Jesus Christus eis ware bekering

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-11-25
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 33 vraag en antwoord 88-90
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 33 v/a 88-90

Afsterwe van die ou mens. Opstaan van die nuwe mens. Dit is ingrypende woorde. Wat afsterwe beteken, het sommiges van u van baie naby ervaar, toe u ‘n broer, swaer, familielid moes begrawe afgelope week. Dit is een van die mees ingrypende dinge wat mens moet deurmaak op aarde. En so ‘n diep ingrypende woord soos afsterwe, word dus vir bekering gebruik. Let wel, hier word nie net oor enige bekering gepraat nie. Die Kategismus noem spesifiek: die ware bekering van die mens.

Dit is ook die ampstaak van die broeders wat vandag bevestig word. Eerstens, dat ware bekering hulle eie lewe kenmerk. En tweedens, dat hulle daarop toesien dat die lidmate wat aan hulle toevertrou is, ook ‘n lewe van ware bekering lei.

Tema: Jesus Christus eis ware bekering

1 Afsterwe van die ou mens

2 Opstaan van die nuwe mens

1 Afsterwe van die ou mens

Christus eis ware bekering, van die moordenaar op straat, maar ook van elke kerklid. Ware bekering is nie iets wat mens ooit agter jou kan laat nie. Vir ‘n mens wat sy lewe lank goddeloos los van God en sy gebod geleef het, is ware bekering soos ‘n hoop vuil wasgoed wat gewas moet word. ‘n Hoop wat dalk so hoog soos ‘n berg is. Maar na daardie dag van bekering, beteken dit nie dat dit nou finaal agter die rug is nie. Vir daardie persoon, en vir elkeen van ons geld dat daar daagliks wasgoed gewas moet word. Ware bekering is iets wat daagliks moet terugkeer.

Wie elke dag aktief is, op sy werk, op skool, by die huis, waar ook al, kan verwag dat sy klere vuil word. Dit is op sig nie erg nie, dit is die normale gang van sake. Maar anders is dit as iemand opsetlik sy klere vuil maak. Soos ‘n stout seuntjie wat moedswillig met sy fiets deur ‘n modderpoel jaag, pleks van daaromheen te ry. As so ‘n seuntjie raas van sy ma kry, is dit wel verdien. So is dit ook verkeerd as ‘n mens bewus die sonde opsoek.

Dit is tipies vir die ou mens om die sonde te soek, om op die sonde af te gaan. Die sonde het ‘n sterk aantrekkingskrag op die ou mens. Die ou mens is nie baas oor homself nie, maar word heen en weer geslinger, aangetrokke tot elke sonde wat op die loer lê. Maar ware bekering bestaan juis daarin dat die ou mens gekruisig word. Dat jy nie meer ‘n slaaf van die sonde is nie. Maar dat jy self baas is oor jou doen en late. Meer nog: dat Christus jou lewe bepaal. Want Christus gee die krag vir mense om hulle nie te laat verlei deur verkeerde dinge nie, maar om self die leiding te neem en die goeie koers te vaar.

Dit geld vir jou dade, woorde en selfs jou gedagtes! Paulus skryf in Romeine 12: Word hervorm deur die vernuwing van jou denke, sodat julle kan beproef wat die goeie, welgevallige en volmaakte wil van God is. Neem elke gedagte krygsgevange in diens van Christus! Het jy dit nie ook soms nie? Dat jou gedagtes op hol raak? Sondige gedagtes, dat jy allerlei dinge fantaseer in jou gedagtes, waarin die sonde ‘n sentrale plek inneem? Of het jy dalk angstige gedagtes, waarin twyfel en angs op hol raak, so baie dat jy benoud raak, of dat jy jouself selfs kwaad wil aandoen? Paulus skryf: Sorg dat jou ou sondige mens, sorg dat die duiwel, sorg dat die sondige wêreld jou nie op sleeptou neem nie. Maar neem elke gedagte krygsgevange in diens van Christus! Elke woord, elke daad, begin by ‘n gedagte. As jou gedagtes sondig is, as hulle stink vir God, en ons wat die Here se wet ken weet watter gedagtes stink, sit ‘n punt daaragter. Stop daarmee. Begin positief te dink. Bly baas oor jouself. Moenie dat sondige gedagtes jou op sleeptou neem nie. Soek desnoods positiewe afleiding. Kyk byvoorbeeld buitentoe, na God se pragtige skepping. Of sit die radio aan. Of sit mooi musiek op. Of soek geselskap op. Wat ook al, maar bly baas oor jou gedagtes, dat die sonde nie daarin kan voortwoeker nie. Neem elke gedagte, woord en daad krygsgevange in diens van Christus.

So kruisig jy jou ou mens.Ware bekering beteken dat die ou mens doodgemaak word. Vra vir vergewing van sondes kan daarom nooit ‘n outomatisme word nie. Dis nie soos wat mens aan die einde van die weeek al jou vuil klere in die wasmasjien gooi, ‘n ritueel waarby mens nie veel gevoelens het nie. As jy die afgelope week jou ma uitgeskel het. As jy verslaap het en dus nie kerk toe gekom het nie. As jy geflirt het met die eggenoot van iemand anders. As jy te vinnig gejaag het op die pad. As jy geskinder het oor ‘n kollega, ‘n familielid, ‘n gemeentelid, noem maar op. Vergewing vra vir sondes moet nie net ‘n roetine wees nie. Dit is geen ware bekering nie. Dit is leef in sonde. So kan mens nie nagmaal vier nie.

Wat is ware bekering? Ware bekering is dat jy nie bly soos jy is nie. Ware bekering hou in dat die ou mens in jou lewe onttroon word. Dat Christus Here oor jou lewe word. Dan kan mens nie dieselfde bly nie. Dit sien mens alreeds in die feit dat daar opregte droefheid is oor die sonde. Wie vergewing vra vir ‘n sonde, moet vurig verlang dat hy daardie selfde sonde nooit weer in die toekoms sal begaan nie. Hy moet vertrou dat die Heilige Gees hom ook daartoe in staat kan stel, om weg te loop van die sonde af.

Ware bekering hou in dat jou denke ook verander. Dat ‘n lewe sonder daardie sonde vir jou begeerlik word. Dat jy jou indink hoe positief die atmosfeer tuis sal wees as kinders nie meer hulle ma uitskel nie. Hoe aangenaam dit sal wees om Saterdagaand betyds bed toe te gaan, sodat jy Sondagoggend vars in die kerk kan sit. Hoe gesond die atmosfeer op die werk sal wees, as daar nie meer die hele tyd geflirt word nie. Hoe ontspanne die samesyn sal word, in families, in die kerk, as die geskinder agterweë gelaat word. Hoe aangenaam jou reis sal wees, as jy betyds van die huis vertrek, en dus nie meer op die pad hoef te jaag nie. Daar kan nog baie voorbeelde genoem word. Waar dit oor gaan is dat ons fokus op wat positief is, God welbehaaglik is. Wees geen slaaf van jou eie sondige gedagtes nie. Lê jou bewus toe op die goede. Wie die hartlike vreugde om na die wil van God in alle goeie werke te lewe, nie laat deurdring tot die hele breedte van die lewe nie, werk die Gees teen. Christus sê vir sulkes: omdat jy lou is, nie warm of koud nie, sal Ek jou uit my mond uitspuug.

Bekeer jou! Kyk, Ek staan aan die deur en Ek klop.

Soos die tema sê:

Tema: Jesus Christus eis ware bekering van elke mens

(1 Afsterwe van die ou mens)

2 Opstaan van die nuwe mens

Laodicea was ‘n baie ryk en mooi stad. Dit was ‘n belangrike sentrum van industrie. Daar was tekstielfabrieke. Daar was farmaseutiese industrieë. Daar was baie banke. In die brief van die apostel Johannes aan die gemeente in hierdie stad, vind mens die eggo hiervan terug. Byvoorbeeld, wat baie opvallend is, is dat Johannes die Laodicense juis oproep om by Christus klere te koop! Asof die klere uit hulle eie tekstielfabrieke nie goed genoeg was nie!

Ons lees in vers 18: Ek raai jou aan om van My te koop - wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie. Verder skryf Johannes: Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is. Asof daar nie genoeg goud in die Laodicese banke gelê het nie! En Johannes skryf verder: Ek raai jou aan om van My te koop salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Asof hulle farmaseutiese industrie nie self oogsalf op die mark gehad het nie.

Gemeente, Christus het geoordeel dat die gemeentelede in Laodicea lou was. Hulle het aan niks gebrek gehad nie, en daardeur het hulle in hulle eie gemaksone begin lewe. Is dit nie ook vandag dikwels so nie? Dikwels maak materiële voorspoed kortsigtig. Maar Christus dwing hulle om verder deur te dink. Sien vers 17 byvoorbeeld: Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; maar jy besef nie meer dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie! Sien u hoe is Christus besig met sy gemeente in Laodicea? Ongevraagd versteur Hy die gemaksone van daardie selfgenoegsame mense. Christus maak hulle oë weer oop, sodat hulle die nuwe lewe, die ware rykdom, die egte toekoms weer raaksien. Want, gemeente, sonder Christus is daar geen moontlikheid dat iemand die nuwe lewe sou bereik nie. Kyk maar na wat die Kategismus skryf: Wat is die opstanding van die nuwe mens? Dit is ‘n hartlike vreugde in God deur Christus!

Deur Christus. Sonder Hom kom daar geen hartlike vreugde nie. Slegs deur Hom kan die nuwe mens, kan die nuwe lewe, vorm kry. Slegs by Hom is die produkte te koop, wat noodsaaklik is om die nuwe lewe te bereik. Ek raai jou aan om van My te koop, goud in die vuur gelouterd, sodat jy regtig ryk mag word. Ek bied nie klatergoud nie. En Ek het wit klere, wat jy kan aantrek om die skande van jou naaktheid weg te neem. En ek het oogsalf, waardeur jou blindheid weggeneem word.

Gemeente, u verstaan seker dat hierdie alles beeldspraak is. Christus sinspeel op die leefwêreld van die Laodicense. Hulle fabrieke in tekstiel en medisyne, hulle banke. Maar uiteindelik gaan dit oor die nuwe lewe. Die nuwe lewe wat Christus moontlik maak op alle lewensterreine. Die Kategismus skryf: Hartlike vreugde in God deur Christus, en ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Goeie werke volgens die wil van God. Daaraan kan mens sien of die opstanding van die nuwe mens in jou lewe plaasvind. Die wil van God, soos dit tot ons kom in sy Woord. In die volgende Sondag van die Kategismus gaan die tien gebooie aan die orde kom. Christus leer ons die wil van God. Geen jota of tittel van God se wet het Hy afgeskaf nie. Hy leer ons in Johannes 15:10:  “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” En in Johannes 12:49 sê Jesus: “Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My 'n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek.”

Goeie werke is dus om na die wil van God te lewe. Op alle lewensterreine.

Christus het ons sig gegee op die volmaakte wil van God. Christus maak dit ook vir ons moontlik. Goeie werke doen niemand uit eie krag nie. Ek gaan in hierdie preek nie verder in op wat goeie werke presies is nie, daarna gaan ons DV in die volgende Kategismuspreek kyk. Slegs wys ek vir nou na die eerste frase uit antwoord 91: Goeie werke kan slegs tot stand kom uit ware geloof. Dit wil sê: vertroue op Jesus Christus. Ons kyk op na Hom. Here, leer U my wat God van my vra. Leer U my wat goed is, vir myself, vir my medemens. Leer U my om ‘n nuwe mens te word. Staan my by, want sonder U kan ek niks nie.

Maar met U staan ek op in ‘n nuwe lewe. Wat U my aanbied, neem ek gretig aan! Met my eie klatergoud kan ek nie ‘n nuwe mens word nie. Met my eie klere kan ek nie skoon voor God verskyn nie. Met my eie medisyne kan ek nie my blindheid genees nie. Uit myself bly ek vuil, arm, blind, en wag net die ewige dood vir my. Maar U maak van ons nuwe mense. U wek ons op tot ‘n nuwe lewe. U het ons vooruitgegaan. U opstanding uit die dood, u nuwe onverganklike lewe, dit staan ons ook te wagte! Ja al u skatte en gawes deel U uit, vir elkeen wat sy hande in geloof uitsteek. Die liggaamlike opstanding van die nuwe mens is iets vir die toekoms. Maar die geestelike opstanding van die nuwe mens gebeur nou al! Wie die skatte en gawes van Christus in ontvangs neem, alle produkte wat Hy aanbied, ontvang ‘n pragtige lewe. Ja selfs in tye van rou en siekte, sal daar nog steeds ‘n hartlike vreugde in God wees. ‘n Vreugde wat deur niks geblus kan word nie. Want dis ‘n nuwe lewe wat gebou is op die onwankelbare fondament van God se liefde en trou in Christus. ‘n Lewe wat nie meer heen en weer geslinger word deur die aantrekkingskrag van die sonde om ons heen nie, omdat die ou mens gekruisig is. ‘n Lewe wat steeds meer hervorm word deur Christus se Gees, soos Paulus geskryf het, om gelykvormig te word aan die lewe van ons Heer en Heiland. Hy wat die Hoof is van sy liggaam. ‘n Liggaam wat in skoon wit klere gekleed is. Jesus het aan die Laodicense gesê:  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” En verder het Hy vir hulle gesê: Ek raai jou aan om van My te koop wit klere, skoon klere. ‘n Lewe wat skoon is, waaruit die sonde weggewas is.

Dieselfde sê Jesus ook vir u. Wat ‘n voorreg, dat hierdie nuwe lewe deur Hom moontlik is. Wat ‘n voorreg, dat Christus ook ampsdraers skenk. Deur hulle diens sorg Hy dat u deel van die liggaam bly. Dat u elke week die reiniging van u lewe bly soek. Dat u steeds in skoon klere gekleed is. Dat u nie tevrede is met klatergoud nie, maar egte goud. Dat u oë elke keer weer gesalf word met die regte salf, sodat u nie blind raak nie. So eis Christus ware bekering. En juis ook deur die diens van die ampsdraers, bewaar Hy u by sy Woord. So eis Hy nie net bekering nie, maar maak dit self ook moontlik! Wie Hom dien, wie Hom navolg, se ou mens sal afsterf, en sy nuwe mens opstaan.

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 34:8

Gebed

Skriflesing: Romeine 12

Ps 24: 1,2

Skriflesing: Openbaring 3:14-22

Ps 24:3,4

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 33 v/a 88-90

Preek

Ps 143:1,2,9

Bevestiging ampsdraers

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Sb 42:3,4,5

Seën