Die werklikheid behoort aan Christus

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-04-26
Text: 
Kolossense 2 : 16-19
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
26 April 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 10:1,3,4,5

Votum

Seën

Ps 96:1,3,4

Wet

Ps 119:35,36

Gebed

Skriflesing: Kolossense 2:4-3:4

Sb 50:1,2,5,6

Teks: Kolossense 2:16-19

Preek

Ps 96:6,8

Gebed

Kollekte

Sb 24:3,4

Seën

 

 

 

 

Preek: Kolossense
2:16-19

Wat dink u oor die toekoms van
hierdie land?

Wat dink u oor die
toekomsmoontlikhede van ‘n Christelike lewenswyse in hierdie land?

Wat dink u oor die toekoms van ons kerk?

Sal ons kerk oor ‘n paar dekades
nog steeds die Vrye Gereformeerde Kerk wees?

Of sal die kerk oor byvoorbeeld
tien of twintig jaar totaal anders lyk?

Watter veranderinge sal nog alles
op ons afkom?

Sal ons die eenheid in die geloof
kan bewaar?

Of sal sommiges ons dalk verlaat?

Omdat alles te veel verander het?

Of ander mense dalk, omdat daar
te min verander het?

 

In hierdie preek gaan ons nie na
alles en almal om ons heen kyk nie, maar ons rig ons oë op ons Hoof, Christus.

Gefokus op Hom hoop ons dan ‘n
antwoord te kry op al hierdie vrae.

 

Tema: Die
werklikheid behoort aan Christus

1 Moenie die
vryheid in Christus verloor nie

2 Bly direk
verbonde aan die Hoof

3 Moenie op
die skaduwees bly fokus nie

 

1 Moenie die
vryheid in Christus verloor nie

Ons tema kom uit die teks.

In vers 17 staan: maar die
liggaam behoort aan Christus.

Die Griekse woord vir liggaam kan
gebruik word vir jou liggaam, jou lyf.

Dit word ook in oordragtelike sin
gebruik: ‘n liggaam of organisasie of groep mense.

Ons ken Christus as die Hoof van
sy liggaam, dis sy kerk.

Maar in hierdie vers word meer as
die kerk bedoel – die hele werklikheid.

In hierdie gedeelte gaan dit oor
die wêreld, die totale werklikheid om ons heen, en dat Christus die Hoof
daarvan is, die Hoof van alle owerhede – sien vers 10.

Mens kan daarom hier in vers 17
die Griekse woord wat hier gebruik word, beter vertaal, nie met ‘liggaam’ nie,
maar met ‘werklikheid’.

Dit is wat die nuwe direkte
vertaling in Afrikaans byvoorbeeld doen.

So vind ons dit ook in betroubare
Engelse vertalings, soos die NIV.

 

Ons vertaal dus vers 17 soos
volg: wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die werklikheid is
Christus.

En hier kom ons tema dus vandaan.

Ons tema: Die werklikheid behoort
aan Christus.

Wat die betekenis en implikasie
hiervan is, sal ons in die preek verder uitwerk.

 

In ons teks sê Paulus twee keer
ongeveer dieselfde.

Kyk maar saam in u Bybel.

Vers 16 begin met: “Laat niemand
julle...”

Verskillende dinge word dan
genoem waaraan mense hulleself bind.

Vervolgens word daar gesê: “maar
die liggaam behoort aan Christus”, of soos ons dit nou vertaal: maar die
werklikheid is Christus.

En dan in vers 18 begin Paulus
weer met: “Laat niemand julle...”

Weer noem hy dinge waaraan mense
hulle bind.

En dan maak Paulus ‘n stelling:
terwyl die persoon hom nie vashou aan die Hoof nie.

 

Twee keer herhaal Paulus sy
boodskap met klem:

Jy het die vryheid ontvang in
Christus.

Moenie jou daarvan laat afbring
nie!

Moenie jouself deur mense laat
meesleep nie.

Moenie jou laat meesleep deur
hulle wysheid, deur hulle bedrieërye nie.

Moenie jouself vasbind aan die
oorlewering van mense nie.

In die gedeelte wat aan ons teks
voorafgaan, sinspeel Paulus op die besnydenis.

Daar was Christene van Joodse
afkoms, wat die besnydenis as verplig beskou het.

Paulus reageer hier op hulle
opvatting.

Op ‘n mooi manier verwerp hy
hulle opvatting.

Hy wys op ‘n beter opvatting.

Hy skryf: U is ook besny.

U is naamlik in Christus besny! –
het u dit besef?

Dis net, hierdie besnydenis is
nie die werk van mensehande nie.

En dan noem Paulus die doop.

Die doop is die besnydenis van
Christus.

Deur die doop word jy met
Christus begrawe.

En deur die doop word jy ook met
Hom opgewek tot ‘n nuwe lewe.

Dis ‘n hele mond vol wat Paulus
hier sê.

In die eerste plek: die
besnydenis is vir ‘n Christen ‘n tradisie wat ouderwets geword het.

Dit hoef nie meer nie.

Dit was ‘n ritueel waarin bloed
sentraal gestaan het.

Bloed het gevloei as die baba
besny is.

Daardie simbool is nou ouderwets.

Want Christus se bloed het
gevloei.

Daar het nou ‘n simbool vir in
die plek gekom, ‘n teken, ‘n sakrament, wat op datum is.

Dit is die teken wat Christus
self ingestel het.

In die doop word ons begrawe,
ondergedompel in die water.

Jy verdrink as’t ware in die
water.

Jou ou mens verdrink, en dan word
jy uit die water opgetrek.

Skoongewas, ‘n nuwe mens!

Met die doop deur onderdompeling
is dit baie duidelik.

Ons gewoonte, die doop deur
besprenkeling, is op hierdie punt bietjie minder duidelik.

Wat wel duidelik is, is dat ‘n
mens met water gereinig moet word.

Dus, skryf Paulus, jy hoef nie
meer besny te word nie.

Jy moet wel gedoop word.

Dan hoort jy by Christus.

Dan kan jy elke dag jou sondes
laat afwas deur sy bloed.

Jou eie bloed hoef dan nie meer
te vloei as simbool – die besnydenis – nie.

 

In ons teks gaan Paulus dan
verder in hierdie lyn.

Hy noem nog ‘n aantal tradisies.

Byvoorbeeld die sabbatswette en
die eetgewoontes.

Varkvleis, mag jy dit eet?

Vir ‘n Jood, en ook vir die
Christenjode, was dit ‘n enorme probleem.

Moes die Christenjode voortgaan
om hulle van varkvleis te onthou, soos in die wet van Moses vereis is?

Daar was in Kolosse Christenjode,
wat dit verplig gestel het, selfs vir Christene uit die heidene afkomstig.

Dit was ‘n groot diskussiepunt,
ook daar in die gemeente te Kolosse.

 

Wat skryf Paulus hieroor in sy
brief, in opdrag van die Heilige Gees?

Kyk, op sig kan dit geen kwaad om
jou van varkvleis te onthou nie.

Jy sal niks oorkom as jy as
eks-heiden sou ophou om varkvleis te eet nie.

Daar lê dit nie aan nie.

Maar, wat wel verkeerd is, is as
jy so ‘n reël bindend oplê.

Want dit kan tot gevolg hê dat
die genade van Christus uitgehol word.

Die wet van Moses – wat die
nuttig van varkvleis verbied – was deel van die offer- en spyswette uit die ou
bedeling.

Hulle is vervul in Jesus
Christus, al het hulle waarheid en inhoud – soos die Nederlandse
Geloofsbelydenis dit verwoord – nog steeds vir ons ‘n boodskap.

Nou rig ons ons lewe nie meer in
aan die hand van die voorafskaduwing, in afwagting van dit wat gaan kom nie.

Nou het die werklikheid gekom.

Jesus Christus is die
werklikheid.

Alle voorskrifte is in Hom
vervul.

Hy het verlossing gebring, Hy het
betaal vir die skuld, waardeur die offers, en alle seremonies daarmee verbonde,
van die ou bedeling oorbodig geraak het.

 

Christus is die werklikheid.

Christus bepaal die werklikheid.

Die werklikheid behoort aan
Christus.

Hy bepaal ons doen en late.

Ons lewe en ons aanbidding is op
Hom gerig.

Die Kolossense se godsdienstige
lewe is nie gerig op die nakom van ‘n lang lys Joodse voorskrifte nie.

Net so min as wat dit bepaal mag
word deur die heidense godsdienstige gebruike.

In vers 16 is daar ‘n verwysing,
behalwe vir na die Joodse spyswette, ook ‘n verwysing na die nuwe maansfeeste.

In vers 18 is daar ‘n verwysing
na die verering van die engele, waarskynlik nog so ‘n sinkretistiese tradisie
wat posgevat het.

In die sinkretistiese Kolosse –
sinkretisties beteken dat verskillende godsdienste gemeng word – in die
sinkretistiese Kolosse was die nuwe maanfees ‘n belangrike okkasie.

Baie Jode het ook daaraan
deelgeneem.

Die verering van die maan het in
die oud-oosterse wêreld ‘n groot rol gespeel.

Dink aan Abram, wat weggetrek het
uit die stad Ur, ‘n stad wat die maan vereer het.

Vir die nomadiese mense, wat in
die koelte van die nag deur die woestyn getrek het, was die maan ‘n godheid.

 

God se eie volk het van tyd tot
tyd teruggeval in hierdie heidense gewoonte van die nuwe maansfeeste.

Paulus skryf egter: In Christus
is julle nou van die verering van die maan bevry.

In Christus is julle bevry van
die bygeloof, wat van julle verwag het om die maan te vrees.

Ons het ‘n Skrifberyming wat ‘n
baie ou gesang is, wat uit die vroeë kerk stam.

‘n Lied waarin mens ‘n polemiese
element, kritiek hoor, op die aanbidding van son en maan.

Skrifberyming 50:

“o Grote Christus, eew’ge Lig,

niks is bedek vir u gesig,

wat ons bestraal waar ons ook
gaan,

al skyn geen son, al blink geen
maan.

Toon ons u goedheid en u mag

deur u beskerming hierdie nag;

wil in die donker oor ons waak,

sodat geen plaag ons tent
genaak.”

(vers 1,2)

 

Paulus skryf vir die Kolossense:

Geliefdes, Christus is die
werklikheid.

In sy lig verblyk die vrees vir
son en maan,

Verdwyn ook die vrees vir mense
en die tradisies wat hulle aan julle oplê.

Moenie dat julle vryheid in
Christus weer van jou af weggevat word nie.

Weet u, mense wat pas tot
bekering gekom het, geniet so van die vryheid in Christus.

Alles waarvan hulle slawe was in
die verlede, mog hulle afskud.

Heidendom, bygeloof, bygelowige
tradisies, maar ook slawernye soos materialisme, seks, alkoholisme...

In Christus voel jy ‘n nuwe mens.

Soos iemand dit ‘n keer aan my
verduidelik het, dit voel of jy vir jare nie klere gewas het nie.

Daar was ‘n hoop wasgoed voor die
wasmasjien wat hoër as die huis was.

Maar na die bekering is alles
skoon, alles wat vuil was, weg.

 

Maar, na ‘n rukkie van Christen
wees, kerklid wees, is daar die gevaar dat nuwe slawernye jou weer in hulle
greep kry.

Nuwe bekeerlinge sal agterkom dat
daar in die kerk ook slawernye is, waaraan ou kerklede hulle gebind het.

Dinge wat jou weer van jou
vryheid wil beroof.

Paulus skryf indringend: moenie
dat iemand julle weer van julle prys beroof nie.

Moenie dat iemand, al is dit ‘n
baie vooraanstaande persoon in die kerk, jou vryheid in Christus weer van jou
afvat nie!

 

(Tema: Die werklikheid behoort
aan Christus

1 Moenie die vryheid in Christus verloor
nie)

 

2 Bly direk
verbonde aan die Hoof

Tradisies kan gevaarlik wees.

Agter eerbiedwaardige
godsdienstige tradisies kan ‘n vleeslike gesindheid skuilgaan.

Wat is ‘n vleeslike gesindheid?

Dit is ‘n manier van denke, ‘n
manier van lewe wat tuishoort by die ou sondige mens.

‘n Manier wat dus nie tuishoort
by ‘n bekeerde Christen nie.

 

Wat staan teenoor ‘n vleeslike
gesindheid?

Natuurlik ‘n Geestelike
gesindheid.

Geestelik met ‘n hoofletter G.

Jou denke, jou mening laat jy lei
deur die Heilige Gees.

Paulus skryf nog meer presies:

‘n Geestelike gesindheid is dat
jy jou laat lei deur die Hoof.

Jy is deel van die liggaam, en jy
volg die instruksies van die Hoof.

Die Hoof is Christus.

As die liggaam egter nie die Hoof
volg nie, dan funksioneer die liggaam nie.

Dan sterf die liggaam, of dan
doen die liggaam snaakse dinge.

‘n Liggaam wat ‘n versteurde
konneksie met die Hoof het, sal byvoorbeeld spastiese bewegings maak.

Ongekontroleerde bewegings.

Dit is hoe die kerk van Christus
lyk as sy nie die instruksies van haar Hoof volg nie.

Bly daarom verbonde aan julle
Hoof.

Volg julle Hoof, Christus, skryf
Paulus vir die Kolossense.

Moenie vashaak in die verlede
nie.

Mooi tradisies uit die verlede
verberg ‘n sondige vleeslike hart.

Wie aan tradisies vashou wat nie
op Christus gefokus is nie, ontaard in traditionalisme.

Die Christenjode in Kolosse moes
aanbeweeg met die tyd.

Hulle moes nie agterop raak met
God se heilshistoriese klok nie.

 

God se klok is uiteraard nie
sinoniem aan die klok van die tydsgees is nie.

Ook dit moes die gemeente in
Kolosse besef.

Soos ons in verlede week se preek
oor Kolossense 1 gehoor het, was misteriekultusse baie in die mode toe in
Kolosse.

Dit was die tydsgees.

Hierdie geheimsinnige kultusse
word nie deur Paulus aangeprys nie, inteendeel.

Die tydsgees kan mens ook van
Christus af weglei, net soos die geval is met tradisionalisme.

In beide – tradisionalisme en om
aan jou tyd aan te pas – in beide is die gevaar dat die sondige opgeblasenheid,
die vleeslike gesindheid nie uitgeroei word nie.

 

Vandag is dit nog net so.

As die gemiddelde mens in ons tyd
leef vir geld en plesier, moet ons waak dat dit nie ook die gees in die kerk
word nie.

As die Afrikaners om ons heen
kulturele eenheid belangriker vind as geloofseenheid, geloofseenheid wat gestalte
kry oor kulturele grense heen, moet ons waak dat dit by ons nie ook so werk
nie.

Ons staan baie nader aan ‘n
diepgelowige swartman, as aan ‘n oppervlakkige Afrikaner.

En as dit in ons tyd aanvaarbaar
raak om te begin saamwoon voordat jy trou, wil dit nie sê dat God ook so
daaroor dink nie, en dus verwag Hy van sy kerk anders.

 

Aan die ander kant hou die kerk
ook nie krampagtig vas aan hoe dit altyd was nie.

Traditionalisme kan ‘n lewende
verhouding van die gemeente met Christus haar Hoof versmoor.

Tradisionalisme kan selfs ‘n muur
word om vir die lewende God agter weg te kruip.

As mens redeneer: soos dit altyd
was, so sal dit wel goed wees.

Want dan sien jy oor die hoof dat
die duiwel, en jou eie sondige ou mens, baie slim en skelm is.

Dat die duiwel selfs in staat is
om ‘n Gereformeerde tradisie te begin misbruik, waaragter jy begin wegkruip vir
die lewende God.

 

Tradisionalisme besef onvoldoende
dat ook vandag se werklikheid aan Christus behoort.

Christus se kerk staan midde in
vandag se dinamiese werklikheid.

Die ware kerk leef volgens die
instruksies van haar Hoof Christus.

Die ware kerk funksioneer soos ‘n
gesonde atletiese liggaam, sê Paulus.

Daar is nie ledemate, of organe,
wat kraak of protesteer nie.

Die liggaam bly jonk en verouder
nie.

Die hele liggaam reageer direk,
soepel en kragtig op elke instruksie, aangestuur deur die Hoof.

Die hele liggaam, stewig
saamgevoeg deur gewrigte, senings, spiere ensovoorts.

Tradisionalimse hoort dus nie
tuis in die ware kerk nie.

Net so min soos wêreldgelykvormigheid.

Die liggaam van Christus bly
gesond en jonk.

Dit verouder nie.

As daar iets moet gebeur, dan
gebeur dit.

Doeltreffend, sonder aarseling,
gehoorsaam aan die Hoof.

Sowel buigsaam as standvastig.

Aanpasbaar en prinsipieel.

Christus deel die instruksies
uit, sy Woord is die rigsnoer.

 

Broers en susters, gemeente van
Pretoria-Maranata.

Is ons so ‘n liggaam van
Christus?

Hoe lyk ons?

Lyk ons soos die liggaam van ‘n
gesonde, geoefende atleet.

Of op die liggaam van ‘n ou man,
wat stadig in aksie kom, wat kreun en steun by elke hekkie wat op die pad kom.

As daar ietsie ekstra van ons
gevra word, as die gebruiklike, die tradisionele.

 

Dalk het ons ‘n verjongingskuur
nodig.

Nogmaals, nie om met die tydsgees
saam te gaan nie.

Maar om ontslae te raak van alle giftige
stowwe in ons liggaam, oortollige vette, noem maar op.

Dinge wat ons liggaam dalk in
lewensgevaar kan bring.

Hoekom noem ek hierdie dinge,
gemeente?

Om u op te roep, soos ons teks
sê, om vas te hou aan u Hoof, Christus.

Sodat die goddelike groei mag
voortgaan.

Sodat julle steeds meer die
eerste beginsels van die wêreld afsterf.

As die mannevereniging volgende
week weer net ‘n handjievol mans is, as dit maar weer net die ou bekende
gesigte is op jeugvereniging,

as alles maar weer op die ou
manier voortgaan na hierdie erediens, weet dan wel, dat hierdie boodskap teen
u, teen jou gehou gaan word, as jy eendag voor jou Hoof, Christus, verskyn.

En dan gaan dit nie help om te
sê: maar, Here, ek het wel twee keer elke Sondag kerk toe gegaan, en daar was
so baie Christene om my heen wat maar net een keer gegaan het, of wat net met
nagmaal gegaan het.

Dit gaan jou nie help nie.

Dink maar aan die gelykenis van
die talente.

Aan wie baie toevertrou is, sal
ook baie verantwoording geëis word.

 

(Tema: Die werklikheid behoort
aan Christus

1 Moenie die vryheid in Christus
verloor nie

2 Bly direk verbonde aan die Hoof)

 

3 Moenie op
die skaduwees bly fokus nie

Mag ons gemeente, en mag ook die
lewe van elke lidmaat, elkeen van ons, gekenmerk word deur ‘n lewende toewyding
aan Christus, ons Hoof.

Die werklikheid is van Christus.

Ons kan vrymoedig en sonder
skaamte in die werklikheid van vandag staan.

En ons is in die bevoorregte
posisie dat ons Christus persoonlik mag ken.

Hy het tot ons gekom in sy Woord
en Gees.

Net soos Hy destyds in die
prediking na die Kolossense gekom het.

Sy koms het alle tradisies in ‘n
totaal ander lig geplaas.

Dinge soos die spyswette, die
sabbatswette, die feesdae, die besnydenis.

Dit was, probeer Paulus
verduidelik, net ‘n skaduwee van dit wat moes kom, terwyl die werklikheid
Christus is.

‘n Skaduwee...

Sê nou maar jy sou in die middag
laat in die tuin sit, en jy sien ‘n skaduwee aankom om die hoek van die huis,
maar die persoon sien jy nog nie.

Sal jy daardie persoon aan sy
skaduwee herken?

Ek dink die kans is groot dat jy
iemand nie aan sy skaduwee sal herken nie.

Daar is te min detail in ‘n
skaduwee, om iemand persoonlik daaruit te herken.

Wat jy wel verseker weet, is dat
daar ‘n mens aankom.

Dit is wat Paulus in vers 17
bedoel: al die seremonies en wette en gebruike van die Ou Testament was
skaduwees.

Hierdie dinge was as’t ware die
skaduwee van Christus, wat op koms was.

Die oomblik toe Hy verskyn, was
dit soos ‘n helder lig, toe was dit skielik duidelik, toe het alles wat in die
Ou Testament na Hom heengewys het, skielik sin gemaak.

En soos dit werk, die oomblik as
die persoon om die hoek verskyn, dan kyk jy nie meer na die skaduwee nie, dan
kyk jy na die persoon, om te sien wie Hy is.

 

Nou vervolg Paulus, deur te
verduidelik dat dit eintlik raar is dat die Kolossense nou nog steeds die
skaduweeagtige gebruike van die Ou Testament nakom.

Hoekom konsentreer hulle nou nog
op die skaduwee, terwyl hulle na die Persoon kan kyk?

Noudat Hy verskyn het, rig jy mos
onmiddelik jou blik op Hom?

 

So bedoel Paulus dat dit geen sin
het om nou nog aan die tradisies van die Ou Testament vas te klou nie.

Laat die Kolossense hulle oë rig
op Christus, wat deur sy Woord en Gees tot hulle gekom het.

Hulle weet mos nou presies wie Hy
is, en hoe Hy gedien wil word.

 

Ja Christus het verskyn, en ons
oë is op Hom gerig.

Hy beheers ons lewe.

Ons laat ons nie lei deur
tradisies of lewenspatrone, omdat ander mense dit van ons verwag, of omdat dit
al altyd so gebeur het nie.

Ons laat ons ook nie lei deur wat
die massa doen, wat die TV ons wysmaak nie, wat die tydsgees van die dag is
nie.

Ons kyk na Christus, ons volg sy
instruksies op.

Hy bepaal ons werklikheid, ons
lewe is aan Hom gewy.

 

Die werklikheid behoort aan
Christus.

Daarom hoef jy nie bekommerd te
wees nie.

Wat dink jy oor die toekoms van
hierdie land?

Wat dink jy oor die
toekomsmoontlikhede van ‘n Christelike lewenswyse in hierdie land?

Wat dink jy oor die toekoms van
ons kerk?

Sal ons kerk oor ‘n paar dekades
nog steeds die Vrye Gereformeerde Kerk wees?

Die werklikheid is van Christus.

Die kerk behoort aan Christus.

Dis nie ons kerk nie.

Die kerk behoort nie aan die
lidmate, hetsy tradisionaliste, of mense wat alles net wil verander nie.

Die Woord van Christus moet die
rigsnoer wees, as dit beslissinge geneem word oor aktuele sake.

As dit vir ons moeilik is, om ons
deur die Woord te laat lei, om in die hede sowel buigsaam as prinsipieel te
wees, dan het ons dalk soos ‘n ou man geword.

Laat ons weer jonk word, as
liggaam.

Alles wat op ons afkom, watter
situasie of watter saak of onderwerp ook, dat ons dit vanuit die Woord benader,
met energie en lewenslus.

Of dit liturgiese onderwerpe is,
oor die invulling van die eredienste, of dit etiese onderwerpe is, oor ons
daaglikse lewe, of dit die toets van die tydsgees is, of dit ons persoonlike
lewenswyse en toewyding is.

Soos Paulus bietjie later in
hierdie brief aan die Kolossense skryf:

“Laat die woord van Christus
ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en
lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer
van die Here. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die
Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” (Kol 3:16-17)

 

Hoe sal ‘ons’ kerk oor tien of
twintig jaar lyk?

Die kerk behoort aan Christus.

Solank ons as lede maar die
instruksies van ons Hoof opvolg.

Solank ons as liggaam maar jonk
bly.

Buigsaam sowel as prinsipieel.

 

Die werklikheid is van Christus.

Nie alleen die kerk nie, maar die
hele kosmos behoort aan Hom.

Laat jou nie meesleep deur mense
nie.

Kyk op na Christus en volg Hom.

Met opgehewe hoof mag ons deur
hierdie lewe gaan.

Sy middelaarswerk het kosmiese
betekenis.

Hy beheers die hele
wêreldgeskiedenis.

Die toekoms lê veilig in sy
hande.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)