Die gebed om die wil van Vader te doen

Minister: 
Ds RH Bremmer
Church: 
(onbekend)
Date: 
1990-01-01
Text: 
HK Sondag 49
Preek Inhoud: 

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Ons almal ken mos die geskiedenis van die jong seun Samuel wat die hoepriester Eli gehelp het. Een nag het hy 'n stem gehoor wat geroep het 'Samuel' Eli het die seun toe aangeraai om as hy dit weer hoor te se: 'Praat Here, u dienaar luister!' Toe het Samuel die verskriklike boodskap oor die huis van Eli ontvang, vanwee die goddeloosheid waarin sy seuns lewe. Die Here het toe sy oordeel oor die huis van Eli aangekondig en gese: "Ek gaan 'n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit..... Daarom bevestig Ek met 'n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie. " Die boodskap was so vreeslik dat Samuel dit nie aan Eli het durf oorbring nie.

Eli het egter aangehou vra: "Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie" Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie. En Eli het gese: "Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil. " Eli het berus in dit wat die Here gese het. Gemeente dit was 'n valse berusting. Eli het nie opgeskrik nie. Hy het hom nie vir God verootmoedig vanwee die vloek wat sy seuns oor hulle gebring het en daaroor dat hy hulle nie bestraf het nie.

Eli het die oordeel van God lydelik aanvaar, deur te se: "Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil. " Daar is baie christene wat die betekenis van die derde bede van die 'Onse Vader' net so opvat. Laat u wil geskied; laat oor my kom wat oor my moet kom. 'n Onbybels voorbeeld is die ondergang van die beroemde passasierskip die 'Titanic'. Toe die skip deur 'n aanvaring met 'n ysberg weggesink het, het 'n geestelik geroep: Laat u wil geskied. Hy het bedoel: hierdie ramp is oor ons beskik.

Hierdie lydelike berusting in die wil van God is nie wat Christus met hierdie bede bedoel nie. Let maar op die laaste woorde van hierdie bede, die voorbeeld wat vir ons gegee word. Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Het Christus daarmee bedoel dat die wil van God op aarde net soos in die hemel volvoer word? Glad nie, maar deur ons Heiland word ons op die gedrag van die engele gewys. Van harte volbring hulle die wil van God. Dis wat hul hele lewe vervul, daarin word hulle vir ons as voorbeeld gestel. Ons moet die wil van God doen soos die engele. Daarom moet ons bid! Dit gaan nie vanself nie. Dis ons van nature bose en verdorwe wil wat teen die wil van God bots.

Om die wil van God te doen, te mag doen, moet ons die Vader met alle krag bid. So wil ons die derde bede van die 'Onse Vader' oordink. Ons spreek oor: DIE GEBED OM DIE WIL VAN VADER TE DOEN.

Ons bid daarin:

  1. Nie om berusting nie;
  2. Wel om die gehoorsaamheid van die geloof;
  3. Met 'n hemels voorbeeld.

I In sommige Bybelvertalings ontbreek in Lukas 11: 2 die woorde: "Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;" Dan volg op die bede: "Laat u koninkryk kom;" direk die bede: "Gee ons elke dag ons daaglikse brood;" Verklaarders se dat die derde bede eintlik al in tweede ingesluit is. As om die koms van die ryk van God gebid word wil dit ook se dat jy daarin reeds vra om ook die wil van Vader te doen. Tog het Christus hierdie bede nadruklik in Matt. 6 wel opgeneem, om ons met nog meer krag om die koms van die ryk van God te laat bid, deurdat ons die wil van Vader gaan doen. Dit gaan hier om die 'doen' en nie om in die wil te berus nie!

Dis nie verwerplik om mekaar op te wek om eenswillend met die heilige wil van God te wees nie. Soos aan 'n siekbed waar menslik gesien geen genesing verwag kan word nie deur vertroosters weleens gese word: Jy moet sover kom dat jy se; Laat u wil geskied. By 'n begrafnis word dit ook wel gese. Ons mag dan aan Job dink wat gese het: "Die Here het gegee die Here het geneem die Naam van die Here sy geloofd!" Paulus skryf ook in 2 Kor. 12: 9 dat die Here vir hom gese het: "My genade is vir jou genoeg". Paulus het geleer om die doring in die vlees wat God vir hom beskik het, eenswillend met God, te aanvaar.

In hierdie bede gaan dit egter nie daarom om die raadsbesluit van God te aanvaar nie. Christus wil ons leer bid dat ons daadwerklik, dit wat God beveel, gaan doen. Kyk maar net na die volgorde van die bedes in die 'Onse Vader': Hierdie derde bede word ons deur Christus geleer bid na die vraag om die heiliging van die Naam van God en nadat om die koms van die koninkryk gevra is. In die bid om die heiliging van die Naam van God oor heel die wereld, het ons ook self ons aandeel: dat om ons ontwil die Naam nie gelaster nie, maar geprys word. By die vraag om die koms van die ryk bid ons ook dat ons onsself aan God onderwerp. Hoe kan ons dit vra as ons nie self die heilige wil van God gaan doen nie?

Ons mag se: Die eerste en tweede bede kom in die derde bede na ons toe. Dit moet nou in ons lewe werklikheid word: Vader dis ons hartelike begeerte dat deur ons u Naam geheilig word, leer u ons daarom van dag tot dag u wil te doen. En Vader ons begeer van harte dat u koninkryk, ook deur ons gehoorsaamheid aan U mag kom, leer ons daarom om u wil konkreet in ons lewe te doen. Leer ons selfs om u wil sonder enige teenpraat te doen. Vader u wil is alleen maar goed, maar ons wil is verdorwe. Leer ons dan ons eie wil te oorwin en alleen u wil te gehoorsaam.

Gemeente daarmee het ons tot in die hart van hierdie bede deurgedring. Om die wil van God in sy totale diepte duidelik te maak het die ou gereformeerde teoloe onderskeid gemaak tussen die wil van besluit en die wil van bevel. Met die wil van besluit by God het hulle die raadsbesluit, die program vir die geskiedenis van die hele wereld, bedoel. Daar die raadsbesluit word deur die soewereine wil van God deurgevoer. Dit doen die Here self daarom vra ons hier nie.

Ongeag wat die satan of die vyande van God onderneem, regeer God alle dinge net volgens sy soewereine wil alleen. Wanneer egter ons Heiland ons leer bid: Laat u wil geskied dan bedoel Hy die wil van die bevel van God. God het vir ons sy bevele gegee, Hy het vir ons sy wet afgekondig. Nou werk Christus deur hierdie derde bede in ons hart die begeerte, dat ons die bevele gaan doen, hulle in ons lewe volvoer. Om dit met 'n ander onderskeiding te se: Dit gaan hier nie om die verborge wil, die raad wat God in Homself gemaak het nie, maar om dit wat Hy in Woord vir ons leer, in sy wet vir sy kinders afgekondig het.

Nou kom die diepgang van hierdie bede in die sprekende formulering van antwoord 124 na ons toe: Gee dat ons en alle mense ons eie wil versaak, om aan u wil, wat alleen goed is sonder enige teespraak gehoorsaam te wees. Met liggaam en siel word ons by die volbring van die wil van God betrek. Op ons eie verantwoordelikheid word ons hier aangespreek. Ons word in konflik met onsself gebring, ons eie wil versaak! Daardeur word ons in sware stryd met ons eie wil gewikkel. Christus vra hier geen masjinale gehoorsaamheid, soos 'n troepie sy korporaal gehoorsaam nie. Bevel is bevel!

Nee Christus skakel ons in ons volle verantwoordelikheid teenoor God, daarby in. Ons kry daarin weer die eer dat ons na die beeld van God geskep is. Of dink ons dat Adam in die paradys met hierdie bede moeite gehad het? Glad nie. Adam en Eva het toe nie nodig gehad om hul eie wil te versaak nie. Om die wil van God te volbring was die vreugde van hul eie wil! Hulle het as kinders die wil van Vader spontaan, van harte en met liefde gedoen.

Maar nou, na die sondeval? Word deur ons sondaars die wil van God spontaan deur ons volvoer. Sekerlik nie, maar ons gaan met alle krag teen die wil van God in. Van onsself soek ons net die verkeerde. Ons wil is egosentries, alleen op ons eie voordeel gerig. Ons eie EK domineer in ons lewe! Sien ons nou die diepte van die konflik wat in ons lewe ontstaan, raak? Dis Christus wat ons met hierdie bede daarin drywe. Ons Heiland ken ons, Hy weet hoe ons eie EK, ons ou mens, steeds weer die oorhand in ons lewe wil kry. Daarom leer Hy ons bid: Gee dat ons en alle mense ons eie wil versaak.

Dis om die wonder van die wedergeboorte, die vernuwing van ons eie wil, wat ons Heiland ons hier leer bid. In die 'gee' bid ons om die Gees van God dat die ons eie wil verbreek en vernuwe en in ooreenstemming met die heilige wil van God bring. Sodat ons gaan doen wat God wil dat ons doen. Ons bid hier: Here werk so kragtig met u Gees en Woord in ons hart dat ons die stryd met onsself, ons eie bose wil, aanbind en u wil weer van harte gaan doen.

Hier word na Matt 16: 24 verwys: "Toe se Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloen, sy kruis dra en My volg. " Dis Christus wat selfverloening en kruisdra van ons vra. Daarmee word nie die dra van moeite en verdriet bedoel nie. Nee dit gaan om die smaad van Christus dra wat sekerlik oor ons kom as ons die wil van God gaan doen. As ons werklik onsself verloen en die wil van God doen, bring dit die hoon en smaad van mense oor ons. Dit sal ons nou moet opneem en dit agter Christus aandra. Hierdie konflik moet ons nie systap nie, maar enduit stry.

Om so te se: Ons bid hier om hamer en spykers om ons ou mens aan die kruis te spyker, dat so ons nuwe mens opgewek word. Het ons dit self nog nie ondervind dat die wil van Vader alleen goed is? Daar het mos niks anders nie, as ellende van gekom toe ons, ons eie wil gevolg het. In die huwelik wat gesluit is ondanks dat ouers en ampsdraers dit afgeraai het, omdat daar geen seen op kan rus nie. In sake doen, toe ons teen die wil van God in gehandel het. Het daar geen ellende uit voortgekom toe ons ons kinders hul eie pad laat loop het nie? Toe ons hulle net soos Eli nie oor die slegte pad onderhou het nie?

Ons bid mos: Laat u wil geskied. Dan kan dit mos nie net by bid bly nie, dan moet daar ook die volbring van die wil van God kom. Wat hoor ek? Is dit so moeilik? Natuurlik is dit moeilik, dit vra stryd, maar dis die Here wat krag skenk om sonder teepraat die wil van God te doen. Is dit telkens weer 'n neerlaag wat ons ly? Is die kruis te swaar wat op ons skouers rus? Het die sonde so diep in ons lewe ingevreet dat ons daar nie meer bo uit kan kom nie? Kom dan saam na die tuin van Getsemane, na die lang en swaar nag wat Christus daar deurly het.

Christus was net soos ons 'n mens van vlees en bloed. Hy het ook, met die wil van Vader doen, sy moeites geken. Hebr. 5: 8, 9 se: "Hoewel Hy die Seun van God was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword. " Hoor hoe ons Heiland in die tuin van olywe bid; "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!"(Lukas 22: 42) Jesus volg die wil van Vader.

Christus het vir ons in stryd en angs die wil van Vader volbring. Hy het die krag verdien waardeur ons onsself kan verloen en die wil van Vader doen. Hy het hier en nou reeds ons bron van saligheid geword. Heerlik kan antwoord 124 dan ook begin met: Gee dat ons en alle mense. Met die woord 'gee' gaan ons agter ons Heiland skuil. Daar is 'n sterke pleitende krag in die woordjie 'gee' opgesluit. Dan ook word hier in die meervoud gespreek: dat ons en alle mense. Saam met alle gelowiges staan ons hier voor die troon van God en bely dat ons in die gemeenskap van almal oor alle tye en oor die hele wereld saam bid. Soos ons dit ook al in die aanspraak 'Onse Vader' bely het. Ja in die groot gemeenskap van almal wat oor die hele wereld en oor alle tye bid: Laat u wil geskied. Weet ons Vader tog, hoe groot die moeite is wat ieder van ons persoonlik het. Ons bid Vader u weet hoe groot die moeite vir elkeen van ons is, om u wil te doen. Vader U ken ons stryd, gesamentlik le ons dit voor u troon, leer ons ons eie wil te versaak.

Nog verder word word ons gesigseinder uitgestrek, saam met die groot gemeenskap bid ons nie alleen dat ons die wil van Vader doen nie, maar ons bid dit vir alle mense. Heel die mensheid word deur ons tot voor die troon van God gedra. Vanuit die heiligdom van versoening stap ons die wereld in, om alle mense in hierdie bede te betrek. Vir ons as christene het God geen aparte moraal nie. Die dronkaard, dwelmverslaafde, misdadiger en die christen in die kerk is almal verplig om die wil van Vader te doen. Ons bid dat almal hulle eie wil sal versaak en die wil van Vader doen wat alleen goed is. Sien ons die heilsame krag wat vir die hele mensheid in hierdie bede le? Ja vir 'n mensheid wat die wil van God vertrap en sy eie pad loop!

II Dan skielik stap ons met sondag 49 die lewe van alle dag in. Antwoord 124 se: sodat iedereen sy amp en beroep so gewillig en getrou mag beoefen en uitvoer as die engele in die hemel dit doen. Duidelik is dat ons almal doodgewone mense van vlees en bloed is. Midde in hierdie wereld staan ons met ons voete plat op die aarde. elkeen van ons het sy daaglikse taak te volbring. Die een kantoorwerk 'n andereen in die fabriek, winkel of besigheid. Die een het 'n amp en die ander 'n beroep waarin sy roeping le. Die predikant moet sy preek maak, die veeboer sy beeste melk. Die huisvrou het haar huis te versorg, die verpleegster siekes te versorg, Almal word geroep om in die amp of beroep die wil van God te doen.

Daar word weleens gedink dat die dien van die Here buite die lewe van elke dag omgaan. Amp en beroep sou dan geen diens vir die Here wees nie. Niks is minder waar nie. As 'n werktuigkundige swak werk lewer of 'n bakker halfbakke brood verkoop dan het hulle die wil van God nie volbring nie. As 'n moeder haar afsloof vir 'n sustervereniging, maar haar huisgesin verwaarloos, het sy aan die doen van die wil van God nie toegekom nie. Gemeente, hierdie bede kom ons, in alles waartoe ons geroep is, opskerp.

As ons hierdie bede bid, konfronteer die Here ons met die werklikheid van elke dag. Ons werk moet ons gewillig en trou verrig. Tegelyk word alle sondige eersug deur ons Heiland veroordeel. Wat kan jaloesie diep in ons hart vastrapplek he en ons tot steeds meer en hoer aandryf. Ons dink dat 'n ander dit altyd baie beter as ons het. Maar ons Heiland se: Jy moet in jou roeping so trou as die engele in die hemel wees!

So staan ons as christene midde in hierdie wereld. Dit moet aan ons te sien wees dat ons in ons daaglikse lewe die wil van die Here volbring. Paulus se dit in Rom. 12: 2 so: "Julle moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle lewe verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed aanneemlik en volmaak is. " Ja ons is anders gemaak as die mense van hierdie wereld is. Ons is deur die Heilige Gees vernuwe. Die woord onderskei wil se: skerp raaksien wat die Here in die lewe van elke dag van ons vra.

Daar word vandag baie onderskeiding van ons gevra, want ons lewe in 'n sogenaamde informasiesamelewing. Van alle kante en op elke gebied word ons gewys hoe ons lewe gerig moet word. In politieke en sosiale vraagstukke, insake huwelik en gesin, gesondheid en seksualiteit. Dink ook aan feminisme en menseregte. Die eerste christene het ook al in 'n tyd gelewe dat allerlei onwaarhede aangeprys is. Paulus waarsku die Efesiers om hulle daardeur nie te laat mislei nie. Hy se: "Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. " (Ef. 5: 15, 17)

Ons moet as slawe van Christus werk wat van harte die wil van God doen. Moenie se: dat ons die wil van God nie ken nie. God het sy wil in sy Woord vir ons geopenbaar. Gemeente dink aan Psalm 119 wat 'n heerlike lofprysing van die gebooie van God is. "Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie. " (vers96)

Om die wil van God in die lewe te doen, moet skerp na die Woord van die Here geluister word. Daarvan is sprekende voorbeelde in die Skrif opgeteken. As God vir Moses se om met die rots te praat dan sal daar water uit kom, maar Moses twee keer op die rots slaan. Dan kom daar wel baie water, maar die Here het vir Moses en Aaron oor hul ogehoorsaamheid gestraf. Hulle mog die land van belofte nie ingaan nie.

Koning Saul moes Amalek gaan verslaan en man, vrou, kind, vee, kameel en donkie doodmaak, omdat hulle Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte uitgetrek het. Ons weet hoe Saul en sy manne vir Agag en die beste van die vee gespaar het. Saul wou met Agag en die vee sy triomf in Israel vier. God het vir Samuel gese: "Ek is bedroef daaroor dat Ek vir Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie". (1 Sam. 15: 10) In vers 22 se Samuel vir Saul: "Gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. " Daar is dus alle rede vir ons om te bid: laat ons so gewillig en trou werk as die engele in die hemel dit doen.

In die Skrif kry ons ook voorbeelde van stipte gehoorsaamheid wat ons aanspoor en bemoedig. Dink aan Abraham soos in Gen. 22 beskrywe. Die Here het vir Abraham gese: "Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet en offer hom op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys. " Vroeg die volgende more het Abraham 'n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Dink net wat daar in die gemoed van Abraham aangegaan het. Tog het hy gegaan en gedoen wat die Here beveel het. Aan hierdie gehoorsaamheid van Abraham mag ons dink by ons bede: Laat u wil geskied.

III Ons het nou tot die laaste gekom wat ons by die derde bede wil bespreek. Dit gaan daarin nie om valse berusting, nie om lydelike oorgawe aan die wil van God nie. Soos ons gesien het gaan dit hier om die geloofsgehoorsaamheid, om die versaking van die eie wil en die sonder teepraat die wil van God doen wat alleen goed is. Daarin is die voorbeeld van Abraham welsprekend. Dan is egter nog nie alles gese nie, want Christus het 'n voorbeeld gegee wat nog bo die voorbeeld van Abraham uitstyg: Die wil van God doen, soos in die hemel.

Natuurlik het ons Heiland by die hemel nie net aan die engele gedink nie. Sekerlik mag ons ook aan hulle dink wat alreeds in die Here ontslaap het. Die engele egter is diensknegte van God, ambassadeurs van God. Dis hulle wat 'n heerlik voorbeeld van onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God gee. Ook daarvan het ons in die Skrif mooi voorbeelde: Dink aan die drie vriende van Daniel wat vasgebind binne in die brandende oond geval het. Dit was 'n sware opdrag vir die engel om die drie dienaars van God in die brandende oond by te staan, maar die engel het gehoorsaam gedoen wat God beveel het.

Dink ook aan die engele in die kersnag, Lukas skryf: "Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys". Toe die eerste engel klaar gepraat het was daar skielik, op een wenk van God, daardie magtige menigte van engele. Dis soos Psalm 103 in vers 20 en 21 sing: "Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam. Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen!" Dr. A Kuiper het by hierdie sondag geskrywe dat ons veels te weinig dink van die engele wat die hemel vul en God stiptelik dien.

Dink ook aan die diens van engele op die Paasmore, as hulle in alle rus en vrede by die graf van ons Heiland gaan sit en aan die vroue die evangelie van die opstanding verkondig. Almal heerlike voorbeelde van daardie volkome die wil van Vader doen. Vergeet ook nie wat in die Openbaring aan Johannes oor engelediens vertel word nie. Hoe hulle voor die heerlike troon van God staan en uitgestuur word om die oordele van God oor die aarde te verkondig en uit te voer.

Het Christus hier te hoog gegryp toe Hy die engele vir ons as voorbeeld gestel het? Glad nie gemeente, ons Heiland het nie te hoog gegryp nie. In die diens van God word deur Hom van ons die volmaakte geeis. Omdat Hy egter weet hoe swak ons is, en hoe ons daarin daagliks te kort skiet, het Hy vir ons hierdie derde bede op ons lippe gele: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Het Christus nie self deur sy volmaakte gehoorsaamheid die krag verwerf om na die volmaaktheid te strewe nie? Het Hy nie deur sy lydelike gehoorsaamheid, ons te kort en mislukking, in die doen van die wil van God, versoen nie? Het Hy nie die volste reg om vir ons die bede op te dra nie?

Tot slot wil ons aan die gelykenis in Lukas twaalf dink: "Die gelykenis van die bestuurder wat die heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul rantsoen op tyd te gee. As daardie dienskneg in sy hart se: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues. "

Het ons gehoor watter verskriklik oordeel uitgespreek word oor hom wat die wil van sy heer geken het, maar tog die goed van sy heer vir homself gebruik het? Gemeente ons ken die wil van die Here. Hy het ons helder die wil in sy Woord vir ons geopenbaar. Ons mag op ons kniee gaan staan en bid om die wil van Vader te doen: Onse Vader wat in die hemel is, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op aarde. Elkeen wat so bid en ook sonder teepraat die wil van God doen, word deur Christus salig gespreek. Maar hy wat wel hierdie derde bede bid, maar daarvolgens nie lewe nie, sal met baie slae geslaan word. Here leer ons bid en doen!

Amen.

Liturgie: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 49 H. K.

Die derde bede: Sonder enige teenpraat...

Lees: Romeine 12: 1 - 12
Teks: Sondag 49 H. K.
Sing: Ps. 99: 1 en 5
na wet Ps 101: 1, 4, 6
na belydenis Ps 103: 11
Ps 86: 1, 6, 8, 9
Ps 119: 11, 12
Sb. 28: 1 en 3