Voeg die daad by die woord!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2012-08-19
Text: 
I Johannes 2:3-11
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Nagmaalspreek – 1 Johannes 2:3-11

 

Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,

In hoofstuk 1 van sy eerste brief – en u kan dit self gaan lees – gaan dit vir Johannes oor wat dit beteken om werklik ‘n christen te wees. Om ‘n christen te wees, beteken nie in die eerste plek om sekere leerstellings aan te hang, of om goed en moreel te lewe nie. Nee, om ‘n christen te wees, beteken om gemeenskap met God te hê deur Jesus Christus. Deur Jesus Christus mag jy deel in die goddelike natuur – Hy in ons en ons in Hom. Dit is die kern van jou lewe!

Of, miskien moet ek dit eerder as ‘n vraag stel: Is dit die kern van jou lewe? Is die gemeenskap met God vir jou so belangrik dat alles in jou lewe daarop gerig is? As jy as ampsdraer sulke vrae tydens huisbesoeke stel, is daar min mense wat ontkennend daarop antwoord. As die ouderlinge vra hoe belangrik God in jou lewe is, dan kan almal van ons hulle redelik plegtig daarvan verseker dat God vir ons baie belangrik is. En diep in ons hart, ja, daar voel ons miskien nie heeltemal oortuig nie, maar goed, die ouderling kan gelukkig nie in my hart kyk nie. Nee, miskien maar beter so…

 

Johannes kan ook nie in die harte van sy lesers kyk nie. Hy wil ook nie, dis nie vir hom nodig nie. Maar daarmee laat hy nie maar net sy lesers met rus nie. Dis nie vir hom genoeg dat hulle maar net dat hulle gemeenskap met God het nie. Praat is nie genoeg nie; die dwaalleraars, teen wie Johannes sy brief skryf, het ook baie gepraat. Johannes haal selfs hulle praatjies direk aan; kyk maar na hoofstuk 1:6: “As ons sê dat ons gemeenskap met Hom het…”, hoofstuk 1:8: “as ons sê dat ons geen sonde het nie…”, hoofstuk 1:10: “as ons sê dat ons nie gesondig het nie…” Dit is die bewerings van die dwaalleraars. Alles praatjies waarmee hulle die gemeente beïnvloed het. Maar Johannes laat hom nie beïnvloed nie, Johannes wys dat slegs woorde nie genoeg is nie.

Ook wanneer u die vrae van die ampsdraers beantwoord of wanneer u in die algemeen oor u geloof praat, besef dan dat slegs woorde nie genoeg is nie. Die ouderlinge kan miskien nie in u hart kyk nie; diegene met wie u u geloof deel, kan nie sien wat hier binne aangaan nie, maar daar is ‘n manier waarop elkeen van ons mekaar kan toets, ‘n manier waarop ek mysélf kan toets – ons lewenswandel. Want, broers en susters, woorde het nodig om deur dade ondersteun te word. Omdat Christus, ons geliefde Saligmaker, ons eerste so uitnemend liefgehad het, moet ons ook aan mekaar liefde bewys en nie alleen met woorde nie maar ook met die daad – so leer die formulier ons.

Johannes werk dit vervolgens in ons teks uit. Die oproep in ons teks is:

Voeg die daad by die woord!

 

Johannes begin in hoofstuk 2:3 met die woorde: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken…” ‘n Mens is effens uit die veld geslaan oor die skielike verandering van tema. Net hiervoor, in hoofstuk 2:2 het dit nog gegaan oor die versoening van ons sondes, en skielik spring Johannes oor na ‘n volgende tema: ons kennis van God. Maar ons verstaan dit beter wanneer ons in vers 4 sien dat Johannes, net soos in die vorige gedeelte, besig is om ‘n bewering van die dwaalleraars te weerlê. Hulle het naamlik beweer dat hulle God ken. En hierteen reageer Johannes dan.

 

Hy vra eintlik vir die dwaalleraars: “Maar hoe weet julle dat julle God ken?” En dan gee hy self die antwoord in vers 3: “… hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.” Eenvoudig, nie waar nie? Die dwaalleraars – voorlopers van die gnostici – het gesê dat as jy in een of ander hoër sfeer kan kom, as jy ‘n toestand van ekstase kan bereik, dan weet jy dat jy God ken. Nee, sê Johannes, moenie die gemeente mislei met allerhande filosofiese spekulasies nie. As jy sê dat jy God ken, dan moet ander dit kan sien in jou lewenswandel, ander moet dit kan sien in die manier waarop jy jou werk doen, jou kinders grootmaak, die manier waarop jy ontspan en vakansie hou. Om God te ken, is ‘n saak van deurleefde kennis, ‘n lewe in God se lig! Dít is die toets van ons gemeenskap met God: prakties en relevant! Ander moet kan sien dat jy God se gebooie bewaar! As jy gemeenskap met God het, as jy mag deel in die goddelike natuur, laat dit dan ook blyk! Voeg daarom by jou woorde die dade!

 

En, broers en susters, dit is presies die vereiste wat die nagmaalsformulier ook stel; ons vind in die nagmaalsformulier, op grond van die tien gebooie, ‘n lys van sondaars wat vermaan word om nie die nagmaal van die Here te gebruik nie. Die nagmaal is immers bedoel vir die gelowiges, dié mense wat in woord en daad wys dat hulle God ken, dat hulle in gemeenskap met Hom lewe. Nie vir mense wat baie oor die geloof kan sê, maar wat daardie geloof nie uitleef nie; nie vir mense wat baie oor die geloof kan sê, maar wie se lewe presies die teenoorgestelde bewys nie. Aan sulke mense verkondig ons dat hulle geen deel aan die ryk van Christus het nie.

 

Maar … wie van ons kan God se gebooie bewaar? Kan jy? Ek? Die Kategismus sê immers: selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin van die gehoorsaamheid aan God se gebooie (HK, v/a 114). Niemand kan God se gebooie volmaak bewaar nie. Maar beteken dit dan ook dat daar eintlik niemand is wat God werklik ken nie? Nee gemeente, God verwag nie van ons perfektheid nie, maar wat God wel van ons verwag, is die voorneme, die ernstige voorneme om nie alleen volgens sommige nie maar volgens al die gebooie van God te lewe (HK, v/a 114). En dit is ook hoe die nagmaalsformulier dit stel: ons begeer om teen ons ongeloof te stry en volgens al die gebooie van God te lewe. Daardie voorneme, daardie opregte verlange en eerlike inspanning, dít is wat die Here van ons vra; dít getuig van ware liefde vir God, dít getuig daarvan dat ons in Hom is!

 

 

In vers 6 gaan Johannes nog verder op hierdie saak in: “Hy wat dat hy in Hom bly (dus: hy wat beweer om gemeenskap met God te hê en God te ken), behoort self ook so te wandel soos (Jesus Christus) gewandel het. Johannes maak hier dus sy vorige toets, naamlik dat ons God se gebooie moet bewaar, nog meer konkreet deur te wys wát dit beteken om God se gebooie te bewaar.

 

Om God se gebooie te bewaar, beteken nie om ‘n aantal koue reëls na te volg nie; ons is nie slawe wat slegs oë- en lippediens bewys nie, wat maar net doen omdat ons dit moet doen nie, wat uiterlik God se gebooie doen, maar in ons harte God vloek nie. En hoe maklik gebeur dit nie in ons lewens nie: ons mag nie dit doen nie en ons mag nie dat doen nie… Hoekom nie? Ja, …want só is dit nog maar altyd gedoen! Ouers, let daarop dat ons nie ‘n klomp gebooie op ons kinders laai, en intussen nie aan hulle verduidelik hoekom ons dit doen nie, want dan raak ons afgestomp vir die rykdom van God se gebooie, dan word ons dikvellig vir die gesindheid wat God van ons vra wanneer ons sy gebooie bewaar. En daarom roep Paulus ons op in Efesiërs 6:6-7: wees diensknegte van Jesus Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien.

 

Om God se gebooie te bewaar, beteken om te wandel soos wat die Here Jesus gewandel het, om met dieselfde gesindheid te lewe as waarmee die Here Jesus geleef het. Hy word vir ons as voorbeeld gegee: Hy het God werklik liefgehad, Hy het werklik in gemeenskap met God gelewe, en dit het uitgekom in die manier waarop Hy geleef het. En so behoort u en ek ook te lewe.

Miskien ken u daardie armbandjies wat onder die jongmense op ‘n stadium so gewild was: ‘What would Jesus do?’ (Wat sou Jesus gedoen het?) – gemeente, dit is geen onsinnige vraag nie, Jesus se lewenswandel op hierdie aarde is vir ons nie onbelangrik nie. Inteendeel! Laat ons daarom saam met die heerlike kennis van sy geboorte, dood en opstanding ook ‘n deeglike kennis hê van die jare wat Hy hier op aarde gewandel het, geleef het, eties opgetree het. Hy het vir ons ‘n voorbeeld nagelaat, sodat ons in sy voetstappe kan navolg (1 Petr. 2:21).

Broers en susters, Johannes gee die aardse lewe van die Here Jesus as konkrete model vir sy lesers, en daardeur ook vir ons. En dit was vir sy lesers nie skielik ‘n nuwe gebod nie; nee, vandat hulle die eerste keer die evangelie gehoor het, vandat hulle christene geword het, was hulle al met hierdie gebod bekend (vers 7). En tog is dit ook ‘n nuwe gebod, nuut in die sin dat dit elke dag opnuut gerealiseer moet word, elke dag opnuut werklikheid moet word in die lewens van die gelowiges (vers 8). Elke dag opnuut moet die ligglans van Christus se heerlikheid, deur ons lewenswandel, die donkerte verdryf. Al hoe meer plekke hier op aarde moet onder sy ligglans kom deurdat ons, broers en susters, u en ek, in sy voetspore wandel.

 

 

Vanaf vers 9 maak Johannes die toets, waarmee ons kan sien of ons ook die dade by ons woorde voeg, nog meer konkreet. Om God se gebooie te bewaar, om te wandel soos Jesus gewandel het: dit beteken om jou broeder lief te hê! Gemeente, kan ons dit meer konkreet kry? Die toets van ons geloof is of ons ons broers en susters hier in die gemeente, en ook daarbuite, van harte liefhet!

 

En hierdie toets laat geen neutraliteit toe nie. Ons sal miskien sê dat daar mense in die gemeente is vir wie ons nie spesifiek lief is nie, maar dat dit nie dieselfde is as om hulle te haat nie. Ons neem soms ‘n neutrale houding teenoor ons broeders en susters in: ek is nie spesifiek lief vir hom nie, maar ek haat hom ook nie. Die katkisante praat ook so: ons kan mos nie vir almal lief wees nie?! Maar so werk dit nie: Johannes maak duidelik dat wie sy broeder of suster nie liefhet nie, hom of haar haat. Dit is óf die een, óf die ander… Johannes laat hier geen grys areas toe nie. En hy wat sy broeder haat, ja, hy moet besef dat hy in die duisternis is, hy wandel in die duisternis. Mense wat die verbondenheid met ander gelowiges nie soek nie, verblind hulleself en takel geestelik af.

 

 

Gemeente, die toets waaraan Johannes ons geloof onderwerp, is nie ‘n maklike toets nie. Die Here vra van ons om by ons woorde ook die dade te voeg. Hy vra dat, wanneer ons in gemeenskap met Hom lewe, Hom ken, in sy lig wandel, dat ons hierdie heerlike gemeenskap ook sal onderstreep met ons lewenswandel. En daarom dat die nagmaalsformulier ook so ernstig daaroor is dat ons onsself sal ondersoek. Let wel, broers en susters, ons dade, ons lewenswandel, is geen voorwaarde om gemeenskap met God te hê nie; nee, dit is Christus se gawe aan ons, verniet. Maar ons lewenswandel is wel ‘n bewys van ons gemeenskap met Hom.

 

En by wie daardie bewys nie sigbaar is nie, by wie daar ook nie die opregte voorneme is om daardie bewys sigbaar te maak nie, aan hom en haar verkondig ek dat hulle nie aan die nagmaal van die Here moet kom nie. Maar aan diegene wat opreg die Here wil dien, en dan tog by hulleself die gebrekkigheid bemerk, wat dan tog moet konstateer dat daar nog baie sondes en gebreke in hul hart en lewe is, dat hulle God nie met so ‘n ywer dien as wat ons verskuldig is nie, aan hulle verkondig ek: kom na die nagmaal van die Here, eet van die brood en drink van die wyn, want jy het krag nodig; krag wat jy nie in jouself het nie, krag wat ons put vanuit die enige offer van ons Here Jesus Christus om op só ‘n manier die daad by die woord te voeg. Dan bely ons voor God: Ek wil Here, maar ek sukkel; Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!

Amen.

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • Voorpsalm Psalm 15

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.  

Sing Ps. 46:4-6

Wetslesing en genadeverkondiging (Wie sy sonde voor God bely, vir hom geld die

woorde van 1 Tim. 1:15 en 17: lees.)

Sing Ps. 32:1, 4 en 6

Gebed

  • Nagmaalsformulier
  • Lees: 1 Johannes 1:8-2:11; teks: 2:3-11 (by uitnodiging en terugwysing)
  • Preek
  • Sing Ps. 133
  • Lees res van die formulier.
  • Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 123:1
  • Viering van die nagmaal
    • Eerste tafel – Ps. 124:1 en 2
    • Tweede tafel – Ps. 124:3
    • Derde tafel – Ps. 124:4
  • Voltooi formulier & dankgebed

Kollekte

Slotsang Ps. 24:2, 3 en 5 (Wie mag met God verkeer? Hy wat rein van hart en weg is)

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)