Buite die kerk is daar geeen saligheid nie!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2011-11-13
Text: 
NGB 28
Reference: 
NGB 28-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 28; lees Hand. 2:37-47 en Jeremia 7:1-11

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Buite die kerk is daar geen saligheid nie! Heelwat gereformeerdes wat hierdie uitspraak hoor, sal waarskynlik daarvan gril; die meeste kry waarskynlik ‘n roomse bysmaak in die mond by hierdie uitspraak. Want is dit nie hoe die Roomses oor die kerk praat nie? Die Roomse Kerk wat haarself aanbied as die uitdeelster van die heil via die pous en sy biskoppe, en wat beweer dat ‘n mens buite haar ewig verlore is! Nee, dit is eenvoudig te pretensieus vir ‘n kerk om dit te beweer, en daarom hou ons nie baie van die buite-haar-geen-saligheid-uitspraak nie…

En veral nie in ons tyd wat soveel klem plaas op die individuele gelowige met sy persoonlike geloof nie. In ons tyd moet jy die individuele gelowige nie kom vertel dat die heil slegs in die kerk te vinde is nie. Dit is so dwaas soos om te sê dat jy pizzas slegs in Italië kan kry, terwyl ‘n mens dit in werklikheid by elke plaaslike restaurant kan vind, en selfs in die gemak van jou eie huis kan voorberei. Nee, “buite die kerk geen saligheid nie” lyk na ‘n effens gedateerde uitspraak in die klimaat van die 21ste eeu…

En tog, gemeente, staan dit in jou en my belydenis. Guido de Bres, wat in die Roomse Kerk opgegroei het en op ongeveer 25-jarige leeftyd met hierdie kerk gebreek het, kies daarvoor om nog steeds in artikel 28 te bely: buite die kerk is daar geen saligheid nie. Hoekom? Hoekom het hy hierdie Rooms-klinkende uitspraak in sy gereformeerde belydenis opgeneem? Is dit maar die nagevolge van die Roomse invloed, of was dit ‘n doelbewuste keuse? Broers en susters, ek hoop dat ons in die res van die preek meer duidelikheid hieroor sal kry.

 

Maar ons kan egter reg aan die begin alreeds ‘n paar misverstande uit die weg ruim deur eenvoudig te lees wat daar in artikel 28 staan. Ons lees naamlik van ‘n heilige vergadering wat ‘n versameling is van hulle wat verlos word, en dat daarbuite geen saligheid is nie. Daar staan dus nie dat daar buite die kerk niemand is wat salig word nie, dat daar buite die kerk geen salige is nie. Wat daar wél staan, is dat die saligheid, die heil, nie buite die kerk te vinde is nie, want God skenk die saligheid juis aan sy kerk! Daarom moet ons die saligheid ook in die kérk soek, en nie daarbuite nie.

Calvyn praat pragtig hieroor wanneer hy die kerk die moeder van alle gelowiges noem. En dan sê hy daaroor: “Daar is geen ander toetrede tot die lewe tensy die kerk ons in haar skoot ontvang, aan ons geboorte skenk, ons aan haar borste voed en ons onder haar beskerming en leiding bewaak nie; … hierby is daar buite haar skoot geen hoop op sondevergifnis en geen hoop op saligheid nie…” Hoewel die reformatore, waaronder Calvyn en de Bres, die Roomse kerk verlaat het, het hulle daarmee nog nie die kind met die badwater uitgegooi nie. Ja, hulle het die Roomse kerk verlaat, maar daarmee was God se instelling van die kerk nog nie verkeerd nie. En daarom het die reformatore nie die kerk verwerp nie, maar dit eerder op grond van God se Woord gereformeer, tot sy regte vorm probeer terugbring. Hulle het verstaan dat, ten spyte van ‘n afgedwaalde Roomse kerk, die kerk nogtans onmisbaar is vir die gelowiges. Gemeente, verstaan ons dit nog? Besef ons nog iets van die onmisbaarheid van die kerk?

 

Tema: Buite die kerk is daar geen saligheid nie!

  1. Dáár is die eksklusiewe Naam van Christus
  2. Dáár moet jy ‘n heenkome vind
  3. Dáár moet ons saam buig onder die juk van Christus

 

1. Wanneer Petrus sy toespraak op die Pinksterdag voltooi, is daar byna onmiddellike resultaat. Daar kom ‘n beweging op gang, ‘n beweging wat in Handelinge 2:42 ‘die gemeente’ genoem word, ‘n gemeente wat op dag een alreeds drieduisend lidmate tel. En hierdie gemeente bly groei; volgens vers 47 was daar daagliks nuwe mense wat tot die gemeente toegevoeg is. Ongelooflik – daagliks nuwe mense! Maar wat het hierdie mense dan saamgebind? Wat het gemaak dat hulle, teen alle aanvaarbare sosiale standaarde in, saam begin vergader het? Wat het hierdie mense gemeenskaplik gehad?

Wel, om dit te verstaan, moet ons by Petrus se voorafgaande toespraak wees; daarin – maar vervolgens ook in alle verkondiging van die apostels – lê die sleutel vir die ontstaan van ‘n gemeente daar in Jerusalem. Ons sien dat Petrus, nadat hy kortliks die profeet Joël aangehaal het om te wys dat die koms van die Gees reeds in die Ou Testament voorspel is, daartoe oorgaan om in groot besonderhede vir die skare te vertel van Jesus Christus. Hy vertel vir hulle van sy lewe en sterwe, van sy opstanding en sy hemelvaart, en ten slotte verkondig hy aan die skare hierdie verhoogde Jesus as Here en Christus. Wanneer die skare aan die einde van sy toespraak wil weet wat hulle moet doen om gered te word, roep Petrus hulle op om hulleself te bekeer en te laat doop in die Naam van hierdie einste Jesus Christus. En dít gebeur dan ook… Die verkondiging van Jesus Christus lei tot die doop in die Naam van Jesus Christus.

 

Gemeente, ons sien dus hier, maar ook in die vervolg van die prediking van die apostels, telkens weer dat Jesus Christus sentraal staan. Jesus Christus is die middelpunt van die christelike gemeente; Hy is die eksklusiewe Naam tot behoud van sondige mense; slegs by Hóm is daar verlossing van al ons sondes. Ons sien dit baie duidelik net hierna in Handelinge 4, wanneer Petrus voor die Joodse Raad verklaar: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Geen ander naam nie – eksklusief!

En waar vind ons hierdie eksklusiewe Naam? In die kerk! In die kerk se verkondiging van die evangelie. Dáár is die eksklusiewe Naam van Jesus Christus tot behoud van elkeen wat glo. En dit is ook duidelik in die profesie van Joël, wat deur Petrus aangehaal is. In Joël 2:32 lees ons: “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word; want – en dit vind ons nie in Petrus se toespraak nie, maar wel in Joël se oorspronklike profesie – want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê…” Ja, op die berg Sion en in Jerusalem – die kerk van die Ou Testament – dáár is die Naam tot redding! Gemeente, die eksklusiewe Naam van Jesus Christus is aan die kerk toevertrou om te verkondig – na binne aan die kerklidmate, sowel as na buite in ons getuienis. Wie daarom verlos wil word, moet in die kerk wees, moet dáár wees waar die enigste Naam tot behoud te vinde is.

Is die kerk ‘n uitgedateerde sosiale verskynsel? Nooit nie! Die kerk sal, soos ons verlede week in artikel 27 bely het, nooit te gronde gaan nie, want die wortel en die grond van haar bestaan is die ewige Koning, Jesus Christus. Solank Hy bestaan, bestaan ook sy kerk.

 

Maar voordat ons nou agteroor sit met die salige gerustheid dat ons dus hier op die regte plek is, is dit goed om ‘n waarskuwing te hoor. Hierdie Naam van Jesus Christus is naamlik nie onvoorwaardelik deur God aan ‘n bepaalde kerk-adres verbind nie. Die eksklusiwiteit van die Naam van Jesus Christus, wat uit genade aan die kerk toevertrou is, moet skerp onderskei word van die vleeslike gearriveerdheid wat roep: “Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!”, soos wat ons dit vind in Jeremia 7:4. Daar is dus geen kerkgemeenskap, ook nie die Vrye Gereformeerde Kerke, wat kan optree met die pretensie dat aan háár eksklusief en onvoorwaardelik en onbepaald die enigste Naam tot behoud toevertrou is nie. Ook Israel in die Ou Testament kon dit nie doen nie, want luister maar na Jeremia wanneer hy vervolgens in hoofstuk 7 sê: “Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baal offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! – om al hierdie gruwels te doen?”

Dus, gemeente, die Naam van Christus is wel aan die kerk toevertrou, en die Evangelie is wel aan haar gegee tot verkondiging – dit is waar! – maar sy staan self ook onder die norm van daardie Naam en Woord. As gemeente moet ons onsself daarom ook voortdurend afvra: Verkondiging ons nog die eksklusiewe Naam van Jesus Christus? Lewe ons nog ‘n lewe gewy aan daardie Naam? Is Hy nog die kern van ons bestaan?

 

Wanneer dit wél die geval is – en dit is geen goeie werk nie, dit is eenvoudig ‘n daad van gehoorsaamheid – wanneer dit wél die geval is, dán mag en dan moet ons voluit handhaaf wat ons bely in artikel 28: buite hierdie kerk is daar geen saligheid nie. As u vanmiddag saamstem dat die Naam van Jesus Christus in hierdie gemeente klink – nie slegs in die prediking nie, maar in alle kerklike aktiwiteite – sou dit dan nie dwaasheid wees om buite haar te gaan lewe nie? Sou dit dan nie totale blindheid wees om die saligheid, wat hier aangebied word, te negeer en jou eie gang te gaan nie? Dit is mos dwaas om weg te hardloop van die einste Persoon wat vir jou die lewe gee? Hier moet jy dus wees, hier lê jou heil! Let wel, ek sê nie dat ons nooit ‘n ander erediens mag bywoon of nooit ons attestaat na ‘n ander gehoorsame kerk van Christus mag opvra nie. Moenie die absurde gaan aflei uit wat sopas gesê is nie. Dit gaan oor die beginsel: daar waar Christus verkondig word, daar moet jy wees.

Dus, gemeente, om te sê dat daar buite die kerk geen saligheid is nie, is nie Rooms nie, dit is ook nie hoogmoedig nie. Met hierdie uitspraak word ook nie die individuele gelowige se persoonlike geloof aan bande gelê nie. Dit is ‘n eenvoudige konsekwensie van die feit dat die Naam van Christus aan die kerk toevertrou is. As hierdie Naam die enigste Naam tot jou behoud is, en hierdie Naam is aan die kérk gegee om te verkondig, waar moet jy dan wees om gered te word? ‘n Retoriese vraag, nie waar nie?

Vervolgens, dáár moet jy ‘n heenkome vind.

 

2. Dus, gemeente, wat moet die persoon, wat in Jesus Christus glo, nou gaan doen? Wel, artikel 28 is daaroor baie duidelik. In sowel negatiewe as positiewe terme kom die opdrag na die gelowige toe. Eers word die negatiewe gestel, naamlik “dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie…” Niemand – hierdie appél kom dus werklik tot elkeen; dit is ‘n universele oproep. Ook al behoort iemand tot die hooggeplaastes in die maatskappy, ook al het hy die hoogste trap van die maatskaplike leer bereik, terwyl die plaaslike gemeente van Christus uit eenvoudiges bestaan, of klein in getalle en gering in invloed is, of vervolg en geminag word, dan nóg moet daardie hooggeplaaste gelowige hom voeg by dié gemeente. Alle apartheid en elitêre afsondering moet oorwin word! En dit geld sowel binne as buite die gemeente.

Binne die gemeente beteken dit, soos wat die Hebreërskrywer leer, dat ons nie ons eie byeenkomste behoort te versuim nie. En na buite beteken dit dat geen gelowige afsydig van die kerk van Christus mag bly staan nie. En, broers en susters, Guido de Bres het geweet waarvan hy praat toe hy hierdie oproep laat klink het. Immers, hy het gelewe in ‘n tyd toe heelwat mense die gereformeerde saak gunstig gesind was en in hulle harte ook die gereformeerde leer aangehang het, maar wat tog nie met die Roomse kerk wou breek nie. Calvyn het hierdie mense Nikodemiete genoem; Nikodemus het immers ook in Christus geglo, maar wou nie openlik daarvoor uitkom nie, en het Jesus daarom in die nag besoek. So wou hierdie mense, wat in hulle harte gereformeerd was, trou was aan die Woord van die Here en die Naam van Christus, tog nie met die Roomse kerk breek nie, om watter rede ook al.

Dít, sê ons belydenis, kan nie so wees nie. Ons kan nie Christus en sy kerk uitmekaar haal, soos so dikwels vandag gebeur nie. Ons kan nie sê dat dit verpligtend is om in Christus te glo, maar dat lidmaatskap van die kerk opsioneel is nie. Jy kan nie in Christus glo, maar intussen lidmaat bly van ‘n kerkgroep wat nie na Christus wil luister nie. Nee, Christus en sy kerk gaan saam. Dit is daarom ook altyd die uiteindelik doel van ons evangelisasie- en sending-arbeid. Ons bring nie slegs vir mense die evangelie en laat hulle vervolgens aan hulle eie lot oor nie. Natuurlik kom dit wel eerste: ons vertel vir mense van die Here Jesus, ons bring hulle onder die verpligting van sy Naam. Maar daarna kom ook die kerkvraag: waar is hierdie Christus? Waar kan jy Hom vind, week na week? Waar moet jy wees om met Hom omgang te bly hê? En daarom volg daar ook altyd: Kom saam met ons kerk toe…

 

Dus, geen hoogmoedige afsydigheid van die kerk nie! God red in Jesus Christus ‘n volk, en daarby moet elke gelowige homself voeg. Dit is dan ook die positiewe oproep in artikel 28: “almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig.” Luister mooi: aansluit én verenig. Die eenheid van die kerk is nie slegs ‘n saak van lidmaatskap nie, dit beteken nie slegs om as lidmaat van die kerk geregistreer te wees nie. Dit is nie genoeg om maar net te sê dat jou naam in die lidmateregister van die VGK Pretoria-Maranata staan nie. Op dié manier het talle mense in die verlede, maar ook vandag nog, hulle christenskap begrond. Maar nee, om jouself aan te sluit én te verenig, beteken ook om werklik deel te wees, jou insette te lewer, saam te buig onder die juk van Christus, waarop ons in die laaste punt sal let.

En, gemeente, om dit van harte te kan doen, beteken dat jy nie met verdeelde aandag lid kan wees nie. Jy kan nie met jou een voet in die kerk staan en met jou ander voet in die wêreld nie. Sê ek daarmee dat ons wêreldvreemd moet wees. Nee, ons staan voluit in die wêreld – immers, ons werk en speel elke dag in hierdie wêreld – maar dan wel altyd as toegewyde kerklidmate. Ek staan nie in die wêreld as wêreldling nie, ek staan in die wêreld as skaap van die kudde van Christus – dáár, in die kudde, is my lewe; dáár lê my roeping. En daarom kan artikel 28 ook sê dat dit die plig van alle gelowiges is om hulle af te skei van dié wat nie aan die kerk behoort nie. Dit is presies dieselfde oproep wat Petrus ook rig tot sy luisteraars in Handelinge 2:40: “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.” Met die ‘verkeerde geslag’ bedoel Petrus dan die Jode, die Jode wat Jesus doodgemaak het en hulleself nie van hierdie gruweldaad wou bekeer nie; van daardie mense moes die bekeerlinge op die Pinksterdag hulself losmaak. Het Petrus daarmee gesê dat hulle niks meer met hulle te make moes hê nie? Nee, maar hy roep sy luisteraars wel op om nie meer deel te hê aan hierdie groep nie, om nie aan hulle praktyke deel te neem nie, om nie eensgesind met hulle te wees nie.

 

En wanneer die bekeerlinge hieraan gehoor gee, lees ons vervolgens van ‘n nuwe eengesindheid wat daar in die jong gemeente in Jerusalem ontstaan het. Ons lees in vers 42 dat die lidmate gemeenskap beoefen het, dat hulle alles gemeenskaplik besit het (vers 45), en dat hulle eendragtig volhard het (vers 46). En dit het selfs deurgewerk na die volk, want volgens vers 47 was hulle in guns by die hele volk. Ja, aansluiting by die kerk bring nuwe bande, nuwe gemeenskap met almal wat saam in Jesus Christus glo.

Moet daarom nie in die kring bly rondhang van dié wat nie aan die kerk behoort nie. Pasop daarvoor dat die swaartepunt van jou vriendskapsbande en familiebande buite die kerk lê. Vriendskappe met mense buite die kerk van Christus is nóóit onvoorwaardelike vriendskappe nie; dit mág nie onvoorwaardelike vriendskappe wees nie. Dit is altyd vriendskappe waaraan ‘n voorwaarde verbonde is, naamlik die oproep aan daardie mense om hulle te bekeer uit die verkeerde geslag van die wêreld en hulle met die kerk van Christus te verenig.

Broers en susters, moet nie vir jouself ‘n heenkome vind in die wêreld nie, vind vir jouself ‘n heenkome in die kerk en onder die Naam van Christus. Sukkel jy daarmee? Het jy moeite daarmee om ‘n plekkie in die kerk te vind? Dit is moontlik – die openheid en gasvryheid en vriendelikheid voldoen nie altyd aan die standaarde nie; ons omgang met mense wat van buite-af kom, laat soms veel te wense oor. En dit mag gerus genoem word… Maar moet dít nie die sentrale oorweging maak nie; maak jou sentrale oorweging die oproep van ons belydenis om jou by die kerk te voeg.

Ten slotte: dáár word saam gebuig onder die juk van Christus.

 

3. Gemeente, wat is nou die uitstaande kenmerk van dié wat saam verenig om die kerk van Christus te vorm? Wel, ons belydenis beskryf dit só dat die gelowiges hulle saam onder die juk van Christus buig. Oor hierdie uitstaande kenmerk brei die belydenis verder uit in artikel 29, en ons sal hooplik oor twee weke verder daarna kyk, maar dit word alreeds hier in beginsel genoem – ons buig saam onder Christus se juk, onder die las wat Hy op ons lê. En dit beteken, volgens artikel 28, dat ons onsself aan sy leer en tug sal onderwerp. Sy leer en tug – dit gaan hier dus oor die verkondiging van die Woord, die bediening van die sakramente, asook die bediening van die tug. Aan hierdie juk moet die gelowiges hulle eendragtig onderwerp. En ons sien dit ook by die eerste gemeente in Handelinge 2. Die eerste wat van hierdie gemeente in vers 42 gesê word, is dat hulle volhard het in die leer van die apostels. Die leer van die apostels… maar wat het dit te make met die juk van Christus? Wel, gemeente, die leer van die apostels was ten slotte niks anders as die leer van Christus nie, dit was niks anders as die verkondiging van die evangelie nie. Dus, wanneer van die eerste gemeente gesê word dat hulle in die leer van die apostels volhard het, dan beteken dit dat hulle hul aan die juk van Christus onderwerp het.

 

Die juk van Christus is dus niks anders nie as sy regering oor ons deur sy Woord en Gees; Hy is nou ons Meester, en dit is wat Hy van ons verwag. En gemeente, dit is nie erg om onsself aan hierdie juk te onderwerp nie. Laat ons nie bang wees om hierdie juk as gemeente saam op ons te neem nie. Immers, die juk van Christus is heeltemal anders as die juk van die sonde en die dood. Laasgenoemde juk is hard en meedoënloos; dit kneus en maak seer, dit druk en laat ons onder die gewig daarvan beswyk. Maar die juk van Christus is, volgens Mattheus 11:28-30, ‘n sagte juk en ‘n ligte las. Almal wat vermoeid en belas is deur die gewig van hulle sonde, word deur Christus uitgenooi om na Hom toe te kom, die swaar las van die sonde op Hóm te lê, en sy ligte las op hulle te neem: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Matt. 11:29).

Broers en susters, dit is heilsaam om onder die onderrig van Christus te buig. Dit is heerlik om van Hom te leer oor vergewing, oor nuwe lewe, oor ewige lewe. En wat dit nog mooier maak, is dat ons dit almal saam mag doen. Soos een man buig onsself neer voor Christus, voor sy leer en voor sy tug; soos een man ywer ons vir gehoorsaamheid aan Hom. En dan… ja, dan kom daar ook oog vir mekaar. Ons bely immers, direk ná die oproep om onsself aan Christus se juk te onderwerp, dat ons volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, mekaar wil dien in die opbou van ons geloof. Dus, ons verbondenheid met Christus, bring ook verbondenheid met mekaar. Dan is ons dáár vir mekaar om te keer dat iemand homself weer onder die dodelike juk van die sonde gaan plaas, dan is ons dáár om mekaar te bemoedig in ons luister na Christus, dan is ons dáár om mekaar by die kerk te hou.

 

Ten slotte: buite die kerk is daar geen saligheid nie. Rooms? Nee, voluit bybels, want in die kerk vind ons die enigste Verlosser, Jesus Christus. En daarom moet ons ons by hierdie kerk voeg. En ja, dan mag daar baie wees wat u pla van ons gemeente, dan mag u ongelukkig wees oor besluite, oor broers en susters se optrede, oor die gang van sake. Maar as u hier Christus ontvang, moet dan asseblief nie weggaan nie. Kom ons wees die gemeente van Christus. Of soos Handelinge 2:46 en 47 ons leer: Kom ons volhard eendragtig in die geloof, kom ons breek die brood saam aan die nagmaal, kom ons geniet saam ons voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart. En dan prys ons God vir die wonder van sy kerk.

Amen

 

Liturgie (aand)

 

  • Voorpsalm Ps. 84:1-4

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 122

Gebed

Lees:    Handelinge 2:37-47

            Jeremia 7:1-11

Sing Skr. 43:2-4

Teks: NGB, art. 28

Preek

Amenlied Skr. 18:5-8

Gebed

Sing Geloofsbelydenis

Kollekte

Slotsang Ps. 132:9-11

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)