Ken jou eie familiegeskiedenis!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2012-04-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 3
Reference: 
HK 3-2
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 3

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Adam en Eva – ons almal ken hulle vanuit Genesis 1-3. Ons ken hulle ook vanuit die prentjies in die kinderbybel, daar word grappies gemaak oor Adam en Eva met die appel in die paradys, en daar het selfs al advertensies op televisie verskyn waarin ‘Adam en Eva’ die hoofrolle vertolk het.

Maar besef ons nog altyd die belangrike posisie van hierdie twee mense? Besef ons nog die sentrale rol wat hulle vervul in die geskiedenis van die mensdom? Of het hulle, vanweë Skrifkritiese aanvalle, in ons kringe effens op die agtergrond verdwyn? Want wie glo vandag nog dat Adam en Eva werklike persone was? – dit is wat die Skrifkritiek ons vertel. Adam en Eva – ja, hulle is ‘n illustrasie van elkeen van ons se lewensgeskiedenis. Net soos Adam en Eva, is elkeen van ons deur God geskape, vlug elkeen van ons van God af weg, en soek God elkeen van ons weer op. Adam en Eva staan simbool vir die geskiedenis van die mensdom en van elke individu. Maar werklik die eerste mense…? Werklik historiese persone? Nee, gemeente, dit word nie meer op baie plekke vandag geglo nie.

 

En tog is dit só belangrik om hier vas te hou aan wat die Skrif ons leer. Die Skrif leer ons dat Adam en Eva werklik bestaan het, dat hulle die eerste mense was wat deur God gemaak is. En die Skrif leer verder dat hulle ‘n sentrale posisie vervul in die geskiedenis van God se omgang met die mens. Tydens hulle lewe is een van die belangrikste bladsye in die geskiedenis van die mensdom omgeblaai: Adam en Eva het oorgegaan van ‘n posisie van sondeloosheid, na ‘n posisie van totale verdorwenheid – as jy van ‘n draaipunt in die geskiedenis wil praat, wel, hier het jy een!

Nou, broers en susters, oor die posisie van sondeloosheid weet ons nie baie nie, ons was nooit deel daarvan nie; maar ons kan aanneem dat dit hemel op aarde moes gewees, een groot fees om in volmaakte harmonie met God te kan wandel; geen hartseer nie, geen sonde nie, en ook geen dood en trane nie. Maar oor die posisie van verdorwenheid weet ons alles; óns staan immers in die lyn ná die sondeval, uit dáárdie lyn kom ons voort, óns is gebore in die posisie van verdorwenheid. En daarom moet ons aan God se Woord oor Adam en Eva vashou – dit wys ons waar ons vandaan kom…

Tema: Ken jou eie familiegeskiedenis!

  1. ‘n Familie-skande waarvan jy jou nie kán losmaak nie
  2. ‘n Familie-reunie waarvan jy jou nie wíl losmaak nie

 

1. Gemeente, almal van ons is deel van ‘n gesin en ‘n breër familiekring. En elkeen van ons het waarskynlik in ons familie iemand met wie jy maar min kontak het, en met wie jy ook nie meer kontak wíl hê nie. Dalk ‘n broer of ‘n suster, ‘n neef of ‘n niggie, ‘n pa of ‘n oom wat jou skaam maak met wat hulle sê of doen, en wat volgens jou die familie-naam deur die modder sleep. Jy wil liewer nie met hom of haar geassosieer word nie. Ek is seker jy ken ook so iemand in jou familie. Dis ‘n ongemaklike situasie, nie waar nie?

Nou, in die groot geheel van die familie van die mensdom sit ons eintlik met dieselfde probleem. Daar is mense in die familie van die mensdom van wie ons liewer niks wil hoor nie, en oor wie ons liewer nie wil praat nie. Hulle maak ons skaam, hulle het die familie-naam deur die modder gesleep. Hulle is: Adam en Eva. Ook in die christendom vandag wil baie mense liewer nie oor hulle praat nie. Want ‘n mens kan mos christen wees sonder om aan Adam, jou heel eerste voorvader, te glo? Ons kom mos nie in die kerk vir Adam nie, ons kom in die kerk vir Jesus Christus en Hom as die gekruisigde! En hoekom sou ons in ons getuienis na buite nog met mense moet praat oor ons voorvader Adam? Is dit nodig om die ongelowiges lastig te val met Adam en Eva? Is dit werklik so ‘n belangrike deel van die heilsgeskiedenis dat ons daaroor móét praat? Nee, ons vermy liewer vir Adam…

 

Maar, gemeente, luister ‘n bietjie na Paulus wanneer hy die Atheners toespreek! Ons het daarvan gelees in Handelinge 17. In hierdie gedeelte vind ons Paulus op die Areopagus, voor ‘n klomp heidene en Griekse filosowe. ‘n Klomp heidene en Griekse filosowe met ‘n hele klomp vreemde gode. En daar is selfs ‘n altaar vir ‘n onbekende god. Eintlik is die Atheners baie modern met hulle klomp gode, weet jy – hulle is verdraagsaam, hulle staan oop vir ander gode, hulle glo in die reg van elkeen om sy eie god te kies? Nou, hoe sou jy so ‘n gehoor toegespreek het? Hoe sou jy ‘n gehoor toespreek wat bestaan uit mense wat meen dat elke mens vry is om sy eie god te kies? Hoe, dink jy, moet Paulus sy gehoor toespreek? Tussen al hierdie toleransie en veelgodendom, is dit miskien maar die beste om op die gemeenskaplike dinge te fokus, of hoe? Op dinge soos naasteliefde en versoening. Dit is ten minste dinge wat die Atheners sal verstaan! Maar om die bybelse figuur van Adam in die gesprek te betrek? Dit sal nie wys wees nie. Buitendien, die Atheners ken nie eens vir Adam nie.

En tog, in die middel van sy toespraak, sy preek tot al hierdie wyse en geleerde mense, plaas Paulus… vir Adam! Lees maar weer vers 26: “En Hy het uit een bloed – sommige handskrifte sê net: “uit een…” – al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon.” Dit is amper ‘n terloopse opmerking van Paulus, ons sien dit skaars raak, en tog is dit so geweldig belangrik. By die skepping het God met daardie een Adam begin, en uit hom het God alle mense en alle volke laat voortkom, “sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind…” (vers 27). Paulus verbind dus die Atheners aan Adam, en die besef van daardie verbondenheid met Adam (die een bloed) moet hulle vervolgens ook laat terugsoek na die Skepper van Adam! En het die Atheners nie graag gesoek het… Hulle was voortdurend soekende na nuwe dinge (vers 21)! O nee, hulle het nie altyd geglo nie, maar hulle was verseker soekende. Net soos so baie mense vandag. Maar hierdie soekende Atheners sou nooit vind as hulle nie eers teruggeneem word na Adam nie! As hulle sou terugkom by Adam, dan sou hulle ook terugkom by die Skepper van hierdie een mens uit wie alle mense uiteindelik sou voortkom.

 

Paulus roep dus die Atheners terug na hulle eie familie-geskiedenis. Hoogmoedige en geleerde Atheners moet weet dat hulle deel het aan die familie-skandes, hoe ongewild hierdie boodskap ook al sou wees. Want ons moenie dink dat hierdie boodskap by die Atheners beter aanklank sou gevind het as in ons eie tyd nie. Nee, ook in Paulus se tyd was hierdie boodskap ongeloofwaardig. Maar tog skaam Paulus hom nie vir die evangelie nie. En daardie evangelie begin hy deur mense terug te roep na die menslike familie waarvan hulle deel is, en waarvan God die Skepper is. Nou, as Paulus dit doen, kan ons dit dan maar los? Kan ons mekaar en die wêreld maar net vertel van Jesus Christus, terwyl ons Genesis 1-3 gemaklikheidshalwe maar verswyg? Nee, gemeente, net soos die Atheners moet die wêreld, alle mense, hulle eie familie-geskiedenis ken, hulle moet weet dat hulle deel is van ‘n groter gesin.

En dit is teen die tydsgees, ek weet. Mense wil nie weet van hulle verbondenheid met die groter mensdom nie. Mense vandag glo in pluraliteit. Elkeen is sy eie individu, elkeen het sy eie god, elkeen het sy eie vryheid. Elkeen eien homself die reg toe om in hoogmoed teen die verlede te skop, teen die foute van vroeër, teen die outydse denke van die verlede. Die verlede is skuldig, ander is skuldig. Net nie ek nie! En so sluit mense hulleself toe in hulle eie, klein wêreldjie van selfregverdiging. En ook in die kerk gebeur dit. Natuurlik wil ek kerktoe kom, natuurlik wil ek glo, natuurlik het ek so nou en dan God in my lewe nodig. Maar om werklik deel te wees van die familie, nee dankie!

Maar Adam… Adam deurbreek ons selfvoldane isolasie. Adam laat ons nie toe om op ons eie te bly staan nie. Adam maak ons deel van iets waarvan ons glad nie deel wíl wees nie. Die totale mensdom, is dit my familie? Los my asseblief daaruit! Jammer, broer en suster, dit is nie moontlik nie. Die mensdom is God se gesin, deur Hom geskape. En niemand kan homself daarvan losmaak nie; die bybel laat dit nie toe nie. Dit is nie slegs Genesis 1-3 wat dit nie toelaat nie, maar ook die res van die Skrif laat dit nie toe. Want die res van die Skrif neem Genesis 1-3 ernstig op. Kyk maar net hoe die geslagsregisters in Genesis die lyne deurtrek vanaf Adam en Eva na alle volke; kyk maar hoe die geslagregister in Lukas teruggaan tot by Adam; verder word Jesus die laaste Adam genoem, en volgens die apostels sterf ons almal in Adam; en wanneer Paulus praat oor die rol van man en vrou, dan doen hy dit vanuit die onderskeid tussen Adam en Eva.

 

Dus, die God wat in die Bybel tot ons spreek, plaas ons in die hele Bybel terug in ons familie. En Hy leer ons dat ons onsself nie van die familie-gebeure kan losmaak nie. Alles wat in die mensdom gebeur, gebeur in die familie. Wanneer volke uitgeroei word, soos in Rwanda, Joegoslawië en Soedan, dan vind dit plaas binne óns familie. Wanneer in hierdie wêreld gesinne uitmekaarspat en huwelike opgebreek word, dan is dit familienuus. Wanneer daar gruwelike dinge plaasvind, dan is dit familie-skandes in ‘n familie waarvan ek deel is. Wanneer die bedelaar by my kom kos vra, dan is dit familie-besoek! Regtig? Is dit my familie? Behoort ek tot hierdie mensdom? Dis reg, vanaf die paradys, een mensdom uit een bloed, met een Skepper. Reg aan die begin van die mensdom staan ons een voorouer, Adam, en dit maak die mensdom tot een groot familie – ek kan nie daaraan ontkom nie. Maar belangriker nog: agter daardie familie staan die een God en Skepper wat aan almal lewe en asem en alles gee (Hand. 17:25), sodat ons die Here sou soek en vind. Maar omdat die mensdom homself van Adam losgemaak het, soek hulle ook nie meer die Here nie. Ons ontken die Here, ons kies ons eie paadjie, ons maak ons eie gode. Sáám staan ons skuldig!

Is dít normaal?, só vra Sondag 3. Nee, want God het die mens goed en na sy beeld geskep, maar deur die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, is ons natuur so verdorwe dat ons almal in sonde ontvang en gebore word. Ons almal! Ja, broers en susters, ons familie-foto lyk nie goed nie. Nie een persoon op daardie familie-foto lyk goed nie. Die hele familie het in opstand gekom. En ek kan nie myself uit hierdie familie-foto uit ‘cut & paste’ nie. Ek kan nie sê dat ek geen deel het aan Adam en Eva se skandes nie. En as jy dit wel wil beweer, gaan sit dan maar ‘n slag met jou man of vrou, gaan sit bietjie saam met jou ouers of kinders om die tafel, gaan sit bietjie saam met jou vriende en jou broers en susters in die geloof, gaan sit saam met die hulpbehoewendes in die kerk en in die samelewing. Hou ‘n slag regspraak met hulle om te verneem of jy werklik aan elkeen van hulle volmaakte liefde betoon het. Is jy nie bang dat een van hulle gaan opstaan en teen jou gaan getuig nie? Helaas, gemeente, ek is deel van die familie-skandes, ek het deel aan Adam en Eva. Die geskiedenis van Adam en Eva sit homself voort in my lewe…

 

Gemeente, besef baie goed: jy en ek lewe in tyd van grootskaalse individualisme, ‘n tyd waarin mense soos droë sand aan mekaar hang, ‘n tyd waarin niemand verantwoordelikheid wil vat nie. Dis elkeen vir homself! En juis in hierdie tyd is dit só belangrik om te begin by die begin, by Genesis 1-3. Glo jy dat Adam en Eva ons eerste voorouers is, glo jy dat jy aan hulle verbonde is, en dat jy deel het aan die geskiedenis van ‘n gevalle mensdom? Weinig vandag glo dit nog – hulle maak hulleself los van Adam (vandaar ook die voortdurende aanval op die historiese feitlikheid van Genesis 1-3), hulle maak hulleself los van die familie van die mensdom, en daardeur maak hulle hulself ook los van enige verantwoordelikheid teenoor God.

Maar die Bybel leer ons anders. Geen mens is mens op sy eie nie. Gaan duik daarom maar ‘n slag in die annale van jou familie-geskiedenis en sien waar jy vandaan kom. En as jy die verbondenheid met Adam raaksien en erken – omdat die Skrif jou dit leer! – dan word jy ook voor die aangesig van Adam se Skepper geplaas. Dít is waar Paulus die Athners wou laat uitkom, en dit is ook waar ons moet uitkom. Die geskiedenis-paadjie langs duisende jare se skandes is ‘n pynlike en ‘n harde paadjie; die Skrif vertel jou alles daarvan. Maar dit bring jou terug by die Skepper, en daar is dit uiteindelik goed, ten spyte van die familie-skandes! Want wie verantwoordelikheid neem vir die familie-skandes, mag ook deel in die familie-reunie.

Dit is ons tweede gedagte: ‘n familie-reunie waarvan jy jouself nie wíl losmaak nie.

 

2. Gemeente, Paulus vertel vir die Atheners dat God sy toorn oor hierdie familie-skandes gelukkig nog ingehou het, God het nie aan sy toorn vrye teuels gegee nie. Hy het immers, volgens vers 30, die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense dat hulle hul moet bekeer. En dan verkondig Paulus vervolgens dat God ‘n Man aangestel het, ‘n Man wat gesterf het maar wat ook weer deur God uit die dode opgewek is (vers 31). Ja, Paulus verkondig aan die Atheners Jesus Christus en sy opstanding uit die dood; Hy verkondig God wat mens geword het. Die Seun van God het ‘n seun van Adam geword, seun van die mens – ‘n Man! Die Seun van God het sy plek kom inneem in hierdie gebroke familie van die mensdom; Hy het deel van die familie-geskiedenis geword.

Ongelooflik, nie waar nie? Wie wil nou vrywillig met hierdie skandelike familie geassosieer word? Mense wat deur geboorte deel is van hierdie familie, mense soos ek en jy, wil niks daarmee te doen hê nie. Maar Jesus, wat na sy natuur deel het aan die sondelose Godheid en niks met hierdie sondige familie te doen het nie, Hy kom maak Homself deel van hierdie familie. Hy kom nie net as God in hierdie wêreld in nie; nee, Hy word een van ons, sy geslagsregister bewys dit (gaan lees maar die geslagsregister in Lukas 3, dit gaan terug tot by Adam). En Hy doen dit, want Hy wil hierdie familie kom help. Hy wil ‘n menigte selfgesentreerde, individualistiese mense weer met mekaar en met hulle Skepper kom verbind. Christus is besig met ‘n grootskaalse familie-reunie. Hy het gesterf en Hy het uit die dode opgestaan om ‘n nuwe familie, ‘n nuwe mensdom vir God die Vader te versamel. En deur die geloof mag jy en ek deel wees van daardie nuwe familie. Maar onthou baie goed: jy word slegs deel van die nuwe mensdom, as jy jouself ook in solidariteit met die ou mensdom kan verootmoedig voor die troon van God.

 

Ken daarom jou plek, en kry ‘n nuwe plek; ken jou familie, en word deel van ‘n nuwe familie!

 

En daarom word ons opgeroep om saam met Jesus – Seun van God wat seun van die mens geword het – om saam met Hom ons plek in te neem in die geslagslyn van Adam en Eva, van Abraham en Noag, van Josef en Maria, van Johannes en Jakobus. Dit is ons familie! En dit is nie ‘n uitspraak van trots nie; dit is nie soos in ons wêreld waar sekere familie-name hoog aangeslaan word nie. Inteendeel, dit bring my op my knieë in gebed, saam met my man en my vrou, saam met pa en ma, saam met my vriende, saam met alle generasies in die hemel en hier op aarde. Gebed om ‘n nuwe familie, deur die werk van Jesus Christus! Gebed om wedergeboorte, deur die krag van sy Gees. Gebed dat ek weergebore mag word in God se groot familie van verloste sondaarmense.

En kyk dan om jou heen in die gemeente, sien hulle raak, al die nuwe familie-lede. Hierdie gemeente is deel van Christus se familie-reunie. Jy is my broer, u is my suster. Deur Christus se genade is jy en ek deel van ‘n nuwe familie. Nie ‘n familie vol skandes nie, maar ‘n familie van genade, ontferming en vergifnis. ‘n Familie waarin daar veronderstel is om goeie dinge te gebeur, nie skandes nie. Dit is wat v/a 8 ons leer: “Is ons dan so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is? Ja, behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word.” In ‘n familie van wedergeborenes is broers en susters veronderstel om in vrede met mekaar te lewe. Die familie-foto van die kerk moet anders lyk as die familie-foto van die wêreld.

 

En só moet ons ook na mekaar leer kyk, gemeente. Kom ons hou op om na die ander een te kyk as die man met die lelike gesig of die vrou wat geset is. Kom ons hou op om na die ander een te kyk as iemand wat nie my tipe is nie, of as iemand wat êrens in die verlede iets verkeerds gedoen het. Kom ons leer om anders te kyk na mekaar. In die gemeente van Christus hang ons mekaar nie ons selfgemaakte etikette om nie, maar sien ons Christus se etiket by mekaar raak: kind van die Vader, deel van die familie. Laat ons leer om mekaar in hierdie familie te skaaf sodat ons weer meer en meer herskep word na die beeld van God, in ware geregtigheid en heiligheid, sodat elkeen van ons God reg ken, Hom van harte liefhet, en eendag saam met Hom in die ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en te prys.

En wie hierdie nuwe familie ken en die oorsprong daarvan verstaan, kan homself nie daarvan losmaak nie. Meer nog: wil homself nie daarvan losmaak nie. ‘n Wedergeborene kan en wil nie op die kantlyn gaan staan en dink dat hy op sy eie, sonder sy broers en susters, kan regkom nie. Net soos ‘n natuurlik geboorte my in ‘n gesin plaas – of ek nou daarvan hou of nie – so plaas die wedergeboorte my ook in ‘n gesin. En ek kan myself daarvan nie onttrek nie. Ek kan my broers en my susters nie aan hulle lot oorlaat nie. Ek kan nie, wanneer ek daar (wys aan) in die kerk sit, maak asof die lot van iemand aan hierdie kant (wys aan) my nie aangaan nie. Ek kan nie maak asof die ander familielede in die breër kerkverband en in die wêreldwye kerkvergaderende werk van Christus my nie aangaan nie.

Ons Vader het immers uit een bloed die een groot familie  van die mensdom gemaak. Die Seun het deur sy eie bloed ‘n nuwe familie van gelowiges gemaak uit alle volk, nasies en tale. En die Gees verbind ons aan mekaar op ‘n manier wat sterker is as enige bloedband. Aan die Drie-enige God kom toe die lof en die eer vir sy werk van gesinsvorming!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 122

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. enade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. / Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 146:1 en 3

Gebed

Teks: HK, Sondag 3

Lees: Handelinge 17:19-31

Sing Ps. 33:4, 5, 7

Preek

Amenlied Ps. 22:9 en 11

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 133

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)