Wie wil ingaan in die ewige heerlikheid van God se koninkryk, moet in hierdie lewe

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-12-10
Text: 
Dordtse Leerreels 5 par 13-15
Preek Inhoud: 

Preek: Dordtse Leerreëls 5, par 13-15

Ons het gekom by die laaste preek aan die hand van die Dordtse Leerreëls.

Die Dordtse Leerreëls is waarskynlik die onbekendste belydenisgeskrif. Die doel van die belydenisgeskrifte is om ons aandag te vestig op belangrike waarhede in die Bybel, wat anders onderbelig bly. Die feit dat die Dordtse Leerreëls vir baie onbekend is, is skadelik. Ook vanaand sal ons weer sien dat die Dordtse Leerreëls ‘n onmisbare boodskap het vir elkeen wat eendag wil ingaan in die koninkryk van God.

Ek bring u die Evangelie met hierdie tema:

Tema: Wie wil ingaan in die ewige heerlikheid van God se koninkryk, moet in hierdie lewe

  • die tugtiging ter harte neem
  • tot die einde aanhou om die genademiddele te gebruik
  • op die regte fondament bly bou

    Die tugtiging ter harte neem

    Die Remonstrante het nog ‘n klag teen die Gereformeerdes gehad. Artikel 13 van die Dordtse Leerreëls skenk daaraan aandag. Dit gaan oor gelowiges wat in sonde geval het, maar wat deur die Here se genade weer opgerig is. Die Remonstrante het beweer dat dit verkeerd is om te dink dat sulke mense sekerheid kan hê dat hulle gered sal word. Veral in die lig van hoe hulle in ‘n sonde geval het. Watter versekering het hulle dat dit nie weer sal gebeur nie?

    Geen, volgens die Remonstrante. Die kans is rieël dat hulle weer sal teruggly in hulle sondes. Maar juis hierdie gebrek aan sekerheid sal hulle, aldus die Remonstrante, versigtiger maak en laat ligloop.

    Hierteenoor beweer die Dordtse Sinode egter:  Kinders van God wat diep in sonde geval het en deur sy genade weer opgerig is, sal nooit oor genade op ‘n oppervlakkige wyse spreek nie. Dink aan Dawid wat diep in sonde geval het.

    In Psalm 51 kan ons oor sy geloofsworsteling lees.

    “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë” (vers 6).

    As God se kinders sondig, word hulle deur Hom getugtig. Dit hou in dat God sy vriendelike aangesig vir hulle verberg. Dit is die slegste wat met ‘n gelowige kan gebeur.

    Want egte godsdiens bestaan nie uit gebooie en verbiedinge nie, maar primêr uit ‘n verhouding met jou Verbondsgod. Dit is die ergste as sy aangesig vir jou verberg is. Dan is dit duisternis wat oor jou kom. Maar tog is dit ‘n bedekte seën, want so laat God jou besef dat dit nie so kan aangaan nie. As jy nooit donker skaduwees in jou lewe merk nie, dan verblind satan jou heel moontlik.

    Gelowiges ken die verskil tussen tye van blydskap en tye van tugtiging.

    Gelowiges wandel met die Here, en hulle mis Hom, as Hy sy aangesig verberg.

    Dit laat ons des te meer pleit op grond van die bloed van Christus. Ons vra ook vir God dat Hy elke keer weer ons oë sal oopmaak vir die sondes wat ons gedoen het, sodat ons dit kan bely, en sodat die verbond weer herstel kan word. Dan voel ons weer God se aanwesigheid.

    Geliefde gemeente, broer, suster, voel jy God se aanwesigheid as jy tot Hom bid? Is daar tye wat daardie gevoel weg is? Is daar dan slapheid in jou geloofslewe? Was jy dalk onversigtig in jou lewenswandel? Is dit so dat God jou juis tugtig deur jou eensaam te laat voel? Is Hy vertoornd?

    Draai dan weg van ‘n verkeerde pad, ‘n verkeerde lewenskoers, en kom terug na Hom. Soos Jeremia dit so mooi beskryf het: “Keer, terug, o afkerig kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die HERE onse God.” (Jer 3:22)

    Of Hosea: “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE, want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.” (Hos 6:1)

    So trek die Here ons weer nader, juis deur sy tugtiging. Sy kinders sal Hy nie in die steek laat nie.

    “Die HERE sal dit vir my voleindig ... laat nie vaar die werke van u hande nie!” (Ps 138:8)

    So sorg die HERE dat ook hulle wat diep in sondes weggegly het, tog weer sekerheid kan kry. Nie uit eie krag nie. Die HERE bewaar sy kinders by die wedergeboorte. Die wedergeboorte van ‘n sondaar is God se werk. Die volharding van wedergeborenes is net soveel God se werk. Die uiteindelike verheerliking van ‘n sondaar is heeltemal God se werk. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.

  • tot die einde aanhou om die genademiddele te gebruik

    Hoewel volharding dus ‘n gawe is wat die Here vir sy kinders gee, is dit ook waar dat Hy dit gee deur die gebruik van middele. Dit het Hom behaag om hierdie middele uit te kies.  Dan dink ons spesifiek aan die prediking van die Evangelie, die gebruik van die sakramente, die kerklike tug. Hierdie genademiddele moet gebruik word aan die begin, by wedergeboorte en bekering. Die genademiddel van die prediking van die Woord is die saad van die wedergeboorte. Die Heilige Gees gee die wedergeboorte deur die prediking van die Evangelie. Maar nie net by die begin, by wedergeboorte en bekering nie. Hierdie genademiddele bly net so belangrik vir die volharding.

    Sondaars word gered deur die prediking van die Evangelie. Maar vervolgens word die geloof ook gevoed en versterk deur die genademiddele. Die Dordtse Leerreëls roep daarom op dat ons die erediense trou bywoon. Waar die Evangelie gepreek word, daar werk die Heilige Gees geloof, bekering en volharding. Soos die apostel Paulus daarop wys: deur die dwaasheid van die prediking red God sondaars, en gee Hy hulle ook die krag om te volhard (1 Kor 1:21). As ons dan na die prediking weer huis toe gaan, moet ons nie dink dat ons nou gedoen het wat ons verplig was om te doen en dat ons nou maar weer die Woord toe kan laat tot die volgende week nie. By die huis moet ons weer oorlees, dit wat in die kerk gelees is. Ons moet daaroor nadink, hoe ons die boodskap van die prediking in ons eie lewe ‘n plek behoort te gee.

    Die gelowiges volhard dus in die diens aan die Here, hulle bly by die genade, maar dit hou in die getroue gebruik van die middele. Petrus roep daartoe op as hy sê: laat ons sterk soos pasgebore kindertjies verlang na die onvervalste melk van die Woord, sodat julle daardeur kan opgroei (1 Petr 2:2).

    As ‘n kind nie gereeld goeie kos ontvang nie, sal sy groei vertraag word, en dit sal hom die res van sy lewe beinvloed.

    Dit is ook belangrik, nie net om die Woord by die huis te lees as ‘n daaglikse tradisie nie, maar ons moet ook seker maak dat ons die Woord verstaan.

    Dit help nie om elke dag die Bybel net op enige plek oop te maak, en dan ‘n willekeurige stukkie te lees nie. Ons moet Bybelboeke as geheel deurlees, hoofstuk na hoofstuk. Maak gebruik van kommentare en dagboeke, sodat die boodskap en implikasie van dit wat daar staan, duidelik tot jou kom. Ons moet ook nie net die mooi en aangename stukkies lees nie, byvoorbeeld net konsentreer op die beloftes in die Bybel nie.

    Artikel 14 sê dat God sy reddende werk bewaar, voortsit en voleindig deur die hoor en lees van sy Woord, deur die oordenking daarvan, en deur die – kyk mooi wat hier staan gemeente – deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin. Dus nie net die mooi stukkies nie. Nee die hele Skrif, al die aansporings, vermanings en beloftes daarin!

    Ons het al drie elemente nodig – aansporing, vermaning en belofte.

    Hoekom beklemtoon die Dordtste Leerreëls dit? Dit het te make gehad met die Remonstrante. Hulle het beweer dat die leer van die volharding van die heiliges gevaarlik is, omdat dit al die vermanings en waarskuwings in die Bybel oorbodig sou maak. Die Remonstrante het beweer dat al die baie vermanings in die Bybel juis daarop dui dat die gelowiges afvallig kan raak.

    Hulle het geredeneer – watter sin sou dit hê dat daar so baie waarskuwings en vermanings in die Bybel is as – dit tog alreeds vasstaan dat die gelowiges tot die einde toe sal volhard? As dit die geval is, dan hoef gelowiges mos nie die vermanings ernstig te neem nie? Hulle kan redeneer dat hulle heiliges is en dat hulle in elk geval hemel toe gaan. Die vermanings en waarskuwings is maar net vir die onbekeerdes bedoel.

    So het die Remonstrante geredeneer dat die blote feit dat daar in die Bybel so baie waarskuwings is, dat dit bewys dat die leer van die volharding van die heiliges, soos die Dordtse Sinode dit verdedig het, verkeerd is.

    Maar dit is ‘n denkfout.

    Die Dordtse Leerreëls wys ons juis daarop dat al die baie vermanings in die Skrif onderdeel is van die volharding van die heiliges. Ja ook die waarskuwings en vermanings is ‘n genademiddel om gelowiges vas te hou.

    Uitverkorenes SAL NIE die koninkryk van God beërf sonder waarskuwings en vermanings nie. Al is hulle uitverkore, kan hulle nie daarsonder salig word nie.

    Net soos ‘n kind nie opgevoed kan word sonder van tyd tot tyd ‘n stewige vermaning of ‘n pak sla nie. Die Here het die vermanings ‘n plek in sy Woord gegee, sodat met die lees daarvan, en die ter harte neem daarvan, sy volk sal volhard. God gee sy kinders baie skrikwekkende waarskuwings in sy Woord.

    ‘n Goeie voorbeeld is wat daar staan in Hebreërs 6, waar ons indringende vermanings vind teen afdwaling. Gelowiges moet besef dat hierdie woorde vir hulle bedoel is! Dit staan daar sodat hulle hulleself afvra: is dit dalk moontlik dat ek ook een van daardie mense is wat verlig is deur God se Woord, wat die goeie van die Evangelie geproe het, maar wat sedertdien afgedwaal het, lou geword het, nie meer belangstel nie?

    God gee genadiglik hierdie vermanings aan sy kinders, sodat hulle wakker geskud word. Sonder hierdie vermanings sal God se kinders te gemaklik raak.

    Hulle sal agteroor sit en dink, een keer gered, altyd gered. Solank jy maar kerklid is, solank jy maar kerk toe kom tenminste as dit nagmaal is. So tree daar ‘n soort volkskerklikheid in.

    Dit realiteit is dat baie van sulke kerklede, wat onvoldoende onder die prediking van die Woord kom, wat maar net die salwende woorde van die beloftes hoor, wat nooit of onvoldoende gekonfronteer word met al die waarskuwings en vermanings in die Skrif, die realiteit is dat hulle met ‘n ingebeelde hemel oppad hel toe is. In ons land is daar baie wat hulle in hierdie posisie bevind, en dit is ‘n voortdurende bedreiging vir ons ook. Dit is ‘n bedreiging ook vir ons, dat ons nie wil hê ons predikante moet te veel aandag skenk aan daardie waarskuwende en vermanende gedeeltes in die Bybel nie.

    Mense wil net die beloftes hoor en die wonderlike boodskappe van die Skrif.

    Hulle wil die heeltyd net van vergewing en begrip hoor. Maar gemeente, dit is nie die volle leer van die Skrif nie. Jy gaan nie gered word met net salwende boodskappies nie. Elkeen van julle, en ekself, het dit op ons lewenspad nodig, dikwels nodig, dat ons ernstig vermaan word. Ons leef tans in ‘n atmosfeer dat mense allergies begin raak vir vermanings.

    As iemand dit waag om ‘n ander te vermaan, dan is die einde soek, dan kry mens ‘n eindelose gekla oor die manier waarop, of oor die tydstip waarop dit plaasgevind het. As dit mondelings gedoen is, dan was dit te direk. As dit skriftelik gedoen is, dan was dit te afstandelik. Ensovoorts ensovoorts.

    Gemeente, laat ons onsself voorneem om minder allergies te wees op vermanings. Prent dit jouself in dat dit nodig is, niemand van ons is uitgesluit nie!

    Juis die waarskuwings en vermanings is ook ‘n genademiddel, waarsonder ons nie die koninkryk sal beërf nie! Daarsonder word God se verbondskinders lui en gemaklik. Maar by die aanhoor daarvan, word ons juis geprikkel om onsself weer te ondersoek – as dit goed is, as ons onsself nie verhard nie. Die waarskuwings en vermanings van die Skrif moet ons na die troon van genade dryf, ons laat pleit by God vir genade. En meer nog, teen die donker agtergrond van die waarskuwings en vermanings in die Skrif, begin die beloftes nog meer te straal. Iemand wat nooit die vermanings hoor nie, sal later ook nie meer die rykdom van die beloftes besef en waardeer nie.

    Danksy die waarskuwings en vermanings bly die gelowiges hulle fokus behou om op die smal pad voort te gaan, en deur die nou poort in te gaan, en nie af te dwaal na die breë weg nie.

    Vervolgens noem paragraaf 14 van die Dordtse Leerreëls ook die gebruik van die sakramente as genademiddel. Ook hierdeur wil Chrsitus die dikwels verswakte geloof van sy skape versterk. As hulle na hulleself kyk, sien hulle sonde op sonde. As hulle na hulle vyand kyk, wanhoop hulle of hulle ooit weerstand sal kan bied. Die nagmaal fokus hulle aandag weer op Christus.

    Die nagmaal gee ons die krag om die stryd voort te sit. Christus roep ons op om hierdie genademiddele te gebruik. Moenie jouself oorskat deur die gebruik van die genademiddele af te skeep nie.

  • op die regte fondament bly bou

    Paragraaf 15, die laaste van die Dordtse Leerreëls, wys op die fondament onder die leer van die uitverkiesing. Dit is ook die fondament onder die leer van die volharding van die gelowiges. Die fondament onder die Dordtse Leerreëls staan op twee pilare, volgens hierdie paragraaf. Eerstens die getuienis van die Heilige Gees in die Skrif. En tweedens die getuienis van dieselfde Heilige Gees in die harte van die gelowiges.

    Gemeente, dit wat op die spel was tydens die Sinode van Dordrecht, is vandag nog steeds op die spel. In die Dordtse Leerreëls het ons voorvaders die moed gehad om op te staan en vir die Remonstrante te sê: Julle is verkeerd en ons is reg. Nie omdat ons dit self beter weet nie, maar omdat God dit so in die Skrif openbaar.

    Ook vandag staan die leer van die uitverkiesing op die spel. Dit is ‘n leer wat totaal buite die verstaansvermoë van die moderne mens val. Dit is ‘n leer wat ons as sondige mense, met ons beperkte verstand, nie kan bevat nie. Die leer van die onvoorwaardelike uitverkiesing, die leer van die beperkte uitverkiesing in opposisie teen die leer van die alversoening, die leer van die onweerstaanbare genade van God, die leer dat die mens van nature totaal verdorwe is deur die sondeval, asook die leer van die volharding van die heiliges.

    Die opposisie teenoor hierdie Bybelse waarhede is vandag nog steeds daar, net soos destyds met die Remonstrante. Deur alle eeue sal daar opposisie wees teen die belydenis van God se soewereiniteit aan die een kant, die radikale sondeval van die mens waardeur hy uit homself tot niks goeds in staat is nie aan die ander kant, asook die belydenis van die allesomvattende genade van Christus. Die Dordtse Leerreëls laat die natuurlike mens nie goed voel nie. Daarom moet ons nie verbaas wees as baie mense verontwaardig sal reageer op hierdie belydenisgeskrif nie.

    Die apostel Paulus het reeds gesê dat die prediking van die Evangelie ‘n dwaasheid is vir die Grieke, en ‘n struikelblok vir die Jode (1 Kor 1:23).

    Ons moet self eers verneder word, voordat ons gered kan word. Die studie van die Dordtse Leerreëls is ‘n vernederende ervaring aan die een kant. Alle eie trots word vergruis. Het dit ook in jou lewe gebeur? Het jy meer jou eie sondigheid leer raaksien, en jou eie gebreke? Maar het jy ook opnuut onder die indruk gekom van die kosbare werk van jou Heiland?

    Die Dordtse Leerreëls vergruis nie net ons eiewaan nie, maar dit spreek ook van die enigste Naam wat daar aan ons gegee is om gered te word. Dit wys aan die een kant op wat ons verdien, naamlik die hel, maar aan die ander kant bring dit ons by ons Redder, Jesus Christus. Ook vandag nog gaan God voort om genade te laat vloei vanuit sy verbond, vanuit die bediening van sy genademiddele. Jy mag swak voel, bang, soms oorweldig deur die vrees dat jy nie tot die einde sal volhard nie, maar God gee die krag vir swakkes. Hy gee sterkte aan hulle wat die nie in hulleself het nie.

    Niemand sal hulle uit my hand ruk nie, het Christus ons verseker (Joh 10:28).

    Hy is die groot Middelaar in die hemel wat vir ons bid, dat ons geloof sal standhou (Luk 22:32).

    Hoofstuk 6 van die Hebreërbrief begin met ‘n baie ernstige waarskuwing teen afdwaling, maar die hoofstuk eindig met hoop. Ons word gewys op die anker in ons lewe: “ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgisedek ‘n hoëpriester geword het vir ewig.” (Hebr 6:19-20)

    Amen.

     

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 105:4,5

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 6

Ps 94:6-8

Teks: Dordtse Leerreëls 5, par. 13-15

Preek

Ps 19:6,7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 78:1,3

Kollekte

Ps 138:1,2,4

Seën