Hoe om aan wisselende tye sin te gee...

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2012-12-23
Text: 
Prediker 3:11 & 14
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Prediker 3:11 en 14; lees Prediker 3:1-15

 

Geliefde gemeentes van ons Here, Jesus Christus,

Ons staan op die draaipunt van die ou jaar na die nuwe jaar, van 2012 na 2013. En sulke draaipunte is altyd ook stilword-punte, besinningspunte. Terugkyk na wat agterlê, uitsien na wat voorlê. En wat sien jy dan as jy terugkyk? Was dit ‘n besondere jaar? Het jy gekry waarna jy gesoek het? Is jy dalk trots op wat jy hierdie jaar bereik het, of was dit dalk ‘n jaar van groot hartseer en diepe teleurstelling? En wat sien jy as jy vooruit kyk? Het jy groot planne vir 2013? Kom daar dalk groot verandering in jou lewe? Beskou jy die nuwejaar as dié jaar waarin dinge vir jou gaan gebeur, of sien jy dalk op teen dit wat voorlê?

Broers en susters, die onderliggende vraag in al hierdie vrae, is: hoe evalueer ons die tyd – die verlede-tyd, maar ook die tyd van die toekoms? Hoe weeg ons die gebeure van ons lewe? Hoe weeg jy jou eie plekkie in die loop van die geskiedenis? Kom ons leer vanaand by die Prediker die antwoord op hierdie vrae. Ook al het die Prediker duisende jare gelede geleef, kan ons nogtans by hom leer, want – vers 15 – alles wat is, was alreeds. Of meer uitgebreid in die woorde van Prediker 1:9: “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.” Nou ja, as daar dan niks nuuts onder die son is nie, laat ons die wysheid van duisende jare gelede toepas vir vandag.

Tema: Hoe om aan wisselende tye sin te gee…

  1. Relativeer jouself
  2. Vrees God

 

1. Broers en susters, alles in hierdie lewe is tydelik, alles verander. Elke ding het sy vasgestelde tyd – daar is ‘n begin, maar daar is ook weer ‘n einde. In veertien baie konkrete voorbeeld-pare, waarin goed en kwaad mekaar die hele tyd afwissel (die bekende woorde van verse 2-8), wys die Prediker vir ons hoe daar vir elke ding ‘n vasgestelde tyd is, met die gevolg dat daar ook ‘n bepaalde afwisseling en ‘n bepaalde ritme in die lewe is. En in hierdie ritme van die afwisseling van tye is daar uiteraard iets aantrekliks – want wie sou altyd winter wou hê sonder dat daar ooit ‘n somer gekom het? En wie sou altyd lente wou hê – ‘n tyd om te plant, maar nooit ‘n tyd om te oes nie? Wie sou wou hê dat dit altyd Maandag moet bly, sonder dat dit ook Dinsdag en Woensdag, en uiteindelik Saterdag en Sondag geword het? Nee, hierdie ritme is nie in sigself sleg nie. Ritme – met die gepaardgaande afwisseling en herhaling – is deel van God se geskape werklikheid.

Van die begin af het God Adam geskape in die tyd. En in daardie goeie skepping het God ook ritme en afwisseling ingebou – die wisseling van dag en nag, die opeenvolging van die seisoene, die daaglikse arbeid in die tuin met die afwisseling van die rus op die sewende dag. Dit is hoe God dit gemaak het. Elke ding op sy tyd. Of in die woorde van vers 1: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.” En dit geld vir die hele skepping. Die hele geskape werklikheid is geplaas in die tyd – die tyd wat tydelik is, die tyd wat voortdurend voortskrei. En God het gesien wat Hy gemaak het, en kyk, ook dít – ook hierdie verandering van die tye – was baie goed! (Gen. 1:31). Dus, die tydelikheid van alle dinge, en die feit dat daar vir elke saak onder die hemel ‘n tyd is, en die feit dat die tye mekaar afwissel – dit is nie noodwendig ‘n gevolg van die sondeval nie, maar iets wat God in sy goedheid deel van die oorspronklike skepping gemaak het.

 

Nou weet ons dat, ook ná die sondeval, hierdie tydelikheid, hierdie ritme, deel van ons bestaan is. Maar nou is dit natuurlik nie meer net mooi dinge wat afgewissel word met ander mooi dinge nie; dit is nie meer slegs die dinge van God se goeie skepping wat mekaar afwissel nie. Nee, nou is dit mooi én lelike dinge, goeie én hartseer dinge wat mekaar afwissel: ‘n tyd om gebore te word, maar ook ‘n tyd om te sterwe; ‘n tyd om lief te hê, maar ook ‘n tyd om te haat; ‘n tyd om te ween, maar ook ‘n tyd om te lag; ‘n tyd vir vrede, maar ook ‘n tyd vir oorlog. Goed en kwaad wissel mekaar af. En omdat die sondige mens korter lewe – want waar Adam ongeveer 500 jaar gelewe het, en Metusalag amper ‘n 1000 jaar gehaal het, lewe ons gemiddeld net 10% daarvan – daarom volg die dinge mekaar ook nog soveel vinniger op. Die kringloop van afwisseling, die ritme waarin óns lewe, word soveel meer intens.

Wat jy vandag klaarmaak, kan jy more maar weer oordoen. Wat vandag skoon is, is more weer vuil. En die ontwikkelinge van ons tyd maak dit nog soveel vinniger. Want wat vandag nuut is, is binnekort weer verouderd. Die nuutste tegnologie word met groot fanfare vir ons aangebied, maar dit sal nie vir lank die nuutste tegnologie bly nie. Dieselfde geld ook vir standpunte wat mense inneem – wat nou belangrik is en almal se aandag en instemming vra, kan oor ‘n paar maande presies andersom verkondig word. Kyk maar na die politiek in ons land. En wat van jouself? Vandag is jy dalk iemand, en more beteken jy niks meer nie. Vandag is jy ‘n baie bekende persoonlikheid, maar ‘n paar maande later is jy deel van die geskiedenis. Vandag het jy ‘n belangrike werk, more miskien nie meer nie. Niks in hierdie wêreld, en niks wat ons najaag het permanentheid nie.

 

En as ‘n mens op hierdie manier, vanuit die sondige en gebroke werklikheid, na die tyd kyk, dan kan ‘n mens baie maklik moedeloos word. Is dit verbasend dat mense ‘n houding kry van “ag, watter sin het dit alles? Hoekom moet ek myself nog oor al hierdie dinge bekommer, hoekom moet ek myself nog hiermee moeg maak?” Gevolglik begin mense hulleself van hierdie kringloop van afwisseling en herhaling onttrek, want hulle kan nie die sin daarvan verstaan nie. Wat ons ook al doen, watter vaardighede en inisiatiewe ons ook al aan die dag lê, dit lyk asof dit altyd onderhewig is aan die afwisseling van die tye, dit lyk asof die kringloop van die tyd ons meester geword het. Niks wat ons doen, lyk asof dit vry is van die relatiwiteit van die tyd nie. Met die gevolg dat die Prediker in verse 9 en 10 van hoofstuk 3 moet sê: “Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei? Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.” Die Prediker verstaan hierdie reaksie op die afwisselende tye baie goed – hy het immers self daarmee geworstel!

En tog, broers en susters, skets die Prediker hierdie veranderende tye in vers 11 nie aan ons as iets wat ons moedeloos moet maak nie. Nee, hy skets die veranderende tye eerder as ‘n Godgegewe patroon wat homself ontvou – want “alles het Hy mooi gemaak op sy tyd” (vers 11a). Mooi? Is dood mooi? Is doodmaak mooi? Is oorlog mooi? Nee, ons kan beter vertaal met ‘gepas’. Alles pas presies op die tyd waarvoor God dit beplan het, en só dra elke tyd by tot die totale meesterstuk waarmee die Skepper besig is. Elke tyd, elke geleentheid – hoe verganklik ook al! – is ‘n onderdeel van die geheel. En God het iets van daardie geheel in ons harte gelê – kyk maar na vers 11b: “ook het Hy die eeu in hulle harte gelê.” Bedoelende: God het die besef van tyd, van hede en verlede en toekoms, deel van ons mens-wees gemaak; dit sit in ons om meer te wil weet van die verlede / die geskiedenis, dit sit in ons om vandág te wil analiseer en verstaan, dit sit in ons om die toekoms te wil ken. En tóg, so sluit vers 11 af, kan ons die werk wat God doen, van begin tot end, nie uitvind nie. Ons probleem is dus nie dat die lewe weier om tot stilstand te kom nie, gemeente, ons probleem is nie dat daar voortdurende veranderings is nie, maar ons probleem is dat ons slegs ‘n fraksie van die totale beeld kan sien. Ons het geen oorsig nie, ons sien die deeltjies (die afwisselende tye), maar ons sien nie die geheel nie.

Daar is dus nie so iets soos gevriesde volmaaktheid nie; nee, daar is ‘n dinamiese, goddelike beweging, met ‘n duidelike begin by die skepping en ‘n beplande einddoel waarvan God alleen weet. Máár, en dit is ons probleem, ons vang net die verskillende momente op: soms wonderlike, asemrowende tye; soms donker, hartseer tye. Ten spyte van ons kennis van al hierdie afsonderlike momente, al hierdie aparte tye, bly ons onvergenoegd want ons kan die totale betekenis nie gryp nie. Ons is soos ‘n bysiende persoon wat met sy neus teen ‘n massiewe muurskildery of mosaiek staan. Ons sien genoeg om te besef dat ons hier met ‘n werk van uitsonderlike kwaliteit te make het, maar die geheel ontgaan ons. Ons kan nooit ver genoeg terugstaan om daarna te kyk soos wat die Skepper daarna kyk nie – heel en volledig, van begin tot end.

 

Nou, broers en susters, sonder om ons moedeloos te wil maak – want dit is nie die Prediker se doel nie – is dit tog belangrik dat ons vir ‘n oomblik by hierdie bysiendheid van ons stilstaan, dat ons verstaan dat ons met ons neuse teen God se muurskildery staan en die geheel nie kan oorsien nie. Want as jy dít verstaan, dan leer jy iets van jouself ken. Wie is ek regtig? Wat het ek regtig bereik? En só leer die Here jou om jouself en die gebeure in jou lewensgeskiedenis te relativeer. Dit gee aan ons ‘n stukkie beskeidenheid wanneer ons besef dat ons die belang van ons lewens – die belang van ons prestasies, van ons opinies, van ons swaakry – dat ons die belang daarvan in die geheel van God se muurskildery nie ken nie en ook nie kan oorsien nie. Jy kan die geheel nie oorsien nie, en tog gee dit perspektief wanneer jy besef dat jou lewe maar net ‘n klein steentjie is in die geheel van God se eeue-omvattende, wêreld-omspannende mosaiek. En kyk dan weer na jou lewe van die afgelope jaar…

Jy het dalk in die afgelope jaar ‘n prominente rol in die samelewing gespeel as besigheidsman of as akademikus of as beleidsmaker… Óf jy het dalk ‘n verandering aan mense se lewens gemaak met jou liefdadigheidswerk of liefdesdiens… Óf jy het dalk ‘n groot prestasie behaal met jou matriek-uitslae of die graad wat jy behaal het of daardie sportspan waarvoor jy verkies is… En?! Hoe weet jy of jou oomblik, wat jyself so belangrik ag, in die geheel van God se plan so belangrik is? Dit is maar net ‘n tyd – as dit nie al verby is nie, gaan dit binnekort wees. Jou oomblik in die kollig is presies dit: ‘n vlietende oomblik. Relativeer daarom dit wat jy in die afgelope jaar bereik het; moenie dat jou steentjie in die mosaiek die hele mosaiek word nie. Dit is maar net ‘n steentjie – haal dit uit die mosaiek, en dit verloor sy betekenis in die geheel.  

Of jy het dalk in die afgelope jaar swaar tye deurgegaan, jy het miskien groot hartseer beleef, jy was dalk deur ‘n dal van doodskaduwee. In ‘n jaar kan daar baie in mense lewens gebeur: miskien het ‘n geliefde gesterf, jy het dalk ‘n liefdesteleurstelling beleef, jy is dalk deur ‘n egskeiding, miskien het jy jou werk verloor. Ook dit is deel van God se groter mosaiek – onthou (en ek sê dit met groot deernis en versigtigheid): jou hartseer en teleurstellings is ‘n deel, nie die geheel nie. Jou en my swaarkry is ‘n teëltjie in God se massiewe mosaiek. Maar so is daar miljoene ander swaarkry-teëltjies – in die kerk, in ons land, en op soveel ander plekke in die wêreld.

Op dieselfde manier moet ons ook ons eie opinies van die afgelope jaar kan relativeer. Ons ag ons opinies, ons menings, geweldig gewigtig; ons vat onsself baie ernstig op. Ag, soms is dit goed om maar ‘n noot laer te sing. Want opinies verander. Mense verander. Iemand kan in die kerk baie sterk voel oor ‘n sekere saak, maar die oomblik as dit homself oorkom, dan sing hy ‘n ander deuntjie – die praktyk bewys dit oor en oor. Wees maar beskeie oor jou opinies, moet jou gedagtes maar nie te veel verabsoluteer nie. Tye verander. Let wel, daarmee sê ek nie dat ons die geloofsinhoud moet relativeer nie, ek sê nie dat ons die Here se Woord moet relativeer nie, maar weet wel dat jou verstaan van God se Woord ook maar gebrekkig is; dalk gee die Here jou oor ‘n jaar verdieping van kennis, en kan jy jou opinie bystel. Dus, die waarheid verander nie, maar ken wel jou eie, beskeie plekkie in die geheel.

 

En so, broers en susters, begin ons om onsself – ons eie lewensgeskiedenis, ons eie prestasies, ons eie opinies, selfs ons eie swaarkry – te relativeer. Nie onbelangrik te maak nie, maar wel die regte plekkie te gee in die groot geheel. En wanneer dit gebeur, en ons vra vervolgens: “Maar wat nou?”, dan sê die Prediker: doen eenvoudig wat goed is (vers 12), en wees bly met die goeie wat God gee, dit is sy gawe aan jou (vers 13). En dit is belangrik vir die nuwejaar. Moenie jouself te hoog ag nie, moenie jou posisie te belangrik ag nie, moenie dink jy is onmisbaar nie. Doen wat goed is voor die Here en geniet sy goeie gawes. En dit is nie ‘n humanistiese “don’t worry, be happy”-boodskap nie – nee, dit is waartoe die Here jou roep wanneer jy gekonfronteer word met die wisselvalligheid van alle dinge, en met die verganklikheid van jou eie lewe.

In die tweede plek: vrees God!

 

2. Die Prediker het leer verstaan dat alles in die tyd tydelik is. Alles wat mense doen, is tydelik. Máár, dan leer hy vervolgens ook die teendeel: “Ek het ingesien dat alles wat Gód doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie” (vers 14). Dus, mense en hulle werke is relatief, dit gaan verby en word vergeet, maar God se werke is ewig, dit bly vir altyd bestaan. Te midde van alles wat verander, te midde van wisselende omstandighede, is daar die ewige God! Of soos wat ons so pragtig sing in Psalm 9: “Maar bo wat wissel en vergaan, bly ewig God se rykstroon staan.”

Dit is ‘n doelbewuste kontras wat die Prediker hier vir ons skets: die tydelikheid van die mens en sy werke, teenoor die ewigheid van God en sy werke. En die doel daarvan? Wel, sê hy aan die einde van vers 14, “God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.” God het sy ewigheid doelbewus teenoor die tydelikheid van die mens geplaas, sodat die mens sy eie beperktheid en verganklikheid sal raaksien, en Hom eerbiedig sal aanbid! Sien u, op dié manier word die sondige verganklikheid diensbaar aan die goeie – want as alles in hierdie lewe in versnelde tempo verbygaan, dan kom des te duideliker na vore wat wél standhoudend is! Ja, God het doelbewus die skepping aan die verganklikheid onderwerp (Rom. 8), om daarmee die lig te laat val op Homself! Die tyd staan in diens van die ewigheid!

 

En só kom ons, te midde van alles wat om ons heen wankel en verander, te midde van alle verganklikheid en sterflikheid, te midde van ons eie beperktheid en gebrokenheid, tereg by die ewige, onveranderlike God. En as ons by hierdie God tereg kom, dan gaan die ewigheid vir ons oop! Want dan kom ons ook tereg by sy ewige plan vir hierdie wêreld – die redding van sondaars (2 Tim. 1:9)! En ons kom tereg by sy Woord, waarvan Jesaja 40 sê: “Die gras verdor, die blom verwelk, maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” En ons kom tereg by Jesus Christus, ons Redder, wat – volgens Hebreërs 13:8 – gister en vandag dieselfde is, en tot in alle ewigheid. En ons kom tereg by God se ewige verbond met Abraham, Isak en Jakob en hulle hele nageslag, soos wat ons sing in Psalm 105. En wie dit alles in geloof omhels, wie dit aanvaar as die antwoord op die verganklikheid, daardie persoon ontvang die ewige lewe (Tit. 3:7), die ewige erfenis (Hebr. 9:15), die ewige saligheid (Hebr. 5:9), die ewige heerlikheid in Christus Jesus (1 Petr. 5:10). Hy word ‘n burger van die ewige koninkryk (2 Petr. 1:11)! En hy sing die lof van hierdie God: “want aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid!” Dit is so waar wat ons sing in Skrifberyming 24:4: “die ewigheid is nie meer stil nie! In Jesus Christus het die ewigheid vir ons oopgegaan, die ewigheid roep dit uit dat Christus ons Verlosser is, en elkeen wat in Hom glo word deel van die ewige lewe!

 

Sien u die kontras, broer en suster? Ek en my werke is so kort van duur – vandag is ek belangrik, môre is ek vergete; vandag bou ek iets op, môre word dit weer afgebreek; vandag is ek ‘n blom van die veld, môre is my plek nie meer daar nie. Dit is genoeg om enige mens moedeloos te maak. Maar dán die uitkoms: God is ewig, en sy verbond is ewig en sy verlossing duur tot in ewigheid!

En daarmee word dan ook die belangrike vraag vir 2013 aan ons voorgehou: wil jy in die tyd wandel met die ewige God? Dit is die maak-of-breek-vraag. Natuurlik – en ek het dit in die eerste punt reeds gesê – is die tydelike dinge nie onbelangrik nie. Jou lewe hier op aarde – jou huwelik, jou gesin, jou werk, jou ontspanning – is nie sinneloos nie. Maar wanneer jy hierdie tydelike, daaglikse dinge losmaak van die ewige God, dan verloor dit alle sin. Die oproep is daarom om die tydelike – alles wat jy doen en is – om dit op te neem in jou omgang met die ewige God. Maak jou hele lewe deel van jou verhouding met God. En dit kan, dit moet! Want die ewige het in die tyd ingekom – die ewige God het mens geword en onder ons kom woon, sodat die tydelike sinvol kan wees in diens van die ewige. Al jou werke wat jy in die tyd doen in diens van die ewige God, al daardie werke sal jou dan navolg, want ons arbeid in die Here is nie tevergeefs nie (1 Kor. 15). Maar laat dit dan arbeid in die Here wees, want Hy is die ewige God wat aan ons arbeid ewigheidswaarde gee.

 

Broers en susters, welgeluksalig is elkeen wat, ook in 2013, die Here vrees. 2013 is ‘n vlietende oomblik, ‘n sug en dis weer verby. Jy sal sien – jy dink nog dis Januarie, dan is dit alweer Junie. En jy sien nog uit na ‘n vakansie in Julie, dan is dit alweer eksamen in November. Laat daarom elke vlietende oomblik bewustelik deel wees van jou verhouding met Jesus Christus. Dan sal die lewe sin maak; dan sal 2013 werklik die jaar van onse Here wees. En wie weet, moontlik is 2013 selfsdie laaste jaar van onse Here, want… alles het immers sy bepaalde uur. Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd. Ook die wederkoms van Jesus Christus. Vrees Hom dan, en jy sal lewe!

Amen

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 90:2, 3, 7, 9

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 47:1 en 4

Gebed

Lees: Prediker 3:1-15

Sing Ps. 104:12-15

Teks: Prediker 3:11 en 14

Preek

Amenlied Ps. 31:5, 12 en 15

Gebed

Sing Geloofsbelydenis

Kollekte

Slotsang Ps. 103:8, 9 en 11

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)