Die mens se tong is ‘n kragtige instrument!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2013-03-10
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Reference: 
HK 43-0 (2013)
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK, Sondag 43; lees Jakobus 3:1-12, Johannes 8:31-36

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wie van ons ken dit nie: woorde van ‘n oorlede pa of ma, oupa of ouma, wat ons nooit sal vergeet nie. Woorde wat diep in ons harte gebytel is, woorde wat ons lewens gevorm het. Ons hoor soms mense sê: “Ja, pa sou gesê het…” of “Ouma het dit altyd so mooi gesê…” Wie van ons het dit nie al ervaar nie: woorde van ‘n mede-student of kollega wat ons so seer gemaak het; dit het miskien jare gelede gebeur, maar dit voel soos gister, en elke keer wat jy daaraan dink, maak dit seer. Woorde van vernedering, woorde van laster en kwaadsprekery…Wie van ons het hulle nie al gehoor of gelees nie: bekende toesprake van groot staatsmanne of –vroue, woorde wat die geskiedenis ingegaan het as rigtingbepalend.

Die mag van die woord, die krag van die tong… Dit is skynbaar so ‘n groot krag dat die Heilige Gees op verskillende plekke in die Skrif daaraan aandag gee. So lees ons in Spreuke 18:21: “Dood en lewe is in die mag van die tong”. En in Jeremia 9:8 sê Jeremia van die volk: “Hulle tong is ‘n moordpyl; dit spreek bedrog…” Of meer positief in Spreuke 15:4: “Sagtheid van tong is ‘n lewensboom.” Meestal is dit kort en kragtige uitsprake oor die krag van die tong, óf ten goede óf ten kwade, óf tot die lewe óf tot die dood. Maar dan, in die brief van die apostel Jakobus, wy die Heilige Gees ‘n hele hoofstuk aan hierdie onderwerp.

 

Nou, in die brief van Jakobus vra die apostel aandag vir ‘n volgroeide geloof, ‘n volwasse geloof wat in die hele lewe gestalte moet kry. Die ware geloof en met name ook die groei in ons geloof moet aan die lig kom, moet uitkom, in ons woorde en dade. Die daad moet by die woord gevoeg word (kyk maar Jak. 2:14-26 waar ons lees: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie?”). Dus, die daad moet by die woord gevoeg word, maar andersyds moet die woord ook in ooreenstemming wees met die daad. Die hele brief van Jakobus beweeg langs hierdie twee spore: woorde en dade, die tong en die hand. Beide is onontbeerlik vir die geloof en die geloofsgroei.

Reeds in hoofstuk 1:26 het Jakobus die saak van die tong aangeroer: “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.” En in hoofstuk 2:12 het hy opnuut op die tong gewys toe hy sy lesers vermaan het om só te spreek soos pas by die geloof in Jesus Christus. En nou, in hoofstuk 3, gaan die skrywer breedvoerig in op die krag van die tong. Die tema vir die preek is:

Tema: Die mens se tong is ‘n kragtige instrument!

1.      Die aanslag uit die hel

2.      Die vryheid deur die waarheid

 

1. Gemeente, wanneer ons die Skrif nagaan oor die verskillende plekke waar daar van die tong gepraat word, is dit opvallend dat die oorgrote meerderheid van die gevalle ‘n negatiewe beskrywing gee van die tong. Duidelik blyk uit die Skrif dat die tong eerder gebruik word om sleg as om goed te doen. En ken ons dit nie? In ons gesinne, in ons huwelike, hier in die gemeente – hoe dikwels breek ons nie af, maak ons nie seer, met ons woorde nie…

Jakobus vergelyk die menslike tong met ‘n vuur. Die beeld van die tong as vuur was vir die eerste lesers van sy brief waarskynlik nie onbekend nie. Reeds in die Ou Testament word hierdie vergelyking tussen tong en vuur gemaak. Kyk maar na Spreuke 16:27: “’n Deugniet grawe ‘n kuil van onheil, en op sy lippe is soos ‘n brandende vuur.” En ook in die latere joodse literatuur word hierdie vergelyking verskeie kere gemaak. Hierdie vuur-beeld wys op die verwoestende, vernietigende werking van die tong.

 

Maar broers en susters, waar kom hierdie vuur dan vandaan? Waardeur kom dit dat ons die tong so dikwels ten kwade gebruik? Jakobus draai daaroor geen doekies om nie: hierdie vuur word uit die hel aangesteek (vers 6b). Die bron van hierdie verterende vuur waardeur ons mekaar seermaak en verwond, die bron van hierdie verwoestende krag waardeur ek die ander verneder en veroordeel – is die hel! Die hel, die woonplek van die duiwel, die demone en die goddeloses! Ja gemeente, die tong as krag ten kwade staan, hoor mooi, die tong as krag ten kwade staan onder die mag en die invloed van die duiwel! Hy is immers die vader van die leuen van die begin af (Joh. 8:44); vanaf daardie eerste keer in die paradys waar die duiwel vir Eva lieg: “julle sal sekerlik nie sterwe nie”, is die duiwel onuitputbaar om die vonk te verskaf wat ons tonge aan die brand steek. En hy weet: ‘n enkele vonkie is genoeg… Een vonkie is genoeg om ‘n onkeerbare bosbrand te veroorsaak. Dit is wat Jakobus sê in vers 5: “kyk hoe ‘n groot hoop hout (hier staan letterlik: bos) steek ‘n klein vuurtjie aan die brand.

 

Die satan weet, hy hoef nie die bosbrand te veroorsaak nie. Ons sal dit doen! Gee ons net ‘n klein vonkie. Dit is al wat ons nodig het om ‘n bosbrand te veroorsaak met ons tonge, met ons woorde, naamlik ‘n vonkie in ons harte! Daar begin dit, daar werk die duiwel – in ons harte. Die letterlike bewoording van die negende gebod in Ex. 20 en Deut. 5 wys dit ook. Ons vertaling sê: “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie”, maar letterlik staan daar: “Jy mag nie as valse getuie teen jou naaste optree nie”. Dit gaan dus nie in die eerste plek oor die getuienis nie, maar oor die persoon van die getuie! Wat leef in die hart van die getuie? Het die getuie ‘n hart waarin die satan sy vonkies saai? Gemeente, wanneer dít die geval is, dan kan ons verseker weet dat dit wat hier binne leef sal uitkom deur middel van hierdie dun stukkie vleis wat ons die tong noem.

 

Kom ons kyk kortliks op watter maniere dit kan uitkom (en hiervoor volg ek die sondes wat die Kategimus in antwoord 112 noem):

  • Die Kategismus begin deur te praat van valse getuienis – dit is ook die oorspronklike konteks van die negende gebod, naamlik die konteks van die regspraak. Daar waar die regspraak in die stadspoort plaasgevind het, was dit van die allergrootste belang dat die waarheid gepraat is. Die Here het in sy wysheid daarom ook wette gegee om die waarheid te beskerm. Hy het onder andere bepaal dat ‘n beskuldigde slegs op die getuienis van twee of drie getuies veroordeel kon word (Deut. 17:6). Die oordeel van een getuie was dus nie genoeg om die doodsvonnis uit te spreek nie, al was die misdaad ook hoe ernstig. Verder het die Here bepaal dat die getuies by die voltrekking van die vonnis die eerste stene moes gooi – dit is geen maklike taak nie en daarom moes elke getuie weet wat hy doen. Boonop het ‘n valse getuie, wat deur die regter ontmasker is, dié straf ontvang wat die beskuldigde sou gekry het.
  •  Die Kategismus sê verder dat ek niemand se woorde mag verdraai nie. Hoe dikwels pas dit ons nie om iemand se woorde net so effens te buig nie, net so effens ‘n ander kleur daaraan te gee nie? So ‘n verdraaiing kan presies die teenoorgestelde oplewer van wat die persoon oorspronklik bedoel het. Hoe dikwels hoor ons nie in ‘n konflik tussen twee persone: “Dit het ek nie gesê nie.” En dikwels is dit omdat ons daardie woorde verdraai.
  • Ek mag verder geen kwaadstoker wees nie. Hier gaan dit nog nie altyd daaroor dat ons noodwendig hoef te lieg nie. Ons kan ware dinge sê, maar dit geskied dan in die kader van kwaadsprekery. Blapse, foute en gebreke van my naaste word in geure en kleure vertel. En vir hierdie slegte gewoonte het ons dikwels ‘n aandagtige gehoor, want almal van ons hoor liewer die verkeerde as die goeie van iemand anders. Kwaadstokery kan selfs vroom aangebied word asof ons eintlik met teensin iets vertel: “Ek het dit al lankal geweet, maar ek het maar liewer daaroor stilgebly.” Of: “Dit bly tussen ons, want ek wil nie eintlik daardie persoon swart smeer nie.” Of: “Ons praat nou so, maar hy is eintlik ‘n goeie mens.” So vergoeilik ons die sonde van kwaadstokery.
  • Vervolgens, ek mag geen lasteraar wees nie. Wie laster, lieg openlik en opsetlik. Laster is ‘n opsetlike poging om my naaste van sy goeie naam en eer te beroof. Laster is om te lieg teen jou beterwete in.
  • Dan sê die Kategismus ook nog dat ek niemand onverhoord en ligtelik mag help veroordeel nie. Hier word ons gewaarsku om nie te oordeel voordat ons werklik weet wat aangaan nie. Die dissipels doen dit wanneer hulle, nadat hulle ‘n blindgeborene gesien het, vir Jesus vra wie gesondig het, die blindgeborene self of sy ouers (Joh. 9). Sonder om werklik te weet wat die geval is, het die dissipels al hulle oordeel gereed gehad – óf die man óf sy ouers moes gesondig het. Ons moet daarom ook daarteen waak om op grond van hoorsê, hetsy deur die media, hetsy deur ander persone, ons oordeel gereed te hê.

Broers en susters, dít is die sondes wat die Kategismus konkreet opnoem in die konteks van die negende gebod… Is daar miskien iemand wat kan opstaan en sê dat hy aan een van hierdie sondes nie skuldig is nie? Is daar iemand wat kan sê dat hy in sy woorde nooit struikel nie. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou – so sê Jakobus in vers 2. Maar, gemeente, niemand van ons sal dit van onsself beweer nie; daarvoor ons is maar te bewus van ons eie gebreke. Maar besef u, broers en susters, dat wanneer ons erken dat ons aan een of meerdere, en waarskynlik aan al hierdie sondes skuldig is, ons daarmee tegelykertyd erken dat ons ons so dikwels besig hou met die eie werke van die duiwel – so noem die Kategismus dit immers. Elke keer wanneer ons ons aan hierdie sondes skuldig maak, word ons harte vanuit die hel uit aangesteek, word ons tonge ‘n sataniese vuur. Van die duiwel af kom immers die brandstof waardeur ons ons skuldig maak aan valse getuienis, verdraaiing van woorde, kwaadstokery, laster en veroordeling.

 

Gemeente, dit kan tog nie wees nie?! Hoe kan dit wees dat kinders van die Here met een en dieselfde tong God loof en die mense vervloek wat na die gelykenis van God gemaak is? Hoe kan dit wees dat uit dieselfde mond seën en vervloeking kom? Wie het al ooit uit een fontein vars en brak water gehaal? En wie van ons het al olywe van ‘n vyeboom afgepluk, of vye van ‘n wingerstok? Tog niemand nie…? Laat ons daarom besef, gemeente, hoe diep ons daal wanneer ons ons aan die negende gebod skuldig maak. Ons skinderpraatjies is nooit ligsinnig nie, ons verdraaiings van die waarheid is nooit sonder betekenis nie, ons veroordelings is nooit neutraal nie. Nee gemeente, wanneer ons ons met hierdie sondes besig hou, dan hou ons onsself besig met ‘n krag ten kwade, met satanswerk. En die satan se werk loop altyd uit op die dood. So was dit van die begin af: “Nee, julle sal nie sterf nie” – so het die duiwel vir Eva voorgelieg – en juis dit het die mens se dood beteken. Die eerste leuen het katastrofiese gevolge gehad, en ons ly almal daaronder en daaraan…

Ons wil nou vervolgens let op die oorwinning deur die waarheid.

 

2. Gemeente, ons het gesien dat die satan ons probeer voed met vonkies vanuit die hel. So slaag hy dikwels daarin om van ons tonge ‘n verterende en verwoestende vuur te maak. Maar hoe nou gemaak wanneer ons as kinders van die Here juis van hierdie sonde probeer wegvlug? Hoe moet ons doen wat die Kategismus van ons vra, naamlik om alle vorme van lieg en bedrieg as die duiwel se eie werke te vermy? Daarvoor gee die Kategismus self ook die antwoord: In regsake (dus, die oorspronklike konteks waarin die negende gebod ontstaan het) maar ook in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê… Ek ontvlug die negatiewe deur die positiewe na te jaag! Ek ontvlug die duiwel se werk deur die waarheid lief te hê.

 

Die waarheid liefhê… Wat sou dit beteken? Beteken dit dat ek lief daarvoor sal wees om die waarheid te praat, dat dit my vreugde gee om te sê wat waar is? Maar gemeente, wat is waarheid? Pilatus het dit 2000 jaar terug alreeds gevra in Johannes 18:38 by Jesus se verhoor, maar ook vandag (en juis vandag) is dit ‘n vraag wat so dikwels gestel word: Wat is waarheid? Is daar ‘n vaste waarheid? Is dit nie maar iets wat elkeen vir homself moet uitklaar nie? Ek het my waarheid, en jy het jou waarheid… Broers en susters, ons het in hierdie redenasie eerstehands te make met die gees van ons tyd!

Die Woord van die Here leer ons egter anders. Die Woord van die Here leer dat waarheid nie maar slegs ‘n vae begrip is nie, dat waarheid nie maar net iets is wat ons self kan bepaal nie. Nee, in die Woord van die Here kom bied die waarheid Homself aan! In die Woord van die Here is die waarheid ‘n Persoon: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe!” (Joh. 14:6) Om die waarheid lief te hê, beteken om Jesus Christus lief te hê! Gemeente, Hy is die waarheid wat van God af kom. En daarom dat Jesus ook in Johannes 8:31 en 32 kan sê dat wie in sy woord bly die waarheid sal ken. Die woord gaan immers oor Jesus Christus, Hy is die vervulling van die woord – wie daarom in daardie woord bly sal die waarheid ken, en die waarheid is Hy self!

 

Broers en susters, as jy daarom verlos wil word van hierdie eie werke van die satan wat so dikwels nog ons eie lewe en die lewe van die gemeente kwes, dan moet jy in Jesus Christus bly. Dit beteken dat jy een met Hom moet word – Hy in jou en jy in Hom. Jy moet so ongelooflik naby aan Hom lewe, saam met Hom sterf, saam met Hom opstaan, saam met Hom lewe as nuwe mens. Jesus Christus moet jou lewe word! En dan gebeur die wonder: dan maak die waarheid, hierdie waarheid in eie Persoon, jou vry (Joh. 8:32).

 

Wanneer Jesus hier in Johannes 8 praat van vry word, dan ontwaak by die Jode wat daar om Hom heen gestaan het, onmiddellik ‘n nasionale selfbewussyn: “Ons was nog nooit iemand se kneg gewees nie, ons is immers kinders van Abraham; hoe kan U dan sê dat ons vry sal word?” Maar gemeente, Jesus praat hier nie oor politieke vryheid nie. Hy praat hier oor geestelike vryheid, vryheid van die mag van die sonde en die dood. En daarom sê Hy ook: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.” Hierdie Jode wat gemeen het dat hulle deur hul vleeslike afstamming van Abraham vry was, hulle was in werklikheid slawe van die sonde. En omdat hulle slawe is, diensknegte wat hulle beroem op uiterlike afkoms, maar nie met die sonde wil breek nie, daarom sal hulle eendag uit die huis van Abraham verjaag word, vleeslike afstamming of nie. Maar die seun, hy wat verlos is van die sonde, hy mag in daardie huis bly! Gemeente, elkeen wat deur dié Seun, deur Jesus Christus vrygemaak is, hy is waarlik vry. Vry van sonde en dood, vry van die vervloeking en die hel.

 

Ons versugting, ons begeerte om verlos te word van ons sonde teen die negende gebod word daarom slegs vervul wanneer ons in die Waarheid, in Jesus Christus bly. Hy maak my vry van valse getuienis, van al my skinderpraatjies, van my kwaadstokery en laster, sodat ek, in die woorde van die Kategismus, opreg kan wees in wat ek sê en doen. En dán gemeente, dan ontvang ons tonge van vuur – nie vuur wat vanuit die hel aangesteek word nie, maar vuur vanuit die hemel, van die Heilige Gees wat in ons kom woon en ons harte en tonge brandende maak. Brandende van liefde vir ons naaste. En dan soek ek met alle ywer daarna om my naaste se eer en goeie naam na my vermoë te verdedig en te bevorder. Dan doen ons alles in ons vermoë om ons man en vrou, ons kinders, ons broers en susters in die gemeente, ons naaste om ons heen, se naam in ere te hou. Dan gee ons nie meer ‘n luisterende oor wanneer ander swartgesmeer word nie, dan kan ons dit nie meer verdra wanneer woorde verdraai en ander veroordeel word nie. Dan hou ons op om mekaar te verwond en so verskriklik seer te maak met ons snedige opmerkings en agterlangse grappies. Dan word hierdie gemeente ‘n huis vir die waarheid, dan mag dié Waarheid hier woon, dan mag Jesus Christus hier woon.

En gemeente, wanneer Christus hier woon deur sy woord en Gees, dan word ons tonge en ons woorde gesuiwer. Dan begin ons leer om elke woord wat ons sê te weeg, te kyk of dit in hierdie situasie die mees wyse woord is. Dan leer ons ook om te beantwoord aan die oproep van Paulus in Kol. 4:6: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.” Aangename woorde, pittige woorde – hier in die gemeente en na buite.

 

Sien u watter teenstelling dit is wanneer ons sê: “Ons het ‘n Koning in die hemel, die Woord wat vlees geword het, die Waarheid”, maar intussen is die duiwel die vader van ons tonge? Dit, my broeders en my susters, behoort nie so te wees nie!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 26:1-4

Votum Ps. 124:4

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 66:4 en 7

Gebed

Lees: Jakobus 3:1-12, Johannes 8:31-36

Sing Ps. 101:1, 3, 4 en 5

Teks: HK, Sondag 43

Preek

Amenlied Ps. 15:1-3

Gebed

Geloofsbelydenis (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 43:1, 3 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)