God wil godsaligheid pleks van geldgierigheid

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
Pretoria
Date: 
1990-09-09
Text: 
Sondag 42 HK
Preek Inhoud: 

Broeders en susters,

Daar bestaan 'n direkte verband tussen u geld en u geloof.

As ek sou sê: daar bestaan 'n direkte verband tussen geld en geluk, sou baie mense saamstem.

Baie mense glo dat geluk van geld afhanklik is.

Maar ek sê vanaand dat geloof van geld kan afhang.

Daar lê verband tussen u omgang met geld en u omgang met God.

Dikwels word gedoen asof geloof en geld twee aparte sake is wat nie so veel met mekaar te make het nie. Mens moet sy geldsake en sy geloofssake geskei hou, word dan gesê.

Maar dis 'n misvatting.

Want u omgang met God word konkreet sigbaar in die wyse waarop u met u geld omgaan.

En die wat nie weet hoe om met sy geld om te gaan nie, kan ook nie mooi met God omgaan nie.

U weet mos dat die Skrif sê dat geen dief of hebsugtige in die Koninkryk van God kan ingaan nie. Ook ons Nagmaalsformulier waarsku ons elke keer weer dat gierigaards en daardie tipe van mense hulle van die Nagmaal moet onthou.

So beslissend is ons geld vir ons geloof.

Ons kan daardie twee eenvoudig nie van mekaar losmaak nie.

Dalk het u opgemerk tydens ons Skriflesing so pas, dat ook die apostel Paulus in 1 Tim. 6 geldsake en geloofssake in mekaars se verlengde sien lê het: terwyl hy oor die leer van die godsaligheid (sê maar: ons geloof) skryf, kom hy sommer by die geldgierigheid uit, waaroor hy 'n paar pittige opmerkings ten beste gee. Maar daarna vervolg hy ook weer met: "Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, jaag na die geregtigheid, godsaligheid...... Stry die goeie stryd van die geloof". En dan kom die apostel dáárna nog 'n keer terug op ons omgang met geld, in vs. 17, wanneer hy skryf: "Beveel die rykes om nie hoogmoedig te wees nie... "

Paulus het baie mooi geweet in hoe 'n mate geloof en geld met mekaar te make het. Hy het dit met sy eie oë gesien hoedat geldgierigheid die godsaligheid vermoor het: "Want die geldgeirgheid is 'n wortel van alle euwels. en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor".

Ons neem daarom hierdie Skrifgedeelte uit Paulus se brief aan Timotheüs dié keer as uitgangspunt wanneer ons na aanleiding van die Agste Gebod van God se verbondswet: "Jy mag nie steel nie", ons omgaan met geld en goed moet oordink.

Vanuit Paulus se onderwys sou ons die Agste Gebod soos volg kan saamvat:

GOD WIL GODSALIGHEID PLEKS VAN GELDGIERIGHEID

WANT GODSALIGHEID LEER 'N MENS

  1. TEVREDENHEID
  2. VRYGEWIGHEID

1. Dit sal 'n goeie ding wees as u tydens die preek u Bybel by 1 Tim. 6 byderhand hou, broeders en susters.

Kom ons kyk allereers 'n slag na vs. 6. Paulus skryf daar, volgens die Ou Vertaling, dat "die godsaligheid saam met vergenoegdheid 'n groot wins is".

Dié vertaling is bietjie moeilik: "godsaligheid saam met vergenoegdheid"- wat bedoel die apostel daarmee?

Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling het vs. 6 so weergegee: "Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het... "

Dié vertaling is baie duideliker, maar ongelukkig nie béter nie. Die woordjie "as" in die NAB is naamlik nie reg nie: "Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is.... "

Soos dit nou daar staan kan dit beteken dat dit ook wel kan gebeur dat mense wél godsdienstig is, maar ongelukkig nie tevrede nie. En daarom ook sonder wins bly. Wel gelowig, maar ontevrede.

Maar die apostel van Christus wil juis vir ons leer, gemeente, dat egte godsdiens 'n mens altyd tevrede maak. En daarom baie winsgewend is.

Jy kan 'n ware gelowige dadelik uitken aan sy tevrede en dankbare lewensinstelling, waardeur hy hom gunstig van die ander mense in hierdie wêreld onderskei.

Ons moet vs 6 daarom so vertaal: "Godsdiens, of godsaligheid, die vrees van die Here, lewer 'n groot wins op (dus nie: indien nie, maar: omdat dit saamgaan met vergenoegdheid, oftewel: tevredenheid".

Dit is die wins wat 'n gelowige in sy lewe boek: hy word 'n tevrede mens. En sy tevrede houding kenmerk hom meteen as 'n godsdienstige mens. Die egte geloof word sigbaar in tevredenheid. En is daar geen tevredenheid nie, dan is daar ook geen egte geloof nie.

Want on-tevredenheid, dit tipeer die mens sonder God.

Die gemis aan godsaligheid uiter hom altyd eerste deur 'n gemis aan tevredenheid, veral in materiële opsig. En dan maak dit nie eintlik saak of jy ruk of arm is nie- jy is net nie tevrede nie. Jy soek altyd meer en mooier. Asof jou geluk daarvan afhang. Asof geld geluk garandeer. Geld is vir hulle 'n mag. Met geld en besit kom jy vooruit in hierdie wêreld. Daarom moet 'n mens daarvoor sorg dat jy jou deel kry, die liefste 'n behoorlike hoeveelheid spaarduitjies vir later. Dan is jy tenminste gedek teen slegtere tye.

Maar jy het nooit genoeg nie. Want wee jou as die tye verander en daar ekonomiese probleme kom. Dan word sulke mense bang, onrustig en suiniger soos nog nooit tevore nie. Die vermeende fondament onder hul lewe verbrokkel. Die inflasie laat hul spaarduitjies wegslink, die pryse gaan op.........

Alles draai in hul lewe feitlik om geld en goed.

Die wêreld is vol van sulke geldgierige mense. Afgod Mammon heers oppermagtig en maak miljoene slagoffers.

Maar die apostel van Christus het geweet dat die geldgierigheid nie halt hou by die mure van die kerk nie. Hy het gesien hoedat die geldsug ook vat kan kry op mense in die kerk en die geloof ondergrawe.

Jy kan ook in die gemeente van Christus mense raakloop wat hulle wel vroom voordoen, wat ook baie vroom kan práát, wat in teologiese diskussies 'n goeie figuur slaan, maar in werklikheid glad nie vroom ís nie. Omdat hulle in hul aldagse lewe nie tevréde is nie. Maar hebsugtig.

Daar was blykbaar sulke mense destyds in die gemeente in Efese, waar Timotheus gebly het toe Paulus hierdie brief vir hom gestuur het.

Hulle het ook wel probeer wins slaan uit die godsdiens (sien vs. 5), maar hulle het bloot materiële voordeel gesoek en nie die waardevaste wins wat uit tevredenheid bestaan nie.

Hulle het selfs deur middel van die kerk hulself in finansieel opsig probeer verbeter.

Hoedat daardie mense destyds te werk gegaan het, is vir ons vanaand nie so belangrik om te weet nie.

Ons moet net verstaan dat dit dus ook ín die kerk kan voorkom dat mense se godsdienstig deur geldgierigheid ondergrawe word.

Ook mense wat vroeër meelewende lidmate was kan sommer deur 'n puur materialistiese denke geïnfekteer raak. Kerkgangers van sondag verander op maandag in volslae onherkenbare mense. Hulle verdwyn sommer in die menigte en hardloop met die ander saam in die jag na luukse en gerief. Hul gesprekke draai al eweseer om geld en geldverdien, die ekonomiese teruggang, die petrolpryse wat alweer op is ens.

En in hul besigheid is hulle kliphard en meedoënloos want, toemaar, 'n mens moet die hoof bo water probeer hou in hierdie moeilike tye.

Moenie die gevaar van die materialisme onderskat nie, gemeente. Ons klein kinders is alreeds vatbaar daarvoor. Moet maar daarop let as hulle verjaar, en as hulle 'n partytjie gee en presentjies ontvang, hoe begerig hulle die presente aanneem en oopmaak. Die een present is nouliks oopgemaak of die ander een word reeds gevat. En dis nooit mooi genoeg nie. Hulle weet altyd nog van mooier presente wat hulle ok graag wou gehad het.

En as hulle begin werk, aanvanklik dalk maar net bietjie koerante aflewer en op saterdae in 'n winkel help, wil hulle direk allerhande goeters koop: hulle soek dit, hulle wil koop daardie ding, hulle gaan spaar vir hul stokperdjie.....

Maar as jy dan in die katkisasieklas vir seuns en dogters van 17, 18 jaar, wat almal sakgeld kry en waarvan party self ook reeds bietjie verdien, vra wie nou ook van sy eie geld sondags iets in die kollekte doen- dan is daar net een of twee wat hand opsteek. Terwyl daar selfs kinders is wat bietjie verontwaardig protesteer dat dít mos nie nodig is nie. Pa of ma lê sondags altyd geld gereed.

En hulle het self mos nog maar so min geld, en hulle spaar vir........

Die gevaar is daar dat ook ons jongmense, as hul trouplanne het, nie gou meer tevrede is nie: hulle wil dadelik met 'n eie huis, die duurste geriewe ens. begin.

Ook as dit nie nodig is nie, bly die vrou maar werk. Bietjie ekstra geld is altyd welkom...

En kom ons is eerlik teenoor onsself en teenoor mekaar: veroorsaak die ekonomiese teruggang in Suid-Afrika en die onsekerheid m. b. t. die politieke toekoms van ons land ook onder ons nie onrus nie? Maar dan onrus m. b. t. ons materiële welvaart!

Moet ons maar nie liewer betyds uit Suid-Afrika probeer wegkom, na Nederland toe, of Australië waar die sosiale voorsienings in elk geval baie beter is as hier?

En waarom is daar heelparty lidmate wat, as hulle finansiële probleme kry, allereers hul bydrae vir kerk en skool nie langer betaal nie? Daar is 63 adresse in ons gemeente wat ten spyte van herhaalde vriendelike versoeke, nog altyd geen sendingbydrae vir die jaar 1989 betaal het nie. Hulle het nie eens op die versoeke gereageer nie!

Die Here se Woord wil ons oë oopmaak daarvoor hoe dodelik gevaarlik die geldsug is. Geen mens word daarvan ryker nie!

Christus se apostel waarsku in 1 Tim. 6 dat geldgierigheid 'n wortel van alle euwels is. Hy bedoel dat dit nooit by hierdie kwaad alleen bly nie. Uit hierdie een sonde spruit onvermydelik allerhande ander sondes voort. As geldgierigheid jou in die greep kry, gaan dit van kwaad na erger. Dan is die rus en die vrede wég uit 'n menselewe. Al bly jy ook nog jare lank kerklidmaat- hierdie wêreld sluit jou in. Hierdie wêreld neem jou op in sy vaart en suig jou saam.

Dan breek álle sondes na buite: afguns, ongebreidelde begeerte, nyd, die magstryd, leuen en bedrog....

Maar wat die ergste is: jy staan jouself in die pad! Terwyl jy aanhoudend jou eie voordeel soek, benadeel jy maar net jouself. Jy "deurboor jouself met baie smarte", sê Paulus in vs. 10: die voortdurende kommernis, die knorrige ontevredenheid waardeur ook jou lewensaand versuur kan word, die knaende gewete, allerhande gebaklei wat in jou kinders voortwoeker sodat hulle alreeds voor jou dood stry oor die erfenis...

Geldsug is soos 'n muisval: dit lok jou, dit lag jou aan, maar as jy daar intrap, beteken dit onvermydelik jou einde. 1 Tim. 6: 9: "Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang".

Dit is die allerergste: geldgierigheid kos jou jou lewe. Die ewige lewe. Jy raak die regte sig op God en die vertroue in God kwyt. Geldgierigheid verslind die godsdienstigheid. Die wat 'n ryke lewe hier begeer, dwaal van die geloof af. Al dink jy ook dat daardie twee wel kan saamgaan- jy mislei jouself. Die wat hier op aarde sy lewe deur middel van geld wil veilig stel, haal hom die ewige dood op die hals. Die begeerde wins word 'n ewige bankrot.

Daarom roep Christus ons op om die egte wins te soek, die tevredenheid van 'n lewe met die Here. Dit is een van twee, want godsvrug en geldsug kan nie saamgaan nie. Dis dié dat die apostel in vs. 11 van 1 Tim. 6 met 'n skerp teëstelling die "man van God" aanspreek: "Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg!" Moet doodsbang daarvoor wees! Want dis besmetlik soos die pes. Ons kan vandag maar sê: so besmetlik soos Vigs. Ons word opgeroep om die sentrum van ons lewe êrens anderste te lê as by geld en goed. Ons moet heel ander dinge najaag. Geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, volharding- Paulus som dit alles op. Kort en kragtig is dit: soek allereers die Koninkryk van God. Net daar is u lewe vir ewig seker.

Onthou wat die Koning van daardie Ryk voor Pontius Pilatus bely het -Pilatus: 'n mannetjie wat ook sy posisie hier op áárde wou veilig stel en nie oor 'n Joodse interne konflik 'n degradasie wou riskeer nie. Christus het gesê: "My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie".

Maar dan moet ons dit ook nie in hierdie wêreld soek nie! Toe ons geloofsbelydenis afgelê het, het ons mos ook erken dat ons sekerheid nie hier benede nie, maar bo lê?

Slegs as ons as burgers van God se Koninkryk leef, en ons veiligheid en voorspoed in daardie Koninkryk soek, is ons geluk en ons lewe regtig gewaarborg.

Burgers van daardie Koninkryk van bo is tevrede mense. Selfs al benodig hulle diakonale bystand. Want hulle besef (1 Tim. 6: 7): "Ons het niks in die wêreld ingebring nie, dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie". Ons het op niks rég nie. Ons het nog nie eens ons eie ondergoed saamgebring nie. Ons leef elke dag van wat God in sy genade vir ons gee. En oppot is sinloos, want 'n doodshemp het nie sakke nie. By die sterwe moet 'n mens alle aardse skatte agterlaat. En al sou ons die kis volprop daarmee, soos die swartmense wel doen- die rykdom sou verroes en vergaan.

As ek vandag voedsel en klere het, onverdiende geskenke uit God se hand, deur Christus alleen verdien, is ek 'n ryke mens! Dan het ek ruimskoots genoeg.

2. Is geld en goed dan van nul en gener waarde, broeders en susters? Moet ons dit dan maar verkwis?

Maar daar staan mos ook in Sondag 42 H K dat die HERE alle misbruik en verkwisting van sy gawes verbied? Mens mag tog wel suinig wees? Jou geld en goed sorgvuldig beheer?

Of moet ons as christene dalk afstand doen van alles en weer soos kluisenaars lewe?

Nee, die Here vra nie van die burgers van sy Koninkryk dat hulle hul geld en besittings sommer weggooi en in die aller eenvoudigste omstandighede gaan lewe nie.

As u 'n goeie inkomste het, hoef u u geld nie weg te gooi nie. U mag dit selfs nie.

Die Here vra van ons ook nie dat ons sonder ons gerieflike huise, sonder motors, sonder vakansies, sonder vryetydsbesteding moet klaarkom nie. U mag probeer om u besigheid tot bloei te bring of in bloei te hou.

Die kwessie is net: hoé doen ons dit? En waarvoor doen u dit? Waar lê u die sentrum van u lewe en van u inspanning? Vestig u u hoop op die onsekerheid van daardie rykdomme, of stel u u hoop op God?

Maak ons ook ons geld diensbaar aan ons godsvrug, of soek ons dit uit geldsug?

Dit mag wees dat God ons baie gee. Ons ook in materiële opsig tot ryk mense maak. En ek meen dat ons almal ryk ís, vandag as ons onsself vergelyk met ander tye en ander wêrelddele en met die leefomstandighede van heelwat swartes in ons land.

Paulus erken ook dat God mense kan ryk maak (1 Tim. 6: 17).

Rykdom en armoede, oorvloed en skaarste, altwee kom uit Gods een hand. God gee vir elkeen 'n verskillende deel. Die een meer, die ander minder.

Maar hoe meer besit- des te groter verantwoordelijkheid. Want God vra rekenskap van enige uitgawe en enige aanskaf, tot op die laaste sent.

As God ons baie gee, 'n florerende besigheid, 'n goeie verdienste, dan maak Hy nie so sodat ons onsself daarmee sou verryk nie. Maar dan maak Hy so sodat ons ryk sal wees in Hom. Ons ontvang alles uit sy hand, om dit alles weer in sy hande terug te gee.

Sy gawes aan ons is nie bedoel vir besitsvorming en kapitaalvergroting vir onsself, nie ten dienste van die mens nie, maar ons ontvang dit om God daarmee te dien. Soos ons so pragtig bely in Art. 12 N.G.B.: die HERE sorg vir baie gawes uit sy skepping "om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien".

Dan is dit selfs plig om ywerig te werk en suinig met dit wat ons in die hande kry om te gaan. As ons dit maar in die diens aan die HERE doen, Hom as die eintlike Eienaar bly beskou, en nie net onsself en ons eie genoeë soek nie.

Paulus het Timotheüs opgedra om die rykes in die teenwoordige wêreld, ryk broeders en susters, te beveel om nie hoogmoedig te wees nie, maar om te bly besef waarom God party mense ryk maak. Hulle mag van hul rykdom geniet, ja. Maar kyk vs. 18: hoe moet hulle daarvan geniet? "hulle moet goed doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig en mededeelsaam".

In die diens aan God is daar geen ruimte vir selfsug nie. Inteendeel, in die diens van God se Koninkryk draai alles om God se belange en om dié van ons naaste. In hierdie sin spreek ook die Kategismus. Die Agtste Gebod word in hierdie een woord vervul: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, ook met die geld en goedere wat God jou gegee het. En dan kan niemand van sy bankrekening sê: dit is privaatsake nie. Want ons het by God geen privaatsake. Al ons sake moet sy saak wees. Ons geld en ons besit is uiteindelik sy geld en sy besit. En Hy vra rekenskap daarvan, hoedat ons daarmee omgaan: gierig- vir onsself, of vrygewig, vir Hom en ons naaste?

En dan sal elkeen by homself moet nagaan, gemeente, hoe dat u met u geld omgaan. Waarvoor kom daar eerder geld op tafel: vir God se saak, of vir u eie sake. En hoe is die verhouding tussen u VVB en u bydrae in die kollekte tot u ander uitgawes? Bepaal u eers u uitgawes vir uself en kyk u vervolgens wat vir die HERE oorbly? Of bepaal u eerste waarop die HERE reg het, en probeer u vervolgens met dit wat oorbly self regkom?

Die HERE gee vir ons volop die geleentheid om ryk te wees in goeie werke, vrygewig en mededeelsaam:

Die instandhouding van die erediens, die voortgang van God se saak op aarde deur middel van sending en evangelisasie. Gereformeerde skoolonderwys vir ons kleuters en kinders en dergelike sake.

Burgers van God se Koninkryk het daarvoor nie net 'n fooi oor nie, 'n luttel bedraggie in vergelyking met wat alles hulle vir hulle eie plesier uitgee- nee, daarvoor wil hulle offers bring. Hulle is bereid om hulleself daarvoor dinge te ontsê.

Hulle het 'n oog vir armoede en ellende om hulle heen en werk nie slegs om hul eie gesinnetjie te onderhou nie, maar om ook iets te hê om die behoeftiges te kan help. Die diakonie beskik altyd ruimskoots oor die middele om die nood in die gemeente te lenig. En ook die naastes buite die gemeente ervaar die vrygewigheid en behulpsaamheid van die burgers van God se Koninkryk.

Burgers van God se Ryk sê nie: Mens kan wel bly gee! met as gevolg dat hulle ook maar nie begin gee nie. Nee, hulle geniét dit om te mág gee. En hulle leer hul kinders reeds vroeg om ook vrygewig te wees. Om vanaf hul eerste sakgeld sélf iets by te dra aan die diens van die offerandes -en ook wel bietjie meer as "iets". En om, as hulle begin werk en verdien, daaroor na te dink hoe dat daardie geld in die diens van die HERE en die naaste gebruik moet word. En om self die F.K. te kontak om te bepaal hoeveel VVB voortaan betaal sal word. Want jy wag nie tot die FK na jou toekom nie, nee, jy kom na hulle toe. Jy gee mos 'n Vrywillige bydrae!

Ek weet, broeders en susters, dit kos ons stryd. 'n Geloofsstryd met onsself. Maar dit is die goeie stryd van die geloof (Vgl. 1 Tim. 6: 12). Daarvan word niemand armer nie. Inteendeel: "jy verwerf die ewige lewe". Kyk 1 Tim. 6: 19. Paulus skryf daar: die wat so besig is, sorg vir die beste lewensversekering wat daar bestaan. So is ons tog besig om " 'n skat weg te lê"; so lê ons met ons geld tog "'n goeie fondament vir die toekoms". Die wat sy geld goed gebruik, nie net vir homself nie maar vrygewig en mededeelsaam, word maar net al hoe ryker. Hy maak 'n skat in die hemel by mekaar en mag eendag die ewige vreugde in die Koninkryk van God geniet.

Daar bestaan dus tog ook verband tussen u geld en u geluk, gemeente! Maar dus slegs as die verhouding tussen u geld en gelóóf goed bly.

AMEN.

(Pretoria 9 September 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

Ps. 37: 2, 10, 11, 13
Gebed
Lees 1 Tim. 6: 3-19
Prediking
Ps. 62: 7, 8
Geloofsbelydenis
Ps. 62: 4
Gebed
Kollekte
Ps. 49: 2, 4, 6