God se regverdigheid en barmhartigheid, toegelig aan die hand van Israel se geskiedenis in die woestyn

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-02-11
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 4
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 4

Baie eeue gelede was daar ooit ‘n teoloog met die naam Marcion wat van mening was dat die God van die Ou Testament nie die Vader van die Here Jesus kon wees nie. Dit was volgens hom ‘n wrede God, onkontroleerbaar, tiranniek, gevaarlik vir mense.

Vandag is daar ook nog mense wat so oor die Ou Testament dink. Die God van die Ou Testament was Iemand wat ‘n bepaalde norm van regverdigheid hanteer het, wat in die eerste plek veels te hoog is vir enige mens op aarde om ooit daaraan te voldoen, en in die tweede plek ook nog willekeurig is.

Van die Ou Testament begryp mens nie veel nie, word dan beweer.

Mens vind daarin wreedhede wat eintlik nie ‘n plek in die Bybel behoort te hê nie, laat staan dat dit ook nog deur God goedgekeur word.

Nou het mense met hierdie tipe redenering ‘n blinde kol aan beide kante. Ten eerste dat hierdie soort wreedhede net in die Ou Testament sou voorgekom het, en nie ook in die Nuwe nie. Dis natuurlik nie die geval nie. Dink aan die skielike dood van Ananias en Saffira (Hand 5). Dink aan uitsprake van die Here Jesus self, soos in Mattheüs 25: “En hulle sal weggaan in die ewige straf” (vers 46). Of Jesus se uitspraak oor die dienskneg wat sy talente nie goed gebruik het nie: “werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matth 25:30)

Dink ook aan die uitspraak van die apostel Paulus:

“Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here” (2 Thess 1:9).

Tussen die Ou en Nuwe Testament is daar op hierdie punt dus geen verskil nie. Dit is die eerste blinde kol.

En die tweede is dat hierdie soort wreedhede nog onverminderd voorkom ook in ons eie tyd, ook in ons land, en nie net deur swartmense nie, ook deur ‘beskaafde’ blankes. Ons praat nou oor die lot van tallose mense op aarde. Die feit dat daar tallose mense is wat nie op ‘n ‘menswaardige’ wyse sterf en begrawe word nie, die feit dat sommige mense vermoor word en net daar in ‘n veld bly lê totdat die polisie maande later die lyk opspoor. Wreedhede is nie net iets van die tyd van die Ou Testament nie. En dan praat ons nog nie eers oor die feit dat alle mense, ook in ons tyd, te sterwe gaan kom nie. En ook as iemand heel rustig inslaap, bly die dood nog steeds ‘n verskrikking.

Sondag 4 speur na wat die oorsaak hiervan is.

Sondag 4 fokus veral op die rol van God te midde van ‘n wêreld vol wreedhede. Moet dit Hom, synde die Skepper, synde almagtig, kwalik geneem word? Kan Hy die wreedhede voorkom? Of is Hy dalk juis self betrokke om die wreedhede te laat plaasvind? Wat is God se rol in ‘n wêreld vol wreedhede?

Dis die vraag waarmee Sondag 4 besig is. Die vraag wat die verband is tussen God se regverdigheid aan die een kant en sy barmhartigheid aan die ander.

Tema: God se regverdigheid en barmhartigheid, toegelig aan die hand van Israel se geskiedenis in die woestyn

  • Wat God van sy kinders verwag, is regverdig en billik
  • Wat God vir sy kinders doen, is uiters barmhartig en genadig
  • Wat God van sy kinders verwag, is regverdig en billik

    Ons het die geskiedenis van die goue kalf gelees. In hierdie hoofstuk ontmoet ons God sowel in sy barmhartigheid as sy regverdigheid. Dit is ‘n hoofstuk wat handel oor die sonde wat God se volk bedryf het.

    En God se reaksie daarop.

    Die historiese konteks was dat die volk hulle bevind het by die berg Sinaï.

    Dit was ongeveer drie maande na die uittog uit Egipte. Vir eeue het die Farao’s in Egipte die Israeliete se mees basiese regte geskend. God se volk het ‘n mensonwaardige behandeling ontvang. Die pasgebore seuntjies is in die Nylrivier verdrink. God, wat regverdig is, het die Egiptenare hiervoor gestraf.

    Dink aan die tien plae. Dink aan die verdrinking van die Egiptiese leër in die Rooisee. Die volk was diep onder die indruk van hulle God.

    Toe hulle by die berg Sinaï aankom, het God toe met hulle ‘n verbond gesluit.

    Die verbond wat Hy ooit met Abraham gesluit het, het Hy vernuwe. Hy het toe sy leefreëls binne die verbond aan hulle bekend gemaak. Hierdie gebooie was uniek, baie uitsonderlik. Neem byvoorbeeld die eerste twee gebooie. In teenstelling tot die ander volke, mog die Israeliete nie meer as een God aanbid nie. Daar is maar een lewende God.

    Ook in teenstelling tot die ander volke, is hulle verbied om ‘n sigbare afbeelding van hulle God te maak, om dan die afbeelding te vereer. Hulle het die Woord, die instruksies, die beloftes en eise, persoonlik van die lewende God ontvang. Sy wil was allermins onduidelik.

    Die feit dat God ‘n verbond met juis hierdie mense gesluit het, het nie in die feit gelê dat hulle beter was as al die ander mense op aarde nie. Hulle was nie.

    Dit was pure genade van God. Dat hulle nie anders as die ander volke was nie, sien mens goed in hierdie hoofstuk. Dit was nog maar kort na die bekendmaking van God se wette, toe die behoefte by die mense opgekom het om ‘n beeld van hulle God te maak. Die neiging was op den duur so sterk, dat God se wet, die tweede gebod, nie eers soos ‘n rooi liggie begin brand het nie.

    Ons lees dat die volk saamgedrom het rondom Aäron en hulle eise gestel het.

    Uit die hoofstuk blyk dat Aäron nie goed raad geweet het nie. Maar hy het ook nie gedurf om sy voet dwars te sit nie. Uit eie lyfsbehoud het hy maar toegegee. Laat ons dan maar die HERE, ons Verbondsgod, met ‘n gegote kalf dien, solank as ons maar die HERE aanroep. Aäron het toegegee, en die volk kon nie wag dat hulle ‘n goue kalf kry om te aanbid nie. Ons het gelees hoe God se reaksie hierop was. Hy het vir Moses gesê:

    “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak.” (vers 10)

    Nou moet ons hierdie vers nie verkeerd verstaan, asof God nie in staat is om sy gevoelens van haat in toom te hou nie. As daar een Persoon is wat sy gevoelens wat trouens honderd persent regverdige toorn is, in staat is om te bedwing, dan is dit die HERE. As ons die kortste jaartelling beskikbaar aanhou, dan het dit minimaal vier duisend jaar geduur van die sondeval in die paradys, tot die oomblik waarop Christus aan die kruis uiteindelik die skuld weggeneem het. En die tyd toe Moses met die volk hier in die woestyn was, dit was minimaal al twee duisend jaar na die sondeval, en minimaal een duisend jaar na die sondvloed. Sy volkome regverdige toorn het God dus ook hier ingehou. Vir duisende jare is Hy in staat om dit te doen.

    En nog nooit, na die sondvloed, het God Homself so direk en so uitgebreid aan die mense op aarde geopenbaar as hier by die Sinaï nie. Dit was ‘n groot hoogtepunt. Maar dan, enkele dae, hoogstens enkele weke daarna, maak die volk asof hulle nog nooit van God se wet gehoor het nie. God se wet was vir hulle totaal oninteressant. Al wat hulle wou, was om ‘n kalf te bou. Hulle moes en sou ‘n kalf bou. Aäron het toe onder die immense druk beswyk.

    Dit is dus nie so dat God skielik ‘n opwelling van ongekontroleerde woede gehad het, toe Hy sien wat die Israeliete besig was om te doen nie. Vir eeue lank het Hy sy teregte toorn alreeds geparkeer. En Hy was juis op pad om ‘n nuwe hoofstuk te begin in sy heilsgeskiedenis met die volk, om toe te werk na die definitiewe betaling van die skuld. Hy was juis besig om die volk waaruit die Messias gebore sou word, na die beloofde land te lei. En toe gebeur dit!

    Dan vra die Kategismus:

    Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie? God moes mos geweet het dat sy volk ook die innerlike drang gehad het, net soos die ander volke, om iets sigbaars te aanbid, iets wat hulle met hulle eie hande kon maak en breek? Maar nee, God kyk na sy volk in die konteks van die geheel. Hierdie gebeurtenis staan nie los van die sondeval in die paradys nie. God hou in gedagte wat sy oorspronklike bedoeling was met die skepping van die mens. En daarom is sy diagnose:

    Ek het die mens so geskape, dat hy in staat was om volgens my wil te lewe.

    Die wet wat Ek sojuis aan die volk gegee het, die mens was geskape om daardie wet sonder probleme te kon vervul.

    Om ‘n voorbeeld van vandag te gebruik: as mens ‘n selfoon van tien jaar oud wil gebruik om te ‘whatsapp’, gaan jy sukkel.

    Tien jaar gelede is selfone naamlik nog nie gebou om dit te kon doen nie.

    Is dit ook waar van die mens, dat die wet gewoon bo sy vuurmaakplek is? Nee, bely ons in die Kategismus, soos God die mens geskep het, behoort hy in staat te kan wees om sonder probleme die gebooie te onderhou. En as blyk dat die mens dit nie regkry nie, is dit nie God se skuld nie. God maak ook nie asof dit normaal is nie. Hy pas nie sy standaarde aan nie. Die diagnose van God is konfronterend, maar korrek. God hanteer as maatstaf dit wat gesond is.

    En net soos met die sondvloed destyds, staan God hier weer op die randjie om sy ingehoue toorn, wat per slot van rekening volledig tereg was, op die mense uit te stort. Destyds het Hy dit gedoen met die hele mensheid, en toe ‘n nuwe begin met Noag gemaak. Trouens, dit was ook al genade, want Noag was self ook nie sondeloos nie. Dink maar aan sy lewe na die sondvloed. Maar nou is God dus van plan om weer ‘n soortgelyke maatreël te tref, ‘n volkome regverdige stap. Weg met die volk, en dan ‘n nuwe begin maak met ‘n enkeling, met Moses.

    Ons weet hoe dit toe afgeloop het. Moses het tussenbeide getree as middelaar.

    Hy kon God sover kry om weer lankmoedigheid te toon, en sy teregte toorn tog weer te parkeer. Moses was gewaagd besig.

    Nog maar kort na die verbondsluiting tussen God en sy volk, moes hy al alle moontlike middele en pleitgronde wat die verbond gebied het, uitput om die ooreenkoms te red. Ons sou vandag sê: die ink van die ooreenkoms was nog nie eers droog nie, of alle klousules en toeseggings van genade moes al aangeboor word om die verbond te red.

    Maar skynbaar het God Moses dit nie kwalik geneem nie. Veel liewer sien God dat iemand die onderste uit die kan probeer kry, in hierdie verbond met al sy toeseggings, as wat die volk die verbond maar net ongeïnteresseerd langs hulle neerlê. Dit kan God nie verdra nie. Maar die persoon wat bly klop, al is dit die duisendste keer, die wys Hy nooit af nie. Die persoon wat ongeïnteresseerd, laks of hooghartig nie belangstel nie, daardie persoon besoek God met sy straf.

    (Tema: God se regverdigheid en barmhartigheid, toegelig aan die hand van Israel se geskiedenis in die woestyn

  • Wat God van sy kinders verwag, is regverdig en billik)
  • Wat God vir sy kinders doen, is uiters barmhartig en genadig

    Dit sien ons dan ook in hierdie hoofstuk. Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly? Nee, glad nie.

    Inteendeel, sy toorn is verskriklik sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen. Hy wil dit in die tyd en ewigheid met ‘n regverdige oordeel straf.

    Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. Die afgodery en eiewillige godsdiens van die Israeliete het die HERE hierdie keer baie mild gestraf. Die Leviete het opdrag gekry om drie duisend mense om die lewe te bring. Ja, hoor my goed, hierdie straf was baie mild. Die volk het die bevoorregte posisie wat hulle van God ontvang het, verspeel. Hulle wou leef en hulle godsdiens bedryf net soos alle ander volke, soos dit na hulle eie sin was. Aan God se gebooie het hulle hul nie gesteur nie. As God weer iets soortgelyks sou gedoen het as destyds met die sondvloed – Hy het alle rede daarvoor gehad – dan sou dit volkome tereg gewees het.

    Gemeente, ons moet nie met die oë van Marcion na hierdie geskiedenis in die Ou Testament kyk nie. Maar ons moet die Bybel hier lees soos dit self na ons toe kom.  As ons hierdie hoofstuk lees vanuit die besef dat die mens al sy regte op aarde verspeel het, en dat alles wat minder erg as die ewige straf is, dus eintlik pure genade is, dan lees ons hierdie hoofstuk met die regte perspektief.

    Die mensheid verdien om met ‘n regverdige oordeel in tyd en ewigheid gestraf te word.

    Maar God het besluit om hier net drieduisend met die dood te straf, en dit nie uit vergelding nie. Dit was omdat Hy na Moses geluister het, en omdat Hy tog maar weer besluit het om barmhartig te wees. Hiermee het Hy die volk opgeskrik. Hulle moes besef dat hulle nie so kon voortgaan in die verbond nie.

    Daarom het die volk op hierdie oomblik slegs, soos die Kategismus dit verwoord, ‘n straf in die tyd ontvang. Mens sou kon sê: ‘n pedagogiese straf.

    As die Kategismus dan vervolgens die vraag vra:

    Maar is God dan nie ook barmhartig nie?

    Dan is hierdie straf eintlik onderdeel van sy barmhartigheid. Dit is onderdeel van sy toegif aan Moses. Nou goed dan, Ek sal met die volk verder gaan.

    Ek sien af van die onheil waarmee Ek hulle bedreig het. Nogmaals het God die betaling van die skuld parkeer. Nogmaals het Hy sy inhoue toorn, wat volkome tereg is, agterweë gelaat. Nogmaals het God redes in Homself gevind om op hierdie stadium van die straf af te sien. God wat vol van barmhartigheid en genade is, geduldig, groot in liefde en trou, wat sy goedertierenheid bewys tot in die duisendste geslag, wat die misdade, oortredinge en sondes vergewe (Exodus 34:6,7).

    Geliefdes, elke dag wat aan die geskiedenis toegevoeg word, elke dag wat die son weer opgaan vir die mensheid op aarde, elke dag is ‘n blyk van die barmhartigheid van God.

    God vind redes in Homself om nog lankmoedig te wees. Vir duisende jare is Hy bereid om die skuld te ‘ringfence’, soos mense in die finansiële wêreld dit soms noem. Vir duisende jare hou Hy die skuld eenkant, sit dit opsy, sonder dat daar ook maar ‘n begin gemaak word om dit af te betaal. Telkens opnuut toon Hy sy lankmoedigheid. Moses het as middelaar vir die volk opgetree.

    Waarom sou U aanleiding gee vir die ander volke om U te spot?

    Waarom sou U vir die Egiptenaars aanleiding gee om die persepsie te ontwikkel dat U kwaadwillig was, toe U hulle uitgelei het? Waarom sou U hulle nou reeds verdelg, so kort na U die verbond weer bevestig het?

    Skrap my dan maar liewerste uit die boek wat U geskryf het (vers 32)!

    Dit was ‘n edele poging van Moses, maar laat ons eerlik wees. Om dit te doen sou die volk geen meter vooruit gehelp het nie. God het natuurlik daarop sig gehad. Maar Moses se altruïstiese optrede was wel vir Hom ‘n aansporing om sy lankmoedigheid, sy geduld te toon, en die aflos van die skuld nogmaals te parkeer. Dis goed, Moses, Ek sal weer met die volk verder gaan. Bring die volk maar na die plek wat Ek beplan het. Julle mag verder trek rigting die beloofde land. My engel sal voor julle uitgaan. Maar reken net hierop: die dag van verdelding sal kom, en dan sal Ek hulle sondes vergeld, oor hulle besoek.

    Hierdie laaste opmerking van die HERE is presies wat die Kategismus naspreek in v/a 11:

    God is wel barmhartig, maar Hy is ook regverdig. Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is, ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is die ewige straf aan liggaam en siel. By hierdie opmerking van die Here – die dag van vergelding sal kom, kan ons dink aan wat die jare daarna gebeur het in die woestyn. Vanweë ‘n volgehoue gebrek aan vertroue op die HERE, het Hy besluit dat die woestyngenerasie, wat al sy wonders by die uittog uit Egipte ervaar het, nie die beloofde land sou binnegaan nie. Hulle sou in die woestyn sterf.

    Die volk het vier dekades lank in die woestyn rondgeswerf. Tog was dit ook nog maar net ‘n straf in die tyd. Ons leef vandag in die nuwe bedeling.

    Ons kan daarvan getuig dat God vanaf daardie tyd in die woestyn nog ‘n duisend jaar gewag het voor sy EINTLIKE dag van vergelding aangebreek het.

    Die ewige straf aan liggaam en siel, het Hy laat vereffen op Golgota. Daar het Hy sy eie Seun aan die kruis laat ophang. Jesus Christus, wat in die tyd van die Ou Testament nog nie as mens op aarde was nie, maar wel as Engel van die HERE. Die Beskermengel van die verbondsvolk, soos ons Hom in vers 34 ontmoet: “Kyk, my engel sal voor jou uit gaan.”

    Min het die volk toe nog besef wat hierdie Beskermengel in die toekoms vir hulle sou beteken! Die kruis op Golgota, dis soos die twee kante van dieselfde muntstuk. Op die een kant staan God se regverdigheid. Daar staan ‘n kruis geplant om die wettige en regverdige ewige straf te voltrek. Maar op die ander kant staan God se barmhartigheid. Want daar hang ‘n mens, wat God se eie Seun is: Jesus Christus, die Beskermengel van die ou verbond. God het redes in Homself gevind om ons te red. Ja so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eie Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, in verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê! (Joh 3:16).

    Geliefdes, dit is die Evangelie, ook in Sondag 4, die laaste Sondag van die eerste deel van die Kategismus, wat handel oor die ellende van die mens.

    Die Evangelie van ‘n goeie God, regverdig en barmhartig, soos sowel die Ou as die Nuwe Testament Hom openbaar. Ja Hy straf soms in die tyd, maar dit is deel van sy barmhartigheid. Die ewige regverdige straf wat oor ons moes kom, het Hy op sy eie Seun gepak.

    Glo jy dit?

    Aanvaar jy dit, ook jy?

    Hierdie Evangelie is vanaand aan julle verkondig, sodat julle hierdie God sal liefhê, bo alles en almal in die wêreld.

    Vertrou Hom.

    Lewe vir Hom.

    Doen sy wil.

    Aanbid Hom.

    Amen.

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 130:1-4

Gebed

Skriflesing: Exodus 32

Ps 78:3,4

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 4

Preek

Ps 78.11,12,14

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 10:1-6

Seën