Die eerste sleutel van die koninkryk is die verkondiging van die Evangelie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-11-04
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 31 vr/antw 83 en 84
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 31,83-84

In die Bybel word daar op twee maniere oor die koninkryk van God, of die koninkryk van die hemel geskryf. Aan die een kant spreek Jesus oor die koninkryk van sy Vader asof dit al daar is. Aan die ander kant leer Hy ons bid: laat u koninkryk kom.

Aan die een kant is die koninkryk al daar, aan die ander kant nog nie. As jy hierdie koninkryk wil binnegaan in die toekoms, vra dit egter nou al voorbereidings. Jy moet kies. Ons gaan vanaand kyk na die sleutel wat toegang bied tot hierdie koninkryk.

Daar is twee sleutels, sê Sondag 31. Die verkondiging van die Evangelie, en die kerklike tug. Die Kategismus voeg direk daaraan toe: Deur beide word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit. Nou lê daar ‘n misverstand voor die hand. Dat daar twee sleutels is, en dat die een sleutel spesifiek bedoel is vir die gelowiges, en die ander een spesifiek vir die ongelowiges. Oftewel, die Evangelieverkondiging is vir die gelowiges, en die tug vir die ongelowiges. Maar so is dit egter nie. Albei sleutels is daar vir sowel die gelowiges en ongelowiges. Deur die Evangelieverkondiging word die gelowiges toegerus vir die koninkryk wat op koms is en vermaan om op die regte pad te bly. En die ongelowiges word daardeur opgeroep tot bekering. Deur die sleutel van die tug word die gelowiges op die goeie pad gehou, sodat hulle nie ‘n verkeerde afslag neem nie, en deur hierdie sleutel word die ongelowiges uitgesluit uit die koninkryk, totdat hulle tot inkeer kom. Dit is die twee sleutels.

En, soos u weet, met ‘n sleutel kan mens twee dinge doen. Mens kan oopsluit en toesluit. Dit geld ook vir die sleutels van God se koninkryk. Die Bybel gebruik ook ‘n ander beeldspraak. Naamlik dat die Evangelieverkondiging ‘n tweesnydende swaard is. Daarmee word bedoel: die swaard van die Woord het tweeërlei effek. Dit werk sê maar soos ‘n operasiemes, wat die gevaarlike kanker wegsny, en so ‘n lewe red. Maar dit kan ook werk soos ‘n wapen, waardeur iemand gedood word. Vanaand gaan ons na die eerste sleutel kyk.

En hoe mens twee dinge met hierdie sleutel, met die Evangelieverkondiging, doen. Hierdie sleutel kan oopsluit, maar kan ook toesluit. Dan in die volgende Kategismuspreek gaan ons na die tweede sleutel kyk, die sleutel van die kerklike tug.

Tema: Die eerste sleutel van die koninkryk is die verkondiging van die Evangelie

1 Die sleutel sluit oop en sluit toe

2 Die werking van hierdie sleutel

1 Die sleutel sluit oop en sluit toe

Hoe werk dit prakties? Soos ons gelees het, het Jesus vir Petrus gesê: “Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” (Matt 16:19)

Ons het daarna ook ‘n gedeelte uit Handelinge gelees. Dit is ‘n voorbeeld hoe hierdie in die praktyk werk. Kom ons kyk weer daarna. Hier in Handelinge verkondig Petrus die Evangelie van Jesus aan die mense in Jerusalem. Daardeur kom die sleutel in werking. Let op hoe die Kategismus dit verwoord.

Daar staan nie: die sleutel is die Evangelie, nie. Daar staan: die sleutel is die verkondiging van die Evangelie. Want dis soos dit is: Die Evangelie staan in ‘n boek, die Bybel. Hierdie boek staan in baie mense se huise op die boekrak. Maar dit word maar selde oopgemaak. Miskien met Kersfees ‘n keertjie. Dit is dus nie die sleutel nie. Die sleutel is die aktiewe, die lewende verkondiging van wat in hierdie boek geopenbaar word. En dit sien ons in Handelinge gebeur.

Petrus verkondig die Evangelie aan die mense in Jerusalem. Hy doen dit, soos ons gelees het, in die sogenaamde pilaargang van Salomo. Dit gaan hier oor geboue en pilaargange rondom die tempel. Dit is bekend dat baie Skrifgeleerdes daar, rondom die tempel, aan die volk onderrig gegee het. Jesus het self hier ook meerdere kere die volk onderrig. So maak Petrus nou ook. Hy bring die Evangelie. Ons het gelees, hoe ontroerend Petrus dit onder woorde gebring het. Aan die een kant konfronterend. Hy sê die waarheid reguit. Mense, julle het geëis dat ‘n misdadiger, Barabbas, vrygelaat moes word. Maar julle het die Leidsman tot die lewe om die lewe gebring. Aan die ander kant praat Petrus ook met begrip: Broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes. En dan wys Petrus hulle op wat hulle nou te doen staan: Kom dan tot inkeer en bekeer julle! En wat sien ons dan?

Gemeente, ons sien dan dat die sleutel begin draai. Of, om die ander beeld te gebruik, dit werk soos ‘n tweesnydende swaard. Dit het ons ook gelees, die begin van hoofstuk 4. Neem vers 4: “baie van die wat die woord gehoor het, het geglo”. Ons sien hier mense tot bekering kom. Die woorde van Petrus dring by hulle binne, en hulle word van binne uit verander. Die Evangelieverkondiging werk soos medisyne. Soos ‘n operasiemes, wat die sonde en opstand wegsny en die mense ‘n nuwe lewe gee.

Die omgekeerde het egter ook gebeur, deur dieselfde woorde van Petrus.

Dit het ons ook gelees. Terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom, baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig (Hand 4:1-3).

Hier sien mens die omgekeerde reaksie. Hulle was ontevrede, verontwaardig, kwaad, geïrriteerd. Die oorsaak daarvoor was per persoon verskillend. Die Sadduseërs het byvoorbeeld die opstanding uit die dood ontken. Daarom was dit wat Petrus verkondig het, vir hulle ‘n aanstoot. En so sien mens hoe die sleutel begin draai, ook in die rigting om te sluit. Die sleutel sluit oop, maar sluit ook toe. Gemeente, broer, suster, in watter rigting draai hierdie sleutel in jou lewe? Maak die verkondiging van die Evangelie jou hart oop, of maak dit jou hart net nog meer toe?

(Tema: Die eerste sleutel van die koninkryk is die verkondiging van die Evangelie

1 Die sleutel sluit oop en sluit toe)

2 Die werking van hierdie sleutel

Is dit nou so dat ‘n mens hierdie alles passief ondergaan? Of die sleutel nou oop- of toesluit, dit gebeur nou eenmaal? Is dit so dat mense deur iemand anders binnegelaat of buitegesluit kan word? In die gedeelte wat ons uit Handelinge gelees het, blyk dat dit nie so is nie. Al die mense wat daar was, het dieselfde Evangelie van Petrus te hore gekry. Die woorde het by hulle almal binnegedring. Maar wat by hulle weer buitentoe gekom het, was uiteenlopende reaksies. Dit is ‘n belangrike punt, as dit oor ‘n mens gaan. Die mens is deur God geskape met ‘n eie verantwoordelikheid. Die Evangelieverkondiging stel die mens voor ‘n keuse. Elke mens probeer uit homself, vanweë sy sondige geaardheid, onder daardie keuse uit te kom, of die keuse steeds uit te stel. Of op die agtergrond te skuif, of te verdring. Maar dit is juis die effek van die verkondiging van die Evangelie, dat dit die mens dring tot ‘n keuse. Daarom word dit ‘n sleutel genoem. Waar die Woord ook al gepreek word, daar kan die luisteraars die keuse nie ontwyk nie. Die Evangelie roep op. Dit bring boontoe wat elke mens probeer verdring, wegskuif. Die Evangelieverkondiging maak hoe dan ook ‘n reaksie in die mens los. Die sleutel begin draai, oop of toe. Daarom is die Evangelieprediking so ontsettend belangrik. Dit is die enigste sleutel wat in die slot pas. Wat die in sonde en ellende gevalle mens in beweging kan bring. Daarom is dit so belangrik om kerk toe te kom, die plek waar die Evangelie verkondig word.

In die wêreld bestaan daar ‘n oorvloed aan vroom spirituele literatuur. Daar is baie boeke en tydskrifte te koop waaruit mens lewenswyshede kan opdoen. En nog meer op die internet. Maar tog blyk geen boek, geen wysheid, geen filosofie, geen terapie daardie reaksie in ‘n mens tot stand te kan bring nie,  wat die Evangelie wel tot gevolg het. Die Evangelieverkondiging blyk die enigste sleutel te wees wat heeltemal by die mens kan binnedring, die slot in beweging kan bring, die een kant toe of die ander kant toe. Oopsluit of toesluit.

Mense wat ‘n lang soektog na die geheim van die lewe onderneem het, en blootstelling aan alle wêreldgodsdienste gehad het, en aan alle wyshede en adviese wat daar verkrygbaar is, kom tog eers by die Evangelieprediking werklik in beweging: of tot oorgawe, of tot verharding. Sulke mense kan vol verwondering daaroor vertel. Dis net asof mens ‘n hele sleutelbos het, en die een na die ander sleutel uitprobeer, of dit wel in die slot pas. Maar geen sleutel kan die slot in beweging bring nie. Net daardie een sleutel bring op onverklaarbare wyse die slot wel in beweging.Die sleutel van die Evangelieverkondiging blyk die enigste wat ‘n impak op die mens het.So is dit, gemeente. Die verkondiging van die Evangelie bring ‘n mens hoe dan ook in beweging. Niemand kan die boodskap van die Evangelie aanhoor sonder dat dit ‘n effek het nie. Daar kom die verantwoordelikheid van elke mens by, soos die Kategismus tereg aandui. Neem u die belofte van die Evangelie met ‘n ware geloof aan? Die belofte is, sê die Kategismus, is dat Christus u sonde wegneem. Wie homself bekeer en hierdie belofte aanneem, begin agterkom hoe die sleutel die slot oopsluit. ‘n Nuwe lewe begin, die toegang tot God se koninkryk word verleen.

Maar, skryf die Kategismus in lyn met Petrus se prediking, die ongelowiges, die huigelaars, wat nie van hulle sondes afskeid wil neem nie, hulle word ook deur die verkondiging van die Evangelie in beweging gesit. Maar, helaas, in die teenoorgestelde rigting. By hulle draai die slot net nog verder toe.

Ons kom nog vir ‘n oomblik terug by wat Jesus vir Petrus gesê het: “wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” (Matt 16:19)

Dit is ‘n baie ingrypende uitspraak. Kry Petrus soveel invloed in hande?Dat hy kan beskik oor die ewige lot van mense? Hierdie uitspraak moet ons, gemeente, lees in die konteks van Petrus se belydenis. Petrus het kort daarvoor bely dat Jesus die Messias is. Petrus het dus vir die Evangelie gekies.

En dit is hierdie Evangelie wat Jesus nou aan hom toevertrou. Petrus, jy kry die opdrag om hierdie Evangelie uit te dra! Dit is hierdie Evangelie wat die mense se harte in beweging sal kry. Dit gaan dus nie oor Petrus nie. Petrus, en ook die kerk van vandag, kan nie mense hemel of hel toe stuur nie. Die kerk het slegs die taak, net soos Petrus destyds, om die Evangelie te laat klink. En dit is die Evangelie, die Woord van God, wat die werk doen. Die werk van ‘n tweesnydende swaard, of van ‘n sleutel. Hierdie taak het ek ook, as bedienaar van die Woord. Om die Evangelie te verkondig aan u. En dit is die Evangelie wat u in beweging sal kry. Hetsy in positiewe, hetsy in negatiewe sin. Ons hoop en bid vir die eerste. Maar niemand kan dit onaangeroer aanhoor nie.

Dit Heilige Gees werk in u deur die Evangelie.En mag die effek wees dat die verkondiging by u in goeie grond val. So verkondig ek aan u, volgens Christus se bevel aan Petrus, dat u sondes vergewe is, dat u lewe ‘n toekoms het, ‘n toekoms selfs na die dood! En ek verkondig u, dat u elke dag na Christus kan gaan in gebed, en dat Hy u sondes sal vergewe, veel meer as wat mense mekaar vergewe. En ek roep u op: neem hierdie woorde aan! Volg hulle op!

En gemeente, so verkondig ek ook vandag aan u, volgens Christus se bevel aan Petrus lank gelede, en in hom aan alle bedienaars van die Woord: Elkeen in ons midde wat nie ernstig is met sy geloof nie, elkeen wat voordoen wat hy nie is nie (die Kategismus sê: wat huigel), op hulle rus die toorn van God, die ewige oordeel.En dit sal so bly so lank hulle voortgaan om te huigel, solank hulle vir hulleself bly lewe, en nie hulle lewe uit hande gee nie. Solank u nie u lewe, u alles, u gesondheid, u jeug, u besig, u geld, u familie, noem maar op, solank u nie u hele lewe in diens stel van u hemelse Vader nie.

As ek dit so verkondig, is dit dus nie ek wat uitmaak wie gered word en wie nie. Ek bring bloot die Evangelie. Laat ons goed kyk na daardie laaste sin van antwoord 84, wat dit is veelseggend:“Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.”

God sal oordeel. Die prediker moet slegs die getuienis van die Evangelie voorhou.

Die sleutel vir die toekoms is die verkondiging van die Evangelie. Dit is die tema vanaand. Soos u weet, pas daar slegs een sleutel op ‘n slot. As jy in die winkel ‘n nuwe slot koop, kom dit saam met sy sleutel. Slot en sleutel is afkomstig van dieselfde fabrikant. Dit geld ook vir vanaand se onderwerp.

In hierdie vergelyking is die slot die mens. En die mens is deur God geskape. En in hierdie vergelyking is die sleutel die verkondiging van die Evangelie.

En dit kom ook van God. Die Skrif is deur God geïnspireer. God, Skepper van beide, weet presies hoe om die mens in beweging te bring. Maar, en dit is die skeppingsraaisel wat ons nie kan beredeneer nie, God het die mens wel met ‘n eie verantwoordelikheid geskape. Hierdie verantwoordelikheid neem God dan ook volledig ernstig, as Hy die Evangelie aan die mens voorhou. Die mens, wat teen Hom in opstand gekom het, ontvang die blye Evangelie. Dit word aan hom verkondig: Daar is redding vir jou. Daar is ‘n weg terug na jou Skepper.

Kies die lewe! Kom tot bekering. Dit is die sleutel van die verkondiging van die Evangelie. Wanneer hierdie sleutel die mens binnedring, kom daar beweging, ten goede of ten kwade.

Ons as mense kan nie alles verklaar van hierdie proses nie. God bly almagtig, soewerein. Hy is die verkiesende God. Alles is aan Hom te danke. Terselfdertyd lê Hy ‘n baie groot verantwoordelikheid by die mens neer.

So het Hy Hom geskape, en so hou Hy hom aanspreeklik. Ons as mense, al kan ons nie alles verklaar nie, ervaar wel dat die Evangelie ‘n uitwerking op ons het. Die Heilige Gees werk aan u. En soos die Skrif ons oproep: Moenie sy werk blus nie, moenie dit teenwerk nie. Bly Christus volg, elke dag van jou lewe! En mag dit oor elkeen in hierdie kerk gesê word, mag dit ook oor Miané gesê word, die woorde wat ons in Handelinge 4:4 gelees het: “baie van die wat die woord gehoor het, het geglo”.Dit is my vurige verlange vir u as bedienaar van die Woord.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Seën

Ps 118:2,4

Gebed

Doopsformulier: Doopsbediening: Miané Middeljans

Ps 90:9

Dankgebed

Skriflesing: Mattheüs 16:18-19 & Handelinge 3:11-4:4

Sb 49:5,6

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 31 v/a 83-84

Preek

Sb 43:2-5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 119:39,43,48,51

Seën