Elkeen wat probeer sy lewe te red, sal dit verloor. Maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.

Minister: 
Ds. R Pos
Church: 
Pretoria
Date: 
2019-09-29
Text: 
1 Konings 18:1-6
Preek Inhoud: 

Tema: Elkeen wat probeer sy lewe te red, sal dit verloor. Maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.

Gemeente.

Het u ook al die gedagte begin kry dat die aantal natuurrampe die afgelope paar jaar toegeneem het? Ek weet nie of dit in 'n absolute sin waar is nie. Of lyk dit slegs so omdat deur beter media dekking die wêreld kleiner geword het? Ek het in elk geval opgemerk dat die pers al hoe meer praat van apokaliptiese rampe. Tonele soos  wat beskryf word in die Bybelboek Openbaring. Omvangryke rampe. Ons lees ook iets daaroor in Lukas in verband met die wederkoms.

Daar is mense wat sê dat dit onsin is om te beweer dat ons in die laaste dae lewe. Het die Here Jesus dan nie self gesê dat niemand weet wanneer Hy sal terugkeer nie? Hy weet dit self nie eers nie, maar slegs Sy Vader. Hoe sou ons dit dan kon weet?

Natuurlik is hierdie mense reg. Ons ken nie die datum van die wederkoms nie. Terselfdertyd het die Here Jesus sy dissipels geleer om te let op die tekens van die tye. Want die Here Jesus spreek oor die rampe ter wille van ons, sê Lukas. Die doel daarvan is om ons te waarsku!

Is die rampe wat ons die afgelope tyd so dikwels op TV sien, die laaste stuiptrekkings van die bestaan van die aarde? Ek weet nie, brs en srs. Maar ek glo wel dat ons in hierdie dinge die voetstappe van die Here Jesus kan herken. Hy kom terug. En ja, miskien duur dit nog duisend jaar. Maar selfs al sou dit duisend jaar wees, kan dit vandag jou laaste dag wees. In werklikheid is elke dag vir u en my persoonlik ook die jongste dag. En dit beteken dat ons vandag op dieselfde manier moet optree as wat pas vir mense wat van aangesig tot aangesig met die Here staan. Mense wat weet dat die Here self spreek in al die groot en klein rampe wat ons ervaar. En ons mag  nie wag totdat 'n orkaan ons huis wegvaag of 'n aardbewing die hele Waverley-Plaza verwoes nie. Die woord van ons Verlosser word regtig nou al aan ons gerig: “Wie sy lewe probeer red, sal dit verloor. Maar wie dit verloor, sal dit red!” Verloor of red. Dit word nie bepaal deur goeie voorsienings wat ons tref, bv 'n goeie bom skuiling onder jou huis of die beste mediese fonds nie. Dit het te make met die vraag of u die Hand van die Hemelse Vader wil erken in al die dinge wat Hy nie toevallig toelaat nie. Ek gaan probeer om dit meer duidelik te maak aan die hand van 'n geskiedenis uit die OT.

Verlede Sondag het ons ontdek waarom ‘n geweldige en rampspoedige droogte in die Tien-stamme ryk in die tyd van koning Agab ontstaan het. Die volk het die Here vir Baäl verruil. Daarom ontstaan ‘n drie jaar durende droogte. Volgens die woorde van die profeet Elia het die wolke verdwyn en het dit nie 'n druppel gereën nie. Ons sien dit by moeders wat te make het met kinders met uitdroog verskynsels. 'n Swerm vlieë draai om hulle koppe. Effens ouer kinders veg met mekaar om ‘n droë wortel te bemagtig. Uitgeteerde mans grawe na water. Hoeveel wedersydse liefde gaan oorbly as almal eintlik niks anders doen as om te veg vir oorlewing nie? Ja, die aarde het amper ‘n hel geword.

Weet u wat die ergste hiervan was, brs en srs? Dat die droogte kon voorkom gewees het. Baie slagoffers het onnodig gesterf. Koning Agab moes slegs een ding doen vir die terugkeer van oorvloedige reëns: Dit was om hom te bekeer. Om boontoe te kyk en die ware en enigste God van die lewe aan te roep. Die Here wag, as’t ware slegs op een woord van koning Agab. Maar …daardie woord is nie uitgespreek nie.

Dit was nie die eerste hongersnood in Israel nie. Daar was ook ‘n hongersnood in koning Dawid se dae. Ook toe het dit drie jaar lank nie gereën nie. Ook daardie hongersnood het 'n spesifieke oorsaak gehad. Koning David ontdek op 'n gegewe oomblik dat die hongersnood veroorsaak is deurdat die vorige koning, koning Saul, die belofte aan die Gibeoniete verbreek het. Ek dink ons seuns en dogters ken die verhaal. Die verbond met die Gibeoniete het plaasgevind reeds voor die begin van koning Saul se regeer periode. Maar koning Saul kon daarvan geweet het.

Die verhaal begin in die tyd van die inname van die beloofde land onder leiding van Josua. Die mense van Gibeon (in Kanaän) het op ‘n geslepe wyse na Josua toe gekom en voorgegee dat hulle van ver af kom. Hulle het verdroogde en geskimmelde brood by hulle gehad en het ou verslete skoene gedra. Hulle het gevra dat Israel 'n vredesverdrag met hulle sluit. Die leiers van die volk het egter vergeet om die Here te raadpleeg. Hulle het onmiddellik 'n verbond met die Gibeoniete gesluit. Maar 'n paar dae later ontdek hulle dat die Gibeoniete hulle bedrieg het en in hul midde woon. Natuurlik was die leiers ongelukkig oor die verbond. Tog het hulle gesê: “Ons het daardie verbond gesluit onder aanroeping van die Naam van die Here. Ons moet dus ons aan die verbond hou."

Dan lees ons in 2 Samuel 21: “Gedurende die regering van Dawid het drie jaar agtereenvolgens hongersnood geheers. David wend hom tot die Here en die Here antwoord: "Die droogte kom as gevolg van Saul en sy moordenaarsbende, want hulle het die Gibeoniete gedood." Die hongersnood was dus 'n straf van die Here omdat hulle hul nie gehou het aan die verbond met die Gibeoniete wat  onder aanroeping van die Naam van die Here gesluit is nie. Die hongersnood was die gevolg van die sonde van die koning en van die volk. Maar nadat Dawid (wat nie self persoonlik skuldig was nie), aan die voorwaardes van versoening met die Gibeoniete voldoen het, lees ons: "... en God het Hom oor die land ontferm".
Let op, brs en srs: Daar was twee sake wat die hongersnood beëindig het. Dawid gaan na die Here. Hy kyk op en vra die Here wat om te doen. En tweedens: dan doen Dawid wat die Here vir hom sê. En dit maak 'n einde aan die enorme droogte, wat ons 'n natuurramp sou noem. Maar eintlik was die droogte ‘n boodskap wat die Here God gestuur het. 'n Teken. 'n Oproep. 'n Vermaning tot bekering van sondes.

Daar was dus ook so 'n oproep in die tyd van koning Agab. Weer was daar ‘n hongersnood. Wat was die oorsaak van die hongersnood? Wel, Agab het die Here JHWH aan die kant geskuif en in plek daarvan Baäl as hoofgod aangestel. 'n Dooie steen in die plek van die God van die lewe. Agab het ook op ‘n ander manier die mond van die Here God gesnoer. Hy het die muur van Jerigo herbou. Hy het daarmee gesê: nie deur geloof in YHWH nie, maar deur ons eie krag sal ons ons lewens waarborg en beveilig.

Elia het aan die begin van die droogte al duidelik gemaak dat dit 'n straf van God was. En hy het ook gesê dat slegs die woord van die Here die droogte sou laat ophou. Agab het intussen ook agtergekom dat dit vir die Here ‘n ernstige saak was. Agab was ook ten einde raad. Maar sal hy net soos koning David omhoog kyk na God? Sal hy hom bekeer en so ruimte skep sodat die reën weer by bakke uit die hemel kan val? Nee, hy doen dit nie. Hy was desperaat en het saam met 'n dienskneg (Obadja) water gaan soek. Moontlik kon hy tog êrens 'n onbekende bron of stroom vind?

Ek sal later iets meer oor daardie dienskneg Obadja sê. Maar eers moet ons goed verstaan hoe ver koning Agab afstaan van koning Dawid, wat hom tot die Here gewend het om hulp en raad. Agab gaan op ‘n soektog na 'n laaste bietjie water. Doen hy dit ter wille van moeders wat magteloos moet toesien hoe hul kinders stadigaan sterf? Nee, want hy sê: "miskien sal ons gras kry, sodat ons die perde en muile in die lewe kan hou en nie van die vee hoef uit te roei nie.” Ons almal voel aan hoe verkeerd Agab optree. Is die diere van Agab dan belangriker as sy onderdane? Want dan is hy 'n slegte en ontaarde koning. Ja, maar daar is selfs meer.

Dit sou natuurlik baie jammer wees as vee moes gedood word, omdat daar vir hulle geen voedsel meer was om te eet nie. Hoe dan ook, mense kan ten minste self daardie diere eet. Alhoewel die vleis nie meer sag is nie, kan dit steeds geëet word. Maar dat koning Agab spreek oor perde en muile, is veelseggend. Dit betref nie perde uit die privaat stalle van die koning nie. Perde wat byvoorbeeld deur die prinsesse gebruik  is. Nee, dit betref oorlogsperde. Beide perde en muile is vir die oorlog gebruik.

Koning Salomo het reeds daarmee begin. Teen die uitdruklike gebod van die Here. Die Here het in die sogenaamde koningswet gesê: "Die koning mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die Here vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie" (Deut 17v16). Die teks sê meer maar dit is duidelik dat die Here die aanhou van oorlogsperde verbied het omdat Hy wil hê dat die mense slegs op Hom moet vertrou en nie op militêre mag nie. Dis dieselfde gedagte wat onderliggend is aan die verbod om die mure rondom Jerigo weer op te bou. Slegs die Here bied beskerming. Daarom is geen mure nodig nie. Ook geen perde nie. En die koning mag geensins hulp uit Egipte inroep nie. Omdat dit ontken dat die Here die volk juis uit Egipte verlos het. Julle mag nie hulp soek by julle aartsvyande in plaas van by die Here nie. Dit is 'n belediging van die Here as julle dit doen.

Verstaan ons nou, broers en srs, wat die onderliggende gedagte is van koning Agab se pogings om gras te vind vir sy perde? Hy het meer as drie jaar gelede reeds 'n einde gemaak om die Here te dien toe hy beveel het om die muur van Jerigo weer op te bou. Hy sê daarmee: Die Here beteken niks meer vir my nie. Ek glo dat my lewe en die lewe van my volk nie van die Here afhanklik is nie, maar van my militêre mag. As ek maar net my leër in stand kan hou, dan is die lewe seker.

Ons moet besef dat Agab dit doen terwyl die Here juis wil sigbaar maak dat hulle lewens van Hom afhanklik is en nie van die dinge wat Agab nastreef nie. Koning Agab se optrede deurkruis hierdie lewensbelangrike reël in die verbond. Agab sê: Dis nie geloof wat saak maak nie, maar menslike krag. Nie berou nie, maar volharding in die sonde van ongeloof. Suiwer trots. Glo nie in God, die Almagtige Skepper nie, maar glo in jouself en in jou eie moontlikhede.

Maar ons Verlosser toon baie duidelik wat ons hieruit moet leer: “Wie sy lewe probeer behou, sal dit verloor. Maar wie sy lewe verloor, sal dit behou.” Koning Agab en die volk veg vir hul lewens. Hulle doen 'n uiterste poging om hul lewens self veilig te stel en nie te verloor nie. Maar die eerste slagoffers het waarskynlik reeds geval. Ons kan die dwaasheid en hopeloosheid van dié keuse byna tasbaar raaksien. Want wat gaan nou gebeur? Sou die Here God nou almal laat vergaan? Hy sou kon sê: Julle het gekies om julle lewens buite My te vind. Nou, goed, dan verloor julle julle lewens. Dit sou die Here kon doen. Hy het reg daarop.

Maar kyk nou na ons teks. Die Here skakel Elia in. Elia ontvang opdrag om na koning Agab te gaan. Die drie jaar is nog nie eers verby nie en die Here kondig aan dat Hy reën sal gee. Alhoewel daar nog absoluut geen bekering sigbaar is nie. Nie eers die begin daarvan nie. Hoe is dit moontlik?

Ons sien hier iets baie belangriks, brs en srs. Ons sien hier iets van die karakter van die straf wat die Here gee. Die Here straf vanweë die sonde. Maar dit is nie slegs as vergelding bedoel nie. Deur die straf wil die Here ook bekering bewerkstellig. En daarmee die behoud van die lewe, omdat die Here nie die ondergang van mense beoog nie, maar hul redding. Dit word byvoorbeeld duidelik wanneer die Here later vir sy volk in ballingskap sê: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. (Jer 29:11 ). Geluk en 'n hoopvolle toekoms. Dit is die ware lewe! En dit beteken dat as die straf van die Here nie tot bekering lei nie, soos in die geval van Agab, dan is die Here nog nie daarmee klaar nie. Hy doen in sy genade nog 'n laaste poging om tog bekering te bewerk. Op grond van sy beloftes!

Ons besef: Tesame met Elia het die Here eintlik ook Sy Woord uit die tien-stamme-ryk weggeneem. Die Here het nie meer deur die profeet tot hulle gespreek nie, maar nog slegs deur die droogte. Deur daardie ramp. Deur lyding en die dood van ontelbare kinders. En selfs as dit geen impak meer het nie, dan sal die Here nog nie die volk vir ewig van die aarde wegvee nie. Nee, op ‘n wonderbaarlik wyse kom Here nog een keer terug met sy Woord. Deur Elia, die profeet van die Here. Hy word na koning Agab gestuur. En die Here sal laat blyk - in 'n uiterste poging om sy volk tot inkeer te bring - dat Hy die God van die lewe is. Hy sal na drie jaar van droogte beveel dat dit sal reën. En wie sal dan nie oortuig wees dat die lewe slegs seker en veilig is by Hom, YHWH, die God van die verbond nie?

Uit die vervolg weet ons dat daar nog 'n hele reeks gebeure moes plaasvind. Dit word vertel in die geskiedenis van die stryd van Elia met die Baäl-priesters op die Karmel berg. Maar tans, in dié deel wat ons vandag behandel, fokus ons op wie God vir ons is. Laat dit goed tot ons deurdring, brs en srs. Ons God is geweldig gefokus op verlossing, ja, selfs die verlossing van hardkoppige en onnadenkende mense. Die Here keer terug met sy Woord. En die Here het - so word algaande duidelik - reeds stappe begin neem sodat sy Woord in die vervolg weer gepreek kan word. Ja, koningin Isébel het reeds talle profete van die Here laat doodmaak. Maar sy kon nie almal doodmaak nie. Selfs iemand uit haar eie hof het in die geheim ‘n honderd profete weggesteek en onderhou vanuit die paleis. Obadja (sy naam beteken: dienaar van die Here) het twee groepe van vyftig profete elk in twee verskillende grotte weggesteek.
Daar is baie nagedink oor hierdie Obadja. In die besonder is die probleem hoe ‘n opregte dienaar van die Here ook aan die hof van 'n uiters slegte koning kan dien. Is dit wel moontlik? Maak dit hom nie medepligtig aan die boosheid van die koning nie? Dit is 'n interessant punt om oor te besin op ‘n  Bybelstudie vereniging. Maar ek sê voorlopig slegs dit. Die Here het op ‘n wonderbaarlike manier gesorg dat Sy Woord aanstons weer verkondig sou kon word. En dit maak duidelik dat die Here tot die uiterste sal gaan om mense tot bekering te bring. Die Here kan veel meer bied as wat ons as verantwoordelik en geregverdig sou beskou. Die Here wil graag mense leer dat hulle lewens slegs veilig is by Hom.

Uiteindelik gaan die Here selfs baie verder as dat Hy sy woord onverdiend aan sy ontroue volk teruggee. U sal opmerk dat in ons teks die Naam van die Here in hoofletters vermeld word: Die Hebreeuse naam YHWH. Dit beteken die Betroubare, of Hy wat altyd sy Woord bewaar. Dit is ook Hy wat dié woord tot Adam en Eva gespreek het. En ook tot  Abraham. Dis ook Hy wat die slang/draak oorwin het. Weet ons, weet jy wie YHWH is? Dit is die Here Jesus, voordat Hy na die aarde toe gekom het, dws voordat Hy as mens gebore is. En YHWH  beteken dat die Here nie slegs met Sy Woord weer terugkeer na Sy volk nie, maar dat Hy ook uiteindelik Self na daardie volk terugkeer. Hy, die Seun van die lewende God. Hy het aarde toe gekom om duidelik sigbaar te maak dat alle lewens-bedreigings deur Hom weggeneem word. Hy het immers in ons plek Sy lewe aan die kruis gegee. Om ons lewens veilig te stel. Ja, deur Hom en in Hom.

Let op natuurrampe. Let op siklone wat gereeld voorkom in die Karaïbiese gebied, Japan, Korea en die Filippyne. Let op onblusbare brande wat woed rondom die Noordpoolsirkel en in die Amasone. Ons sien dit slegs op tv. Niemand van ons word direk daardeur geraak nie. Beteken dit daarom dat hierdie rampe niks vir ons sê nie? Moet ons slegs reageer as ons direk geraak word, bv as ons krane sou opdroog?

Brs en srs. Ook vandag bely ons: Ek glo in God die Vader, die almagtige Skepper van hemel en aarde. Het ons slegs te make met natuurkragte, sodat ons nie kan spreek oor die asem van God nie? Ons glo dat niks per toeval op aarde gebeur nie. Geen versteuring in die aardkors, geen vulkaan, geen weer stelsel ontgaan God se aandag nie. Dit is God, ja, dit is Hy wat alles beheer. En dit beteken, brs en srs, dat ons nie hoef te wag vir 'n ramp van apokaliptiese omvang binne ons eie land nie. Ons word ook aangespreek deur natuurrampe wat aan die anderkant van die wêreld plaasvind. Dis God se stem wat spreek. In hierdie magtige gebeure sê God:  Jy kan nie jou eie lewe red nie. Wie slegs vanuit sy eie krag bou, sal sy lewe verloor. Slegs as julle op My bou, sal julle die lewe red.

As ons op die Here bou, dan verloën ons onsself. Ons plaas ons lewe in God se hande. Dit is die betekenis van “om jou eie lewe te verloor”. Slegs op hierdie manier ontvang ons die ewige lewe.

Het die eindtyd reeds aangebreek? Ag, brs en srs, ons leef reeds in die eindtyd sedert die hemelvaart van die Here Jesus. Sal dit erger word op aarde? Sal daar ook in ons land groot natuurrampe plaasvind? Ek weet nie. Maar wat ek wel weet, is dat die Here baie duidelik spreek. Ook as ‘n geringe bakterie of virus uiteindelik 'n hele ekonomie versteur of vernietig. Ook as ‘n enkele kanker moedersel 'n chemo behandeling oorleef. Die Here spreek ook tot ons as geliefdes rondom ons sterf. Die Here spreek en Sy bedoeling is nie om mense te vernietig nie. Die Here spreek om mense tot bekering te roep. Nie net die wêreld nie. Nie net die mense wat deur groot rampe geraak word nie. Die Here roep ook tot ons.

Daarom vra ek nou namens die Here: Op wie of wat bou jy jou lewe? Of dink jy uit vrees liewer nie na oor die toekoms nie? Of verdring vrees alle gedagtes aan die onafwendbare dag van jou sterwe? Lewe julle liewer by die dag, jongmense, omdat julle meen dat dit effens voortydig is om nou al oor die einde na te dink? Omdat dit julle daaglikse plesier sal bederf?

As een van ons nou reeds groot moeites ondervind, oorweeg dan of die Here dit nie laat gebeur om vir jou 'n sekere rigting aan te wys nie! Of maak jy jou oë daarvoor toe en begin jy om self na 'n oplossing te soek? Ja, ek verstaan dat mense wat moeite ondervind hul moeite aan die Here voorlê. Maar ons moet oppas om slegs die Here se seën te wil vra oor ons eie oplossings. Sê eerlik, brs en srs, sou die Here na koning Agab geluister het as hy, selfs saam met Obadja, 'n seën sou gevra het vir die soektog na water? Ons weet beter. Want die Here vra van Agab 'n heel ander tipe gebed.

Die Here spreek ook vandag. Die Here spreek elke dag, brs en srs. Hy spreek deur die agteruitgang van ons ekonomie. Hy spreek in die wegval van al hoe meer sekerhede van die verlede. Hoe reageer ons daarop? Die Here roep ons na Hom toe. Luister na Sy voetstappe. Hy het maar één doel: Dit is dat ons, ook jy, op die groot fees teenwoordig sal wees. Die bruilof van die Lam. Daardie wonderbare en ewige fees. Die Here roep ons, brs en srs, beide jonk en oud. Die Here verlang intens na ons, ja ook na jou. Nou bly net een vraag: Verlang jy ook na Hom?

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seëngroet

Ps 57:1,5

Wet

Ps 139:12

Gebed

Skriflesing: Lukas 17:20-37

Ps 62:1,4,5

Teks 1 Konings 18:1-6

Preek

Ps 118:7,14

Gebed

Kollekte

SB 9:5,6

Seën