Verlange na meer van die Gees van Christus

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-01-06
Text: 
1 Korinthiërs 14:23-25
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Korinthiërs 14:23-25

Verlange na meer van die Gees. Verlange na meer begeestering. Ervaar u dit nie ook soms nie? Ons is lid van ‘n gemeente waar alles goed georganiseer is. Die kerklike lewe draai soos ‘n geoliede enjin. Tog verlang mens na meer. Mens kan soms die gevoel kry asof die geesdrif weg is. Eredienste, vergaderings, alles word gehou soos dit hoort.

Die kerkkalender vir 2019 is reeds gedruk, en ons weet al in groot lyne wat daar hierdie jaar in die kerk gaan gebeur. Maar waarvoor doen ons dit eintlik? Waar bly die gevoel en die entoesiasme?

Soms verlang ons na meer. En dit is iets om dankbaar voor te wees. Die omgekeerde sou nie goed wees nie. ‘n Verlange na minder. Minder Bybellees, minder bid, minder kerk toe gaan, minder Bybelstudie. Dit sou dui op ‘n kwynende geloof. Geen brandende verlange om jou lewe aan God te wy nie. Om te verlang na meer is goed. Meer van die Gees in 2019. Meer vrugte, meer entoesiasme, meer toegewydheid. Nie net ‘n paar druppels nie, maar ‘n wolkbreuk, wat oor ons uitgestort word.

In ons teks ontmoet ons Christus se gemeente in die stad Korinthe. Ook daar was daar ‘n brandende verlange na meer. Ons mag vandag in ons teks sien hoe die Heilige Gees, deur die diens van die apostel Paulus, hierdie verlange na meer in die regte bane gelei het.

Tema: Verlange na meer van die Gees van Christus

In die kerkgeskiedenis sien mens dikwels dat, as die kerklike lewe net uitwendig begin raak, daar in reaksie ‘n verlange na meer van die Gees opduik. As die kerklike lewe soos ‘n geoliede masjien draai, maar ons onderlinge gesprekke eintlik net oor die buitekant, net oor die organisasie, en nie meer oor die binnekant handel nie. Om ‘n voorbeeld te noem. As ons wil weet hoe dit met iemand se geloof gaan, dan is ons gewoond om te vra: Gaan jy nog kerk toe? Twee keer per Sondag?Lees jy elke dag jou Bybel? Hierdie is belangrike vrae, maar dis vrae oor die buitekant.

Vrae oor die binnekant, is vrae soos: Glo jy van harte in die Here God? Het jy die Here Jesus van harte lief? Is jy bereid om Christus in alles te volg? Met watter sondes worstel jy nog steeds in jou lewe? Hierdie is vrae oor die binnekant.

Nou is dit so dat die binnekant by die meeste kerkmense wel deeglik aanwesig is. Die probleem is egter dat ons dikwels afgeleer het om daaroor te praat, en om daaroor vrae te durf stel. Die gevaar is dat veral jong opgroeiende kerklede dan ‘n verkeerde beeld van die kerk kan kry. Dat daar in die kerk eintlik net oor die buitekant gepraat word. Maar word daar nog oor die Here Jesus self gepraat? Nie net oor alle aktiwiteite en alle reëlings in die kerk nie. Ons moet ook aan die nageslag met soveel woorde deurgee waar dit in die kerk oor gaan. Naamlik liefde vir God. Aanbidding van Christus. Toewyding van jou hele lewe in sy diens.

Die verlange na meer het dus te make met die gevaar van veruitwendiging. As dinge net uitwendig word, verdwyn dinge soos entoesiasme, gevoel, toewyding.

Dinge wat daar vroeër wel deeglik was. Baie van ons ou gemeentelede kan die vroeër jare nog goed onthou, tye van groot entoesiasme en opofferingsgesindheid vir die kerk. Daarom dat dit so belangrik is dat die ou generasie praat met die nuwe geslag, dat hulle getuig oor Jesus Christus.

Toe Paulus hierdie brief aan die Korinthiërs geskryf het, het daardie gemeente al ‘n hele paar jaar bestaan. Hierdie gemeente is tydens sy sogenaamde tweede sendingsreis gestig. In hierdie brief bespreek Paulus ‘n aantal sake met die gemeente. Aktuele onderwerpe oor die kerklike lewe. Dit is moontlik dat aan hierdie brief ‘n brief voorafgegaan het, wat die Korinthiërs vir Paulus geskryf het – Paulus wat op daardie stadium in Efese was oorkant die see. In daardie brief het die Korinthiërs verskillende vrae aan Paulus voorgelê. Byvoorbeeld hoe hulle die tweedrag of groepsvorming in die gemeente moes hanteer (hoofstuk 3). En hoe hulle bepaalde tuggevalle moes hanteer, in hierdie verband is daar vrae oor die huwelik, met name van daardie mense wat tot geloof gekom het, maar nie hulle eggenoot nie (hoofstuk 7). Verder was daar vrae oor die eet van offervleis (hoofstuk 8v.); vrae oor die nagmaal (hoofstuk 10-11); vrae oor die gawes van die Heilige Gees, en oor die spreek in tale.

Nou oor die laaste onderwerp handel ons teks – die spreek in tale. Dit is duidelik dat daar in Korinthe ‘n verlange was na meer van die Gees. Maar ongelukkig was daar ook ‘n bepaalde atmosfeer in die gemeente waar die mense mekaar probeer oortroef het. Die een het hom, wat sy geloof en gawes betref, verhewe gevoel bo die ander.Dit het onder andere na vore gekom in wie elkeen as sy geliefde prediker beskou het. Was dit Paulus, of Apollos, of Cefas – dit is Petrus? So het daar groepsvorming ontstaan. Daar was ‘n groep van Paulus, van Apollos, van Cefas. Selfs was daar ‘n groep van Christus (hoofstuk 1). Asof al hierdie predikers nie presies dieselfde werk gedoen het nie, met die gawes wat elkeen toebedeel was. En asof hulle nie almal Christus gedien het nie. Om jou te onderskei van ander, dit doen mense in die wêreld byvoorbeeld deur duur klere te koop, duur selfone, duur motors, duur huise. In die kerk van Korinthe het die mense dit gedoen deur die predikante teen mekaar uit te speel. Maar in die kern van die saak was dit dieselfde drang, naamlik om jouself te onderskei en verhewe bo ander te voel.

En dan was daar nog ‘n manier waarop die Korinthiërs mekaar die loef probeer afsteek het. Naamlik deur te spog met die gawes van die Gees. Soos ek genoem het, is dit nie verkeerd om na meer te verlang nie, meer van die Gees. Dit is mos mooi om te wil groei in die geloof. Groei in Christus, deur sy Gees in jou te laat werk. Dit is ‘n belangrike strewe. Dit is van wesenlike noodsaak dat ‘n kerk ‘n lewende kerk moet bly. Anders dreig die gevaar van stagnering. Dit is mos Christus se bedoeling dat sy volgelinge deurgroei na die volmaaktheid toe. Hy het gratis hulle skuld weggeneem. Hy skenk sy Gees gratis, sodat hulle kan groei in ‘n nuwe lewe. Sodat die ou mens steeds meer gekruisig word, en die nuwe mens aangetrek word. In die praktyk sien mens so dikwels dat dit in kerke nie gebeur nie, maar dat daar stagnering intree.Kerkmense lei nie ‘n toegewyde lewe, brandend van liefde nie. Kerkmense is so dikwels maar wêreldgelykvormig. Die geloof bestaan maar net daaruit dat daar kortliks gebid word vir vergewing van sondes, maar daar word nie werklik met die sondes gebreek nie. So het Christus dit natuurlik nie bedoel nie. Hy wil juis dat daar ‘n verlange leef na meer. Dat ons die sonde steeds meer haat en dit agter ons laat. Sondeloosheid bereik niemand nie, maar Christus wil wel dat dat ons daarnatoe groei. Stilstand is agteruitgang. Verlange na meer is dus baie belangrik. Ag mog daardie verlange soms brandender aanwesig wees onder Gereformeerdes.

Maar tegelyk het ons teks dan ‘n belangrike boodskap in hierdie opsig. Dit klink miskien ingewikkeld, maar dit is baie belangrik dat ons hiervan bewus is. Want ook in die verlange na meer – iets wat baie goed en belangrik is – ook in daardie verlange kan maklik ‘n sondige element homself nestel. Presies dit spreek Paulus aan by die Korinthiërs. Hulle wou verder groei in hulle geloof. Mooi, pragtig! Maar een van hulle motiewe daaragter was nie so mooi nie. Naamlik ‘n strewe om hulleself te onderskei, beter voor te doen as die ander. En dit was, blyk uit Paulus se brief, veral die geval wat betref die spreek in tale. Daar was sommige mense in Korinthe wat die gawe van die Heilige Gees ontvang het om in tale te kon spreek. Net soos die apostels dit op Pinksterdag gedoen het. Die Pinksterwonder was bedoel dat die apostels die taalgrense vinnig kon oorbrug, om die Evangelie so vinnig moontlik te kan verkondig aan alle verskillende volke en taalgroepe. ‘n Gawe wat dus eintlik veral bedoel was vir die sending, vir die verspreiding van die Evangelie. Maar nou was daar mense in Korinthe wat hierdie gawe ook begin gebruik het in hulle gevestigde gemeente, met die doel om te spog. Hulle het begin om in die kerkdiens tot God te bid in so ‘n vreemde taal. Met die doel dat die ander gemeentelede moes dink: Wow! hoor net hoe kan hy vloeiend bid in ‘n vreemde taal! En dit terwyl ek dit nog selfs moeilik vind om in my eie taal vloeiend ‘n gebed uit te spreek. Hierdie optrede was dan ook – u kan dit raai – allermins bevorderlik vir die onderlinge eenheid in die gemeente. En dit is juis hierdie so begeesterde mense wat Paulus kritiseer. Hy gee hulle nie ‘n pluimpie, omdat hulle skynbaar so gevorderd in hulle geloof is nie. Nee, hy kritiseer eerder hulle optrede.Die gawe wat hulle ontvang het, moet hulle nie misbruik nie. Mens kan veel eerder in die gemeente in jou eie taal praat, sodat almal dit kan verstaan, want dan word die ander ook opgebou. Die gawe wat hierdie mense ontvang het, het hulle eintlik vir die omgekeerde gebruik as waarvoor dit bedoel was.

Dti was bedoel om die heidene so gou moontlik met die Evangelie te bereik. Maar wat gebeur nou? Mense begin in die erediens in allerlei eksotiese tale te praat.

En as daar ‘n besoeker binnekom, ‘n ongelowige uit die stad Korinthe kom woon ‘n erediens by, dan klink dit vir hom of daar in die gemeente wartaal gepraat word! Snaakse gedoente in hierdie kerk! Pleks van dat die gemeentelede in hulle eie taal preek, profeteer bid, die taal wat alle inwoners in Korinthe kan volg.

Want dan kan die besoekers dit verstaan. Dan word hulle voor Christus geplaas. Dan leer die heidene hulle diepste ellende ken, of soos daar in die teks staan, dan kom die geheime van sy hart aan die lig. Dan sal hy op sy aangesig val en God aanbid. Dan sal hy erken dat die lewende God inderdaad in die gemeente aanwesig is!

Verlange na meer.  Dit is mooi.Dit moet.

Maar, gemeente, moenie jou eie hart vertrou nie. Moenie koers vat op jou eie gevoel nie. Want die sonde is dieper in jou hart, in jou lewe, in jou gevoel, as wat jy dink. Selfs die verlange na meer kan ontspoor. Die Heilige Gees het aan die Korinthiërs gawes geskenk om die heidene te bereik. Maar die Heilige Gees het daardie gawes nie gegee om onder mekaar te spog nie. Ook vandag gee die Heilige Gees gawes. Ook vandag is hierdie gawes nie bedoel om ander af te druk ondertoe en jouself te verhef nie. Om steeds te dink jy sien dinge beter en skerper as die res nie. Om jouself steeds, hoe subtiel ook, verhewe bo die ander te voel. Gawes is gegee juis om te dien. Hierdie gemeente met al sy swakhede, wat jy so goed is om presies waar te neem. Jou oorvloed aan gawes het jy juis ontvang om hierdie in jou oë so eensydige, of agterlike, of oppervlakkige gemeente te dien.

‘n Sogenaamde gawe van die Gees waaroor teenswoordig in charismaties kringe baie na gekyk word, is die sogenaamde tongetaal. Op eerste gesig lyk dit asof dit  dieselfde gawe is as waaroor ons teks praat. Tog het eksegese en ondersoek uitgewys dat dit nie die geval is nie. Hedendaagse tongetaal is nie dieselfde as die Pinksterwonder nie. Hedendaagse tongetaal is die loskoppeling van jou gedagtes en jou spraak, ‘n soort trans waarin jy kom. Dit is ‘n verskynsel wat mens vind nie net by charismatici nie, maar ook in ander godsdienste soos Islam, Hindoeïsme, Buddhisme. ‘n Mens is tot soiets in staat as jy ‘n bepaalde emosionele toestand bereik het. Maar vir alle duidelikheid, dit is dus heel iets anders as die Pinksterwonder, waar die apostels deur die Gees in staat gestel is om in ander bestaande tale te praat, tale wat hulle voorheen nie magtig was nie. Ondersoek het uitgewys dat die fenomeen van tongetaal, of glossolalie soos dit ook wel bekend staan, vergelykbaar is met ‘n soort hipnose, wat ook deur alkohol of dwelmgebruik bereik kan word. Ondersoek het verder uitgewys dat hierdie toestand van glossolalie, net soos alkohol of dwelms, ‘n verslawingselement in hom het. Ek noem dit sodat niemand van ons onder die misverstand verkeer, dat hierdie soort tongetaal, soos dit in charismatiese groeperings voorkom, ‘n gawe van die Gees sou wees nie. Dit is nie ‘n gawe van die Gees nie. Dit is ‘n verskynsel wat mense kan bereik op verskillende maniere. Dikwels is dit mense wat wil ontsnap uit die werklikheid om hulle heen. ‘n Werlikheid wat hulle as veels te saaklik en gevoelloos ervaar.

Hierin skuil ook ‘n boodskap vir ons, Gereformeerdes. As dinge in ons kerk eintlik net saaklik en verstandelik word, terwyl daar geen ruimte vir die gevoel is nie, dan ons ook mede skuldig dat sommige uit reaksie gedryf word na hierdie oorbeklemtoning van die gevoel. Ek sê altyd vir my katkisante: Geloof gebeur met jou hoof, hart en hande. Geloof is nie net ‘n klomp dinge wat jy met jou verstand weet nie. Maar dit is ook dat jy ervaar hoe lief God jou het. Hoe heerlik dit voel om sy kind te wees. In jou hart voel jy dit. Jy vertrou Hom, vas en seker. En vanuit jou hart neem jy die regte beslissings om Hom ook met jou hande te dien. Die geloof omvat dus ook ons gevoelslewe. Geloof is akademies ja, maar geloof is net soveel emosioneel, en geloof is ook net soveel prakties. Verlange na meer gevoel, meer ervaring in ons geloof, dit is noodsaaklik! Maar laat ons hierdie verlange dan in die regte bane lei. Want hoe kry jy meer gevoel, meer geloofservaring? Hoe kry jy meer van die Gees? Nie deur meer op jou eie gevoel te fokus nie. Nie deur jou gawes so te koester asof jy so goed is nie. Die antwoord klink dalk bietjie teenstrydig, maar dit is soos volg: Meer van die Gees kry jy juis deur meer aandag aan Christus en sy heerlike Woord te skenk. Dit is die Gees se werk om mense na Christus te lei. In die Bybel heet Hy: die Gees van Christus. Mens kan dit vergelyk met ‘n pragtige gebou. In die donker kan niemand sien hoe mooi die gebou is nie, tensy dit met ‘n skynwerper verlig word. Ērens voor die gebou op ‘n onopvallende plek staan ‘n groot skynwerper wat die gebou verlig. Die bedoeling is nie dat mense na die skynwerper kyk nie, maar met die hulp van die lig wat dit gee, dat mense na die gebou kyk. So is die verhouding tussen Christus en sy Gees.

Christus is die gebou, die Gees is die skynwerper, wat alle aandag op Christus vestig. Christus is ons Koning, Hy sit op die troon. Hy sorg vir ons. Hy beskerm ons.

Hy het ons lief. En ons mag steeds op Hom gefokus bly. Hom meer en meer liefkry. Hom aanbid. Vir Hom lewe. Verlange na meer van die Gees, is dus verlange na meer van Christus. Hom mag ons dien, met hoof, hart en hande. Hom het ons opreg lief, omdat sy Gees in ons brand. Van Hom getuig ons met ons mond. Vir Hom en sy koninkryk maak ons ons beursies oop. En met almal wat Hom liefhet en opreg dien, voel ons verbonde. En so kan ek nog aangaan om voorbeelde te noem, hoe ons die geloof mag ervaar.

Paulus het die Korinthiërs vermaan om minder te spog. Hy het hulle opgeroep om minder op hulleself gerig te wees. Om meer te dien, hulle medegelowiges te dien, asook die wat Christus nog nie ken nie. In daardie weg sou hulle ook geloofservaring ontvang.

Laat ons so hierdie jaar, geliefde gemeente, ook verlang en streef na meer. Meer van die Gees, dus meer van Christus. Groei in sy werk.

Ons dank Christus dat Hy vandag aan ons nog ‘n ampsdraer skenk, wat ons hierin mag voorgaan. Ons gaan nounou vir hom bid en hom toesing, dat hy alles mag ontvang om vrymoedig en ongehinderd die gemeente te lei in ‘n opregte, gevoelvolle geloofslewe. So mag ons in vertroue op Christus en sy Gees hierdie nuwe jaar tegemoet gaan.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 143:8,9

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 14:1-25

Ps 139:3,4  

Teks: 1 Korinthiërs 14:23-25

Preek

Ps 81:1,2,11,12

Formulier Bevestiging Ouderlinge

Ps 134:4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:4,5

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën