God is onsienlik

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-08-18
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1d
Preek Inhoud: 

Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is onsienlik)

 

Dit is vanjaar presies vyftig jaar gelede dat die eerste man op die maan geland het.

Hierdie feit geniet tans heelwat aandag in die media, op radio, televisie, ensovoorts.

Wat vir my baie mooi was, was dat toe daardie ruimtemanne, Neil Armstrong, Edwin Aldrin and Michael Collins op hulle reis was om op die maan te land, hulle uit die Bybel gelees het.

Behalwe vir Genesis 1, ook Psalm 8:

“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink” (Ps 8:4-5).

Al het hulle nie vir God daar in die ruimte gesien nie, tog was hulle baie bewus van sy bestaan, en dat hulle te make gehad het met die werk van sy hande.

 

Ons skenk vanaand aandag aan ‘n karaktereienskap van God, wat ons in NGB art. 1 bely, naamlik dat God onsienlik is.

Ons lusiter vanaand na wat die Woord ons hieroor openbaar.

Wat beteken dit dat God onsienlik is?

Ons kan nie vir God sien nie.

Ook al klim ons in ‘n ruimtetuig, ook al gaan kyk ons deur die sterkste mikroskoop van Sutherland, ons sal nie vir God sien nie.

En dan die vraag: hoe is dit dan moontlik om in ‘n onsienlike God te glo?

 

Tema: God is onsienlik

 

Die Nederlandse Geloofsbelydenis begin met die belydenis dat God ‘n geestelike Wese is.

Dit het te make met die eienskap wat later in artikel 1 genoem word, die feit dat Hy onsienlik is.

Nou het die term ‘geestelike Wese’ al onder die nodige kritiek deurgeloop.

Maar dit is omdat die term te veel op ‘n filosofiese manier uitgelê is, byvoorbeeld Platonies.

In die ou Griekse denke is ‘n groot onderskeid gemaak tussen geestelik en liggaamlik.

Geestelik sou goed wees, liggaamlik sleg.

Maar hierdie onderskeid is vreemd aan die Bybel.

Vlees en Gees in die Bybel is ‘n onderskeid tussen sondig en nie sondig, tussen die duiwel en die Heilige Gees.

Die Bybel sê nie dat die liggaamlike, die materie, sleg is, of dat dit van ‘n laer orde is nie.

God is self die Skepper van alle materie, Hy is die Skepper van elkeen van ons se liggame.

So dit is nie reg om die konnotasie dat die aarde en alle materie sleg is, te heg aan die feit dat God hier ‘n geestelike Wese genoem word nie.

Alhoewel God nie ‘n liggaam het soos ons nie, alhoewel Hy onsienlik is, bly die liggaam ‘n pragtige skepping deur Hom.

Soseer selfs, dat God in die Bybel soms liggaamsdele gebruik as beeldspraak om na Homself te verwys.

Laat ek enkele voorbeelde noem:

In Genesis 6:6 word verwys na God se hart: Dit het “die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.”

Die Bybel verwys dikwels na God se hande, soos in Jesaja 65:2: “Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ‘n opstandige volk”.

Ook lees ons oor God se vingers – Psalm 8:4 wat ek reeds in die inleiding gelees het: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het”.

Ook lees ons oor God se arm – Deuteronomium 9:29: “u uitgestrekte arm”.

Jesaja 40:11 praat oor God se bors: “Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra”.

Die Bybel praat selfs van God se vlerke en sy vere – Psalm 91:4: Hy sal jou dek met sy vere, en onder sy vleuels sal jy skuil.

Al hierdie liggaamsdele van mense of diere word in die Bybel gebruik om na ‘n karaktereienskap van God te verwys.

God se hand dui byvoorbeeld op sy sorg en voorsienigheid.

Sy uitgestrekte arm op sy krag.

Sy hart op sy wilsbesluit.

Maar tog kan mens nie uit hierdie Skrifgedeeltes aflei dat God ‘n liggaam het nie.

God is ‘n geestelike Wese, soos artikel 1 van die NGB sê.

Nietemin, die feit dat God hierdie liggaamsdele as beeldspraak gebruik om na Homself te verwys, benadruk wel dat die liggaamlike op sig nie sondig is nie.

Die liggaam is per slot van rekening ‘n volmaakte skepping van God self!

 

Maar terselfdertyd oorstyg die Skepper dit wat Hy geskep het, by verre.

Die Bybel is daarom ook vol waarskuwings dat ons nie te menslik oor God moet dink nie.

Ons moet Hom nie probeer vasvang in ons beperkte wêreldbeeld nie.

Ons moet Hom nie probeer afbeeld in terme van iets wat vir ons grypbaar is nie.

Toe die volk Israel ‘n goue kalf gemaak het, en God daardeur begin aanbid het, was God woedend.

Die feit dat God onsienlik is, het alles met die tweede gebod te make:

Jy mag vir jou geen gesnede beed of enige gelykenis maak nie.

Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.

Ek is die HERE, jou God!

God oorstyg elke moontlike beeldtenis of denkbeeld op aarde.

Daarom is dit so belangrik dat ons vashou aan die belydenis dat Hy onsienlik is.

Veral in ons tyd bly dit net so belangrik.

Ons lewe in ‘n tyd waarin die natuurwetenskappe die lakens uitdeel.

Die Westerse wêreldbeeld kom daarop neer dat slegs dit wat wetenskaplik waarneembaar is, dat slegs dit bestaan.

Slegs dit wat met die blote oog, of met ‘n wetenskaplik meetinstrument, waargeneem kan word.

Ja, daar is dinge wat die menslike oog nie kan sien nie.

Soos infrarooi, of ultraviolet.

Maar, daar is meetinstrumente wat dit kan waarneem, dus is dit deel van die werklikheid.

Dit vereis egter van ‘n mens ‘n nederige houding, ‘n opoffering van sy wetenskaplike hoogmoed, om te moet erken dat daar inderdaad ook dinge is wat letterlik onsienlik is, en daarmee bedoel ek dan, ook werklik onmeetlik en onwaarneembaar vir enige wetenskaplike meetinstrumente.

Die wetenskap sal dit nie regkry om God ooit waar te neem nie, al is dit met die mees kragtige teleskoop.

Wie na Sutherland gaan met die doel om God in die hemel te wil waarneem, of wie in ‘n ruimtetuig klim om te gaan kyk of God daar êrens in die ruimte is, anderkant Mars of dalk nog verder, vir so iemand kan jy voor sy vertrek al sê: Jy sal God nie sien nie.

Ons bely in artikel 1: God is onsienlik.

Ja, orals, met ‘n teleskoop, of met ‘n mikroskoop, of met die blote oog, sal jy wel die werke van sy hande sien.

Soos ons sing in Psalm 104:24: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”

Soos ons in die volgende artikel van die NGB gaan hoor: Die skepping is soos ’n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God duidelik laat sien.

God is self onsienlik.

Wil jy God sien, wil jy weet of God bestaan: Kyk na die werke van sy hande!

Hulle is, sê die NGB, meer as genoeg om mens te oortuig van God se bestaan!

 

Maar die feit dat God onsienlik is, dit hou ons nederig.

Dit is ’n permanente herinnering daaraan dat Hy net soveel groter is.

Hy is die Pottebakker. Ons is die klei.

Soos iemand ’n keer vir ’n rabbi gesê het: Ek sal nooit in God glo nie, tensy ek Hom gesien het.

Die rabbi antwoord toe: Wil jy God sien? Kyk dan in die son.

Nee, het die persoon gesê, dan word ek blind.

Inderdaad, het die rabbi geantwoord: Niemand kan God sien én siende bly nie.

Hy bewoon ‘n ontoeganklike lig wat geen mens gesien het of kan sien nie – 1 Timotheüs 6:16.

Daar het jy dit.

Geen mens kan Hom sien nie.

Dit het die HERE oor reeds aan Moses met soveel woorde bekend gemaak: “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” (Ex 33:20)

 

Maar, gemeente, die skitterende boodskap van die volheid van die tyd was dat die onsienlike God besluit het om Homself op aarde sigbaar te maak.

Want in Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het, het God in sigbare gestalte onder sy volk verskyn en kom woon.

Soos ons dit so mooi lees in Kolossense 1: “Hy is die Beeld van die onsienlike God” (vers 15).

Op eie krag, met ons blote oog, met ons wetenskaplike toerusting en meetapparate, gaan ons nooit op eie krag God kan sien nie.

Maar van sy kant het dit God behaag om na ons te kom.

In sy Woord was Hy naby sy volk in die Ou Testament.

En in sy Seun het Hy nog nader aan ons gekom!

Die implikasie hiervan is: As jy twyfels het of die onsienlike God bestaan, kyk na sy Seun!

Kyk na Christus!

Kyk na wat Hy op aarde kom doen het!

Hy het in ons geskiedenis en ons werklikheid ingekom.

Hy het die onsienlike Vader aan ons geopenbaar.

Hy het versoening bewerkstellig deur sy Middelaarswerk op aarde!

Ons mag aan Hom, aan sy prediking vashou!

Hy is die Beeld van die onsienlike God!

 

Ons mog vanaand gaste wees by Hom aan tafel!

In Christus het die onsienlike God naby ons gekom.

In Christus het die onsienlike God vir ons sigbaar geword.

Deur Hom het ons ontvang genade op genade.

Niemand het ooit God gesien nie.

Die enigegebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar (Joh 1:15-18).

Sy Seun het die verbond met die Skepper weer herstel, wat ons verbreek het.

Halleluja, prys die onsienlike God!

Wat is die mens, wat is ons, dat U aan ons gedink het!

Tog het U, U het versoening bewerkstellig.

Ons mag U daarvoor ewig dankbaar wees!

 

Ons het vanaand aandag geskenk aan ‘n karaktereienskap van God, die feit dat hy onsienlik is.

As mens deesdae programme op televisie, soos die kanaal National Geographic, kyk, wat aandag skenk aan die ruimtenavorsing, teleskope wat diep die ruimte in tuur, onbemande ruimtetuie wat na Mars en selfs nog verder gestuur word ... dan spreek uit daardie programme dikwels ook hulle wêreldbeeld.

So asof die mens nou al so ver in die ruimte gekom het, maar nog steeds nie vir God gevind het nie ...

‘n Arrogante houding, om die minste te sê.

Dit verraai die nihilistiese wêreldbeeld, waarin die Weste al hoe meer verseild geraak het.

Want reeds in die Skrif is dit al so duidelik gestel:

God bewoon ‘n ontoeganklike lig wat geen mens gesien het of kan sien nie (1 Timotheüs 6:16).

Dit help nie om na God op soek te gaan nie.

Met jou mense-oog en meetinstrumente gaan jy Hom nooit vind nie!

 

Dan kan ons eerder leer uit die houding van die eerste manne op die maan, nou vyftig jaar gelede, wat besef het, hulle betree ‘n hemelliggaam wat deur die vingers van God geskep is – Psalm 8!

En as ons vanaand weer die kerk verlaat, en ons kyk op na die volmaan, afgelope Donderdag- op Vrydagnag was volmaan – dan mag ons kyk met die besef:

Hoe ontsagwekkend groot is u werke, o God!

En ons mag Hom uit ons hart dank, dat Hy aan ons gedink het, en ons sy geliefde Seun gestuur het!

Ons mag uitroep, met die woorde in 1 Timotheüs 1: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.” (vers 17)

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 8:1

Gebed

Nagmaalsformulier (p.23)

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Sb 8:3

1e tafel: Skriflesing: Johannes 1:1-18; Kolossense 1:13-23; 1 Timotheüs 6:11-16; Sing: Sb 8:4

Lofverheffing & Dankgebed

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1

Preek

Ps 8:1-7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte

Ps 104:12,14,15,17,19,20,21

Seën