in die deur God aangestelde orde van Aäron sy ligtende seën uitgespreek het.

Hulle het die donker wolke van Godsverlating oor hulleself gebring.

Maar daar, in die donker noorde waar ooit die Tienstammeryk gewoon het, daar in Galilea het ‘n lig opgegaan.

In die gebied van Sebulon en Naftali, in dorpe en stede soos Nasaret, Kapernaüm en Gorasin.

Daar het die Lig heerlik gestraal.

Daarheen het God sy engel Gabriël gestuur.

Daar het die jong vrou Maria gewoon, deur God uitgekies as moeder van sy Seun.

Daar het Jesus later duiwels uitgedryf.

Daar het Hy die seun van die weduwee van Naïn uit die dood opgewek.

Ja daar het God die Lig van die wêreld laat skyn.

Let wel, die Lig van die wêreld.

Nie net vir Juda nie, ook nie net vir Israel nie, maar vir die wêreld!

So reik God se verrassende herstel ver buite die grense van sy ou verbondsvolk.

So het Christus ‘n Lig vir die wêreld geword, vir mense uit elke stam en taal en nasie wat by Hom, die goeie Herder, kom skuil.

Die driedubbele smeekstem van Asaf in Psalm het nie op dowe ore geval het nie.

So leer ons, en dit geld ook vir vandag, al is dit maar ‘n klein handjie vol mense wat tot God roep om hulp, dat dit nie onverhoord sal bly nie.

Die krag van die kerk lê nie in aantalle nie, maar in die Hoof van die kerk.

Laat ons dit tog nooit vergeet nie.

Laat ons naby by die Herder bly.

Laat ons, soos Asaf, nie nalaat om by Hom te pleit vir sy genade nie.

 

Ook in ons tyd laat God toe dat wilde varke sy kerk verniel.

Deur die eeue was dit die geval.

Dit is interessant om te noem dat Psalm 80 destyds ook deur die pous van Rome aangehaal is, toe hy Martin Luther in die ban geplaas het.

In die bekende banbul teen Martin Luther, uitgevaardig op 15 Junie 1520, skryf die pous in die inleiding:

Staan op, o Here. ‘n Wilde vark het u wingerd verniel.

Die pous haal hier Psalm 80 aan, as hy aan Martin Luther dink.

Hoekom hy juis aan hierdie psalm gedink het, het waarskynlik daarmee te make gehad dat hy juis op daardie stadium besig was om wilde varke te jag, toe die banbul aan hom voorgelê is om te onderteken.

Jag was die pous se groot stokperdjie.

Was Martin Luther ‘n wilde vark?

Ek dink die Fariseërs het ook gedink dat Christus ‘n wilde vark is, wat al hulle eerbiedwaardige tradisies verniel het en die volk in opskudding gebring het.

Martin Luther het, in navolging van Christus, inderdaad ook die kerk in opskudding gebring.

Maar dit was nie dat hy die kerk verniel het nie.

Hy het die kerk juis wakker geskud, en die mense se oë oopgemaak vir die wilde varke van pouse, kardinale en biskoppe wat die kerk opgevreet het, net soos Christus God se volk se oë oopgemaak het vir die verwoestinge wat die Fariseërs en Sadduseërs aangerig het.

Mag daar in ons tyd ook sulke profete wees, wat die ingeslape en verwêreldlikte Christene wakker skuld.

Ja dank die HERE, as daar predikers is wat vanaf die kansel die Evangelie bring, sonder aansien des persoons.

Predikers wat durf om op tone te trap.

Predikers wat met die Evangelieprediking ons wakker skud, ons oë oopmaak, God se ligtende aangesig weer oor sy kerk laat straal!

Dan merk ons dankbaar dat God sy volk nog nie vergeet het nie, nog nie finaal verstoot het nie.

Dat Hy bereid is om ons weer te herstel.

Dat Hy nog steeds in ons lewens investeer.

Dat Hy in sy genade nog steeds bekering in ons lewens werk.

Mag daardie groot Lig, wat weer oor Sebulon en Naftali geskyn het, ook oor ons en ons kinders bly skyn.

Mag ons onsself nooit onttrek om self van die strale van hierdie Lig af weg te beweeg nie.

Mag die HERE sy aangesig steeds oor ons laat skyn en ons genadig wees.

Ja wie by Christus bly, die Lig van die wêreld, mag leef met hierdie versekering:

Die HERE SAL sy aangesig oor ons laat skyn en ons genadig wees!

 

“O HERE, God der leërskare,

verlos u volk uit doodsgeavere;

dan sal ons U weer dien en eer.

O Herder, lei, herstel ons weer,

verkwik, verlos ons deur die lig

wat afstraal van u aangesig.” (Ps 80:10 ber.)

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 23:1 

Wet

Ps 23:2,3 

Gebed

Skriflesing: Psalm 80

Ps 80:1-4

Teks: Psalm 80:4,8,20

Preek

Ps 80:5-8

Gebed

Kollekte

Ps 80:9,10

Seën