Christus sorg dat ons nie uit die Vader se hand val nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-05-26
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 52
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 52

 

Die jong kinders in ons gemeente ken al die Onse Vader.

Hulle kan dit opsê, hulle kan dit sing.

Vanaand gaan dit oor een van die laaste sinne uit hierdie gebed: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Die Bose, dit is die duiwel.

Hy het in die paradys geprobeer om Adam en Eva van hulle Skepper afvallig te maak.

En hy het dit ook reggekry.

Vir ‘n rukkie, altans.

Adam en Eva het ongehoorsaam geraak.

Hulle het van daardie enkele boom, waarvan hulle nie mog eet nie, tog geëet.

So het die sonde die wêreld ingekom.

En die sonde is nog steeds daar.

Gelukkig het God redding beloof aan Adam en Eva.

En dit is God wat ook redding gebring het.

Want die Here Jesus het herstel, wat Adam en Eva stukkend gemaak het.

Die Here Jesus is as mens op aarde gebore.

Hy het in ons plek die straf gedra.

Die Bose, die duiwel, het wel geprobeer om God se plan te laat misluk.

Die duiwel het koning Herodes aangehits om alle kindertjies in Betlehem te vermoor.

Maar gelukkig het God Josef en Maria gewaarsku, sodat hulle betyds kon vlug.

Later het die duiwel nog meer kere geprobeer om die Here Jesus in sy mag te kry.

Maar geen van sy planne het geslaag nie.

Die Here Jesus het toe uiteindelik vir ons sondes gesterf.

En Hy het uit die dood opgestaan.

En Hy het na die hemel teruggegaan.

En vanuit die hemel regeer Hy nou oor die aarde.

 

Dit was alles terugslae vir die duiwel.

Teen die Here Jesus moes hy die onderspit delf.

Dit het hom natuurlik baie kwaad gemaak.

Hy het toe ander panne begin beraam.

Jesus is nou in die hemel, en daar kan Satan nie meer kom nie.

Maar nou probeer hy elkeen wat aan Jesus behoort, in sy mag te kry.

En dit probeer die duiwel nog steeds, ook vandag.

Hy probeer om jou van God af weg te trek.

Hy probeer jou te oortuig dat God ‘n slegte God is.

Dat jou God net ‘n God is wat alles verbied, en wat onaangename gebooie aan jou oplê.

Die duiwel probeer jou oortuig dat dit nie nodig is om kerk toe te gaan nie.

En ook dat jy enigiets mag doen.

Dat niks gevaarlik is nie.

Nou gelukkig het die Here Jesus ons geleer om dit wat die duiwel sê, nie sommer te glo nie.

Die duiwel het ook al staan en lieg vir Adam en Eva.

Hy het vir hulle gesê dat, as hulle van die verbode boom eet, dat hulle ook gode sou word, net soos God.

En dat dit die rede was hoekom God dit nie wou hê nie.

Wel, en toe Adam en Eva dit doen, toe hulle ‘n hap vat, kom hulle agter dat hulle glad gode word nie, inteendeel, dat hulle sterflik geword het.

Ja die duiwel is die allergrootste leuenaar.

 

As ons nou elke dag bid: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose, dan vra ons of God die duiwel by ons weg wil jaag.

Of die hemelse Vader ons wil beskerm.

 

Tema: Christus sorg dat ons nie uit die Vader se hand val nie

1 Hy open ons oë vir die mag van die Bose

2 Hy open ons oë vir die heerlikheid van sy Vader

 

1 Hy open ons oë vir die mag van die Bose

Hierdie bede help ons om met oop oë deur die lewe te gaan.

Dit klink eintlik snaaks, maar dit is so.

Ons maak ons oë toe as ons hierdie gebed bid, juis sodat ons oë daarna veel beter oop is.

Hierdie bede is as ‘t ware ‘n sensor wat jy ontvang, waardeur jy die strikke van die satan betyds raaksien.

Want laat dit duidelik wees: Die duiwel span elke dag strikke.

Br. A. sukkel van nature om sy humeur in bedwang te hou.

Toe hy by die huis kom na ‘n vermoeiende dag, blyk dat sy vrou ‘n duik in die kar gery het.

Of, sr. B. het haarself ernstig voorgeneem om minder te begin skinder.

Maar toe kom die duiwel met ‘n sluwe teenaanval.

Hy sorg dat juis die dag ‘n vriendin haar bel, met wie sy die lekkerste kan skinder.

Of, sr. C. sukkel soms om in haar man ‘n geskenk van God te sien.

En juis daardie dag waarop hy haar weer so liefdeloos behandel het, maak sy in die dokter se spreekkamer ‘n tydskrif oop waarin egskeiding geskets word as die normaalste saak van die wêreld.

 

Gemeente, wat dink u?

Sal hierdie drie mense betyds agterkom dat die duiwel vir hulle ‘n strik gespan het?

Sal hulle staande bly?

So kry elkeen van ons weekliks, ja daagliks, te make met die strikke van die Bose.

En soos dit meestal met ‘n hinderlaag werk: Aan die buitekant sien mens nie dat dit gevaarlik is nie.

Die duiwel maak juis dikwels gebruik van God se goeie skeppingsgawes.

Dit misbruik hy as sy strikke.

So is hy elke dag besig, net soos by Adam en Eva destyds, om mense op te hits teen God en sy diens.

Dit is werklikheid.

Aanhoudend is hy besig om strategieë uit te dink.

Daarom het die Here Jesus hierdie bede aan die Onse Vader toegevoeg.

Lei ons nie in versoeking nie.

Verlos ons van die Bose.

Moenie die duiwel ruimte gee dat hy vat kry op ons lewe nie.

 

Versoekings sal daar altyd bly.

Die duiwel loop steeds rond.

Moenie jouself inbeeld dat hy jou uitlos nie.

Dit is op sig nie ‘n sonde om versoekings te ervaar nie.

Die Here Jesus het self ook versoekings ervaar.

Hy is in alles net soos ons versoek gewees.

Alleen, Hy het weerstand gebied teen die versoekings.

Hy het nie toegegee nie.

Hulle het nie veroorsaak dat Hy sondig nie.

Die sesde bede gaan dus uit van die realiteit van baie versoekings, wat ons daagliks ervaar.

Die Kategismus sê:

Ons doodsvyande HOU NIE OP om ons aan te val nie.

Versoekings kom sowel van buite as van binne.

Op alle fronte loods die duiwel sy aanval.

Van buite: Mense wat ‘n verkeerde invloed op ons het.

Of die media, televisie, radio, facebook, tydskrifte ...

Dit is dinge wat almal op sig goed is, skeppingsgawes.

Maar die duiwel misbruik hulle vir sy aanval.

Dink ook aan situasies, of bepaalde plekke of gebeurtenisse wat ons op ‘n verkeerde spoor kan bring.

Verder is daar ook versoekings wat van binne kom:

Dit wat in ons hart leef.

Ons swak plekke.

Punte waarop ons ekstra kwetsbaar is.

Hulle kom van links en van regs, het Martin Luther ooit ‘n keer gesê.

Van links, daarmee het hy bedoel dinge soos armoede, of siekte, of probleme by die skool of by die werk, of in jou familie.

Maar versoekings kom ook van regs, waarmee hy bedoel het dinge soos rykdom, gesondheid, promosie, populariteit, sukses by jou werk.

Versoekings wat kan maak dat jy hoogmoedig word.

Dat jy begin dink dat jy dinge aan jouself te danke het.

Waak en bid, het Jesus ooit sy dissipels in die tuin van Getsemane gewaarsku.

Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.

Bid, daagliks.

Maar nie net bid nie.

Nadat jy jou oë in gebed gesluit het, moet jy hulle oopmaak.

Maak gebruik van daardie sensor, wat God jou skenk.

Wees op jou hoede, let ekstra op die swak plekke in jou karakter.

Vermy by voorbaat gevaarlike situasies.

En bied kragtig weerstand, as jy tog onverwags struikel.

Ons het ons eie verantwoordelikheid.

En ons word daarop aangespreek.

 

En laat dit duidelik wees: Ons het wel deeglik met die duiwel te make.

Ook u wat al jare lank lid van die kerk is.

Die duiwel is meer slinks en slu as wat jy besef.

Hy is iemand wat baie gesigte het, wat homself ontsettend goed kan vermom.

Nie toevallig word hy in die Bybel ‘n slang of ‘n draak genoem nie.

Daar is tye wat hy homself heeltemal onsigbaar maak.

Hy kan homself selfs as ‘n engel van die lig vermom.

Hy kan homself vermom as ‘n baie vroom kerklid.

Christus moes ‘n keer vir ‘n dissipel van hom sê: Gaan weg agter My, Satan!

Die Satan rus nie totdat hy al Christus se werk geruïneer het nie.

En hy mik sy pyle nie net op Christus nie, maar veral nou op hulle wat aan Christus behoort.

 

Nou sal die Vader ons nie loslaat nie.

As ons struikel en val, val ons nog nie uit sy hand uit nie.

NIEMAND kan ons uit sy hand ruk nie.

Ook die Bose nie.

Dit is ‘n groot gerusstelling.

Want, soos die Kategismus skryf, ons moet nie al te hoë verwagtings hê van ons eie waaksaamheid nie.

Opvallend hoe die dissipels elke keer weer aan die slaap geraak het in die tuin van Getsemane!

Daarom des te meer dat Christus ons beveel om te bid:

Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Want uit onsself is ons so swak, dat ons nie ‘n oomblik staande kan bly nie.

Wil U deur die krag van u Heilige Gees ons staande hou, sodat ons in die geestelike stryd nie beswyk nie, maar sterk teenstand kan bied.

 

Antwoord 127 sluit af met ‘n heerlike vooruitsig:

Totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.

Let mooi op wat hier staan.

Ons het al die oorwinning behaal, net nog nie volkome nie.

Dan dink ons aan die oorwinning wat Christus, ons Aanvoerder, vir ons behaal het op Golgota, en die dag toe Hy na sy hemelvaart op die troon plaasgeneem het.

Met hierdie besef mag ons lewe:

Ons het al die oorwinning behaal!

In die groot oorlog tussen goed en kwaad, word die kwaad steeds meer uitgeroei.

Dit gebeur op groot skaal, maar ook op klein skaal, in my eie lewe.

Hoe die duiwel steeds minder vat kry op jou karakter.

Hoe die invloed van jou ou mens steeds meer teruggedring word.

Hoe jou geestelike slaankrag en fiksheid steeds toenoeem.

Ja God laat ons nie in die steek nie.

Hy sorg dat ons in top kondisie bly!

Hy voorsien ons van steeds meer gevorderde wapens, om kragtig teenstand te kan bied.

 

Om ‘n voorbeeld te noem:

Nie vir niks bid ons: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Dit staan hier in die meervoud.

Jy staan nie alleen in die stryd teen die Bose nie.

As die duiwel vir jou ‘n valkuil gegrawe het, wat jy nie raaksien nie, gelukkig plaas Christus mense om jou heen wat jou daarop wys.

Wat desnoods jou betyds wegtrek, sodat jy nie daarin tuimel nie.

So lewe ons in ‘n gemeenskap van heiliges.

As jy alleen voortploeter, is jy des te meer ‘n prooi vir die duiwel.

Nou is daar baie oë, wat saamkyk.

Nou is daar baie hande, wat jou vashou.

Saam vorm ons een front teen die Bose.

 

Voordat br. A. kan begin skreeu op sy vrou wat alweer ‘n duik in die kar gery het, onthou hy wat iemand gister by die kerk vir hom vertel het: dat boewe soms aspris by ‘n stopstraat ‘n duik in die kar voor hulle ry, sodat die persoon uitklim en hulle die motor kan roof.

Toe hy aan daardie storie terugdink, is hy ineens dankbaar dat hy weer eens sy vrou ongedeerd tuis aangetref het.

En, voordat sr. B met haar vriendin oor die foon kan begin skinder, sien sy skielik die kar van ‘n ander gemeentelid voor haar hek staan, waardeur sy die gesprek moet kortknip.

En, voordat sr. C belangstellend die artikel oor egskeiding in die dokter se spreekkamer kan begin lees, gaan sit haar ouderling toevallig langs haar op die stoel in die spreekkamer.

Gemeente, verstaan u watter kragtige wapen ons van God gekry het, juis in ons mede broers en susters?

Dat ons onderdeel vorm van ‘n gemeenskap!

Laat ons suinig daarop wees!

Laat ons suinig op ons mede broers en susters se naam wees.

Laat ons onsself nie te onafhanklik van die gemeenskap opstel nie.

As jy dit doen, bring dit vir jou groot risiko’s!

 

(Tema: Christus sorg dat ons nie uit die Vader se hand val nie

1 Hy open ons oë vir die mag van die Bose)

 

2 Hy open ons oë vir die heerlikheid van sy Vader

Aan die einde van die Onse Vader maak die bedes plek vir lofprysing en aanbidding.

Woorde waaruit blyk hoe hoog ons Hom ag.

Sy moontlikhede is onbeperk.

Hy ken nooit grense, as Hy sy kinders help nie.

Ons Vader is koning.

Aan Hom behoort die koninkryk.

Van Hom is ook al die krag.

Sedert Christus se opstanding en hemelvaart is dit vir altyd duidelik wie op aarde die meeste mag het.

Die sterkste opponent, die mag van die dood, het Hy verslaan.

Dis nie die Bose wat koning is nie.

Dit nie die Bose wat die krag het nie.

Maar ons Vader.

En dus kan, om terug te verwys na die woorde aan die begin van die Kategismus, dus kan geen haar van ons koppe val sonder sy wil nie.

Aan Hom behoort ook die heerlikheid.

Wat is heerliker as Hy?

Wie besit meer rykdom en invloed as Hy?

Sy heerlikheid sal duur tot in ewigheid.

Dit sal al hoe heerliker word.

 

Daarop mag ons amen sê.

Want dit is waar!

Dit is nog meer waar as wat ek ooit in my hart kan voel.

Waarom sê die Kategismus hier iets oor wat ek in my hart voel?

Om ons daarop te wys dat ons gevoel nooit ‘n goeie kompas is nie.

Laat ek ‘n voorbeeld noem, ‘n omgekeerde voorbeeld.

As iemand vir wie jy baie lief is, plotseling sterf, dan is dit dikwels so dat jy dit nog nie kan glo nie.

Jou verstand weet dis waar, maar jou gevoel sê vir jou die persoon kan nie dood wees nie.

In daardie geval is jou gevoel dus verkeerd, jou gevoel is agter die tyd.

Hierdie is ‘n omgekeerde voorbeeld, soos ek genoem het.

Want as dit by die woord amen kom, is van die omgekeerde sprake.

Op hierdie aarde, waar daar so veel ellende is, sal jou gevoel nooit heeltemal gewoond kan raak aan die gedagte hoe groot en almagtig en heerlik God is nie.

Vir jou gevoel sal dit wat oor God in die Bybel staan, altyd te mooi voel om waar te wees.

Maar, gemeente, desnieteenstaande, jou gevoel ten spyt, is dit wel waar!

En dit geld dus ook vir as jy amen sê op jou gebed.

Onafhanklik van jou gevoel, dit wil sê of jy die gevoel het God luister na jou of dat jy daardie gevoel nie het nie, maak nie saak nie, God verhoor jou wel!

Sy verhoring is nie afhanklik van of jy ‘n goeie gevoel oor jou gebed het nie.

Wat ‘n voorreg, wat ‘n gerusstelling!

Jou gevoel is labiel.

Dis nie ‘n betroubare kompas nie.

Maar wat seker is, is dat God in Christus se Naam jou gebed sal verhoor.

Dit is die betekenis van amen.

Laat ons hierdie woord daarom dikwels gebruik, elke dag weer.

Christus sorg dat jy nie uit die Vader se hand uitval nie.

Hy open jou oë vir die mag van die Bose.

Hy open jou oë vir die heerlikheid van sy Vader.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 145:1-3

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 4:1-11 & 26:36-46

Ps 145:4-8

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 52

Preek

Ps 145:9-12

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 28:4

Kollekte

Ps 150:1,2,3

Seën