Die HERE se Gesalfde triomfeer oor Satan en sy hele ryk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-12-02
Text: 
Mattheüs 2:1-2
Preek Inhoud: 

Tema: Die HERE se Gesalfde triomfeer oor Satan en sy hele ryk

Ons het die geskiedenis gelees van Bileam, die towenaar uit die Ooste. Hoewel hy baie eeue voor die koms van Christus geleef het, was hy tog ‘n kollega van die wyse manne waarna ons teks verwys. Hulle was ook towenaars, astroloë.

Mense wat die sterre bestudeer het. Die vertaling in ons teks – wyse manne – is bietjie misleidend. Hulle het baie kennis van die hemelliggame gehad. Maar hierdie kennis was heeltemal ingebed in die heidense godsdienste, waar son, maan en sterre as gode vereer is. Hulle het hulle kennis en waarnemings van die hemelliggame gebruik om gebeurtenisse te voorspel, te verklaar, en hulle gode te vereer.As mens die geskrifte van die vroeë kerk lees, is dit opmerklik hoe hulle hierdie sogenaamde wyse manne beoordeel het. Dit was mense, wat volgens die vroeë kerk in diens gestaan het van die demone. Dit was ook die demone, oftewel die bose geeste, die opstandige engele in diens van satan, wat volgens die vroeë kerk die heidenwêreld verlei het om afgode te vereer.

Die boodskap van ons teks is egter goeie nuus vir die heidenwêreld. Hierdie wurggreep wat die demone op die heidenwêreld gehad het deur die afgodediens, die diens aan son, maan en sterre, was besig om tot ‘n einde te kom. Want in ons teks buig hierdie magiërs, hierdie towenaars, naamlik voor die nuutgebore Koning, Jesus Christus. En deur hulle buiging, bewys selfs satan respek vir hierdie Koning!

Wat egter baie tragies was, is dat dit net hierdie magiërs was wat voor Hom gebuig het. Want, alhoewel die plek van geboorte van die Koning der konings reeds deur die profeet Miga aangekondig is, het niemand saam met hulle gekom nie. Dit was ronduit ‘n skande dat mense van buite God se eie verbondsvolk, ja selfs magiërs, die nuus in Jerusalem oor die geboorte van hierdie Koning moes kom aankondig. Die HERE het nie Jerusalem, nie een van die skitterende paleise in hierdie stad gekies as geboorteplek van sy Seun nie.

Jerusalem het niks bygedra aan sy geboorte nie. Tog is sy geboorte op koninklike wyse aangekondig. Ons weet nie presies waar die wyse manne vandaan gekom het nie. Mattheüs bestee nie baie aandag aan hulle afkoms nie.

Hy verwys net na die Ooste. Mattheüs bestee wel aandag aan wat daar in Jerusalem gebeur het. Terwyl die magiërs die ster gevolg het, het hulle naamlik in Jerusalem gekom. Miskien het hulle gedink: Ons het nou aangekom in die stad wat die geboorteplek van die koning moet wees! En so het God hulle gebruik om die koninklike geboorte in Jerusalem aan te kondig. So het hulle God se spesiale boodskappers geword.

Dit klink op sig teenstrydig. Want in God se eie volk het Hy naamlik sulke tipe mense, magiërs oftewel towenaars, verbied. Ons lees hieroor in die wet van Moses, Deuteronomium 18. Geen towenaars, of waarsêers, of goëlaars, enigiemand wat kontak probeer lê met die dode en met die wêreld van die demone, wat met towery omgaan, is in God se volk geduld nie. Die HERE het aan sy volk duidelik gemaak dat sulke mense onder sy volk totaal oorbodig was. God het mos self persoonlik aan hulle verskyn! Hy het Homself aan hulle, in hulle eie taal, bekendgemaak. Sy wil was kristalhelder vir hulle vanuit sy Woord.

Dus kom nou die vraag op: hoekom gebruik God, wat sulke towenaars onder sy eie volk verbied het, nou wel sulke mense om die koms van die Messias aan te kondig? Gemeente, God het dit gedoen om sy eie volk te beskaam. Want hulle moes geweet het. Hulle moes voorbereid gewees het op sy koms. Uit die Skrif, uit die woorde van die profete wat God self na sy volk gestuur het, het Hy sy koms aan hulle bekendgemaak. Maar as gevolg van hulle geestelike blindheid het Jerusalem nie ag geslaan op wat daar gebeur het nie. Dink aan die verskyning van ‘n engel aan Sagaria, in die tempel! Dink aan die verskyning van ‘n engel aan Maria en Josef. Dink aan die verskyning van ‘n menigte engele aan die herders. En ook nie toe hierdie magiërs gekom het, het Jerusalem op die boodskap ag geslaan nie.

So ja, dit was tot beskaming van Jersualem. Maar daar is nog ‘n rede, hoekom God hierdie magiërs ingespan het. Dit is iets wat in die prediking van die vroeë kerk sterk benadruk is. God het naamlik juis hierdeur sy almag oor die wêreld van die demone en satan gedemonstreer. Die vroeë kerk het na ons teks byvoorbeeld verwys as God se triomf oor die wêreld van die astrologie. God se Seun het getriomfeer oor die ryk van son, maan, sterre en planete. Moenie vergeet nie, gemeente, die heidene reg rondom Israel het die son, maan en sterre vereer as hulle gode! Die Egiptenare het die son aanbid. Die Babiloniërs het die maan aanbid. En soos ek genoem het, die vroeë kerk was oortuig dat die demone in diens van Satan die heidene daartoe verlei het om die hemelliggame as hulle gode te vereer. En die wyse manne, die magiërs, het ‘n belangrike rol in die heidense godsdienste gespeel. Hulle het die hemelliggame elke nag geobserveer. En uit hulle bewegings, hulle glans, of hulle verduistering, het die magiërs die gemoedstoestand van die gode afgelei.

Die heidene het na die magiërs opgekyk, om van hulle te hoor hoe die gode gedien moes word, en wat daar in die toekoms sou gebeur. Maar hierdie einste boodskappers van die gode gebruik die almagtige God nou om die koms van sy eie Seun, die Koning der konings aan te kondig.

Dit is opvallend dat koning Herodes hulle dadelik ernstig opgevat het. Herodes verwys ook direk na die geboorte van die Messias. Hy gebruik die term: die Christus, Grieks vir Messias. Die owerpriesters en skrifgeleerdes het hierdie term nie dadelik gebruik nie. En slegs op bevel van Herodes, dat hulle in die Skrifte moes gaan soek, het hulle toe by die profesie van Miga uitgekom.

Deesdae is hierdie profesie van Miga vir ons ‘n baie bekende woorde, en dit het ‘n soet klank in ons ore: “En jy Betlehem, Efrata … uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). Ons assosieer hierdie woorde direk met Kersfees. Maar in werklikheid was hierdie woorde in daardie tyd vir Jerusalem ‘n verleentheid. God bring redding, maar Hy het Jerusalem nie daarvoor nodig nie. Hierdie profesie is eintlik ‘n vernedering vir Jerusalem.

Want God maak nie van hulle gebruik nie. Hy het eerder die klein stadjie Bethlehem daarvoor uitgekies.

Dit is ‘n skande dat die netto uitwerking van die wyse manne op Jerusalem niks was nie. Koning Herodes, wat nie ‘n volbloed Jood was nie, het die meeste aandag daaraan geskenk. Geen Jood het die wyse manne vergesel na Bethlehem toe nie, en selfs nie Herodes nie. Die magiërs het alleen verder gereis. En hoewel hulle die Kind nie ‘n ‘n paleis in Betlehem gevind het nie, het hulle tog besef dat hulle op die regte plek was. Sowel die ster as die profesie het hulle na daardie plek gelei. Hulle het die gebore Koning eer bewys, terwyl die Joodse leiers afwesig was. Soos die evangelis Johannes skryf:  Hy het na sy eie mense (sy eiendomsvolk) gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh 1:11).

Die geskiedenis van die wyse manne sluit af met die waarskuwing wat hulle in ‘n droom ontvang het, om nie na Herodes terug te keer nie. Dit vestig ons aandag op die geestelike oorlog wat daar gewoed het. Koning Herodes het naamlik ‘n instrument in satan se hande geword, wat probeer het om ontslae te raak van die Seun van God. Toe die satan se gesante, die magiërs, voor die Koningskind gekniel het, was dit ‘n diepe vernedering vir satan. Satan het dadelik alternatiewe planne begin beraam. Hy kon nie keer dat die Messias op aarde gekom het nie. Maar, die Koning was nog maar ‘n kind. En nou sou die satan alles daaraan doen om te keer dat hierdie kind volwasse word. Hier is die stryd gaande waarvan ons in Openbaring 12 lees, die stryd tussen die draak en die vrou. In Openbaring 12:1 lees ons van ‘n groot teken wat in die hemel verskyn het. Daar is uitleggers wat meen dat dit ook verwys na die ster wat die wyse manne gesien het. Ons lees in Openbaring: “En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre”. Volgens sommige uitleggers was die ster van Betlehem ‘n sterrebeeld, ‘n unieke konjunksie van verskillende hemelliggame, ‘n unieke verskynsel aan die hemelruim.

Ons het vanoggend begin om die geskiedenis van Bileam te lees.Hy was ‘n waarsêer, iemand wat die sterre gelees het. Ook in Numeri was daar ‘n stryd gaande tussen God en Satan. Satan het sy bes probeer om die uitverkore volk uit te roei. Bileam moes hulle vervloek. Maar Satan het dit nie reggekry nie. God het Bileam selfs vir die omgekeerde gebruik. Bileam, die woordvoerder van die demone, het uiteindelik nie kon vloek nie, maar hy het die volk geseën. Balak, koning van Midian, kon sy ore nie glo nie. Hy het nie verstaan wat aangaan nie. Hy het ‘n waarsêer ingehuur om te vloek, nie om te seën nie. Maar God het die vloek verhoed, en dit in ‘n seën omskep. Bileam het selfs geprofeteer van ‘n ster wat sou kom! En weer nou, met die wyse manne, gryp God in op die beslissende oomblik. Satan word teruggedring. Hy kan net toesien wat God besig is om te doen. Hoe sy Gesalfde hierdie wêreld betree, die domein van sonde en dood, om dit te kom genees.

Ja gelukkig is God, die HERE van die leërskare, in beheer. Hy staan in vir die veiligheid van sy Seun, noudat sy Seun in die domein van satan sy intrede gedoen het.

Dit is die wese van Kersfees, waarby ons in hierdie laaste maand van die jaar bepaal mag word. Dis duidelik, Christus is nie op 25 Desember gebore nie. Dis ‘n tradisie wat nie op die Bybel gegrond is nie. Maar niks keer ons om die Kersevangelie uit te basuin nie, elke maand van die jaar, ook in Desember.

Naamlik dat God in beheer is. Dat Hy die magte van die kwaad beheer, dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. Dat Hy hulle – die magte van die kwaad – selfs kan gebruik om die koms van sy Koning aan te kondig.

Hierdie boodskap laat die kerk moed skep. Hoewel ons soms swak voel, hoewel ons dalk ervaar dat gelowiges nie baie invloed het op die gang van sake in die wêreld nie, laat ons nooit vergeet nie: Ons het ‘n almagtige God aan ons kant! Hy het die ware Lig, daardie helder stralebaan, laat skyn op aarde.

Dit skiet deur die donker wolke. Dit is Immanuel,  Die Vors van Israel, Die Lig van alle volke.

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 149:3,4

Wet

Ps 86:3

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Numeri 22:20-41; Ps 72:6

2e tafel: Numeri 24:15-19; Ps 72:7

3e tafel: Mattheüs 2:1-12; Ps 72:8

Lofverheffing & Dankgebed

Teks: Mattheüs 2:1-2

Preek

Sb 12:1,2

Gebed

Kollekte

Sb 8:2,3

Seën