Christus se opdrag vir die Pinksterbedeling

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-06-09
Text: 
Handelinge 1:6-8
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 1:6-8

 

Ons mag vandag Pinksterdag vier.

Die fees van die uitbreiding van die Evangelie.

Dat uit alle nasies, stamme, volke en tale Christus sy onderdane versamel.

By Pinkster begin die ongekende skaalvergroting van die Nuwe Testament.

Ons mag die HERE dank vir hoe bevoorreg ons is om deel van hierdie groot onderneming van Christus te wees.

En laat ons onsself op hierdie Pinksterdag ook weer opskerp, en afvra, of ons inderdaad wel medewerkers, en nie teenwerkers is nie, van die koms van Christus se koninkryk.

Laat ons ons nog steeds inspireer deur Christus se Gees, of blus ons die Gees, of nog erger, sondig ons teen die Gees?

 

Christus se opdrag vir die Pinksterbedeling

  • Die nuwe bedeling oorskry by verre die grense van die ou bedeling
  • Die nuwe bedeling vervul die beloftes van die ou bedeling

 

  • Die nuwe bedeling oorskry by verre die grense van die ou bedeling

Die boek Handelinge begin, na Lukas se inleidende woorde aan Theofilus, direk met Jesus se belofte dat Hy sy Heilige Gees sou stuur.

Daarom moes die apostels in Jerusalem bly vir ‘n rukkie langer.

Maar hulle moes nie permanent in Jerusalem bly vashaak nie.

Sodra hulle die Gees ontvang het, moes hulle juis uitbeweeg.

 

In die gesprek, vlak voor Jesus se hemelvaart, het die apostels nuuskierig uitgevra oor die toekoms.

Hulle was hoopvol, vol verwagting.

Noudat hulle getuies geword het van Christus se opstanding uit die dood, het hulle groot dinge verwag.

Dit kom uit in die vraag wat hulle vra:

Wanneer kom die dag nou dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?

Hulle vraag is nog meer hoopvol selfs, want hulle sê: gaan dit nou in hierdie tyd gebeur?

Dit is dan in antwoord op hierdie vraag wat Jesus sy apostels die sendingsopdrag gee.

In sy antwoord op die apostels se vraag, hoor ons ‘n belangrike korreksie.

Nee, dit gaan nie net die koninkryk van Israel wees nie!

In die apostels se vraag kan mens hoor dat hulle nog veels te min van hulle opgestane Heiland verwag het.

Hulle het nog te beperk gedink.

Hulle vraag is nog op dieselfde vlak as die vraag wat Johannes en Jakobus se ma destyds vir Jesus gevra het, sien Mattheüs 20:

“Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra. En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter-- en een aan u linkerhand.”  (Matt 20:20-21)

Dieselfde beperkte opvatting hoor ons by die Emmaüsgangers.

Gesien al die wonders wat Jesus gedoen het, was hulle verwagtinge groot.

Lukas 24: “Jesus, die Nasarener, wat ‘n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk ... En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos ...” (vers 19-21)

Die Emmaüsgangers en die dissipels het gedink aan Oud-Testamentiese profesieë oor die wederoprigting van Israel, en hoe die Messias dit sou doen.

Dink aan ‘n profesie soos Jesaja 35: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”

Dit is wat die mense sien gebeur het, met Christus se koms, en dus was hulle verwagtings groot.

Nou het die tyd gekom, het hulle gehoop, dat die huis van Dawid weer opgerig gaan word!

Dink ook aan ‘n profesie soos ons vind in Jeremia 23: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek ... In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon.” (vers 5-6)

Dink aan die profesie in Jeremia 33: “Want so sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie ‘n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie” (vers 17).

En dink aan die profesie in Esegiël 34: “Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ‘n herder wees. En Ek, die HERE, Ek sal vir hulle ‘n God wees, en my kneg Dawid ‘n vors in hulle midde.” (Es 34:23-25).

Al hierdie profesieë het vir die apostels weer tot lewe gekom.

Hulle het besef: Dinge is naby! Dinge gaan nou gebeur!

 

En veral nou na Christus se opstanding was die apostels nog meer oortuig dat groot dinge hulle te wagte gestaan het.

Daarom dat hulle vrymoedig ongehinderd hulle vraag aan Jesus voorgelê het.

Hulle vraag was nie ‘n oop vraag nie, dit was, soos mens dit kan noem, eintlik ‘n geslote vraag.

Dit was so ‘n tipe vraag wat die persoon wat dit moes antwoord, eintlik al in ‘n rigting gedruk het.

“Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”

Die apostels was oortuig dat Jesus dit sou doen.

Hy gaan die koninkryk van Israel weer oprig.

Dis nou net die kwessie van tyd, wanneer presies.

Gaan dit in hierdie tyd wees?

Die apostels het daarvan uitgegaan dat Jesus ‘ja’ sou antwoord.

Hulle was net nuuskierig na wanneer presies.

Is dit ‘n kwessie van dae?

Of het die Here Jesus goeie redes om dit dalk nog vir ‘n maand of twee uit te stel?

Die dissipels kon nie meer wag nie.

Hulle verwagtings was groot.

 

Maar Christus se antwoord vang hulle dan onkant.

Die kern van sy antwoord was twee dinge.

Eerstens: Die tydstip is nie nou nie, en net die Vader het die mag om dit te bepaal.

Jesus gebruik twee woorde hier: die tye of geleenthede.

Die woord geleentheid (in Grieks: kairos) kan ook vertaal word met gunstige geleentheid, of regte oomblik.

Daardie tydstip, daardie regte oomblik, dit is slegs in die mag van die Vader om dit te bepaal.

En tweedens maak Jesus se antwoord baie duidelik dat die apostels se verwagtings nog nie groot genoeg was nie.

 

Deur Christus se hemelvaart het Hy naamlik die oë, die verwagtings, van die dissipels opgehef na die hemel – na die universele omvang van sy koninkryk.

En daarom sal hulle opdrag nie beperk wees tot God se ou verbondsvolk nie.

Nie beperk tot die Jode, waar hulle ook al verstrooid oor die wêreld gewoon het nie.

Nie beperk tot die verlore stamme van Israel, wat na die ballingskappe van die Ou Testament in die volkeresee opgelos het nie.

Nee, universeel!

Soos Christus dit eksplisiet noem: tot die uiterste van die aarde.

En om dit te kan doen, sal hulle krag ontvang op die Pinksterdag, as Christus uit die hemel sy Gees op hulle stuur.

En wat dit inhou, hierdie universele groot plan van Christus, dit word uit die res van die boek Handelinge baie duidelik.

Die res van die boek Handelinge beskryf die drie groot kringe wat hier in ons teks deur Christus genoem word:

Eerstens Jerusalem en Judea – dit was God se ou verbondsvolk.

Dan Samaria – dit was hulle wat van die verbond afgeval het.

En dan die uiterste van die aarde – dit is hulle wat nog nooit in die verbond was nie.

 

Waar op Pinksterdag die meerderheid mense wat hulle by die kerk gevoeg het, nog Jode was, al was dit Jode wat nie meer in Jerusalem of Judea gewoon het nie, al was dit Jode wat nie meer Hebreeus of Aramees gepraat het nie, maar al daardie tale waarvan ons Handelinge 2 lees, het ná Pinksterdag die Heilige Gees steeds die grense van die apostels verlê.

Die eerste sewe hoofstukke van Handelinge vind nog in Jerusalem plaas.

Maar in hoofstuk 8 word die oorgang gemaak van Jerusalem, via Judea, na Samaria.

Samaria, dit was die landstreek van die gemengde bevolking.

Die Samaritane, die half-bloed Jode.

Jode wat ten tye van die ballingskap vermeng geraak het met die heidenvolke wat hulle in die land kom vestig het.

En dan, in die tweede helfte van hoofstuk 8, ontmoet ons die eerste verteenwoordiger van die heidenwêreld.

‘n Baie opvallende grens is Filippus wat hier die Evangelie aan die hofdienaar uit Ethiopië moes gaan verkondig.

Hy is gedoop en in Christus se kerk opgeneem.

Die hofdienaar was ‘n eunug, ‘n ontmande, maar luidens die profesie van Jesaja is daar nou vir hom ‘n plek in God se volk!

En van daaraf word die kringe steeds wyer.

Christus se sendingsopdrag is soos ‘n klip wat in die water gegooi word.

Dit golwe kring steeds wyer uit, totdat dit uiteindelik die hele wêreld in beroering sal bring.

 ‘n Baie opvallende grens is toe die Heilige Gees uitgestort is op Cornelius, die Romeinse hoofman, ‘n volbloed heiden.

Was dit nie vir die visioen wat Christus hom geopenbaar het, sou Petrus dit nooit gewaag het om in so ‘n heiden se huis in te gaan nie.

Die feit dat Christus die Heilige Gees ook op hulle uitgestort het, was ‘n bevestiging dat dit in lyn is met sy manjifieke plan.

Ons lees in Handelinge 10: “En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is ... Toe het Petrus begin spreek: Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?” (vers 45-47)

 

‘n Baie opvallende grens is verder die uitspraak van die apostel Petrus, na die beraad wat in Jerusalem plaasgevind het.

Die Jode-Christene was naamlik aanvanklik ongerus oor wat die apostels, soos Paulus, onder die heidene begin doen het.

Maar die apostel Petrus se uitspraak het almal tot die regte insig gebring.

Petrus se uitspraak was ‘n bedekte vermaning aan die Jode-Christene in Jerusalem: “Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.” (Hand 15:11)

Met “hulle” verwys Petrus hier na al die heidene wat onder Paulus se prediking tot bekering gekom het.

Heidene wat nie soos die Jode enige wetswerke, enige besnydenis, enige verbondsagtergrond gehad het om hulle op te beroem nie.

Inderdaad, dit was pure genade dat daardie heidene deel mog word van Christus se kerk.

MAAR, beklemtoon Petrus, ook vir julle, Jode met al julle wetswerke en besnydenis en en en, ook vir julle is dit slegs en alleen pure genade dat julle gered mag word.

 

En so lees ons in die boek Handelinge van die een na die ander grens wat oorgesteek word.

Inderdaad, die Evangelie van Christus word gepredik aan heidene:

Lydia, en die tronkbewaarder van Filippi, Dionisius die Areopagiet, en Damaris, ensovoorts.

In al die verskillende dorpe en stede beperk Paulus homself nie tot die Jode nie, nie tot die sinagoges nie.

So kry Christus se sendingsbevel hande en voete: ‘n bevel om te gaan tot die uiterste van die aarde.

‘n Bevel om te gaan, nie net tot die nakomelinge van Abraham nie, maar tot die hele nageslag van Adam.

Soos Paulus dit so duidelik op die Areopagus maak:

“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en deur Hom uit die dode op te wek.” (Hand 17:30-31)

Die apostels moet getuies wees, getuig van Christus.

Die woord getuie kom uit die regsaal.

Dit wys op die groot geding op aarde, wat die res van die wêreldgeskiedenis sal beheers.

Voor of teen Christus!

 

Die boek Handelinge eindig met hoe die apostel Paulus in Rome aankom.

Rome, wat as hoofstad geregeer het oor die immense Romeinse Ryk, Rome staan simbool vir die eindes van die wêreld, van Irak in die ooste, tot Spanje in die weste, van Ethiopië in die suide tot Skotland in die noorde.

So beskryf Handelinge hoe die verheerlikte Christus deur sy Heilige Gees die apostels aanvuur om die Evangelie te bring van Jerusalem na Rome, die hoofstad van die heidenwêreld.

Die boek Handelinge eindig nie met die pretensie dat die uiterste van die aarde bereik was nie, maar wel dat hierdie beweging onstuitbaar op gang gekom het.

En ons weet uit die kerkgeskiedenis dat hierdie beweging rigting die uiterstes van die aarde voortgegaan het, tot in die 19de eeu geografies gesproke die uiterstes van die aarde inderdaad met die Evangelie bereik is, tot die mees afgeleë eilande in die Stille Oseaan, tot die suidelikste puntjies van Afrika en Suid-Amerika, tot die Eskimo’s in die mees noordelike en westelike dele van die aardbol.

So oorskry die nuwe bedeling by verre die grense van die ou bedeling!

 

(Christus se opdrag vir die Pinksterbedeling

  • Die nuwe bedeling oorskry by verre die grense van die ou bedeling)

 

  • Die nuwe bedeling vervul die beloftes van die ou bedeling

Nou was dit so, dat hierdie manjifieke groot wêreldwye visie van Christus iets nuuts was?

Hierdie plan van Hom, dat die apostels moes gaan na die uiterste van die aarde, was dit volledig nuut vir hulle?

Om eerlik te wees, dit moes nie nuut vir hulle gewees het nie.

Nie vir hulle nie, ook nie vir die ander Jode nie.

Want hierdie manjifieke universele opdrag het alreeds in die Jode se eie Ou Testament gestaan.

Die apostel Paulus het die Jode in die sinagoges wat hy besoek het, daarop gewys.

Vanuit hulle eie Ou Testament het hy die sendingsopdrag van Christus verduidelik, verdedig, begrond:

Sien Handelinge 13: “Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (Hand 13:47)

Paulus haal hier aan uit Jesaja 49: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.” (Jes 49:6)

Hierdie manjifieke wêreldwye visie lees ons ook al in Psalm 67: “Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy sy aangesig by ons laat skyn ... Sodat die mense op aarde u weg kan ken, onder al die nasies u heil. Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof ... God sal ons seën, en al die eindes van die aarde sal Hom vrees.”

 

As die apostels hulle Ou Testament goed geken het, sou Christus se opdrag hulle nie verbaas het nie.

Maar die apostels het, net soos baie Jode in daardie tyd, die Ou Testament selektief gelees.

Hulle het God se Woord selfsugtig gebruik.

Is dit nie wat ons ook so dikwels in die gevaar is om te doen nie?

Ons kies tekste wat ons siening pas, wat ons omstandighede pas.

Ons versmal God se Woord, sodat dit vir ons gelyk gee, pleks van dat ons onsself oopstel vir die manjifieke breedte en lengte, hoogte en diepte van God se Woord.

Juis vir ons wat kerklidmate is, wat in die verbond opgegroei het, is daar die gevaar dat ons die krag van die Heilige Gees onderskat.

Kan Christus ‘n heiden tot bekering bring?

Kan Christus ‘n swartman tot bekering bring?

Wel, ‘n swartman tot bekering bring, dit is net so moeilik as om vir jou tot bekering te bring.

Miskien wel makliker, as ons dink aan die implikasie van Christus se uitspraak oor Nineve:

“Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en – meer as Jona is hier!” (Luk 11:32)

 

Ons lees in die boek Handelinge hoe daar op ‘n stadium, na die steniging van Stefanus, ‘n vervolging in Jerusalem uitgebreek het.

Daardeur is die eerste gemeente, wat veral Jode-Christene was, verstrooi.

Ook hierdie vervolging was deel van God se plan.

Waar die eerste gemeente in Jerusalem traag was om die Evangelie met die heidene te deel, het die vervolging en gepaardgaande verstrooiing hulle gedwing.

Die eerste gemeente is geskud, soos ‘n storm ‘n boom skud en beskadig.

Maar wel met die gevolg dat die sade ver waai.

Laat dit vir ons ‘n leerskool wees.

Ook vandag kan Christus besluit om ons te skud, as ons te ingeslape geword het, te veel op onsself gefokus.

 

Ook onder ons kan daar gedagtes posvat dat sommige tipe mense nie werklik tot bekering kan kom en in die verbond opgeneem kan word nie.

Sulke gedagtes is heeltemal in stryd met ons teks, en die res van die boek Handelinge, waar vir ons beskryf word hoe die mees onverwagte mense tot geloof gekom het, en hulle by Christus se kerk gevoeg het – dink aan iemand soos die tronkbewaarder van Filippi.

Daarenteen het ander wat beskik het oor ongekende Skrifkennis, uiteindelik nie by Christus se kerk aangesluit nie, dink aan iemand soos Gamaliël.

Om sulke gedagtes te koester is uiters hoogmoedig, as ons sou dink dat ons makliker gered sal word as die heidene.

As sulke gedagtes ons sou verhinder om aktief betrokke te wees by die verspreiding van die Evangelie in sending en evangelisasie, dan sondig ons teen die Heilige Gees.

Dan ontken ons sy mag.

Sonde teen die Heilige Gees het die Fariseërs gepleeg, toe hulle willens en wetens nie die wondertekens wat Christus verrig het, wou raaksien nie.

Ons lees in Mattheüs 12 hoe Jesus ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, genees het.

En hoewel die menigtes daaromheen uitermate verbaas was, het die Fariseërs die mense by Jesus probeer weghou deur te sê: Dis deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, wat Jesus dit gedoen het.

Dus, hierdie wonderteken het die Fariseërs aan die duiwel toegeskryf!

En dit is wat Jesus sonde teen die Heilige Gees noem.

Dat hulle nie wou erken dat Jesus iets goeds gedoen het aan daardie persoon nie.

Christus sê dan vervolgens: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.”

 

Sonde teen die Heilige Gees pleeg ons ook, as ons willens en wetens ons oë toemaak vir die Gees se werk, sy werk ook op die sendingsveld, sy kerkvergaderende werk onder die heidene.

As ons praat in die trant van: geld vir die sending, dis weggegooide geld.

As ons gedagtes koester dat ‘n swartman nooit beter kan word nie, dat hulle ‘n vervloekte ras is.

Dan hanteer ons ‘n verkeerde, ‘n vleeslike antitese.

Die Skriftuurlike antitese loop tussen gelowig en ongelowig.

Ja, onder die swart bevolking is daar ook hulle wat hulle verhard teen Christus, teen die werking van sy Gees en Woord.

Maar ook onder ons is daar hulle wat hulle verhard teen Christus en sy Gees.

Die antitese loop ook deur die kerk.

Vir wie hom blywend teen die Gees se werk verset, wag daar ‘n verskriklike oordeel.

Maar gelukkig is dit nog genadetyd.

En mag ons, ja elkeen van ons, op hierdie Pinksterdag opnuut Christus se sendingsbevel in ons teks omarm.

Laat ons nie gedemotiveerd raak, as daar soms terugslae is nie.

Laat ons nie ons oë toemaak vir die werk van geloof, bekering, volharding wat die Heilige Gees tog op die sendingveld gewerk het, te midde van teenslae wat daar ook was en is.

Laat ons oog hou vir die groter lyn, wat deur die eeue heen loop.

Die kerkvergaderende werk van Christus, deur sy Gees en Woord, tot aan die uiterste van die aarde.

Hierdie werk is onstuitbaar, dit sal uitloop op die groot menigte wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; wat staan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande (Openb 7:9).

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 87:1,2

Wet

Ps 19:2,5

Gebed

Skriflesing: Jesaja 49:1-13

Sb 24:5,6

Skriflesing: Handelinge 1:1-11 & 2:1-13

Sb 45:1,5,10

Teks: Handelinge 1:6-8

Preek

Ps 67:1-3

Gebed

Kollekte

Ps 87:3-5

Seën