Christus sorg dat die gelowiges sekerheid kry tot die einde

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-11-05
Text: 
Dordtse Leerreels 5 par 1 tot 4
Preek Inhoud: 

Preek: Dordtse Leerreëls 5, par 1-4
Gelowige mense bly tot hulle sterfdag sondig. Soms val gelowige mense diep in die sonde. ‘n Voorbeeld daarvan is koning Dawid. Hy het die vrou van sy naaste afgevat, en daardie man, Uria, vermoor. Maar gelukkig het God nie vir Dawid afgeskryf, omdat hy sulke verskriklike dinge gedoen het nie. God het sy profeet Natan gestuur om Dawid te vermaan. So het die Here gesorg dat Dawid weer spyt kry oor sy sonde. Dit doen God ook vandag nog. As jy gesondig het, laat God jou nie in die steek omdat jy sleg is nie. Juis dan soek Hy jou op. As Hy jou straf, wil Hy jou daarmee iets leer. God sorg dat ons altyd by Hom bly. As ons afdwaal, soek Hy ons op. Hy is ons goeie Herder.
‘n Goeie herder let daarop dat geen van sy skape afdwaal nie. Hy lei sy skape na ‘n veilige plek, al is die paaie oppad daarheen nie veilig nie. So lei die Here ons ook deur die lewe. Hy sorg dat ons nie afdwaal nie. Hy sorg dat ons tot die einde by Hom bly.
Dit is, ‘n neutedop, en so eenvoudig dat ‘n kind dit kan verstaan, die boodskap van die laaste hoofstuk van die Dordtse Leerreëls, wat handel oor die volharding van die heiliges.
Tema: Christus sorg dat die gelowiges sekerheid kry tot die einde
- Hy doen dit met sy stok en staf
- Hy gee dit aan hulle wat bly fokus op sy beloftes
- Hy doen dit met sy stok en staf
In Psalm 23 het ons gelees dat ‘n herder twee dinge by hom gehad het, naamlik ‘n stok en ‘n staf. By ‘n stok kan ons aan ‘n knopkierie dink. Dit was ‘n stok met ‘n ronde knop, dikwels met yster punte daarin. Dit het die herder gebruik om die skape te beskerm as daar ‘n jakkals, of miskien selfs ‘n leeu of beer te naby gekom het.
Verder het hy ‘n staf gehad. Dis ‘n lang stok met ‘n soort haak aan die bopunt.
Dit was bedoel vir die skape wat afgedwaal het. ‘n Skaap kon al gras etende naby ‘n afgrond kom, sonder om dit self te besef. Die herder het dan sy staf om die nek van die skaap gehaak en dit teruggetrek na die kudde. Waarskynlik het die skaap dan geblêr van protes, maar tog is die skaap gered.
Koning Dawid het die herderslewe van voor tot agter geken. In sy jeugjare was hy self ‘n herder. Dikwels moes hy ‘n skaap terug na die kudde trek. En weet u wat so mooi is. In die ander gedeelte wat ons gelees het, sien ons hoe God presies dieselfde met Dawid gedoen het. God, die groot Herder, waaroor Dawid in Psalm 23 sing. God het sy staf gebruik om Dawid weer terug na die kudde te sleep. Sy staf, dit was in hierdie geval die profeet Natan. Ons het gelees hoe Natan by Dawid gekom het en hom by wyse van spreke aan sy nekvel beetgepak het.
Aanvanklik het Dawid heftig geprotesteer. Maar God het kragtiger getrek as wat Dawid kon weerstand bied. Kragtig het Hy sy skaap weer die goeie kant opgetrek. Dit was seer. Dawid het ‘n verskriklike straf gekry. Maar uiteindelik is Dawid gered. Dit was God se doel. Sy dienskneg, sy kind, het Hy nie in die steek gelaat nie. Ook nie toe hy afgedwaal het nie.
In hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls gaan dit oor die volharding van die heiliges. Die heiliges, dit is ons. Mense net soos Dawid. Ons het ons lewe aan God toegewy. Ons is afgesonder tot die diens aan Hom. Maar tog bly ons deur en deur sondig. Dit gaan hier dus nie oor sondelose mense nie. Sulkes bestaan nie. Dit gaan hier oor jou en my. Oor hoe ons volhard. Hoe ons volhou in die diens aan God. Dawid het volgehou. Maar, dit is die les uit die Bybel, hy het volgehou ten spyte van homself. Dit was aan God se genade te danke, dat Hy volgehou het. Te danke aan God se herderstaf, wat Hom op sleuteloomblikke teruggetrek het.
Die Dordtse Leerreëls is geskryf in reaksie op die leringe van die Remonstrante. Hulle het die standpunt gehuldig dat dit moontlik is vir ‘n uitverkorene om sy geloof te verloor. En hulle het die Gereformeerdes beskuldig dat hulle ‘n standpunt sou huldig asof die mens maar net ‘n soort robot is. As God jou uitgekies het, dan sou ‘n mens outomaties soos ‘n robot in die regte rigting beweeg. Dan het jou eie keuses geen invloed meer nie. Maar wat leer die Bybel? Al hierdie geskiedenis van die val van koning Dawid leer dat ‘n gelowige homself wel deeglik kan verset teen die genade. Die sonde, die ou mens oefen baie beslis nog ‘n gevaarlike invloed uit op die lewe van ‘n kind van God. Laat ons die daaglikse sondes, die ernstige misstappe van gelowiges nie ontken nie. Vir alle gelowiges geld: hulle word gered, ondanks hulleself.
Vir hulle geld die dringende oproep uit God se Woord: moenie in die sondes bly lê nie! Hoe dikwels jy ook struikel. Staan elke keer weer op. Gee jou eie onvolmaaktheid toe. Vlug elke keer weer na die kruis van Christus.
Dit is dus die werklikheid, wat die Bybel ons voorhou. Gelowige mense val dikwels en diep in sonde. Maar, dit is wel anders as wat die Remonstrante beweer het, naamlik dat ‘n uitverkorene sy geloof kan kwytraak. Ek dink aan ‘n Bybelteks soos 1 Korinthiërs 10:13:
“Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”
Die genade van God is onoorwinlik. Die sondige vlees kan God se genade nie teniet doen nie. Dit is ‘n groot gerusstelling. Maar in die tweede plek hou die Bybel ons ook voor:
Dit mag nooit ‘n oorkussing wees om op aan die slaap te raak nie. Die werklikheid van God se genade neem nie weg dat daar ook ‘n werklikheid van groot gevare is nie: die dodelike vyande: ons ou mens, die wêreld, die duiwel.
“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.” (1 Petrus 5:8)
Heiliges val in sonde. Heiliges is nie sondeloos nie.
Dus ja, ook in die vyfde hoofstuk van die Dordtse Leerreëls kyk ons steeds na beide kante van dieselfde muntstuk. Die een kant van die muntstuk is: God se genade is genoeg. Die ander kant: bly volhard, bid en werk.
Anders sal jy nie die eindstreep haal nie. Hierdie beide kante is nodig, om die een muntstuk te maak. Neem jy een van beide kante weg, is daar geen muntstuk meer nie. Oftewel, kom jou redding nie tot stand nie.
Dieselfde blyk ook, gemeente, in die manier waarop ons sekerheid kry oor ons saligheid. Hierdie sekerheid kry ons naamlik in die weg van berou. Christus verdien vir u die saligheid. Maar die saligheid ontvang ons slegs as ons diepgaande berou toon. Eers wanneer ons deur ernstige berou op die goeie pad terugkeer, laat God weer sy vriendelike aangesig oor ons skyn. Dawid het gesing: “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed. Sela. My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela.” (Psalm 32:3-5)
So bestaan daar dus wel deeglik sekerheid! U kan vandag seker wees dat u die ewige lewe sal ontvang. Maar dit neem nie die plig en inspanning weg wat God in hierdie lewe van jou verlang nie, sodat jy die saligheid kan beërwe. Dit sal geestelike stryd kos. Stryd teen jouself, teen die sondige wêreld, teen die satan. Op hierdie pad, hierdie smal pad, wat ons loop met val en opstaan, op hierdie smal weg bied God die sekere vooruitsig van die ewige heerlikheid.
Die kerk hoef daarom nie desperaat te wees nie. Daar is nie rede tot wanhoop nie. Daar wag nie ‘n onseker toekoms vir die bruid van Christus nie. Iets wat wel die uitkoms is van die redenering van die Remonstrante. ‘n Redenering wat mens deesdae nog gereeld hoor. Daar word gespekuleer oor die toekoms van die kerk. Daar word die vraag gevra: het die kerk soos dit nou lyk, nog enigsins ‘n kans om te oorleef? Ja deesdae is daar baie spiritualiteit.
Elkeen gee sy ‘geloof’ vorm op sy of haar eie manier. Baie het daarby nie die kerk nodig nie. En indien wel, dan wel met hulle terme en voorwaardes.
In ons individualistiese maatskappy moet die kerk nie meer waag om voor te skryf nie. Die Dordtse Leerreëls bely egter:
God hou sy kerk in lewe. Ook as die kerk haaks staan op die geldende mode en kultuur. Juis dan vervul die kerk optimaal sy doel.
As ‘n gewete in ‘n selfgenoegsame samelewing.
Hierdie is ‘n groot troos vir elke opregte gelowige. God hou jou vas. Solank jy naby Hom bly, hoef jy nie vir die toekoms bang te wees nie. Vir iemand wat belydenis van geloof aflê, word die vraag gevra: Besef jy dat jy ja sê vir jou hele lewe? As jy nog nie daarvan deurdronge is nie, kan jy liewers jou geloofsbelydenis uitstel. Van God se kant kry jy die versekering, wat jy al by jou doop gekry het: Hy sal jou nooit in die steek laat nie. Hy vra nou vir jou: sal jy ook altyd by My bly? Jy kan nie geloofsbelydenis doen met die houding: tans is ek meer as gewillig. Maar hoe dinge oor tien of twintig jaar gaan lyk, dit weet ek nog nie. Wie sy geloof bely, doen dit vir lewenslank. Sal ek dit volhou? Sal ek volhard? Hierdie is die bekende vraag waaroor hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls handel. En hierdie vraag mag jy positief beantwoord. Ook al het jy nog nie ‘n idee wat van jou lewe gaan word nie. Sal jy wel gesond bly?
Sal jy wel ‘n huweliksmaat kry? Sal jy wel ‘n goeie werk kry? Sal jy jou lewe deurbring in vrede of in oorlog? Genoeg vrae oor die toekoms.
Tog kan ‘n opregte gelowige vrymoedig sê: Ek weet dat ek tot my sterfdag gelowig sal bly. God sal my help. Hy is die Goeie Herder.
Miskien sal ook soiets met my gebeur, as wat met koning Dawid gebeur het, of met die apostel Petrus. Beter gesê: miskien sal ek myself ook soiets aandoen.
Dat ek diep in sonde val. Maar ek bid of God my dan met sy staf weer sal terugtrek. Ek bid dat God my nie my gang sal laat gaan nie. Ek bid dat Hy betyds sal ingryp. Dat Hy ook ‘n man soos Natan op my sal afstuur.
Miskien ‘n dominee, of ‘n ouderling, of ‘n familielid, wie ook. Iemand wat my sal konfronteer met my sonde. Ek bid dat God ‘n kring van mense rondom my sal gee, wat nie sal toelaat dat ek afdwaal nie. Verder bid ek ook of God sy stok, sy knopkierie, sal gebruik, om alle gevaar vir my op ‘n afstand te hou. Dat Hy sal verhinder dat die duiwel my bo my kragte versoek.
- Hy gee dit aan hulle wat bly fokus op sy beloftes
Laat ons in die buurt van die Goeie Herder bly. Die goeie Herder ken sy skape.
Hy offer sy lewe op vir sy skape. Niemand sal hulle uit sy hand roof nie (Johannes 10).
Hierdie belofte mag u uself toeëien. Ook jy behoort aan die kudde. Lid van die gemeente, wat Christus vir Homself vergader, beskerm en onderhou,
die bruid wat tot die ewige lewe uitverkies is (Heidelbergse Kategismus Sondag 21).
Hierdie is die goue draad deur die laaste hoofstuk van die Dordtse Leerreëls.
Daar is sekerheid. Ons kan seker wees oor die toekoms. Vir hierdie sekerheid is jy nie aangewese op ‘n spesiale openbaring of soiets nie. Vir hierdie sekerheid is nie vereis dat God aan jou in ‘n droom of een of ander gesig verskyn nie. Vir hierdie sekerheid is jy aangewese op die beloftes van God wat in die Bybel staan. Swart op wit. Hierdie beloftes moet jy glo. Konsentreer op wat God beloof. Laat Sy beloftes elke dag met jou praat. Lees sy Woord, doen Bybelstudie. Luister aandagtig na die prediking. In die weg van luister na, en besig wees met God se beloftes, kry jy sekerheid. So werk die Heilige Gees sekerheid.
Ja daar is sekerheid. Sekerheid danksy God se beloftes. Nie danksy jou eie geestelike lewe nie. Gelowiges is nie supermense, wat die hele dag deur halleluja sing nie. Die duiwel hou aan met sy aanvalle. En hoe meer ‘n gelowige vorder op die smal weg, hoe meer intensifiseer die satan sy aanvalle. Maar gelukkig laat die Vader nie toe dat ons bo ons vermoë versoek word nie. Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee.
Wat ‘n voorreg, dat ons seker kan wees! Dit is nie verkeerd om seker te wees nie. Die Remonstrante het anders daaroor gedink. Hulle het beweer dat sekerheid omtrent jou saligheid arrogant sou wees. Dit sou getuig van ‘n gebrek aan nederigheid. Ook vandag is daar mense, wat sal kritiseer:
Julle is te seker van julle saak. Julle dink dat julle die waarheid in pag het.
Julle is arrogant en beterweterig.
Mag mens dan nie seker wees nie? Is dit sonde om seker te wees. Gemeente, dit sit so: die duiwel praat mense graag onsekerheid aan. Knaende onsekerheid. Maar dit is nie wat die Bybel ons leer nie. Dit is nie ‘n sonde om seker te wees nie. Moenie dit jouself laat aanpraat, as jy langs die weg van toewyding aan Christus en sy kerk, groei in sekerheid nie. Jy hoef nie ‘n skuldgevoel te hê nie. God wil dat jy seker word. En wat so uniek is: sekerheid maak ‘n mens nie arrogant nie. Dit is per slot van rekening pure genade.
Wie vashou aan die sekerheid wat die Bybel bied, bly klein en nederig.
Sekerheid, staan daar later in hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls, is die wortel vir nederighied, kinderlike eerbied, ‘n Godvresende lewe, vurige gebede, standvastigheid, kruisdra, bely van die waarheid, en blydskap in God.
Met ‘n gelowige werk dit net soos in die natuur. Hoe gesonder die wortel, hoe gesonder die boom, hoe mooier die vrugte. Die wortel is die sekerheid wat God ons bied. Hoe sterker hierdie wortel, hoe mooier die vrugte.
Vrugte van nederigheid en eerbied.
Sekerheid is ook die wortel van ‘n gesonde kerklike lewe. Die kerk het ‘n seker, ‘n onwankelbare boodskap om uit te dra. Juis omdat daar sekerheid bestaan, bestaan daar ook soiets soos tug in die kerk. As destyds die profeet Natan ‘n onseker boodskap oor moord en owerspel verkondig het, sou hy nie vir Dawid met soveel krag kon teruggetrek het nie. Wie durf ‘n strafmaatreël aan ‘n ander op te lê, as hy self nie seker van sy saak is nie? Maar danksy die sekerheid wat God se Woord bied, kan die tug toegepas word. Danksy die sekerheid van die Evangelie kan die sakramente suiwer bedien word. Die sekerheid van die nagmaal is dat brood en wyn simbole is van Christus se offer aan die kruis. Vir ons sondes. Sekerheid dat die offer ook u ten goede kom. Die nagmaal is nie maar net ‘n tradisie nie. Dit wys terug na iets wat regtig gebeur het. Dit is aan tafel gaan by Christus, wat regtig leef en in die hemel regeer. Hy is die goeie Herder, wat met sorg oor sy kudde waak. Deur die prediking, sakramentsbediening, tugbediening sorg Hy vir die volharding van die heiliges. Met sy stok en staf vertroos Hy. Gelowiges wat in sonde val, soms diep, beproef hulleself, en staan weer op, en bely hulle sondes.
Ontvang die sekerheid van vergewing. Mag weer by Hom aan tafel skuif.
So sorg Hy vir volharding.
Amen.

Liturgie: 

Votum
Seën
Ps 23:1 (2e beryming)
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ps 32:1
Skriflesing: Psalm 23
Ps 23:2 (2e beryming)
Skriflesing: 2 Samuel 12:1-15
Ps 32:3,4
Gebed
Kollekte
Ps 51:2
Teks: Dordtse Leerreëls 5, par 1-4
Preek
Ps 51:5
Gebed
Ps 23:3 (2e beryming)
Seën