Wat geen mens kan tem nie, herskep Christus se Gees

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-05-19
Text: 
Jakobus 3:8a
Preek Inhoud: 

Preek: Jakobus 3:8a

 

Hoe gevaarlik ‘n klein vuurtjie kan wees, het ons gesin begin hierdie jaar beleef.

Op oujaarsaand het iemand ‘n fakkel opgeskiet naby die plek waar ons vakansie gehou het.

Dit het hoog in die berge beland en ‘n vuurtjie veroorsaak.

Soos wat die wind aangewakker het, het die vuurtjie al hoe verder in die berge versprei.

Die hele nuwejaarsdag het ons helikopters sien water skep om die brandende fynbos te blus.

Toe teen die einde van die dag daar reën uitsak, het ons aangeneem die vuur was heeltemal geblus.

Daardie nag het ek egter wakker geword en die hele huis was vol brandlug.

Toe ek by die venster gaan kyk, was die hemel heeltemal oranje.

Daardie nag het die wind gedraai, stormsterk geword, en niks en niemand kon die vuur meer keer nie.

Die hele dorp moes daardie nag ontruim.

Vir twee weke lank het die vuur aanhou brand, baie huise het afgebrand.

‘n Dure les was dit maar weer eens: moenie ooit met vuur speel nie.

 

Tema: Wat geen mens kan tem nie, herskep Christus se Gees

 

Elke vuur begin met net een klein vlammetjie.

Net so is die tong van ‘n mens ook maar ‘n klein voorwerp.

Maar wie nie verantwoordelik daarmee omgaan nie, veroorsaak baie verdriet.

Die tong is ‘n buitengewoon kragtige wapen.

Daar het al meer mense gesneuwel deur die tong as deur die skerpte van die swaard.

Nou bedoel Jakobus natuurlik nie net die stukkie vleis in jou mond nie, maar in die algemeen jou spraakvermoë.

Die skeppingsgawe dat ons kan praat.

Dat ons kan kommunikeer met ander.

Maar net soos alle ander dele van ons liggaam, het die tong ook gely onder die sondeval.

Dan gaan dit nie soseer oor hoe ons woorde uitspreek nie, dit gaan nie soseer oor ‘n spraakgebrek nie, maar dit gaan oor wat ons uitspreek.

Want die woorde van ons mond gee bloot weer wat in ons hart lewe.

Jakobus waarsku ons teen die sonde van die tong.

En hy gebruik ‘n verskeidenheid aan voorbeelde om sy lesers te oortuig.

 

Wat die oorspronklike aanleiding was hoekom hierdie hoofstuk in die Bybel staan, weet ons nie meer nie.

In die vorige preke oor hierdie Bybelboek het ons al gehoor dat Jakobus sy brief geskryf het aan die twaalf stamme in die verstrooiing.

Dit was Jode Christene, die wettige voortsetting van God se volk.

As hy nou in vers 1 van hoofstuk 3 skryf: “Moenie baie leermeesters wees nie ...”, dan moet ons gis na die aanleiding van hierdie opmerking.

Het Jakobus bedoel dat ieder en elk in die vroeg Christelike gemeente op die preekstoel wou staan?

Of het hy dit in breëre sin bedoel?

Gesien die res van die hoofstuk kan mens dit beslis breër toepas.

Ons almal is skuldig aan die mentaliteit van: ‘ek weet dit beter’.

Of dit nou gaan oor die politiek, die ekonomie, die weer, oor ander mense, oor kerklike sake ...

Ons vertel graag aan ander mense hoe ons dink dinge moet wees.

In hierdie verband vra Jakobus ons om nugter na te dink, as hy skryf:

Iemand wat in sy woorde nooit struikel nie, is ‘n volmaakte man.

Tog behoort elkeen van ons te erken: Niemand van ons is volmaak nie.

Dan lê die konklusie ook voor die hand: Elkeen van ons sondig nie net met dade nie, maar ook met woorde.

By elkeen van ons is ons tong soms ‘n wapen in diens van die sonde.

 

Jakobus maak dit duidelik met voorbeelde.

Neem byvoorbeeld ‘n perd.

Dit is ‘n dier wat heelwat groter en sterker is as ‘n mens.

Tog, die oomblik as jy ‘n stang in sy bek sit, kan jy hom beheer.

Neem byvoorbeeld ‘n skip.

Die stuurman kan dit enige kant op laat gaan, danksy ‘n klein roer.

Net so is ook die tong, net soos ‘n roer, of ‘n stang.

Dit is ‘n klein lid, maar voer ‘n hoë toon.

Die tong is ‘n kragtige wapen.

‘n Enkele woord kan baie stukkend maak.

Dit is soos ‘n klein vuurtjie.

Dit kan behaaglik warm wees.

Maar dit het die potensiaal om alles aan die brand te steek.

Net soos vuur is die tong onmisbaar, maar soms ook onuithoudbaar.

Die tong is in staat om die hele liggaam te besmet.

Dit kan die hele lewensloop aan die brand steek, staan daar in vers 6.

Lewensloop kan mens ook vertaal met wiel.

Die lewenswiel begin draai by geboorte.

Die tong beheers die hele lewenswiel, steek dit aan die brand, rig jou lewe te gronde, as dit nie in toom gehou word nie.

En, skryf Jakobus, dit gebeur omdat die tong self aan die brand gesteek word deur die hel.

Dus, as ons ons tong nie in toom hou nie, oftewel, as ons ons tong nie ten dienste stel van die hemel nie, is die gevolg onvermydelik dat dit aangevuur word uit die hel.

Dit is een van beide: woorde ten lewe of woorde ten dood.

Jesus is glashelder as Hy ons waarsku in sy Bergrede: “elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.” (Matt 5:22)

 

Jou tong kan dus word soos ‘n onbeheerbare brand.

Een klein onderdeel van jou liggaam kan die hele wêreld in ‘n vlammesee laat verander.

Besef u watter invloed die tong het?

In verlede week se preek het aan die orde gekom dat woord en daad by ‘n Christen een behoort te wees.

As iemand sondig in sy woorde, is die kans groot dat hy ook sondig in sy dade.

Sowel woord as daad kom naamlik voort uit dieselfde bron, jou hart.

‘n Klein vuurtjie is nodig om alles aan die brand te steek.

Vandaar Jakobus se waarskuwing.

Uit een fontein kan nie terselfdertyd vars en bitter water opborrel nie.

Moenie dink dat jy met jou tong maar kan sê wat jy wil, en dat jou dade wel goed sal wees nie.

Wie met woorde sondig, sondig ook metterdaad.

Jou spraakvermoë staan nie los van die res van jou lewe nie.

By iemand wat onkuise grappe vertel, verbaas dit nie as hy ook onkuis lewe nie.

By iemand wat rassistiese grappe vertel, verbaas dit nie as sy optrede ook rassisties is nie.

Jou spraak gee juis rigting aan die res van jou lewe.

Dit is daarom logies dat die duiwel altyd eerste probeer om hierdie liggaamsdeel in te palm, jou tong!

Want as hy dit beheers, dan het hy beheer oor die roer van jou liggaam.

Die duiwel weet hoe moeilik dit vir ons is om ons tong in toom te hou.

Mense kan ontsettend veel regkry, skryf Jakobus.

Kyk maar hoeveel mag die mens oor diere het.

Watter diere ook, groot of klein, en of hulle loop, vlieg, kruip of swem.

As die mens dit wil, kan hy hulle tem.

Maar by sy eie tong is dit anders.

Dus teiken die duiwel veral jou tong.

Hy probeer dit altyd eerste regkry dat ons met ons tong sondig.

Dat ons met ons tong begin praat oor die sonde.

Dat die sonde bespreekbaar word, aanvaarbaar word om oor te praat.

 

Jakobus benader die saak baie nugter.

Ons het ons tong, ons spraakvermoë van God gekry.

Dit is ‘n baie magtige wapen.

Juis daarom vereis hierdie wapen ‘n baie verantwoordelike gebruik.

Hanteer ons hierdie wapen soos ‘n huursoldaat?

Die een oomblik stry ons vir die koning, die ander keer vir die vyand?

En dan mag ons dink, niemand kom dit agter nie.

God kom dit wel agter!

As ons agter iemand se rug lelike dinge oor hom sê, maar sodra ons voor hom staan, net vriendelik is.

God sien dit!

Jakobus gebruik ‘n bepaalde redenasie in hierdie hoofstuk.

Hy dink dan aan die feit dat God mense na sy beeld geskape het.

Hoekom sou jy dan ander met jou tong verwens, as daardie persoon na God se beeld geskape is?

Elke mens bly ‘n skepsel van God.

Daarom moet ons respek hê vir elke mens, synde die werk van God se hande.

 

Mag daar dan nooit ‘n negatiewe klank uit jou mond kom nie?

Mag jy dan nooit jou gevoelens uit nie?

God wil inderdaad nie dat jy dinge in jou hart opkrop nie.

Jakobus is nie gekant teen vryheid van meningsuiting nie.

Maar Christus wil in die eerste plek met sy Gees jou hart verander.

As jou hart gesond is, as die bron gereinig is, dan sal die bronwater ook skoon en vars wees.

Deur sy Heilige Gees is Jesus Christus besig om die vuil bron te reinig.

Ja Hy is die enigste een wat dit kan regkry!

Wat geen mens kan tem nie, Hy wel!

Christus herskep jou tong deur sy Gees!

Hy begin deur jou hart te reining.

 

En in hierdie tyd, noudat die Gees met ons hart besig is, mag ons uit genade lewe.

Die tong is ‘n dodelike wapen, en soms begaan ons daarmee ernstige sondes.

Maar ons mag vergewing vra.

Laat geen sonde ooit ‘n belemmering wees om God se aangesig elke keer weer te soek nie.

Die Gees leer ons om ons tong steeds meer op ‘n goeie manier te gebruik.

Om ons woorde weloorwoë te kies.

Die Gees van Christus leer ons om wys te wees.

In hierdie hoofstuk skryf Jakbous nie net oor hoe dit nie moet nie.

Hy gee ook positiewe aanwysings.

Laat ons wys wees!

Laat ons verstandig wees!

Dit beteken byvoorbeeld konkreet:

Tel eers tot tien, voordat jy iets sê.

Laat ons sagmoedig wees.

Dit beteken dat as jy jou mening oor iemand anders gee, dat jy dit versigtig doen.

Sê liewers te min as te veel.

Iets terugtrek is gewoonlik baie moeiliker as om iets toe te voeg.

Laat die Heilige Gees die bitter bron in jou hart eers skoonmaak, voordat jy begin praat.

Wie te veel sê, moet ook baie verantwoord.

Laat ons steeds bly besef dat ons uit onsself sondig is.

Soos Jesus in Mattheüs 15 gesê het: “Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.” (Matt 15:11)

Hierdie moes vir die Jode ‘n skokkende uitspraak van Jesus gewees het.

Dit is nie eksterne dinge, dinge soos varkvleis of wat ook al, wat ‘n mens onrein maak nie.

Die onreinheid sit reeds in die mens se hart.

So geld dit ook vir ons.

Uit wat ons sê, blyk wat die toestand van ons hart is.

Jakobus wil dat sy lesers, die Jode Christene, geen enkele illusies koester nie.

En presies dieselfde sê die Heilige Gees ook vir ons vandag:

“As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie ... die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.” (Jak 1:26)

Wat ’n uitspraak! Dit draai nie doekies om nie!

“As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie ... die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.” (Jak 1:26)

Gemeente, hierdie is nie moeilike teorie nie, hierdie is praktiese geloofswysheid.

In Spreuke 16:32 sê die Here:

“Die lankmoedige is beter as 'n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat 'n stad inneem.”

 

Laat ons ons tong in diens van God gebruik.

Laat ons begin deur ons gedagtes in toom te hou.

Positief, soos Paulus skryf:

Laat ons elke gedagte gevange neem in diens van Christus!

As ons verkeerde gedagtes het, laat ons die roer ombuig in die regte rigting, sodat hulle opbouend is.

Mense wat sukkel met depressie, weet hoe moeilik dit kan wees om jou gedagtes te beheers.

Om ongekontroleerde gedagtes, angstige gedagtes, bose gedagtes in toom te hou.

Nie toe te laat dat hulle soos ‘n veldbrand versprei nie.

Christus het sy Heilige Gees in ons uitgestort.

Hy gee ons die krag om die roer om te buig!

Hy leer ons.

Hy lê die regte woorde in ons mond.

Hy help ons met wat daaragter skuil: naamlik gesonde gedagtes.

Paulus roep ons op in Romeine 12:2:
Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gedagtes, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. 
En bietjie verder in dieselfde hoofstuk:

Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. (Rom 12:21).

 

In hoofstuk 1 het Jakobus geskryf dat elke volmaakte gawe vanuit die hemel neerdaal, van die Vader van die ligte.

Die grootste geskenk wat van die Vader uit die hemel neergedaal het, was, soos ons weet, sy eie geliefde Seun, Jesus Christus.

En na Christus se hemelvaart het Hy op sy beurt die volmaakte gawe van die Heilige Gees op sy kerk uitgestort.

Hierdie Gees woon en werk in ons.

Hierdie Gees reinig ons.

Laat ons hierdie Gees nie bedroef nie.

Laat Hy jou tong tem.

Laat Hy, soos daar in vers 18 staan, van jou tong ‘n vredestigter maak.

Die Heilige Gees saai die vrug van geregtigheid.

En orals waar Hy die vrug Christus se geregtigheid, dit is Christus se vergewing saai, daar kom daar vrede.

 

Klein Annelle wat vanoggend gedoop is, kan nog nie praat nie.

Oor haar lewe is daar vanoggend vredestigtende woorde uitgespreek.

Sy is in die verbond van Vader, Seun en Heilige Gees opgeneem.

As sy opgroei, mag sy ook die vergewing van Christus begin gebruik, en so sy vrede ervaar.

Sy is self net soos ons almal in sonde ontvang en gebore.

Sy sal self, net soos ons almal, die roer van haar lewe, haar tong moet leer tem.

Maar die doop verseker ons, dat ook uit haar mond die troue Verbondsgod vir Homself lof sal berei in die toekoms.

Ja is dit nie die mooiste wat ons met ons tong kan doen nie!

“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kol 3:16)

Mag deur die werk van sy Gees, die lof aan die Vader, en die lof aan Christus, soos ’n veldbrand op aarde versprei!

Laat heel die skepping Hom prys, God Drieënig, Skepper, Verlosser en Vernuwer!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 34:6  

Wet

Ps 19:7

Gebed

Doopsformulier

Bediening doop: Talita Annelle Hagg

Ps 115:8

Dankgebed

Skriflesing: Jakobus 3

Ps 12:1,2,3,6,7

Teks: Jakobus 3:8a

Preek

Ps 8:1-5

Gebed

Kollekte

Ps 92:2

Seën