Die klaagpsalm tot God vanaf die riviere van Babel

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-11-26
Text: 
Psalm 137
Preek Inhoud: 

Preek:  Psalm 137

Psalms 137 is ‘n psalm waarvan baie mense hulleself afvra hoe dit, gesien die uitsprake wat daarin voorkom, in die Bybel kan staan.

By die riviere van Babel. So begin die lied. God se volk beklaag sy lot in ballingskap, in Babel. Hulle sê dinge wat ‘n mens se oë laat rek. Babel word verwens: gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangdoen het.

En nog erger: gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots.

Hoe kan sulke dinge in die Bybel staan? Strook dit met ander uitsprake in die Bybel? Roep Christus ons nie op om ons vyande lief te hê nie? Leer die Skrif ons nie om nie kwaad met kwaad te vergeld nie?

Psalm 137 is ‘n Bybelhoofstuk waaroor predikante nie graag preek nie. Dit klink dalk snaaks, want ‘n dominee behoort mos heel Gods Woord te verkondig. In beginsel mag hy geen enkele bladsy in die Bybel oorslaan nie.

Maar predikante is ook mense. Ons ken Johannes Calvyn as ‘n teoloog wat oor amper alle Bybelboeke dik kommentare geskryf het. Tog het Calvyn dit nooit gewaag om oor die boek Openbaring ‘n kommentaar te skryf nie. Hy het te onbekwaam daarvoor gevoel. Openbaring is nie ‘n maklike Bybelboek nie, en mens loop die risiko dat jou verklaring die boek nie uitlê nie, maar mense op ‘n dwaalspoor lei.

Nou het ek ‘n soortgelyke gevoel by Psalm 137. Is ek wel bekwaam om oor hierdie psalm te preek? Dan dink ek nie in die eerste plek aan die eksegese nie.  Want met behulp van boeke en kommentare kan mens ver kom met die eksegese. Maar ek dink ook aan ervaring.

Miskien was dit beter gewees as ‘n emeritus predikant ‘n keer oor hierdie psalm preek. Iemand wat byvoorbeeld die Tweede Wêreldoorlog meegemaak het. Of iemand wat self in ‘n konsentrasiekamp was. Iemand wat self ervaar het wat mense mekaar kan aandoen. So ‘n persoon, verryk deur so ‘n troumatiese ervaring, hoe teenstrydig dit ook klink, sal ‘n baie dieper preek oor hierdie psalm kan hou. Omdat hy iets oortgelyks in sy lewe moes deurmaak as wat die ballinge destyds in Babel beleef het. So ‘n persoon sal dalk beter die diep boodskap in die psalm kan verwoord. Loop ons, wat nie vergelykbare lewenservaring het, nie die gevaar dat ons te vinnig oordeel oor so ‘n psalm nie?  Laat ons in elk geval goed hiervan bewus wees.

Wat hierdie psalm betref sal ek, as dienaar van die Woord, met die nodige beperkings, my bes doen om dit uit te lê, in die konteks van die res van God se Woord.

Tema: Die klaagpsalm tot God vanaf die riviere van Babel

  • Die plek van hierdie klaagpsalm in die Bybel
  • Die boodskap van hierdie klaagpsalm vir ons

     

  • Die plek van hierdie klaagpsalm in die Bybel

    Voordat ons na hierdie psalm kyk, eers nog ‘n paar opmerkings oor die karakter van die psalms. In die Psalmboek vind ons gebede en liedere van uiteenlopende aard. Ons ontmoet daarin gelowiges uit die Ou Testament in al hulle gemoedstoestande. Die Heilige Gees het dit belangrik geag dat hierdie liedere en gebede ‘n plek in die Bybel ontvang. Die Bybel as geheel is uit verskillende lae opgebou. Dit word weerspieel in die naam vir die Ou Testament, wat vroeër gebruik is, byvoorbeeld in die tyd toe Christus op aarde was. Die Ou Testament is toe genoem die Wet en die Profete.

    Of nog vollediger: die Wet, Profete en Geskrifte.

    Die eerste laag, ons kan dit die fondament van die Ou Testament noem, is die Wet. Dit is die eerste vyf boeke van die Bybel, Genesis tot Deuteronomium.

    Daarin openbaar die HERE aan sy volk wie Hy is, en wat sy wil vir sy kinders is. Dink aan die tien gebooie, en die verdere uitwerking daarvan in die Pentateug. Die tweede laag daar bo-op is die Profete.

    Dit is sê maar die mure, vensters, deure, dak wat op die fondament gebou word. In die boeke van die profete leer die Heilige Gees ons hoe God se wet in die alledaagse praktyk van die lewe van God se volk hande en voete kry.

    En vervolgens is daar dan die derde laag, dit is die sogenaamde Geskrifte.

    Mens kan dit vergelyk met die inkleding oftewel inrigting van die huis.

    Hoe die huis bewoon word, hoe die ruimte wat die huis bied, benut word.

    Die Geskrifte bestaan uit Bybelboeke soos Psalms, Spreuke, Hooglied, Prediker.

    As ons nou fokus op die Psalmboek, dan vind ons daarin die weerslag van hoe mense in die daaglikse lewe staan. Hoe hulle voor God se aangesig gelewe het.

    Die God wat Homself aan hulle deur sy Wet en Profete geopenbaar het. In die Psalms lees ons hoe hulle reageer op die gebooie wat God gegee het. En hoe hulle reageer op gebeurtenisse, goed of kwaad, wat in hulle lewe plaasvind.

    Hoe hulle God se hand daarin sien. Om ‘n voorbeeld te noem:

    In Psalm 23 gebruik Dawid ‘n beeld uit die alledaagse lewe – ‘n herder en sy skape – om te omskryf wat die HERE vir hom is.

    Of in Psalm 69 lees mens hoe Dawid homself in doodsgevaar bevind het.

    In hierdie psalm laat hy sien hoe hy dit beleef, en watter rol God in daardie omstandighede gespeel het. Nog ‘n voorbeeld is Psalm 51.

    Daarin beskryf Dawid sy reaksie op die koms van die profeet Natan.

    Natan het namens die HERE Dawid opgeroep tot bekering, na sy sonde teen Batseba en haar man. En dan kom ons by Psalm 137.

    Hierdie psalm is ‘n reaksie op wat die Jode in ballingskap deurgemaak het.

     

    Samevattend kan mens dus sê dat die lewe in diens van God, voorspoed en teëspoed, in die Psalms verwoord en bely word, en meer nog, ook verwerk word. Wie lewe voor God se aangesig, sy lewe is nie net rosegeur en maanskyn nie. Daar is worstelinge. Daar is die soeke om, as die sig op God verduister is, dit weer helder te kry. Dus, in die Psalmboek openbaar die Heilige Gees ons hoe die geloofslewe van sy ou verbondsvolk was. Dit is opgeskryf as ‘n voorbeeld vir ons, om lering uit te trek.

    Nou kom ek terug by die lae in die Ou Testament: die Wet, Profete en Geskrifte. Die Psalmboek is nie deel van die Wet nie, maar van die Geskrifte.

    Dit wat in die Psalmboek staan, moet ons in hierdie konteks lees. Dit is nie wet nie. As daar in die sesde gebod staan dat jy nie mag doodslaan nie, staan dit daar as ‘n gebod. Die bedoeling is dat mens jou daaraan hou. Maar as hier in Psalm 137 die wens uitgespreek word dat die vyand se kinders teen die rots verpletter word, staan dit hier nie as ‘n wet nie. Dit staan hier in die konteks van die verwerkingsproses waarmee God se volk in ballingskap besig was.

    Laat ek nog ‘n ander voorbeeld noem.

    In die boek Job, wat ook ‘n Bybelboek is wat hoort by die Geskrifte, lees ons dat Job sy geboortedag vervloek. Hy neem God kwalik dat Hy hom geskape het. Mens mag egter nie redeneer: omdat dit in die Bybel staan, mag ek ook my geboortedag vervloek nie. Die boek Job gee vir ons ‘n beskrywing van die verwerkingsproses waardeur Job moes gaan, nadat al daardie rampe hom getref het.

    Nog ‘n ander voorbeeld: Psalm 88 is ‘n Psalm wat donker en depressief eindig, dit is een groot gekla: “U het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis.” (Ps 88:19)

    Maar op grond van hierdie Psalm mag mens egter nie tot die gevolgtrekking kom dat dit reg is om eindeloos teenoor God te kla en Hom van alles te verwyt nie. Terselfdertyd is dit nie so dat hierdie Psalm verkeerd is nie, en dat dit eintlik nie in die Bybel moes gestaan het nie. Hierdie Psalm is baie outentiek, in die beskrywing van hoe iemand die gebroke lewe ervaar. Iemand wat worstel met depressie, kan juis uit hierdie psalm baie troos put. Hoe diep mens ook wegsak in duisternis, in alle omstandighede mag mens vrymoedig jou gedagtes na God bring, ‘n oop boek vir God wees. Normaalweg is dit so, dat as ‘n mens klaar gebid het, ‘n gevoel van rus en geborgenheid oor jou kom. Maar vir iemand met depressie is dit nie so nie. Psalm 88 beskryf so ‘n situasie. En dan kom ons nou by Psalm 137.

    Moes die Jode by die riviere van Babel nie bietjie versigtiger geformuleer het nie? Om kinders teen die rots te verpletter, is nogal ‘n uitspraak!

    Feit is dat hierdie uitspraak wel eg is, dit beskryf die situasie, die emosies lewenseg. Dis soos die beelde wat ons afgelope week op televisie en internet kon sien, hoe die mense in die strate van Harare juig, omdat daar uiteindelik ‘n einde gekom het aan ‘n diktator se bewind. Is dit nie baie onsensitief nie?

    Feit is, dit is outentieke emosies, wat volledig verstaanbaar is in die lig van wat die afgelope dekades alles fout gegaan het in Zimbabwe. Mense wat oorweldig is deur emosies, roep soms dinge wat nie so gebalanseerd is nie.

    In Psalm 137 het ons met ‘n soortgelyke situasie te make. Die ballinge was in konsentrasiekampe in Babel. Hulle moes daar dwangarbeid verrig. Op ‘n dag, miskien het hulle by die rivier gesit met middagete, het hulle bewakers vir hulle gevra om bietjie musiek te maak. Maar kan ‘n mens op bevel sing, as jou hart nie daarna staan nie? Die bewakers het die spot gedryf met hulle verdriet.

    Die ballinge het hulle geliefdes verloor. Die stad Jerusalem, nadat dit eers uitgehonger is, is ingeneem en verbrand. Baie het gesneuwel, op gruwelike wyse. Ons ken die voorbeeld wat daar gebeur het met die kinders van koning Sedekia. Sy seuns is voor sy oë afgeslag. Eers daarna het hulle Sedekia se oë uitgesteek. Die laaste beeld op sy netvlies was dus die bloed van sy seuns.

    Dit is wat mens oorlogsgeweld noem. Oorlogsgeweld is iets van alle tye.

    Vandag kom dit nog net soveel voor. Sedekia is toe blind in ballingskap na Babel gevoer. Saam met hom is baie Jode weggevoer. Baie het op die pad omgekom. Die wat oorleef het, moes dwangarbeid in Babel verrig. Hulle is nie met rus gelaat nie. Hulle bewakers het hulle gedurig verneder. Soos die voorbeeld uit Psalm 137, waar die bewakers gespot het: Kom, sing vir ons ‘n lied van Sion, daardie stad van julle wat skynbaar so pragtig is! Galgehumor.

    Gemeente, hierdie is die konteks waarbinne Psalm 137 ontstaan het. Eintlik is dit nie ‘n lied nie. Of, dis ‘n lied van mense wat daarin vertel dat hulle geen lied wil sing nie. Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in ‘n vreemde land? (vers 4) Dan, in verse 5 en 6, laat die ballinge in hulle hart spreek.

    Woorde wat die bewakers nie hoef te hoor nie. Die digter peins in homself.

    As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet!

    Laat my tong kleef aan my verhemelte.

    Die psalm eindig met ‘n verwensing – vers 7-9.

    Dit kom uit die mond van ‘n balling, ‘n dwangarbeider, wat die brandende pyn van die sweepslae op sy rug voel, omdat die bewakers wil hê dat hy harder moet werk, en dat hy bietjie vroliker moet wees. Gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het!

    Gelukkig is hy wat jou kinders teen die rots verpletter.

    (Tema: Die klaagpsalm tot God vanaf die riviere van Babel

  • Die plek van hierdie klaagpsalm in die Bybel)

     

  • Die boodskap van hierdie klaagpsalm vir ons

    Wat kan ons van hierdie psalm leer, gemeente?

    Ek dink dat dit duidelik is dat ons nie op grond van hierdie psalm kan konkludeer dat dit geoorloof is om die vyand se kinders teen die rots te verpletter nie. Psalm 137 is ‘n klag tot God, ‘n roep dat reg sal geskied. Nie dat die digter die noodsaak van die ballingskap ontken het nie. Ons kan daarvan uitgaan dat die digter terdeë daarvan bewus was dat hierdie ballingskap uit God se hand gekom het. ‘n Straf omdat die volk onttrou is. Maar die manier waarop.  Ja, die Babiloniërs is deur God gestuur.

    Maar die manier waarop hulle hulle gedra het, dit was ontoelaatbaar. Die manier waarop hulle met Sedekia en sy seuns gehandel het. Was dit regtig nodig om hulle voor sy oë af te slag? Die misdade van die Babiloniërs was ten hemel skreiend. Daarom roep Psalm 137 tot die HERE: doen tog reg!

    Kan hierdie dinge ongestraf bly?

    Psalm 137 verwoord die gevoelens van ‘n balling. Wat kan ons daaruit leer?

    Eerstens dat ons in alle omstandighede tot God se troon mag nader. Die HERE ag dit belangrik dat jy jou hele hart voor Hom uitstort. Natuurlik is dit ook so dat Hy vervolgens van jou verwag om jou mening aan te pas, ooreenkomstig sy wil. Dit het God byvoorbeeld met Job gedoen. Hy het geduldig na al Job se klagtes geluister. Hoe Job sy geboortedag vervloek het. Hy het na alles geluister. Maar vervolgens het Hy wel van Job geëis om berou te hê oor dit wat hy nie mog gesê het nie.

    Net so het God geduldig al die verwensings van die ballinge aangehoor. Dit was vir die HERE juis aangenaam om te ervaar hoe hierdie so geplaagde balling in gebed tot Hom nader. Het God egter, net soos by Job, ook van hierdie balling verwag dat hy sy woorde moes terugtrek? Kyk, die Babiloniese bewakers het ongetwyfeld die doodstraf verdien. Maar het dit ook vir hulle minderjarige kinders gegeld? Is dit korrek dat hulle teen die rotse verpletter moes word, sonder enig vorm van regspraak? Gemeente, die antwoord op hierdie vraag het twee kante. Aan die een kant.

    As ‘n mens se gebed onvolmaak is, dan verwag God dat ons daaroor berou het.

    As ‘n mens verkeerde dinge gesê het, moet hy dit terugtrek, soos by Job. Ook Psalm 137 is die gebed van ‘n mens. Maar het die Heilige Gees hierdie Psalm dan nie geproeflees, voordat Hy dit ‘n plek in die Bybel gegee het nie?

    Beslis, maar die Heilige Gees het tog besluit om hierdie gebed so te laat soos dit is, omdat dit vir ons ‘n leerskool is hoe ons met al ons sorge en vrae en emosies by God kan kom. In Psalm 77 het die Heilige Gees besluit om die uitspraak van die digter Asaf te laat staan dat God se regterhand verander en dus nie betroubaar is nie (vers 11).

    Dit is ‘n opmerking wat objektief glad nie waar is nie. God se regterhand verander nooit nie. Maar in die konteks van Asaf se gebed getuig hierdie opmerking van egtheid. Dit in die eerste plek.

    Psalm 137 is eweneens, ook in sy eensydigheid, ‘n outentieke klag tot God.

    Maar daar is, tweedens, nog meer.

    En om dit te verstaan, moet ons uitstyg bo die algemeen menslike opinies.

    Ons as gelowiges is baie keer in ons denke wêreldgelykvormig. Ons denkraamwerk is dikwels dieselfde as die van die wêreld. Dit geld ook vir hoe ons oor ‘n menselewe dink. Ons het die neiging, byvoorbeeld as ‘n kind onverwags te sterwe kom, om aan God te vra: hoekom? Ons wil vir God ter verantwoording roep. Hoe kon God dit laat gebeur? Ons redeneer, ‘n kind verdien dit tog nie om so vroeg te sterf nie? Ons neem dit God, wat almagtig behoort te wees, kwalik.

    Maar gemeente, die werklikheid is egter dat ons moet bely dat God die lewe skenk, en dat Hy die lewe op sy tyd weer kan neem, en dat Hy teenoor niemand verantwoording hoef af te lê nie. Nie dat God willekeurig is nie.

    Ons leer Hom juis uit die Bybel ken as ‘n Vader, wat vol liefde is. Maar feit bly dat God se raadsbesluite vir ons onnaspeurlik is. Ons sal moet berus in wat God doen, al hou ons ons vrae. En die belangrikste is dat ons vashou aan die belydenis dat wat God doen, welgedaan is.

    Om by Psam 137 terug te kom: as God besluit om ‘n kind se lewe te neem, dan het geen mens die reg om Hom ter verantwoording te roep nie. Dit is ‘n werklikheid dat God die geskiedenis soms so lei dat Hy toelaat dat kinders om die lewe kom. Let wel, toelaat. Soos Hy die satan toegelaat het om allerlei rampe oor Job te bring. Dis nie God wat dit gedoen het nie, dit was die satan.

    Soms gee God aan satan die ruimte, of aan die sondige mensheid. Hy het goeie redes daarvoor, wat ons nie kan bevraagteken nie. In Jesaja 13 vind ons ‘n profesie oor die verwoesting van Babel. In vers 16 van hierdie hoofstuk lees ons iets wat amper identies klink op Psalm 137 se laaste vers:

    “En hulle kinders word voor hul oë verpletter, hul huise geplunder en hul vroue onteer. Kyk Ek verwek die Meders teen hulle” (vers 17)

    Die HERE het dus redes in Homself gevind om toe te laat dat die Meders dieselfde oorlogsgeweld teen die Babiloniërs gebruik, as wat hulle teen die Jode gedoen het. Hierdie is ‘n profesie van die verwoesting van Babel deur die Meders en die Perse. Dis nie onmoontlik dat die balling, die digter van Psalm 137, hierdie profesie van Jesaja geken het, en juis daarna verwys het in sy verwensing.

    Jesaja het geprofeteer wat die Babiloniërs te wagte staan. Opnuut oorlogsgeweld. Ja, ook die Meders en Perse sou buite hulle boekies gaan.

    En daarvoor sou God hulle ook op sy tyd weer ter verantwoording roep.

    Dus ja, aan die een kant keur Psalm 137 nie geweld teen kinders goed nie.

    Hierdie Psalm is nie in stryd met die sesde gebod nie. Aan die ander kant beskryf die psalm wel die somber realiteit van die wêreldse geskiedenis, waar eeu in eeu uit oorlogsgeweld volg op oorlogsgeweld. Dit skuld lê nie by God nie. En as Hy iets toelaat, is Hy daarvoor geen verantwoording verskuldig nie.

    Feit is dat dit nie Hy is wat verantwoordelik is vir al die oorlogsgeweld nie.

    Dit is wat die mensheid, wat in sonde geval het, op aarde doen, as God hulle nie keer nie.

    As God se kinders mag ons ons egter optrek aan God se belofte, dat deur alle chaos en geweld van die wêreldgeskiedenis heen, God sy kinders sal vashou.

    Hy bly trou aan sy beloftes. God het gesluiter na die noodkreet van die ballinge aan Babel se riviere. Die dag het gekom, dat God die Babiloniërs hulle welverdiende straf laat ontvang het. Die dag het gekom, dat God aan sy kinders die geleentheid gebied het om terug te keer na Jerusalem.

    Die dag het gekom, dat daar weer liedere van vreugde in Sion gesing is.

    Die dag het gekom, eeue later, dat die kinders van Sion die Vredekoning verwelkom het.

    Hy het as Vredevors op ‘n donkie die stad ingekom, en Hy is begroet met vreugdeliedere en Hosannageroep.

    Amen.

     

     

     

     

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 77:1,2

Wet

Ps 88:11,12

Gebed

Skriflesing: Jesaja 13

Ps 88:17,18

Psalm 137

Ps 137:1-5

Teks: Psalm 137

Preek

Ps 137:6-9

Gebed

Kollekte

Ps 77:5,7,9

Seën