Jael, 'n Rigter in eie reg

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2011-09-25
Text: 
Rigters 5:24-27
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 5:24-27; lees Rigters 4 en 5

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

Ons het bietjie moeite met Jael se optrede, nie waar nie? U miskien nie, maar ek wel. Dit wat Jael gedoen het, voel so primitief en onregverdig. Jy stel ‘n man gerus om in jou tent te kom skuil, en sodra hy slaap vat jy ‘n tentpen en ‘n hamer, en dryf die tentpen deur sy kop tot in die grond. En miskien word ons moeite nog vergroot deur die manier waarop hierdie hele gebeure vir ons beskryf word – so grafies, met alle gewelddadige besonderhede. En dit sou nog een ding gewees het as die skrywer dit in soveel besonderhede beskryf het, maar nou sing Debora in haar lied ook nog so uitgebreid daarvan. Kon sy nie maar net eenvoudig vir ons die feit weergegee het nie: Jael het vir Sisera doodgemaak?

 

Maar, gemeente, Jael was nie so onredelik en onregverdig soos wat ons moontlik mag dink nie. Want onthou u nog wat ons in hoofstuk 1 gelees het? Hoe die Israeliete Adoni-Besek se duime en groottone afgekap het? Hoe onregverdig en primitief dít vir ons geklink het? Maar wat het Adoni-Besek self hiervan gesê? “Sewentig konings met afgekapte duime en groottone het onder my tafel krummels opgetel: soos ek gedoen het, so het God my vergeld” (Rigt. 1:7). Die volk se optrede teenoor Adoni-Besek was ‘n regverdige vergelding van wat hy aan ander gedoen het. Ja, maar wat het Sisera gedoen dat Jael só teenoor hom moes optree? Wel, kom ons luister vir ‘n oomblik na Sisera se eie ma, want sy gee vir ons die antwoord…

Aan die einde van haar lied (verse 28-30) laat Debora naamlik vir ‘n oomblik Sisera se ma aan die woord; sy is bekommerd, want haar seun kom maar net nie terug nie: “Waarom vertoef sy wa om te kom?” (vers 28). En dan antwoord sy, volgens vers 29, haar eie vraag: “Hulle het seker buit gevind en verdeel dit: een slavin, twee slavinne vir elke man…” Eintlik sê sy: “Dis verstaanbaar dat hulle nog nie terug is nie, want dit vat tyd om die buit te verdeel, en hulle sal elkeen waarskynlik ook nog ‘n paar meisies verkrag…” Was Jael regtig onregverdig teenoor Sisera? Was Jael primitief? Nee, gemeente, Sisera se boosheid en wreedheid het hom eenvoudig ingehaal. Hierdie keer sou hý nie ‘n enkele vrou verneder nie; inteendeel, ‘n enkele vrou sou hóm verneder. Sisera word deur die Here vergeld vir wat hy so dikwels aan ander gedoen het. Jael se optrede is dus nie weersinwekkend, of primitief, of onregverdig nie.

 

Nou goed, hooplik is hierdie struikelblok uit die weg geruim. Kom ons kyk vervolgens wat dan die betekenis van hierdie misterieuse vrou vir ons vandag is.

Tema: Jael, ‘n rigter in eie reg. Sy is…

  1. ‘n hamerhou vir afwesige manne
  2. ‘n tentpen-steek vir onwillige stamme
  3. ‘n stille getuienis van ‘n almagtige God

 

1. “Maar ná die dood van Ehud het die kinders van Israel weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.” Presies wat die Here in hoofstuk 2:19 gesê het, het gebeur: “wanneer die rigter dood was, het hulle nog erger as hulle vaders gehandel deur agter ander gode aan te loop…” Ja, gemeente, ons staan weer aan die begin van ‘n nuwe siklus. En hierdie keer was dit die Kanaaniete, onder leiding van koning Jabin, wat as instrument van die Here moes dien om die volk te onderdruk. Twintig jaar lank word Israel onderdruk deur Jabin, en veral deur sy wrede leërowerste, Sisera, die man met die negehonderd strydwaens.

Opmerklik egter, wanneer die volk uiteindelik die Here aanroep, dan het die Here nie nodig om ‘n nuwe rigter op te wek, soos wat in die meeste van die ander rigter-siklusse die geval is nie. Want daar is alreeds een! Debora. ‘n Vrou. “O, het die emansipasie tóé al onder God se volk toegeslaan? En moet ons nie dalk tog maar die tendens volg en vroue in die ampte toelaat nie? Want kyk: Debora!” Gemeente, Debora was allesbehalwe geëmansipeerd, sy was allesbehalwe ‘n mannetjiesvrou. Sy was nie die onafhanklike vrou wat so baie mense haar wil maak nie. Nee, die skrywer doen die moeite om hierdie detail-puntjie onder ons aandag te bring: sy was die huisvrou van Lappidot (4:4). Sy was iemand se vrou; sy was getroud, en dus nie onafhanklik van haar man nie! “Máár sy was nogtans ‘n rigter, en boonop ook ‘n profetes.” Ja, hoekom? Want “leiers het ontbreek in Israel, ontbreek; totdat ek, Debora, opgestaan het, ek, ‘n moeder in Israel, opgestaan het” – só sê Debora in hoofstuk 5:7. Daar was dus nie manlike leiers in Israel nie, en daarom dat Debora – ‘n moeder, ‘n vrou – deur die Here gebruik word!  

 

Maar wat was dan die probleem? Almal oorsee vir werk? Te besig in hulle gesinne? ‘n Te kort aan gawes? Ons weet nie. Maar die Here laat ons wel iets proe van die houding van die manne in Israel in daardie tyd. Want toe Debora vir Barak laat roep en aan hom die opdrag van die Here oordra om Sisera te gaan verslaan – let op hoe die Here én Debora steeds die manne inskakel – en daarmee saam aan hom die versekering gee dat hy die oorwinning sal behaal, dan is Barak se reaksie: “As u met my saamtrek, sal ek gaan; maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie” (vers 8). Proe u hierdie reaksie? Dit is nie ons intensie om Barak swart te smeer nie – hy word nie verniet deur die Hebreërskrywer as een van die voorbeelde van geloof in Hebreërs 11 genoem nie; daar is selfs nog iets goeds te sê vir Barak se optrede, want te midde van al die leierloosheid, gee hy nogtans ag op die roep van die Here deur hierdie vrou. Maar sy reaksie weerspieël wel iets van die tam en slap houding van die manne in Israel: God belowe die oorwinning – wat wil jy meer hê – maar nogtans eis hy dat Debora met hom moet saamgaan. Ja, gemeente, God kies hierdie vrou, omdat die manne van Israel hulle plig versuim het; God kies Debora om die manne te beskaam. Op hierdie geestelike dieptepunt in Israel se geskiedenis, skitter die manne in hulle afwesigheid.

In antwoord op Barak se versoek dat sy sal saamtrek, antwoord Debora: “Ek sal sekerlik met jou saamtrek, máár die eer sal nie joue wees op die pad wat jy sal gaan nie; want die HERE sal Sisera in die hand van ‘n vrou verkoop” (4:9). En só het dit gebeur dat Jael deur die Here ingeskakel word om Sisera se lewe te beëindig. Jael word ‘n teken vir die manne van Israel. Jael se hamerhou op Sisera se kop, is tewens ‘n hamerhou vir die afwesige manne van Israel. Want dit was húlle wat eintlik die leiding moes geneem het in die geestelike bekering van Israel, dit was húlle wat tou moes gestaan het om deur die Here gebruik te word vir die stryd teen Jabin en Sisera. Maar die leiers het ontbreek in Israel…

 

Dit laat ‘n mens wonder: die huidige diskussie rondom die vrou in die amp in kerke van gereformeerde belydenis – is dit ‘n diskussie wat gedryf word vanuit die emansipasie van die vrou, of dalk eerder vanuit die afwesigheid van die man? Natuurlik, dit is waarskynlik iets van beide. En kom ons wees eerlik: die twintigste-eeuse emansipasie-beweging is verseker iets waarop die kerk van Christus deeglik bedag moet wees. Maar die teken van Jael is nie ‘n hamerhou in die rigting van die emansipasie-beweging nie; nee, dit is ‘n hamerhou in die rigting van die afwesige manne. Dit is ‘n hamerhou wat ons mans wil laat wakkerskud, wat ons ons verantwoordelikhede weer wil laat raaksien. Gelukkig dat die Here nie van ons afhanklik is nie, soos wat Hy duidelik in die persone van Debora en Jael vir ons wys. Maar dit is nog geen verskoning vir ons, mans, om ons verantwoordelikhede te ontduik nie. Watter verantwoordelikhede?

Ek praat van daardie verantwoordelikheid wat ons as mans in ons gesinne het – nee, nie in die eerste plek om broodwinners te wees en merkklere te verskaf en die beste geleenthede vir ons kinders te bied nie, maar die verantwoordelikheid om geestelike leiers te wees. Om ons kinders in leer en lewe te begelei, om christenmans te wees waarna vrou en kinders kan opkyk, om voorbeelde te wees in ons erns met die Woord en in ons bybelstudie. Ek praat van daardie verantwoordelikheid wat ons as mans in die kerk het om van jongsaf alreeds leiding te gee – daar is tans jong broeders wat in die jeug die leiding neem, maar vir te lank was dit jong susters wat daardie verantwoordelikheid geneem het. Jong broeders, moenie toelaat dat dit weer gebeur nie. Nie omdat julle die dames daar wil uithou nie, maar omdat dit júlle taak is! Ek praat van daardie verantwoordelikheid wat ons as mans in die kerk het om gewillige ampsdraers te wees – ja, vanaf vandag word u weer opgeroep om name in te handig van broeders wat geskik geag word om in die amp van ouderling of diaken te staan. Dit is geen oproep aan die mans om aan verskonings te begin dink nie; dit is ‘n oproep om onsself eerlik voor die Here te ondersoek: is daar enige wettige rede hoekom ek nie hierdie verantwoordelikheid sou kon nakom nie?

Weereens, gemeente, die Here is nie afhanklik van enige iemand nie, ook nie van die mans in die kerk nie. Maar Hy gee hulle wel ‘n verantwoordelikheid. En die kerk ly daaronder wanneer die mans nie daardie verantwoordelikheid nakom nie. En moenie verbaas wees as die Here dan vroue begin gebruik om die mans se werk te doen nie! Dit is presies wat die Here met Debora en Jael gedoen het. Debora en Jael was nie geëmansipeerde vroue nie; nee, hulle was gehoorsame vroue. Teen die skeppingsorde in, betoon hulle hul gehoorsaamheid, want die mans skitter in hulle afwesigheid…

In die tweede plek: Jael is ‘n tentpen-steek vir onwillige stamme.

 

2. Barak gaan nie alleen uit in die geveg nie. Behalwe dat hy Debora versoek om saam met hom te gaan, kry hy ook nog van die Here die opdrag om tienduisend man uit die stamme van Naftali en Sebulon op te kommandeer vir die geveg teen Sisera (4:6). En dit is presies wat hy gedoen het – hy het Sebulon en Naftali bymekaargeroep, en tienduisend man het op sy voetspore opgetrek (4:10). Uit Debora se lied wil dit vervolgens voorkom asof daar selfs nog meer stamme uit Israel betrokke was by die geveg. In hoofstuk 5:14 en 15a word daar immers met lof gepraat van verskeie ander stamme.

Daar is die stam van Efraim, die stam wat sy wortel in Amalek het. Waarom hierdie verwysing na Amalek? Wel, uit Rigters 12:15 wil dit voorkom asof Efraim gewoon het op die voormalige grondgebied van een van die stam van die Amalekiete. Verder is daar die Benjaminiete wat manskappe gestuur het. En daar is Magir, wat verwys na die stam van Manasse, wat aanvoerders gestuur het. En dan was Sebulon natuurlik ook betrokke, soos wat ons reeds gehoor het. Waarskynlik het die stam Sebulon selfs die leiding geneem in die oorlog, want Debora sê in die laaste woorde van vers 14 dat Sebulon met die werwerstaf uitgetrek het. En ten slotte word die stam van Issaskar ook nog met eer vermeld – hierdie stam was lojaal aan Debora en Barak. Buiten Sebulon en Naftali, wat deur die Here self opgeroep word, is daar dus nog talle ander gewillige stamme. En ons sien dan ook dat Debora die Here in verse 2 en 9 hiervoor prys: “Omdat aanvoerders aangevoer het in Israel, omdat die volk hom gewillig getoon het – prys die Here!”

 

Maar nie alles is wel in Israel nie…

Want teenoor die dankbaarheid vir dié stamme wat wel vir die Here opgetrek het, is daar ook die teleurstelling oor ‘n aantal stamme wat dit nie belangrik genoeg geag het om saam in die oorlog uit te trek nie. Daar is die teleurstelling oor die stam van Ruben. Dit was nie asof Ruben dit nie oorweeg het om op te trek nie; o nee, die Rubeniete het die saak lank en diep deurdink: die voornemens van die hart was groot (kyk maar na verse 15b en 16b). Maar dit was nie ‘n goeie tyd om die skape alleen agter te laat nie; hulle het dit wyser geag om tussen die troppe vee te bly sit (5:16). Daar is die teleurstelling oor Gilead, wat ‘n verwysing is na die stam van Gad, wat rustig oorkant die Jordaan gebly het. Daar is die teleurstelling oor die stamme van Dan en Aser wat skynbaar te besig was met hulle belange in die skeepvaart. Ekonomiese belange het hulle weerhou om te veg vir die saak van die Here.

En dan is daar ook nog die teleurstelling – ons kan dit selfs nog sterker stel: die vloek van die Engel van die Here – oor Meros (5:23) omdat hulle die HERE nie tot hulp gekom het nie. Helaas weet ons vandag nie meer wie of waar Meros was nie, maar ons kan wel aflei waarmee ons hier te make het wanneer ons die vervloekte Meros van vers 23 in kontras sien met die geseënde Jael van vers 24. In daardie lig verteenwoordig Meros dáárdie Israeliete wat aan die kant van die Kanaaniete gaan staan het, wat goeie buurskap met die heidene aangegaan het; die geseënde Jael, daarenteen, verteenwoordig daardie nie-Israeliete wat aan die kant van Israel gaan staan het, vir wie Israel se God ook hulle God was.

 

Dus, gemeente, waarmee ons hier te make het, is Israeliete – stamme en individue uit God se volk – wat die stryd teen die vyande van die Here en teen die vyande van die volk nie belangrik genoeg geag het om saam met die res van die volk in die stryd uit te trek nie. In Nuwe Testamentiese taal: ons het hier te make met lede van die volk Israel, wat in antwoord op die roep van die Here allerhande verskonings het: “Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog… Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog… Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie” (Luk. 14:18-20). U hoor hier die Here Jesus se gelykenis in Lukas 14?

Dít is waarmee ons hier te make het. Noemenswaardige dele van Israel versuim die roeping om as eenheid, as God se een volk, die stryd aan te gaan. En ook vir hulle word Jael gevolglik ‘n teken. Wanneer die volk versuim, dan roep God iemand wat nie van sy volk is nie, om die vyand te verslaan. Vervloek is diegene wat hulleself afsydig hou van die stryd om die behoud van God se volk, ‘n stryd wat uiteindelik gaan oor die koms van die Messias. En geseënd is sy, ‘n nie-Israeliet, wat verstaan het wat hier op die spel is en dienooreenkomstig opgetree het.

 

Gemeente, Psalm 110 wat ons voor die preek saam gesing het, leer ons van ‘n volk wat graag die Koning van Sion wil navolg: in diensplig een en al gewilligheid. Dit leer ons van ‘n kerk wat gewillig agter Koning Christus aangaan om die stryd te voer teen die duiwel, elke mag wat teen God opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen God se Woord bedink word (soos wat ons leer in Sondag 48 van die Kategismus). ‘n Kerk wat al strydende die tweede bede bid: “Laat u koninkryk kom.”

Maar hoe hartseer en teleurstellend is dit wanneer daar in die kerk nog steeds te veel mense is wat nie saam die stryd voer nie. Ook in hierdie gemeente is dit die geval. ‘n Groot deel van die gemeente voer die stryd, is betrokke by God se oorlog teen die kwaad in ons lewe en die aanvalle van die satan teen die kerk. Prys die Here vir gewillige aanvoerders (die ampsdraers) en ‘n gewillige volk! Maar daar is ook ‘n deel wat hulle van hierdie stryd afsydig hou. Dit is lidmate wat altyd verskonings het om nie betrokke te wees in die gemeente nie. Selfs lidmate wat nie eens meer verskonings het nie, maar eenvoudig botweg weier om betrokke te wees. Lidmate wat dalk getrou in die eredienste sit, maar wanneer dit kom by die aktiewe kerklike lewe en meelewe, nêrens te bespeur is nie. Lidmate waarvan die voornemens van die hart groot is – hulle belowe met hand en mond dat hulle betrokke sal raak – maar wanneer die tyd aanbreek om dit met die daad te bewys, dan besluit hulle tog maar daarteen…

Broer en suster, as jy een van hierdie lidmate is, dan word jy vandag persoonlik deur die Engel van die Here gewaarsku teen die gevare van en die vloek op hierdie kerklike apatie. Die Here mag dalk net besluit om Hom te wend tot diegene wat nie sy volk is nie, en diegene verwerp wat daarop roem dat hulle wel sy volk is. Kom ons wend ons tot Hom, en ons bekeer ons van ons onbetrokkenheid en apatie. En dit beteken méér as net dat jy by elke kerklike aktiwiteit aanwesig is – nee, dit gaan oor ‘n gees van meelewe, dit gaan oor ‘n hart vir jou broers en susters, dit gaan oor intense gebed vir diegene wat hier om jou heen sit. En ja, dit vra selfopoffering. Om kerklik saam te leef en saam te stry, vra dat jy jouself gee. Moenie dat eiebelange jou daarvan weerhou nie. Mag die Here gee dat die eenheid van hierdie gemeente ook werklik as ‘n eenheid sal begin funksioneer, waar elke lidmaat betrokke is op sy of haar plek.

En dan ten slotte: Jael is ‘n stille getuie van ‘n Almagtige God.

 

3. Weet u, gemeente, ek sou nie vir Jael gekies het nie. ‘n Vrou… ‘n Nie-Israeliet… Nee, ek sou ‘n sterk, Israelitiese held gekies het. Daar moes sekerlik een van hulle daar rondgeloop het. Maar ‘n heidense vrou?! Die mees onwaarskynlike persoon word deur die Here as rigter ingeskakel! En tog is dít die persoon wat die Here gebruik om in haar sy krag te vertoon. En van daardie krag sing Debora dan ook in die eerste klompie verse van haar lied: “Hoor, o konings! Luister, o vorste! Ek, tot eer van die Here wil ek sing, tot eer van die Here, die God van Israel, wil ek psalmsing” (5:3).

Hoekom? Wel, kyk maar na verse 4 en 5. In alles wat in hierdie stuk geskiedenis gebeur het, het God naamlik Homsélf geopenbaar! Die Here word hier voorgestel as ‘n Kryger wat uitgetrek het uit Seir, wat ‘n verwysing is na Edom in die suide. Dít is die rigting waarvandaan die volk gekom het net voordat hulle in die beloofde land ingetrek het. En in sy koms laat die Here die aarde bewe, die wolke laat hulle water vry, en die berge wankel voor sy aangesig. En veral op die Sinai (vers 5), ja, veral dáár het die Here Homself aan sy volk geopenbaar. Dáár het Hy, te midde van wolke en donderslae en bliksemstrale, in ‘n verbond getree met sy volk. Dáár het Hy belowe om hulle God te wees en het Hy hulle formeel sy volk gemaak. En van daar af het Hy hulle deur Seir en Edom gelei tot in die beloofde land. Die huidige oorwinning is dus nie ‘n geïsoleerde geval nie. Nee, dit is deel van God se oorloë ten bate van sy volk Israel, vanaf daardie tyd alreeds. En dit wys vir ‘n Baal-gefassineerde volk: die God wat Israel vanaf die Sinai tot hiertoe gebring het, dit is Hy wat soewereine heerskappy het. Dit is Hy wat regeer! Sodanig dat Hy selfs ‘n heidense vrou kan gebruik om dit te bewys. In Jael blyk die grootheid en die soewereiniteit van Israel se God! Sy is ‘n stille getuienis van ‘n Almagtige God.

 

Weereens: ek sou nie vir Jael as rigter gekies het nie. Maar net so goed sou ek ook nie vir Jesus Christus as Rigter gekies het nie: verag, deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid (Jes. 53). Sy kruisiging is ‘n wreedheid waarvan ons nie hou; dit klink so primitief, so barbaars. Sy houding is een wat ons teen die bors stuit: soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders. “Jesus, maak oop jou mond, baklei, wees ‘n held!” Maar dit is juis in hierdie veragte en verlate Man dat God se krag tot redding van sy volk so wonderlik na vore kom. In die dwaasheid van die kruis, in die veragtelikheid van die man van Nasaret, daarin lê die krag van God Die evangelie van Jesus Christus is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.

Jael was die mees onwaarskynlike rigter, Jesus die mees onwaarskynlike Messias. En tog is Hy die Redder van afwesige mans en onwillige kerklidmate. Tog is Hy die Verlosser wat elkeen van ons so nodig het. Tog is sy optrede aan die kruis op Golgota die hamerhou vir die duiwel wat die toekoms van God se volk bedreig; Hy het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8). Sy optrede is die tentpen-steek vir die dood, sodat ons kan uitroep: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55). Of ons nou afwesig of aanwesig in die gemeente is, onwillig of betrokke, kom ons gaan skuil almal saam by hierdie grootste van alle rigters. By Hom is daar veiligheid teen al ons vyande, by Hom is daar ‘n toekoms vir die kerk, net soos wat die Here die toekoms van Israel veilig gestel het teen al die omringende volke. En juis daarom  wil ek die Here prys vir al sy reddingsdade. Ek wil Hom prys wat vanaf Sinai opgetrek het, wat by Golgota verbygetrek het, en wat die nuwe Jerusalem verseker gaan binnetrek. Ek wil Hom loof wat onwillige en afwesige sondaars, soos jy en ek, saam met Hom neem na die beloofde land. Deur Jesus Christus, ons Here! Jael se optrede getuig ook dáárvan, gemeente.

Gryp hierdie boodskap aan, gryp Jesus Christus aan! Ek sou Hom nie gekies het nie, maar God het Hom vir my gegee. Hy is die steen wat die bouers verwerp het, maar wat ‘n hoeksteen geword het. Bou op Hom, aanwesig en gewillig.

Amen

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 94:2, 3, 8, 9 en 12

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 122 (vroue 1e twee reëls, mans volgende twee reëls, res almal saam)

Wetslesing

Sing Ps. 55:7 en 10 (stryd teen aanvegtinge)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Gebed

Lees:    Rigters 4:1-10, 17-21

Rigters 5

Sing Ps. 110:1-4

Teks: Rigters 5:24-27

Preek

Amenlied Ps. 108:2-4

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 31:2 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)