Christus se tweesnydende swaard in Stefanus se prediking

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-06-23
Text: 
Handelinge 7:2-53
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 7:2-53

 

Ons het gelees hoe die reaksie was op Stefanus se preek.

As mens vandag Stefanus se preek vir ‘n willekeurige persoon sou gee om te lees, sal die reaksie heel moontlik wees:

Wel, Stefanus het daarvoor gesoek.

In sy preek het hy die mense gekwets.

Geen wonder hulle was woedend nie.

Die gemiddelde mens vandag sal waarskynlik nie sy steniging goedkeur nie.

Maar hulle sal beslis vir Stefanus adviseer om minder konfronterend te preek, en meer met die mense se gevoelens rekening te hou.

Aan die einde van die dag het hy gekry waarvoor hy gesoek het, sal baie mense opmerk.

Sy prediking het neergekom op haatspraak.

 

Nou kyk ons vandag na hierdie preek van Stefanus, wat onderdeel is van God se Woord, en ons kyk na die mense se reaksie daarop.

En ons vra onsself die vraag: Kan ons iets leer uit Stefanus se preek?

Wat wil Christus vir ons leer met hierdie hoofstuk in die Bybel?

 

Tema: Christus se tweesnydende swaard in Stefanus se prediking

1         Bedoeling van Stefanus se preek vir sy tyd

2         Boodskap van Stefanus se preek vir ons tyd

 

1         Bedoeling van Stefanus se preek vir sy tyd

Wat veral opval, is hoe direk Stefanus by Christus se prediking aansluit.

Want Jesus het die Jode op soortgelyke wyse toegespreek in sy prediking.

Wee julle, want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het hulle gedood.

Julle doen nou dieselfde met God se profete en apostels.

“Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van die sal hulle doodmaak en vervolg, sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaria wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.”

Tot sover Jesus se woorde uit sy prediking in Lukas 11  (Luk 11:47-51).

 

As ons nou na Stefanus se preek gaan kyk, val op dat dit veral uit voorbeelde bestaan uit die verlede, uit die Ou Testament.

Stefanus noem in sy preek voorbeelde van verset teen hulle wat deur God na sy volk gestuur is om hulle uit benarde omstandighede te bevry.

Ons gaan in kort na die hierdie voorbeelde in Stefanus se preek kyk.

Die verwytende vraag teen die slot van die preek is dan:

Wie van die profete het julle vaders nie vervolg nie?

Hierdie verset, wat deur alle eeue sigbaar was in Israel, vind sy hoogtepunt in die hede, noudat hulle die Regverdige, wat deur al die profete aangekondig is, gekruisig het.

 

Om die preek van Stefanus beter te verstaan, moet ons verder daarop let dat dit direk te make het met die beskuldiging, wat daar teen Stefanus ingebring is.

Handelinge 6:13: Valse getuies het teen hom getuig: “Die man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie.”

Die aanklagte is vaag, maar suggereer iets baie ergs.

Iets wat die doodstraf deur steniging verdien.

Hierdie aanklagte het verband gehou met Christus se profesië oor die toekoms van die tempel, soos ons in Lukas 21 kan lees:

“En toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy [dit is Jesus]: Hierdie dinge wat julle sien – daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.” (Luk 21:5-6)

En soos dit altyd is met lastering, daar skuil altyd iets in wat waar is.

Maar wel iets wat volledig uit verband geruk is.

 

Wat ons egter in Stefanus se preek sien, is dat hy hierdie beskuldiging heeltemal omdraai en terugkaats teen sy aanklaers.

Dit is nie hy wat laster teen die tempel en teen Moses se wet nie, maar hulle!

Opvallend dat Stefanus se gesig begin straal het soos ‘n engel s’n (Hand 6:15), net soos Moses se gesig gestraal het nadat hy God op die berg Horeb ontmoet het.

Dit moes die Jode laat nadink het!

Die feit dat sy gesig gestraal het, was nie ‘n bewys van lastering nie, juis die teenoorgestelde!

Net soos Moses se gesig gestraal het, net soos Moses met gesag kon spreek, omdat God met hom gepraat het, so ook Stefanus nou!

 

In sy prediking stel Stefanus hom enersyds solidêr op.

Hy praat steeds oor ons vaders, hy is deel van God se ou verbondsvolk.

Hy kry hulle jammer, hy is begaan oor hulle ewige lot.

Hierdie solidêre houding hou Stefanus vol tot sy laaste asem, as hy uitroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!”

Maar terselfdertyd gebruik hy ook die woord julle in sy preek, as hy sy hoorders oproep om hulle te bekeer en Jesus as Messias te aanvaar.

 

In sy prediking vertel Stefanus die Bybelse geskiedenis nie net oor nie, hy lê bewuste aksente.

So wys hy op die aktualiteit.

Hierdie oorvertel van die Bybelse geskiedenis met ‘n spesifieke boodskap vir die hede, was ‘n ou tradisie onder God se volk.

Ook al in die Ou Testament is daar verskeie voorbeelde van die oorvertel van Israel se geskiedenis, met ‘n kritiese spits op die hede.

Ons kan dink aan Psalm 78, of 105, of 106, of Esegiël 20, waar die geskiedenis ook oorvertel word, met die aksent op die volk se ontrou, en God se trou.

So word die omgang van God met sy verbondsvolk uit die verlede as kritiese voorbeeld vir die hede gebruik.

Dit is ‘n oorvertelling met ‘n bedoeling.

Bepaalde elemente uit die geskiedenis word toegespits op die situasie van die hede.

 

Die beskuldiging teen Stefanus was naamlik dat hy steeds lasterlike dinge praat teen die heilige plek.

Met heilige plek het die Jode die tempel bedoel.

Dit was vir hulle God se ewige woonplek.

Maar net soos die profete uit die Ou Testament, het Jesus die volk ook gewaarsku dat God nie ewig daar gaan woon nie.

God is nie gebonde aan een plek, een volk, een land nie.

Hierdie selfde aksent hoor ons nou ook in die prediking van Stefanus.

In dit wat Stefanus oor Abraham vertel, benadruk hy dat Abraham, die Jode se voorvader, maar net ‘n vreemdeling in hierdie land was.

Abraham het ‘n belofte besit, maar hy het geen eiendom besit nie.

Stefanus relativeer so die binding van God met hierdie heilige plek.

God is nie aan die beloofde land en hierdie heilige plek gebonde nie.

 

Ook sien ons in sy preek dat hy nie huiwer om eksplisiet op die aartsvaders se sondes te wys nie.

Byvoorbeeld hoe hulle hulle broer Josef uit jaloesie na Egipte verkoop het.

Dit was ‘n duik in die nasionale trots van die Jode.

 

Stefanus wy verder baie uit oor Moses in sy preek.

Dit het ook te make met die beskuldiging wat hulle teen hom ingebring het.

Stefanus sou, net soos Christus, lasterlike dinge gesê het teen die wet van Moses (Hand 6:13).

In sy prediking staan Stefanus egter veral stil by hoe die volk Moses behandel het.

God het Moses as redder na hulle gestuur, maar die volk het Moses geminag.

Hulle het hulle die hele tyd teen Moses verset, met as toppunt natuurlik die episode toe hulle die goue kalf gemaak het.

Stefanus gebruik in sy preek ‘n uitdrukking wat die volk van destyds gelykstel aan die heidenvolke.

Soos die heidene vir hulleself afgode gefabriseer het, so het Israel dit met die goue kalf gedoen.

In sy preek verduidelik Stefanus dat Israel nou besig is om presies weer dieselfde te doen!

Israel doen presies waarvan hulle Stefanus beskuldig.

Hulle verset hulle teen Moeses en God self.

Christus het nie gekom om die wet van Moses te ontbind nie, maar om dit te vervul.

Wie Christus verwerp, verwerp ook die wet van Moses!

Soos die volk van ouds nie wou erken dat Moses deur God gestuur is om hulle te verlos nie, so wil die volk van teenwoordig nie erken dat God Christus gestuur het om hulle te verlos nie.

So kaats Stefanus in sy prediking die beskuldiging terug.

Dis nie hy, in navolging van Christus, wat lasterlike dinge teen Moses spreek nie.

Maar dis hulle!

En net soos die volk destyds hulle blind gehou het vir die wondertekens wat God deur Moses verrig het, so hou die volk vandag hulleself blind vir die wondertekens wat God deur Christus, en ook deur Stefanus, onder sy volk verrig het.

 

Stefanus rond sy preek af deur spesifiek aandag te vra vir die plek en funksie van die tempel.

Hy kla die Jode aan vir die manier hoe hulle met die tempel begin omgaan het.

Hulle godsdienstige houding het naamlik teruggesak na die vlak van die heidendom.

Die heidene het ook gedink dat hulle hulle afgod in ‘n tempel kon vasvang, en daardeur in hulle greep kon kry.

Die Jode van sy dae, betoog Stefanus, het presies dieselfde met hierdie heilige plek, die tempel, gedoen.

En juis hierdie houding, hierdie verafgoding van die tempel, het hulle verhinder om Jesus as die Messias te herken.

En dit is ook hierdie houding wat hulle nou so aggresief maak teenoor Stefanus.

In hierdie houding openbaar hulle hulleself as ‘n hardnekkige volk, onbesnede van hart.

Net soos hulle voorvaders, het hulle ook die neiging om die profete te vermoor, wat met die waarheid en met die wysheid van bo na hulle kom (1 Kon 19:10-14; Neh 9:26; 2 Kron 24:22v; Heb 11:37).

 

Om saam te vat, in sy prediking maak Stefanus duidelik dat hy Moses erken as wetgewer, en dat hy respek het vir die tempel as plek waar Israel sy God kan ontmoet.

Terselfdertyd, en in lyn met die profete uit die Ou Testament, waarsku hy teen verafgoding van die tempel, en wys hy daarop dat die lewende God nie aan hierdie plek gebonde is nie.

Ook maak hy duidelik dat Israel se verset in die verlede teen Josef en Moses, en die Jode se huidige verset teen Christus en teen hom, dat dit op een lyn lê.

En so is die sirkel rond: Stefanus het die beskuldiging teen hom letterlik omgedraai en rig dit nou teen sy aanklaers!

 

Stefanus se prediking het die slegtheid van sy aanklaers net nog meer evident gemaak.

Sy prediking was soos ‘n tweesnydende swaard.

Ons lees dit in vers 54: “toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners.”

Woedend in hulle harte, mens kan ook vertaal: dit was of ‘n mes in hulle hart gesteek is.

Dit kon hulle nou nie meer skeel of die regsgeding op wettige wyse plaasgevind het nie.

Van die wyse woorde van Gamaliël, wat ons in Handelinge 5 lees, is niks meer oor nie.

Sy verhoor en vermoording word uit en uit ‘n wraakaksie.

 

Maar Stefanus het besef dat ‘n leerling nie bo sy leermeester staan nie.

As hulle dit met sy Heiland gedoen het, het dieselfde lot hom te wagte gestaan.

Die uitroep van Stefanus in vers 59 herinner aan Christus se kruiswoorde:

Vader, in u hande gee Ek my gees oor! (Luk 23:46).

So roep Stefanus nou: Here Jesus, ontvang my gees.

 

2         Boodskap van Stefanus se preek vir ons tyd

Nou is Stefanus se preek nie die enigste preek wat ons in Handelinge vind nie.

Ons vind verskeie preke in Handelinge.

Preke van Petrus, soos in Handelinge 2 na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, en in Handelinge 3, na die dood van die kreupelgebore man.

Ons vind ook preke van Paulus.

Byvoorbeeld in Handelinge 13 ‘n samevatting van die preek wat hy in die sinagoge van Antionchië te Pisidië gehou het.

En in Handelinge 17 Paulus se preek wat hy op die Areopagus gehou het.

In Handelinge 20 Paulus se preek spesifiek vir die ouderlinge van Efese.

En in Handelinge 24 -26, Paulus se prediking van die Evangelie voor Felix, Festus en Agrippa.

As mens al hierdie preke in die boek Handelinge bestudeer, val dit op dat Stefanus se preek nie uitsonderlik was nie.

Dis nie so dat net Stefanus se preek ‘n vorm van haatspraak was, terwyl Petrus en Paulus se preke totaal anders was nie.

Dis nie so dat Petrus en Paulus se preke minder konfronterend was nie.

By al die preke in Handelinge sien ons dieselfde tendens.

As die Evangelie gepreek word, word dit gebring soos ‘n tweesnydende swaard.

Die ellende van die mens, of dit nou ‘n Jood of ‘n heiden is, word met soveel woorde aangespreek.

Die gruwelike misdaad wat die Jode begaan het, dat hulle hulle Messias gekruisig het, daaroor draai Stefanus, Petrus en Paulus nie doekies om nie.

En die heidene se ellende word nie gemaskeer nie.

Dink maar in hierdie verband ook net aan Paulus se diep ingrypende analise van die heidenlewe in die eerste hoofstukke van die Romeinebrief.

 

Uit hierdie preke in die Skrif kan ons baie leer vir die prediking vandag.

Orals om ons heen, in ook in ons eie kring, sien mens ‘n tendens om die skerpte van die swaard van die prediking bietjie af te stomp.

Die prediker moet meer met die gemeentelede se gevoelens rekening hou.

Die prediker mag nie mense se gevoelens kwets nie.

Nie bejaardes s’n nie, ook nie die jeug s’n nie.

Die prediking moet vir elkeen relevant wees, dit moet elkeen inspireer op sy lewensreis.

So word met fraai woorde verduidelik hoe die prediking almal tevrede kan stel.

 

Maar geliefde broers en susters, so dreig Christus se gemeente aan die slaap te raak onder die prediking.

Aan die slaap, dan bedoel ek: geestelik aan die slaap.

Stefanus se preek het die mense nie aan die slaap gesus nie.

Dit het die mense se bloed laat kook.

Voel jy ook soms dat die prediking jou bloed laat kook?

As dit geval is, dan sit jy waarskynlik onder goeie prediking, Skriftuurlike prediking.

Die prediking is naamlik Christus se instrument om die ou mens in jou dood te maak.

Die prediking is naamlik Christus se instrument om die hart van klip te verbrysel.

Die prediking is Christus se instrument om jou op die knieë te bring, vol berou.

Die prediking breek af, maar bou ook op.

Die nuwe mens kom tot lewe, daar waar die ou mens afsterf.

Deur Stefanus se prediking het Christus byvoorbeeld ‘n begin gemaak in Saulus se lewe.

Op daardie stadium was die opstand nog nie gebreek nie.

Saulus het die steniging goedgekeur.

Saulus was net so vererg oor Stefanus se preek as die ander wat hom gestenig het.

Tog het die wyse hoe Stefanus die Ou Testament gepreek het, begin om te torring aan Saulus se gedagtes.

Dit het hom begin voorberei vir die ontmoeting met Christus, waaroor ons in Handelinge 9 lees.

Stelselmatig het Saulus begin besef dat die hele Ou Testament in Christus in vervulling gekom het.

 

Dit het u moontlik al opgeval, in elke erediens, voorafgaande aan die Skriflesing en prediking, vind daar ‘n gebed plaas.

‘n Belangrike onderdeel van hierdie gebed is dat daar gebid word vir die verligting van die Heilige Gees.

Ons natuurlike neiging, as ons die prediking van die Woord hoor, is om onsself daarteen te verset, net soos die mense teen Stefanus se preek gedoen het.

Daarom bid ons eksplisiet voorafgaande aan Skriflesing en prediking, of die Heilige Gees ons verstand wat verduister is, wil verlig.

En of die Heilige Gees ons hart, wat van klip is, wil sag maak.

Hierdie verligting deur die Heilige Gees is onmisbaar, sodat die gepredikte Woord in vrugbare bodem kan val.

Christus sy gedank, dat Hy deur sy Heilige Gees op sy eie goeie tyd ook Saulus se verstand en hart verlig het.

 

Geliefde gemeente, prys uself gelukkig as u in ‘n kerk is waar die prediking soos die van Stefanus, Petrus en Paulus is.

En mag u die verligting van die Heilige Gees ontvang, sodat die vrug van die prediking is droefheid oor u sondes, en ‘n hartlike vreugde in Christus.

Die Jode wat na Stefanus se preek geluister het, het teen Stefanus en sy persoon vasgekyk.

Hulle wou nie sy Sender agter hom sien nie.

Hulle wou nie erken dat hy nie sy eie mening verkondig het nie, maar die van die verhoogde Messias.

En dus het hulle hom gestenig.

As dit slegs Stefanus se persoonlike opninie was, dan was dit verstaanbaar, dan kon mens ‘n saak daarvoor maak dat hy met haatspraak besig was.

Maar nee, Stefanus het die feite wat met Christus gebeur het, eerlik weergegee.

Sy uitleg was korrek, dat hy in die Jode van sy dag dieselfde tendens raakgesien het as by die Jode van vorige eeue, wat heeltyd die profete deur God gestuur, vervolg en vermoor het.

Terselfdertyd laat die boek Handelinge sien, dat Christus vir Homself ook in daardie tyd ‘n gelowige res bewaar het.

En ook vandag sal Christus se profete dieselfde ervaar.

Die suiwere Evangelieverkondiging werk soos ‘n tweesnydende swaard.

Die Evangelieprediking werk verharding by sommiges, maar verootmoediging en geestelike groei by ander.

So gaan Christus voort om sy kerk te vergader deur sy Woord en Gees.

So gaan Christus voort om hulle te roep, te regverdig, te heilig en te verheerlik, hulle wat die Vader tot die ewige lewe uitverkies het.

Nie by elkeen gebeur dit op presies dieselfde moment nie.

Saulus het sy verharding teen die Evangelie nog geruime tyd volgehou.

So gebeur dit ook in Christus se gemeente vandag.

By sommiges duur dit tot in die gryse ouderdom, voordat die hart van klip verbrysel word.

Maar solank dit nog hede is, is dit nog genadetyd.

Wat ‘n voorreg om onder die Evangelieprediking te mag wees!

Amen.

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 31:1,2

Wet

Ps 119:62,63

Gebed

Skriflesing: Handelinge 6:8-8:3

Ps 31:3,4

Teks: Handelinge 7:2-53

Preek

Ps 106:9,10,11,19,20

Gebed

Kollekte

Ps 31:12-17

Seën