Hoofstuk 1 - GODDELIKE UITVERKIESING EN VERWERPING (1-18)

1.  Alle mense het in Adam gesondig en hulle aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak. Daarom sou God niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele mensdom in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Gevolglik leer die apostel: Die hele wêreld is voor God doemwaardig. Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom. 3:19, 23), en: Die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23).

2.  Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh. 4:9; Joh. 3:16).

3.  Om mense tot die geloof te bring stuur God uit genade verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word mense geroep tot bekering en die geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom. 10: 14-15).

4.  Die toorn van God bly op mense wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met 'n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh. 3:36; Mark. 16:16).

5.  Die oorsaak of skuld van hierdie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter 'n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef. 2:8); ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil. 1:29).

6.  Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand. 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef. 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik - hoe verhard hulle ook al mag wees - en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense, wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit onuitspreeklike troos.

7.  Hierdie uitverkiesing is 'n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping 'n sekere aantal mense uit die hele mensdom uitverkies. Hierdie mensdom het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as ander nie maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die gemeenskap van sy Seun bewaar is, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheld en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik. Soos geskrywe is: In Christus het God ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde (Ef. 1:4 -6); en elders: Die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik (Rom. 8:30).

8.  Hierdie uitverkiesing is nie veelsoortig nie maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg van die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef. 1:4-5; 2:10).

9.  Hierdie uitverkiesing het nie op grond van 'n vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of ooreenkoms tot stand gekom asof dit as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis is nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ens. Daarom is die uitverkiesing die bron van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan vloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Ef. 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.

10.  Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as 'n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere, bepaalde mense uit die hele menigte sondaars as sy eiendom aangeneem het. Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie ... is vir haar (nl. Rebekka) gesê.. Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat (Rom. 9:11-13); en: Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand. 13:48).

11.  God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie onderbreek, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of hulle getal verminder word nie.

12.  Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur in verskillende trappe en nie vir almal in gelyke mate nie. Hulle ontvang hierdie versekering nie deur nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God te probeer deursoek nie, maar wel deur in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waar te neem.
Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ens. (2 Kor. 13:5).

13.  Die kinders van God put uit hulle besef en sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartighede te eerbiedig, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook geheel en al onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sou laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur 'n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te wandel.

14.  Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God - waarvoor dit in die besonder bestem is - uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder 'n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot 'n lewende troos vir sy volk (Hand. 20:27; Rom. 12:3; 11:33-34; Heb. 6:17-18).

15.  Verder toon die Heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit betuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof en die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou 'n godslasterlike gedagte wees; inteendeel, dit sê juis dat God 'n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.

16.  Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie kragtig ervaar nie - ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God beloof het om hierdie dinge in ons te bewerk - moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulle ook nie onder die verworpenes reken nie maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen te behaag en van die liggaam van die dood verlos te word maar op die pad van die godsvrug en die geloof nog nie so ver gevorder het as wat hulle wel wou nie, behoort die leer van die verwerping nog baie minder te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, vergeet en hulle geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.

17.  Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Godvrugtige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen. 17:7; Hand. 2:39; 1 Kor. 7:14).

18.  Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: 0 mens, wie is jy wat teen God antwoord? (Rom. 9:20), en ook die woorde van ons Verlosser: Staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? (Matt. 20:15).
Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied aanbid, roep saam met die apostel uit: 0, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen (Rom. 11:3-36).