Die optrede van die gek bied die konteks, maar die optrede van die Here bepaal die uitkoms!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-03-02
Text: 
Psalm 34:9 & 12
Preek Inhoud: 

Psalm 34:9 en 12

Ds HH van Alten - Sondag 2 Maart 2008

Lees: 1 Samuel 21, Psalm 34
Teks: Psalm 34:9 en 12
Sing: Sien liturgie

Tema: die optrede van die gek bied die konteks, maar die optrede van die Here bepaal die uitkoms! En juis daarom:

  1. word ons opgeroep om op die Here te vertrou;
  2. word ons geleer om vanuit daardie vertroue te lewe

Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,

Nood en probleme, moeites en sorge, onaangenaamhede en probleemsituasies – dit alles is nie onbekend vir die gelowige nie. Uit eie ervaring kan ons daarvan getuig dat ons erge probleme kan ondervind, moeites kan hê, soms selfs swaar moet ly. En in navolging van die Skrifte praat ons ‘kerklike papiere’ op verskeie plekke daaroor. Dink maar aan die doopsformulier waar ons geleer word dat die Vader alle kwaad van ons wil afweer, of tot ons beswil beskik. Dus, daar is tye wanneer die Here ons spaar van die kwaad, maar daar is ook ander tye wanneer Hy toelaat dat dit ons tref. Uiteraard tot ons beswil, maar nogtans… Dink ook aan die formulier vir die bevestiging van die huwelik waarin ons lees dat die getroudes bekommernisse, moeites en verdriet nie sal vryspring nie, juis as gevolg van die sonde wat daar nog in die wêreld is. En ‘n laaste voorbeeld: in Sondag 16 leer die Kategismus my dat Christus se neerdaling na die hel my in my swaarste aanvegtinge troos en verlos – my swaarste aanvegtinge; ja, die aanvegtinge word soms baie hewig.

Ons sal dus almal saamstem dat die gelowiges in hierdie lewe nog nie sondevry en probleemvry is nie. Daarby hoef ons nie verder stil te staan nie… 

‘n Vraag waarby ons egter wel sal moet stilstaan, is: hoe gaan ons om met die probleme en moeites waarmee ons in ons lewens te make kry? Hoe hanteer ons die nood en moeites in ons lewens? Hoe tree ons op in die probleemsituasies waarin ons óf deur ons eie toedoen, óf deur die optrede van ander beland het? Is my probleme slegs myne wat ek op my aangeleerde doen-dit-self manier probeer oplos? Is ons as’t ware christelike MacGyvers wat vir elke netelige situasie ‘n oplossing kan bewerk?

En nog ‘n ander vraag wat hierby aansluit: wanneer die probleem opgelos word, en ons uit die moeites kom, hoe reageer ons dan? Beroem ons onsself in ons eie vindingrykheid om uit die probleme te kom? Is ons bly dat ons vry is, maar niks meer nie? Broers en susters, Psalm 34 wil ons vandag lei en help met hierdie soort vrae.  

Tema: die optrede van die gek bied die konteks, maar die optrede van die Here bepaal die uitkoms! En juis daarom:

  1. word ons opgeroep om op die Here te vertrou;

  2. word ons geleer om vanuit daardie vertroue te lewe

1. Dawid is die koning wat deur die Here gesalf is in die plek van Saul. Ja, dit moes in die geheim gebeur, want Saul was op daardie stadium nog wel die amptelike koning. Maar alhoewel Saul nog die amptelike koning was, lees ons in 1 Samuel 16:13 dat die Gees van die Here van die dag van sy salwing af oor Dawid vaardig geword het. Die Gees wat eers oor Saul vaardig was (1 Sam. 10:6 en 10), kom nou op die gesalfde van die Here, Dawid. En dit blyk ook later by die oorlog teen die Filistyne (1 Sam. 17): terwyl almal bang was vir die reus Goliat, is Dawid bereid om teen hom te gaan veg in die krag van die Here. En hoewel Goliat hierdie seun verag het wat met sy stokke na hom toe gekom het asof hy ‘n hond is, het Dawid nogtans gegaan in die Naam van die Here van die leërskare – en hy het gewen … in die geloof!

Saul voel ook sommer dadelik aan dat iets verander het. Die Gees van die Here het van hom gewyk (1 Sam. 16:14) en het oor Dawid vaardig geword. Dit is vir Saul ‘n onaangename gewaarwording. En as die vroue dan ook nog sing van Saul wat sy duisende verslaan het, maar Dawid sy tienduisende, dan is dit vir Saul een te veel. Hy voel woede en haat en vrees vir Dawid – alles tegelyk. En dan lees ons in 1 Samuel 18:9: “En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad.” Saul het daarna gesoek om Dawid dood te maak, ‘n obsessie wat naderhand so sterk geword, dat dit vir Dawid nie meer veilig in Jerusalem was nie. Hy moes vlug… 

Maar, gemeente, wanneer Dawid so in die verdrukking kom, so opgejaag word, dan kom daar skielik krakies in die geloofsmoed, wat tydens die geveg met Goliat so pragtig na vore gekom het. Dan word dit skynbaar vir hom nodig om desperate stappe te neem om te ontsnap en aan die lewe te bly.

Tydens sy vlug stop Dawid eers by die priester Ahimeleg in Nob. Nob is die priesterstad naby Jerusalem. Dawid soek dus hulp by God. En tog het hy op hierdie stadium alreeds iets van sy vertroue verloor. Hy gaan nou nie meer so sterk oppad in die krag van God nie; uit verskeie punte blyk dat hy sy krag in homself begin soek. Dawid begin dinge organiseer. Eers jok hy vir die priester deur voor te gee asof hy op een of ander hoogs geheime sending namens koning Saul is. Die priester, wat nie van beter geweet het nie, gee vir Dawid van die toonbrode om van te eet – terloops, dit is ‘n optrede waarna Jesus later in ‘n positiewe sin verwys. Maar behalwe brood vra Dawid ook vir wapens. En ja, toevallig is die swaard van Goliat nog daar, toegedraai in ‘n mantel. Die swaard van Goliat – hierdie swaard was die tasbare bewys van God se mag vir dié wat op Hom vertrou. Want toe Dawid in die krag van die Here teen hierdie swaard gaan veg het, kon dit niks uitrig nie. Toe was Dawid sterk in die Here. Maar nou … nou hoor ons Dawid van hierdie swaard sê: “Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my.” So gaan Dawid oppad, nie in die krag van die Here nie, maar met die swaard van Goliat. En dan vlug hy – ironies genoeg – ook nog na Gat, die stad van … ja, die stad van Goliat. Gemeente, hoe wanhopig moes Dawid nie gewees het nie om te vlug na hierdie stad van die Filistyne, as’t ware die aartsvyande van die volk van die Here. Waar is Dawid se geloof nou? 

Ons is egter nie die enigstes met vrae oor Dawid se optrede nie. Die dienaars van Agis, koning van Gat, beskou Dawid se aankoms by hulle ook as ‘n vreemde optrede. Ja, die dienaars van Agis weet wie hy is, hulle noem hom selfs “die koning van die land” (1 Sam. 21:11). En wanneer Dawid dít hoor, vrees hy tereg vir sy lewe, want watter koning gaan toelaat dat ‘n vreemde, vyandige koning sommerso sy land binnestap? Dawid besef hy is diep in die knyp, en hy sien net een uitkoms: hy hou homself kranksinnig deur speeksel by sy baard te laat afloop en deur prentjies op die deure van die stadspoort uit te krap.

Nou moet ons verstaan, gemeente, dat die mense van daardie tyd doodsbenoud was vir kranksinniges – hulle is beskou as mense waarin bose magte werksaam was. Almal in Gat is daarom bang vir Dawid, ook koning Agis. Hy wil dit miskien nie wys nie, maar sy optrede getuig daarvan. Hy laat Dawid uit vrees wegjaag: “Waarom bring julle hom na my toe? Ek het geen gebrek aan gekke nie…” (1 Sam. 21:14-15). Ja, Dawid die gek, die man wat met sy kleingelowige optrede vir ons die konteks skep van Psalm 34; Dawid, wat soos ‘n mal mens uitkoms probeer bewerk het uit die nood waarin hy homself gedompel het – gee vir ons die agtergrond van hierdie psalm. 

Maar, broers en susters, voordat ons nou Dawid se optrede veroordeel, is dit tog goed om by onsself te rade te gaan oor hoe óns in moeilike situasies optree. Wat doen óns wanneer die nood druk, wanneer ons in die probleme beland? Is ons dan nie ook geneig om na wanhoopsmiddele te gryp nie, hardloop ons dan nie ook soos mal mense rond op soek na ‘n oplossing nie? Ons soek oral om ons heen na moontlikhede, maar opkyk na bo…?

Miskien ken ons kinders by die skool dit baie goed… Jy het iets verkeerd gedoen, en jy weet dat daar probleme vir jou wag wanneer meneer of juffrou dit agterkom. Daarom soek jy na enige middel om uit die nood te kom. Jy sal miskien jok, jy sal maak asof dit omstandighede buite jou beheer was, jy sal selfs vir ‘n ander die skuld gee – solank as wat jy maar net uit hierdie penarie kan kom. En, gemeente, dit wat vir die kinders by die skool geld, geld ook vir elkeen van ons in ons daaglikse lewens. Almal van ons beland soms in noodsituasies waaruit ons onsself met ongeoorloofde middele probeer uitwerk. Miskien is jy finansieel in die knyp, en gryp jy na enige kitsoplossing om jou daaruit te kry? Miskien het jy in jou huwelik oortree, en probeer jy op alle moontlike maniere om dit toe te smeer? Dalk is jy gevang toe jy een van die landswette oortree het, en ontduik jy sover moontlik die gereg? Moontlik het dit uitgekom dat jy iets deurvertel het, wat iemand in vertroue aan jou vertel het, en soek jy na verskonings hoekom dit nodig was? Talle moontlike situasies doen homself hier aan ons voor, en talle moontlike maniere om met hierdie noodsituasies om te gaan, skiet deur ons kop. En wie weet, dalk werk dit ook nog… 

Ons weet in elk geval dat Dawid se plan gewerk het. Die koning en inwoners van Gat wil so gou moontlik van hierdie kranksinnige ontslae raak. Dawid ontvlug uit Gat, iets wat hy waarskynlik nie verwag het nie. Wat is nou Dawid se reaksie op hierdie ontvlugting? Sê hy: “Sjoe, nou het ek die Filistyne darem maar mooi om die bos gelei”? Het hy selfvoldaan sy hande gevryf en gesê: “Dit het ek nou goed gedoen”? Is dit hoe Dawid dink, broers en susters?

Nee, Dawid dink heeltemal anders hieroor. En dit sien ons wanneer ons in Psalm 34 verder lees as net die konteks. Dawid sê in verse 5 en 7: “Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered… Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.” Ons kom agter dat, terwyl Dawid daar in Gat soos ‘n kranksinnige loop en kwyl het, daar ‘n noodkreet in sy hart was: “Here, help!” Miskien herken u dit van die tye wanneer u in nood verkeer – koorsagtig soek ons dan na oplossings, na middele om uit die situasie te kom, maar intussen skreeu dit in ons harte: “Here, help!” En wonder bo wonder is hierdie gebed van Dawid verhoor. Dawid sien in sy ontkoming uit Gat daarom ook nie sy eie slimheid nie, maar die goedheid van die Here! Dawid leer sien dat agter sy selfgebakte plannetjie die Here aan die werk is! Dawid besef dat sy optrede die konteks geskep het, maar dat die Here in sy genade die uitkoms gebied het! 

En dan nooi hy almal uit om saam met hom daarvan te geniet: “Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef… Smaak en sien dat die HERE goed is.” Die Here is so goed dat Hy selfs sy kinders wat hulleself in die probleme gestort het, en wat daarna ook nog probeer om self daaruit te kom, dat Hy hulle op wonderbaarlike wyse verlos. Dawid het leer sien hoe hy, toe hy in die nood gekom het, skielik probeer het om self die oplossings te voorsien, dat hy in eie krag sy situasie probeer hanteer het. En hoewel hy, menslik gesproke daarin geslaag het, bely Dawid dat dit ten slotte tog die Here was wat die uitkoms gebied het, dat dit die Engel van die HERE was wat rondom hom sy laer getrek het. Die Engel van die Here, die Seun van God in sy Ou Testamentiese verskyning, Hy is die Een wat Dawid uitgered het. En daarom maak dit skielik vir Dawid soveel sin om by Hom te skuil, letterlik: in Hom te skuil, binne sy veilige laer te bly. Dawid het geleer dat wie dit doen, nooit gebrek sal lei nie. Selfs die leeu, die koning van die roofdiere, die mees selfonderhoudende van alle diere, moet soms honger ly. Maar dié wat in die Here sy genoegsaamheid vind, sal nooit gebrek ly nie. Ja, welgeluksalig is die man wat by Hom skuil! 

Welgeluksalig is die ‘man’ – gemeente, die woordjie ‘man’ wat hier gebruik word, dui baie spesifiek op ‘n sterk jongman, ‘n jongman in die krag van sy lewe. Hierdie jongman is in staat om baie dinge te doen, en hy sou ook graag baie dinge wou doen. Maar hierdie sterk jongman word geluk gewens wanneer hy juis nie op sy eie krag staatmaak nie, maar op die Here! Baie geluk aan die man wat só gróót geword het, dat hy ‘n kind geword het. Dit is wat Dawid, nadat hy uit sy nood verlos is, weer leer insien het.

Broers en susters, om te groei in die geloof, en om te groei in jou vertroue op die Here, is die totale teenoorgestelde van die gewone groei vanaf ‘n kind na ‘n volwassene, soos wat ons dit ken. Ons kinders word groot, hulle leer selfstandig dink en doen, en dan prys ons hulle en sê: “Mooi so, jy kan dit al self doen!” En dit is reg so – in die gewone dinge van die lewe moet ons kinders selfstandig word. Maar wie groot word in geloof en vertroue, hoor in Psalm 34: “Mooi so, jy doen dit nie meer self nie!” In die geloof moet ons ons selfstandigheid verloor. Die groei in die geloof is in presies die teenoorgestelde rigting as waaraan ons gewoond is – nie van kind na selfstandige volwassene nie, maar juis andersom. En dit maak dit vir ons vreemd, gemeente, dit maak dit vir ons ongewoon, dit maak dit vir ons moeilik. Ons kan nie uit onsself tot daardie insig kom nie. God moet ons laat groei in die geloof, die Heilige Gees moet ons laat toeneem in geloofsvertroue! Ons moet geleer word om die paradoks van die geloofsvolwassenheid te aanvaar en uit te leef. 

Hoe volwasse is jy? Kan jy alles al self doen? Mooi so!

Maar hoe volwasse is jy in die geloof? Het jy al afgeleer om alles self te doen? Het jy al afgeleer om in die nood jou eie oplossings te versin? Mooi so: Welgeluksalig is die man wat by die Here skuil!

Wanneer ons dit leer doen het, dan leer ons wat dit is om op die Here te vertrou, om by Hom te skuil. En dan gaan dit hier nie in die eerste plek oor die verskillende noodsituasies waarin ons moontlik by die werk, by die skool, of in ons huwelike kan beland nie, maar dan gaan dit veral oor die nood wat agter alle noodsituasies is – die nood van my sonde. Daar lê die wortel van my begeerte om selfstandig te wees en die probleme self op te los, daar lê wortel van my wil om kamtig volwasse te wees, daar lê die wortel van al ons gekheid – en juis daar het ons ten diepste nodig dat die Engel van die Here sy laer om ons heen trek, die laer van Jesus Christus se verlossingsbloed waarin ek leer om weer kind te word en myself oor te gee. Daar binne vind ons geborgenheid by die Here – Hy trek ‘n laer om ons heen, sy engele bewaar ons voet sodat ons nie struikel nie, sy Vaderarms dra ons deur die lewe. Wat sou ek vlees dan vrees?  

Kom proe hierdie geborgenheid, broers en susters, klim maar op die skoot van jou Vader, en stel jou vertroue in Hom. Word weer kind in die geloof – en dit geld in besonder vir die volwassenes. Omdat ons in alles so selfstandig is, het ons soveel moeite daarmee om in die geloof klein te wees. Die kindertjies is dikwels vir ons ‘n voorbeeld. En Jesus gebruik ook hierdie voorbeeld van die kindertjies wanneer Hy in Markus 10 sê: “elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Kom ons laat staan ons gekheid, broers en susters, en vertrou op God om in alle situasies uitkoms te bied.

Psalm 34 leer ons vervolgens om ook vanuit daardie vertroue te lewe – dit is die tweede punte. 

2. Vanaf vers 12 verander die toon van Psalm 34 heeltemal. Waar hierdie psalm in die eerste gedeelte baie sterk ‘n danklied vir verlossing was, word dit vervolgens baie meer ‘n onderwysende psalm. Ons hoor baie sterk die klank van die wysheidsliteratuur. Luister maar net na vers 12 waar die onderwyser vir sy leerlinge sê: “Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer.” Ja, Dawid het uit sy ervaring geleer, en nadat hy die Here vir die verlossing gedank het, wil hy tog ook ‘n baie belangrike les aan sy volk, sy mede-gelowiges, deurgee. Hy wil nie hê dat hulle dieselfde fout as hy sal maak nie. 

Hy begin in vers 13 met ‘n vraag: “Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien?” Dit is ‘n vraag na ware lewensvervulling, na ‘n egte betekenisvolle lewe. Die antwoord op die vraag volg in ‘n aantal bevele: bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na” (verse 14-15). Gemeente, dit is opmerklik om hierin ‘n refleksie te sien van juis dié dinge waarin Dawid gefaal het in die geskiedenis waarna ons sopas gekyk het. Sy woorde teenoor die priester in Nob was immers bedrieglike woorde, en sy uitspraak oor die swaard van Goliat was ‘n verkeerde uitspraak, wat gespreek het van kleingeloof. En verder was sy vlug na Gat en sy kranksinnige optrede daar nie die goeie optrede wat die Here van hom verwag het nie. Ja, Dawid het sélf probeer om oplossings te soek vir sy nood, en dit het hom in sy woorde en dade noodwendig in stryd gebring met wat God van hom gevra het. En dit geld vir elkeen wat self die oplossings wil aandra, wat sy eie uitkoms wil bewerk – dit gaan altyd daartoe lei dat jy die waarheid sal moet verdraai, dat jy verkeerde dinge sal moet doen. Die gek wat homself wil red gaan altyd in stryd kom met die wil van God. Wie egter vrede met God wil hê, moet juis daarna streef om gehoorsaam en getrou te wees aan die Here.  

En juis hiermee sukkel ons, broers en susters. Om eenvoudig gehoorsaam en getrou te wees, is vir ons dikwels nie goed genoeg nie. Want, redeneer ons, gehoorsaamheid los nog nie my nood op nie; getrouheid help my nog nie uit my probleemsituasie uit nie. Nee, gehoorsaamheid en getrouheid op sigself doen dit nie – heeltemal waar. Maar gehoorsaamheid en getrouheid plaas ons wel in die regte verhouding met die Here. Die gehoorsame en getroue kind is die regverdige waarvan vers 16 praat – die regverdige op wie die Here sy oë rig, na wie se hulpgeroep hy luister, en wie hy red uit al hulle benoudhede. Om die Here te vrees en te doen wat Hy van jou vra, mag jou daarvan verseker dat Hy aan jou kant is.

Gehoorsaamheid aan en vertroue op die Here is dus geen waarborg dat die lewe van die gelowige probleemvry sal verloop nie. Inteendeel, in vers 20 hoor ons selfs dat die teëspoede van die regverdige menigvuldig is. Maar die gelowige moet leer om daardie menigvuldige teëspoede nie self te probeer oplos nie. Nee, die Hére red die regverdige uit al sy teëspoede. Die Hére red al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie.  

Ons hoor hier in vers 21 ‘n verwysing na Johannes 19:36 waar daar van die Here Jesus gesê word dat Hy alreeds dood was toe die soldate by Hom gekom het, en dat sy bene daarom nie gebreek is nie. Ja, Hy was die Regverdige by uitstek, die sondelose Offerlam. En daarom dat die Here Hom, as dié Regverdige, ook aangesien het, sy offer aanvaar het. Dit is deur Hom dat daar uitkoms is uit ons diepste nood, die ellende van ons sonde. Deur Hom verlos die Here die siel van sy knegte, en hoef hulle nie te boet nie (vers 23). Daarteenoor roei die Here die gedagtenis van die kwaaddoeners van die aarde af uit, Hy maak hulle dood, en hulle moet boet wanneer hulle sy kinders gehaat het.

Gemeente, dít is die duidelike swart-wit siening wat die Here oor die regverdiges en die onregverdiges het. Die regverdiges mag lewe deur sy genade, die onregverdiges sal vergaan. Al wat Hy van die regverdiges vra, is dat hulle Hom sal vrees, dat hulle hul lewens aan Hom sal oorgee in volle vertroue, en dat hulle vanuit daardie vertroue elke dag gaan lewe. En dit gee geweldige rus. Ons hoef nie onrustig te soek na oplossings vir elke moeite nie; ons hoef nie rond te jaag, opsoek na antwoorde vir elke noodsituasie nie. Nee, lewe voluit vir die Here in woorde en dade, soek sy wil in alles – doen dit blindelings – en dan hoef jy jou nie gek te hou in moeilike situasies nie. Want Hy verskaf die uitkoms, Hy red ons om Christus ontwil.

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 124:1 en 2
Wetslesing en 1 Joh. 2:1-2
Sing Ps. 124:3 en 4
Gebed
Lees:  1 Samuel 21
      Psalm 34
Sing Ps. 56:1 en 2
Teks: Psalm 34:9 en 12
Preek
Amenlied Ps. 34:6, 8 en 9
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 56:3 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
 

Liturgie: 

(kyk in preek)