God is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-09-29
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1
Preek Inhoud: 

Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 1: God is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is

 

Die eerste artikel van die NGB beskryf ‘n aantal karaktereienskappe of wesenskenmerke van God.

Wat opval is dat ‘n hele aantal woorde gebruik word wat met die voorvoegsel –on begin.

God gaan ons begripsvermoë en ook ons taalvermoë totaal te bowe, en dus sukkel ons om Hom in ons taal te beskryf.

Soms kan ons net woorde gebruik hoe Hy nie is nie, vandaar die woorde met die voorvoegsel –on.

Onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig …

Die afgelope weke het ons aan elkeen van hierdie begrippe aandag geskenk, spesifiek wat ons uit die Skrif leer oor hierdie karaktereienskappe of wesenskenmerke van God.

 

Vandag is dit die laaste preek na aanleiding van artikel 1.

Ons kyk na die sublieme woorde waarmee hierdie artikel eindig, naamlik dat God die alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed is.

 

Tema: God is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is

 

In ‘n warm, droë en waterarme land soos Suid-Afrika kan ons onsself goed inleef in hoe onmisbaar ‘n fontein vir lewe was in Israel.

Hier in Suid-Afrika is een van die sprekendste voorbeelde van ‘n fontein, die oog by Kuruman.

Soos u weet, is die Noord-Kaap dor en droog.

Maar sodra mens Kuruman binne ry, word jou oog getref deur die groen gras en palmbome.

Die fontein van Kuruman is ‘n wonder.

Tot vandag toe weet mense nie mooi waar al daardie ondergrondse water vandaan kom nie.

Daar is vermoedens dat dit verbind is met die Okavango Delta, waar die water in die grond insak.

Vir eeue was Kuruman al ‘n oase, waaromheen daar mense gebly het.

Behalwe vir ‘n fontein in Nieu-Seeland, is dit die kragtigste fontein in die suidelike halfrond.

Behalwe vir die dorp se behoeftes, vloei die water van die oog van Kuruman uiteindelik in die Oranjerivier in.

Een soos u weet, waar die Oranjerivier ook al deur die droë Noord-Kaap stroom, is dit ‘n bron van lewe.

 

Die land Israel is vir die grootste deel ook ‘n waterskaars gebied.

Sodra daar egter ‘n fontein is, skep dit moontlikhede, ja gunstige lewensomstandighede vir mens en dier.

Hoe dikwels lees ons nie in die Bybel van konflik oor die beheer van ‘n fontein of ‘n put nie.

En dan was veral ‘n fontein, ‘n bron met stromende oftewel lewende water, van onskatbare waarde.

 

Dit is dan ook nie toevallig dat die Skrif die HERE meer as een keer met ‘n fontein vergelyk nie.

Waar daar ‘n fontein in ‘n droë land is, daar ontstaan lewe.

Daar waar die HERE is, is daar lewe.

Die HERE is die fontein van die lewe.

Alle lewe vloei uit die HERE uit voort.

Dink aan Psalm 36, wat ons ook in hierdie erediens sing.

“Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” (Psalm 36:10)

En wat dan ook vanselfsprekend is, is dat as jy wil lewe, jy naby die fontein moet gaan woon.

Wie ’n lewe wil hê, moet dus naby die HERE lewe.

Dit is die boodskap wat die Spreukeboeke na ons bring.

“Die vrees van die HERE is 'n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.” (Spreuke 14:27)

Wil jy ’n goeie en vrugbare lewe hê, bly naby die HERE en vrees Hom.

En net soos daar vanaf ’n fontein ’n rivier begin stroom, en net soos daar vanuit die rivier almal kanale gegrawe word, om die lewewekkende water al hoe dieper in die dorland in te lei ... dink maar aan Kuruman, hoe daar vanuit die oog van Kuruman vir kilometers ver kanale en leivore gegrawe is om die vars water te lei, so is dit ook by die HERE.

Die HERE is ’n fontein van lewe, en die vrees van die HERE is ook ’n fontein van lewe.

En selfs hulle wat die HERE vrees, word op hulle beurt ’n fontein van lewe.

Daaroor dig Salomo ook in die Spreukeboek:

“Die mond van die regverdige is 'n fontein van lewe ...” (Spreuke 10:11)

Besonder is dit, dat ’n regverdige ook ’n fontein van lewe kan word!

Dit is net moontlik omdat die regverdige verbonde is aan die HERE, wat die uiteindelike fontein van lewende water is!

Net soos ’n kanaal of leivoor uiteindelik verbind is met die oog, met die fontein, waar die vars water uit die grond uitspuit!

Maar wat ’n wonder is dit dus, dat die regverdige se lewe ook so kan word vir sy omgewing.

’n Fontein van lafenis vir sy omgewing.

Dit mag julle wees vir julle omgewing, gemeente, broers en susters, as jy gevoed word vanuit die werklike fontein.

Jesaja verwoord dit pragtig in hoofstuk 58:11: “En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.” (Jesaja 58:11)

Hierdie sin begin met die HERE as onderwerp.

In die eerste deel van die sin is die HERE die onderwerp, en jou siel is die voorwerp.

Die HERE is die fontein van lewende water wat jou siel versadig en jou gebeente sterk maak.

Jou siel is soos ’n kanaal wat vol lewende vars water loop wat van die HERE afkom, Hy wat die fontein van lewe is.

Maar dan, in die tweede deel van die sin, die bysin, word jy self die onderwerp.

“... jy sal wees soos ’n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie”!

Wat ’n kragtige versekering.

Ons ken almal seisoensgebonde riviere in ons land.

Die meeste riviere in ons land is seisoensgebonde, en nie standhoudend nie.

Selfs ’n groot rivier soos die Limpopo is nie werklik standhoudend nie.

In die droë maande stroom dit nie werklik meer nie, en sien mens net poele van plek tot plek.

’n Standhoudende rivier stroom egter kragtig die hele jaar deur.

So ’n rivier, so kanaal mag jy wees, as jou ssiel verbonde is, ja versadig word deur die HERE self.

Hy is die groot fontein van lewende waters.

Wie se siel aan Hom verbonde is, word nooit droog nie, maar word self ’n fontein van water wat nooit teleurstel vir sy omgewing nie.

Wat ’n voorreg om so iemand vir jou omgewing te wees!

Dit is slegs moontlik as jou kanaal gedurig verbonde bly met die groot Bron van alles wat lewe.

 

Dit is dan ook die aanklag van die profeet Jeremia teen die volk Israel.

Die feit dat hulle weggegaan het vanaf hierdie fontein van lewende water.

Die feit dat hulle kanale begin grawe het na afgode wat geen standhoudende water kan verseker nie!

Jeremia 17: “almal wat U verlaat, sal beskaamd staan ...  want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat. Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.” (Jer 17:13-14)
En Jeremia 2: “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” (Jer 2:13)
Nou die Israeliete kon hierdie beeldspraak baie goed verstaan.

Net so kan ons, in die droë Suid-Afrika, hierdie beeldspraak verstaan.

As jy êrens in die Kalahari met gebarste reënbakke gaan probeer om ’n lewe op te bou, gaan jou lewe nie lank duur nie.

Eerstens omdat daar bitter weinig reën val, tweedens omdat jou reënbakke gebars is en die water nie sal kan vashou nie.

So dom was die Israeliete toe hulle die HERE, die standhoudende nimmer teleurstellende Bron van lewende water, ingeruil het vir die afgode.

Dit was die domste besluit wat hulle kon geneem het.

Tog het die Israeliete dit gedoen.

Tog doen mense dit vandag nog steeds.

Hulle stel hulle vertroue op dit wat nie betroubaar is nie.

Hulle gaan bly op plekke waar daar nie water is nie, en waar hulle van dors gaan sterf.

Geestelike dors.

Pleks van om jou lewenshuis naby die HERE te bou, en naby hulle wat Hom dien.

Want daar kry jy standhoudende kristalhelder water.

By Hom, die Bron van die lewe.

En selfs hulle wat naby Hom woon, word fonteine van lewe, soos ons uit die Skrif gesien het.

Kies jou blyplek reg, om te voorkom dat jou siel verdroog en verdor.

 

Hierdie boodskap uit die Ou Testament, dat die HERE die fontein van die lewe is, en dat hulle wat by Hom skuil ook ’n bron van lewende water word, vind ons net so terug in die Nuwe Testament.

Jesaja het al geprofeteer dat julle water met vreugde sou skep uit die fonteine van heil (Jes 12:3).

Dit het in Christus tot vervulling gekom.

In die Nuwe Testament openbaar Christus Homself as die Bron van die water van die ewige lewe.

Dit het pragtig uitgekom in die gedeelte wat ons gelees het.

Jesus het deur die droë sentrale deel van Israel gereis, van suid na noord, en Hy het deur die landstreek gekom waar die Samaritane gewoon het.

Daar het hy in die warmste van die dag by ’n put gaan sit om uit te rus.

’n Put is ’n diep gat in die grond, waar mense met behulp van ’n skepding, ’n emmer of so, water diep uit die grond kon skep.

Dis sê maar soos ons boorgate vandag.

Dit is water, maar nog nie lewende water nie.

Lewende water was water wat self, soos met ’n fontein, uit die aarde geborrel of gespuit het.

In elk geval moes Jesus tevrede wees met hierdie water uit die put, omdat daar nie ’n fontein in die omgewing was nie.

’n Put was ook waardevol.

Spesifiek hierdie put, soos die Samaritaanse vrou genoem het, het teruggegaan na die dae van Jakob.

Skynbaar het Jakob of die put gegrawe, of dit vir sy nageslag verwerf deur die grond waar dit geleë was, te koop.

Sedertien het die put al vir eeue sy dienste bewys, deur in ’n droë warm land die mense toegang te skenk tot grondwater.

In die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou, wat toe daar by die put ontstaan het, nooi Jesus haar egter uit om toegang te kry tot lewende water.

Die vrou, wat die omgewing goed geken het, was verbaas, amper verontwaardig.

Asof hierdie man haar iets beters kon bied as haar voorvader Jakob, wat vir hulle die put gegee het.

Maar inderdaad, Jesus kon haar iets veel beters bied!

Inderdaad: lewende water!

Hy sê in vers 14: “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14)

Nou later uit die gesprek blyk dat Jesus nie hier gewone water bedoel het nie.

Later in die gesprek het dit naamlik gehandel oor waar die HERE gedien moes word.

Moes dit in Jerusalem gebeur, waar die tempel van die Jode gestaan het?

Of moes dit op die berg Gerisim gebeur, waar die Samaritane dit gedoen het?

Christus lei die vrou egter na Homself toe, as Hy profeteer dat in die toekoms geeneen van hierdie heilige berge meer nodig sal wees nie, maar dat die ware aanbidders Hom in gees en waarheid sal aanbid.

Ja Hy self is dus die lewende water!

En daardie uitdrukking verwys dan na die ewige lewe, wat Hy gewaarborg het deur sy plaasvervangende dood op Golgota, deurdat Hy die dood oorwin het deur uit die graf op te staan.

Sy regverdiging aan die kruis is lewende water vir elke siel wat Hom aanbid, wat by Hom skuil, wat dors na Hom.

“Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6)

Christus self is die fontein van die lewe.

Hierdie goeie boodskap, hierdie Evangelie, het die Samaritaanse vrou toe saamgevat na haar dorp toe.

Sy het van Christus getuig, die Bron van lewende water.

Die Bybel sê: “En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo ...” (Joh 4:39)

 

Hierdie pragtige beeld, dat Jesus die fontein van lewende water is, vind ons later weer in die Evangelie van Johannes.

In Johannes 7 word beskryf hoe Jesus die Huttefees in Jerusalem besoek het.

Nou tydens die Huttefees was daar ’n seremonie met water wat by die tempel plaasgevind het.

Dit het herinner aan die pragtige visioen van die profeet Esegiël, van die lewende water wat vanuit die tempel gestroom het – Esegiël 47.

Dit het ’n river geword wat hoe langer hoe dieper en kragtiger gestroom het.

Hierdie rivier het, sê vers 8, het tot in die see gestroom, en die waters van die see het gesond geword.

Hou in gedagte, Esegiël bedoel hier die Dooie See, wat so sout is dat geen vis daarin kan lewe nie.

Maar die water uit die tempel het die see dus gesond gemaak, met die gevolg dat dit begin wemel het van visse, net soos in die Groot See – die Middellandse See.

Lieflike en bekorende beeldspraak is dit, hoe die invloed van die tempel die nasies sal genees!

Nou gemeente, op Loofhuttefees is daar elke jaar ‘n seremonie gehou, wat hierdie asemrowende visioen in herinnering geroep en uitgebeeld het.

In Johannes 7 sluit Jesus by hierdie seremonie aan.

En wat Hy dan sê, is geweldig ingrypend: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh 7:38)

Jesus verklaar hier dus dat daardie magtige visioen van Esegiël in Hom vervul gaan word!

Hy is die tempel waaruit die lewende water sal stroom!

Nie nou al nie.

Eers moet, soos Hy ook vir die Jode gesê het, die tempel in drie dae afgebreek en weer opgebou word.

Maar dan sal dit sover wees.

Dan, op Pinksterdag, as sy Gees uitgestort word, dan sal die rivier begin stroom!

En daardie Pinksterrivier sal wees tot genesing van die nasies, van die heidene!

En dit is dus hierdie skitterende boodskap wat artikel 1 van die NGB saamvat, as dit sê:

God is regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is!

Dit was alreeds in die Ou Testament geopenbaar.

Maar in die Nuwe Testament het dit so duidelik geword, dat sy Seun, ons Here Jesus Christus, die alleroorvloedigste fontein is wat die wêreld sal genees!

Ja die lewende waters wat uit Hom stroom, sal vertak oor die lengte en breedte van die aarde, en dit sal die nasies gesond maak.

Die nuwe bedeling is ’n bewys hiervan.

Daardie kragtige fontein se waters stroom ook tot hier aan die suidpunt van Afrika.

Daardie kragtige fontein se waters het ook al hier in Afrika talle en talle heidene se lewens genees, en dit gaan nog steeds voort.

En solank ons naby Hom bly, en naby die wat Hom opreg dien, sal ons ook ononderbroke toegang hê tot hierdie fontein, en sal ons lewe ook opbloei danksy die kristalhelder lewende water.

Ja sal ons lewe gered word vir die ewigheid.

Geliefde gemeente, dit is die kragtige blye Evangelie van die Fontein van lewende water wat ek vandag aan u mag bring.

Kom, drink, kom skep julle lewensbakke en emmers vol, kom grawe kanale, sodat die heil van Christus julle lewe steeds dieper binnedring, ja genees, ja gelukkig maak!

 

Ons het nou gekom aan die einde van die behandeling van artikel 1 van die NGB.

Na ses preke oor hierdie artikel, kan mens eintlik nog steeds aangaan.

As dit oor ons God gaan, skiet woorde tekort.

Artikel 1 gee ’n voorsmakie van al die rykdom wat ons in die Skrif oor God vind.

Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtige, volkome wys en regverdig en goed.

Ja, Hy is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is!

En in Christus, die fontein van lewende water, het dit die duidelikste bekend geword.

Sy kristalhelder lewende water wat vanaf Pinksterdag die wêreld in begin stroom het, genees die nasies, genees die ganse skepping.

Ons sien met reikhalsende verlange uit na sy wederkoms,

Ons dors na Hom.

Ons lewe met sy belofte: “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6)

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 19:5

Gebed

Skriflesing: Esegiël 47:1-12

Ps 36:2

Skriflesing: Johannes 4:1-26 & 7:37-53

Ps 36:3

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1

Preek

Ps 87:4,5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 84:1,2

Kollekte

Ps 84:3,4,5

Seën