Jesus van Nasareth is die Christus, die gesalfde kneg van die Here

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 12
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 12 H.K.

LITURGIE:
L. Joh. 1: 19-50
Ps. 45: 1, 3, 5, 6
Ps. 45: 16
Ps. 2: 1, 3, 6
Ps. 116: 9
SB. 14: 2

Broeders en susters,

Vir ons is dit amper 'n vanselfsprekende saak om die name 'Jesus' en 'Christus' aan mekaar te verbind en in een asem te noem.

So spreek ons oor ons Heiland: as 'ons Here Jesus Christus'.

Jesus en Christus- dit is vir ons een en dieselfde Persoon.

Maar ons weet uit die Bybel dat dit tydens sy lewe op aarde vir die mense glad nie 'n vanselfsprekende saak was om die name 'Jesus' en 'Christus' in een asem te noem nie. Die meeste mense het wel 'Jesus van Nasareth' geken, die seun van Josef en Maria, maar hulle het geweier om hierdie Jesus ook as die Christus aan te spreek. Jesus èn Christus- hulle het hierdie twee nie aan mekaar kan verbind nie. Jesus- ja! Maar Christus? Nee!

Alleen die mense wat Jesus van Nasareth beter leer ken het en die geheim van hierdie mens begin verstaan het, het sover gekom dat hulle ook die naam 'Christus' aan Hom gaan gee het.

Daardie naam -Christus- het mos nie maar by die eerste die beste gepas nie. Daardie naam het 'n ryke en veelbelowende klank. Daardie naam het maar by Een kon pas!

Maar wie dan ook sover gekom het dat hy in Jesus die Christus ontdek het, het hierdie Jesus van Nasareth nou ook heeltemal anders begin beoordeel. Jesus het eers reg betekenis gekry vir diè mense wat in Hom die Christus gevind het. Want die naam 'Christus' het verklaar wie die Persoon Jesus was.

Sondag 12 H.K. bepaal vanaand ons aandag by hierdie besondere, veelbetekenende naam 'Christus'.

Maar die Kategismus het die lyn van Jesus na òns deurgetrek.

Is Hy Christus genoem- ons word christene genoem. En so veelbetekenend soos die naam 'Christus' klink, so veelbetekenend moet ook die naam 'christen' gaan klink. Soos die naam 'Christus' eers reg duidelik gemaak het wie Jesus was, so moet ook die naam 'christen' nou duidelik maak wie ons is. Soos die naam 'Christus' die geheim van Jesus se lewe verklaar het, so moet ook die naam 'christen' die geheim van ons lewe verklaar. Soos die naam 'Christus' by Jesus gepas het omdat Hy die Christus was, so moet ook die naam 'christen' by u pas omdat u regtig 'n christen is.

Daaroor wil ek u God se Woord bring vanaand. Ons wil saam hoor:

JESUS VAN NASARETH IS DIE CHRISTUS, DIE GESALFDE KNEG VAN DIE HERE.

  1. HY HET SY LEWE AAN GOD TOEGEWY
  2. HY MAAK ONS LEWE AAN GOD TOEGEWY.

1. Die Jode in Jesus se dae het die Christus verwag, broeders en susters. Dit blyk duidelik uit die Skrifgedeelte wat ons saam gelees het, Joh. 1.

Hulle het geweet dat die Christus moes kom. As Johannes die Doper die aandag trek deur sy klemmende prediking dat God se Koninkryk naby gekom het, en deur sy indrukwekkende doop in die Jordaanwater, ontvang hy al gou 'n amptelike delegasie van die teoloë uit Jerusalem met die vraag wie hy feitlik is. En uit wat ons gelees het, is dit duidelik dat die vraag hom daarop toegespits het of hy die Christus was.

As Johannes twee dae later party van sy dissipels op Jesus wys met die woorde: "Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem", is dit voldoende vir daardie dissipels om Johannes te verlaat en Jesus te volg. Hulle het verstaan wat Johannes bedoel het. Want as een van daardie twee, Andreas, gaan waarsku sy broer Simon, sê hy sommer dadelik: "Ons het die Messias gevind" En Messias is mos die hebreeuse woord vir Gesalfde, of Christus, die Griekse woord wat ons meestal gebruik. Die koms van die Christus is dus verwag.

Dit blyk ook wel uit die aankondiging van Jesus se geboorte aan die herders naby Betlehem deur 'n engel: "Vir julle is vandag gebore die Saligmaker, wat Christus die Here is".

Watter Jood sou nie weet wie die Christus is nie? Die Messias, daardie geliefde woord vir die groot Verlosser, die magtige Kneg van die HERE waaroor die Skrifte van die Ou Testament so heerlik vertel het. God het beloof om 'n Kneg te skenk wat alle vroeëre knegte vir goed sou oortref; 'n deur Hom Gesalfde, 'n ampsdraer dus, wat die volmaakte verlossingswerk vir God se volk sou tot stand bring. 'n Man wat die aangename jaar van die HERE sou laat aanbreek en God se volk in een keer bo alle puinhope sou uittel. Die Jode het na hierdie Christus met sterk verlange uitgesien.

Maar as hierdie Christus dan eindelik deur God aan sy volk aangebied word, as Jesus van Nasareth hom as hierdie Christus aan die Jode aanbied, wil hulle tog nie van Hom weet nie. Jesus word as die Christus verwerp.

Want ons het nou wel in Johannes 1 gelees hoedat dadelik 'n klompie dissipels van Johannes die Doper vol blye verwondering vasstel hulle het in Jesus van Nasareth die Christus gevind. Maar u weet dat die hele lewe van die Here Jesus vol geword het van die konflik wat oor die vraag gegaan het: is hierdie Jesus die Christus, God se gesalfde Kneg wat die verlossing sal tot stand bring? Is dit nie 'n brutale godslastering dat hierdie mens Jesus Homself daardie erenaam Christus toeëien nie? Is Hy regtig dit wat hy sê dat Hy is?

U kan maar dink aan Jesus se optrede in die sinagoge van sy vaderstad Nasareth, al dadelik na sy doop in die Jordaan. Opsetlik het die Here vir die Skriflesing 'n profesie oor die komende Messias gekies, Jesaja 61: "Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbrysel van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van die gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die HERE aan te kondig".

En toe die Here aan sy predikasie oor hierdie Messiaanse profesie toegekom het, het Hy maar een kort boodskap gehad: "Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul". Die gesalfde van die HERE, die Christus waarvan Jesaja geprofeteer het, het gekom en die aangename jaar van die HERE het aangebreek. Die lewe gaan opbloei weer. Ek, Jesus, waarborg dit julle!

Wat het daar toe 'n verontwaardiging op hierdie preek losgebars! Hulle het Hom wil doodmaak.

Durf Jesus van Josef Homself opwerp as die Messias?? Wie het Hom daarvoor die reg gegee?

En hierdie afkeer om in Jesus die Christus te sien, het by die Jode gebly, veral by die geestelike leiers.

Hulle het Hom kort voor sy gevangenneming selfs reguit die vraag voorgelê: "Deur watter gesag doen u hierdie dinge en wie het u hierdie gesag gegee? ".

En hierdie vraag het gebly tot in die proses voor die Sanhedrin, waarin die Here weens godslastering tot die vloekdood veroordeel is. Toe het die sentrale vraag gekom, waarmee die geheim van Jesus se lewe in die hart getref is: Is U die Christus? Sê dit vir ons.

Nogtans het daar ook toe, in daardie proses, toe die kwestie skynbaar tog suiwer gestel is, geen aanvaarding van Jesus as die Christus gekom nie. Want God se volk kòn Jesus nie as die Christus aanvaar nie omdat hulle nie meer geweet het wat die Christus was nie.

Dit was die hele kwessie, broeders en susters, hoekom hulle oor die persoon van Jesus gestruikel het. Die eerste vraag kon naamlik nie wees nie: wie is die Christus? Jesus van Nasareth of moet ons 'n ander een verwag?

Maar aan hierdie vraag moet 'n ander vraag voorafgaan, naamlik: wat is die Christus? Wat het God by voorbaat oor Hom gesê?

Wie homself nie eers met hierdie vraag besiggehou het nie, kom ook met daardie ander vraag nie klaar nie.

Christus self het die mense dan ook nie gesoek deur oral uit te basuin dat Hy die Christus was nie. Maar het het hulle onderwys gegee oor wat die Christus was.

Eers toe hulle dit verstaan en geglo het, het Hy ontroerd Petrus salig gespreek vanweë sy belydenis dat Hy, Jesus, die Christus was. Maar terselfdertyd het Hy sy dissipels nadruklik bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.

Want die mense kon daardie boodskap dat Hy die Christus was, nie verdra nie so lang as wat hulle bly rondloop het met die Christus-idee wat hulle self bedink het maar wat nie in ooreenstemming met die Skrif was nie.

Die Skrifte moes die oë en die harte vir Hom oopmaak.

Want die Skrifte het inderdaad geleer die Christus sou gaan oortref al God se vroeëre verlossingswerke. Hierdie Kneg sou ook gaan oortref al God se vroeëre knegte.

Maar die Jode het toenemend 'n nasionale held van Hom gemaak, 'n strydbare figuur wat die troon van Dawid weer sou oprig en die ryk van Dawid in sy ou glorie sou herstel. Wat Pilatus met sy Romeine sou verdrywe en Herodes van die troon af wegja.

Terwyl hulle die eintlike taak van hierdie Kneg van die HERE uit die oog verloor het.

Moes die Gesalfde Kneg van die HERE nie die volk van die HERE weer by die HERE terugbring nie, deur in volmaakte toewyding Homself aan die HERE offer, die volk met God te versoen, en die skuld van hulle af weg te vat? Sou Hy nie in diè opsig al God se vroeëre knegte oortref nie?

Al God se vroeëre gesalfdes, messiasse, christusse, het op diè punt te kort geskiet.

God het profete gesalf wat aanhoudend aan sy volk sy Woord moes voorhou en die weg van die verlossing moes aanwys deur die volk by die sonde en die afgodediens weg te roep na die God van die verbond terug.

God het konings gesalf om sy volk teen vyande te beskerm en met wysheid en regverdigheid die volk voor te gaan in die gehoorsaamheid aan die HERE.

En Hy het priester geroep en gesalf, wat die diens van die versoening vir die volk moes verrig en so die volk elke dag moes leer dat hulle alleen van genade mog lewe, danksy die bloed van die versoening; wat met die offerdiens ook vir die volk moes leer dat daar 'n beter offer moes kom om regtig al die sondes te kan versoen.

Deur al hierdie gesalfdes onder die ou verbond het die HERE al geprobeer om sy volk by Hom vas te hou en om die lewe op aarde weer volledig aan Hom toe te wy.

Maar geeneen van daardie ampsdraers het in staat geblyk om hierdie hoë roeping te vervul. Hulle was self sondige mense, van nature geneig om God en hul naaste te haat. Die meeste gesalfdes het hulleself heeltemal onbruikbaar gemaak en God juis teëgewerk. Hulle het hulself gesoek pleks van hul Opdraggewer. Broodprofete wat die mense na die mond gepraat het. Priesters wat die vroulike personeel by die tabernakel verkrag het (Hofni en Pinehas) of dronk deur die heiligdom gewaggel het (soos Jesaja in hoofstuk 28 beskryf). Konings wat die volk op die pad van die sonde voorgegaan het.

En so het onder die Ou Verbond die roep om 'n beter, 'n volmaakte Ampsdraer al hoe luider begin klink. 'n Gesalfde wat in volmaakte toewyding aan die HERE nie homself sou soek nie maar homself sou wil opoffer om vir altyd God se volk uit die sonde te laat opstaan en na die HERE terug te lei. 'n Profeet wat die pad na God terug volledig sou kan wys, 'n Priester wat hierdie pad na God terug met sy eie offer sou kan baan, en 'n Koning wat op hierdie pad na God terug vervolgens sou kan voorgaan en sy volk sou kan vashou.

Alleen wie die donker agtergrond van die Ou Verbond ken, kan ook verstaan hoe dat die Christus van die Nuwe Verbond moet wees. So alleen ook kan iemand gaan insien dat Jesus van Nasareth die Christus is wat God tot die Verlosser van sy volk en van sy wêreld gemaak het.

God het self Hom so aangewys, by die doop deur Johannes in die Jordaan, toe die Heilige Gees soos 'n duif op Hom neergedaal het. Hy het kom deel in die skuld van God se volk om vir hulle die afwassing van die sondes te bewerk.

Jesus het nie Homself as die Redder van die wêreld opgewerp nie, Hy het ook nie self sy verlossingsprogram opgestel nie- God het Hom vir hierdie taak gekies en God self het ook sy program gedikteer. Dit was 'n program wat alle Jode kon kontroleer, aangesien God dit al eeue te vore gedikteer het.

God het Hom ook in staat gestel om hierdie program te volbring. Die goddelike krag van die Heilige Gees het dit gewaarborg. Hierdie Jesus sou inderdaad as hoogste Profeet en Leraar, as enigste Hoëpriester en as ewige Koning al God se vroeëre verlossingswerke gaan oortref. Maar deur Homself eers tot in die dood te verneder. En nie deur Israel aan homself terug te gee nie, maar om hulle aan die HERE terug te gee.

Israël het vir die grootste deel Hom verwerp, broeders en susters. Hulle het Jesus nie as Christus aanvaar nie. Hulle het 'n hele ruk gedink Hy is die Christus. Hulle wou Hom met geweld koning maak. Hulle het oor sy profetiese onderwys versteld gestaan. Maar dat Hy Homself moes offer vir hul skuld- dit kon hulle nie aanvaar nie. Omdat hulle hul diepste nood teenoor God nie meer geken het nie.

Maar ook na sy kruisdood bly God hierdie Gesalfde aan sy afvallige volk en aan die wêreld voorhou as die enigste Redder wat aan die deur God gestelde eis voldoen en daarom die lewe op aarde kan herstel. Petrus hou dit aan die Jode voor op die Pinksterdag, na 'n boeiende opening van die Skrif: "Laat dan die hele huis van Israël sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. "

En daardie ultimatum het sindsdien nie meer uit die wêreld verdwyn nie. God het Hòm tot Christus gemaak. Hy is die hoogste Profeet en Leraar wat die enige werklike weg na die verlossing weet en wys, deur op Homself te wys, die groot Hoëpriester wat volkome versoening by God bereik het deur die offer van sy eie liggaam. Hy is die ewige Koning aan wie se ryk daar geen einde sal wees nie. Alleen by Hom is ons lewe veilig en ons toekoms gewaarborg omdat Hy die lewe by God terugbring. En buiten God is daar mos geen lewe nie!

2. Òns het by hierdie Gesalfde die lewe teruggevind, gemeente. Saam met baie ander mense. Want hoewel baie eiewyse mense hierdie Verlosser verwerp het en nog verwerp, het daar tog ook mense gekom wat Hom aangeneem het. En hul aantal het uitgegroei tot 'n volk van christene oor die hele wêreld wat nou ook hul lewe aan die HERE weer wil toewy.

U weet dalk dat die naam 'christene' al gou na Pinkster vir die dissipels van Christus gegee is. Terwyl hulle aan Jesus die naam 'Christus' maar nie wou toeken nie, het hulle wel al gou sy volgelinge 'christene' genoem. Dit mag aanvanklik 'n skeldnaam en spotnaam gewees het, maar dit het nogtans maar bewys dat die verlossing van Christus so in die lewe van sy volgelinge deurgewerk het dat dit in die oog geval het en die mense van 'christene' begin praat het.

En dit was nou ook presies wat God gesoek het!

Sy Christus moet 'n volk van christene agter Hom saamneem deur die geskiedenis, sodat die toewyding van die lewe aan God deurgeset en uitgebou word. Soos Christus in die wêreld gekom het om Homself heeltemal aan God toe te wy, so moet nou ook sy christene hulle toenemend aan die HERE toewy.

Die Kategismus lê daarop die nadruk in die tweede vraag en antwoord van Sondag 12.

Maar dan moet u mooi lees hoe dit daar onder woorde gebring is. Dit is nie die bedoeling dat ons Christus probeer naboots nie. Ons sou dit nie kan nie.

Maar Christus self sorg nou daarvoor dat ook ons lewe aan sy Vader toegewy word. Hy gee die Heilige Gees wat Hom aangedryf het om die sondige menselewe weer na God terug te bring, nou ook aan sy christene. As ons in Christus glo word ook ons met sy Gees gesalf, sodat ons lewe nou dieselfde rigting soos by Hom kry.

Deur die Gees van Christus soek ons nou saam met Hom die eer van ons hemelse Vader, die oorwinning oor die sonde, die duiwel en sy ryk, die herstel van die paradys.

Soos hierdie hoë doel Christus beheers het, so beheers dit nou ook ons. Ons lewe het Christus geword, soos Paulus dit uitdruk in sy brief aan die gemeente te Filippi.

Ons voel ons nou geroepe om vir die hele wêreld sy naam te bely en ook ander mense op te roep om christen te word. Want dit bedoel die Kategismus tog as gesê word dat ek Christus se naam bely. Dit is maar nie om eenmaal in jou lewe binne die vier veilige mure van die kerk temidde van dankbare broeders en susters jou "ja" te laat hoor nie. Maar dit is 'n publieke getuienis ook buite die kerkmure, met woord en daad, dat hierdie wêreld God se wêreld is en alleen danksy die versoeningswerk van Jesus van Nasareth nog toekoms het.

Ons is bereid om so nodig hierdie belydenis met die dood te bekoop, want soos Christus Homself tot in die dood aan die saak van sy Vader wou toewy, so is ons nou bereid om onsself met alles wat ons het tot in die dood aan die saak van Christus op te offer. Ons lewe het mos Christus geword.

En ons kan maar op haat en teëstand reken, want soos die wêreld Christus gehaat het, so haat hulle nou ook die christene.

Maar soos soldate werp ons onsself saam met Hom in die stryd teen die sonde, die duiwel en sy ganse ryk. En ons probeer die lewe op alle fronte uit sy duiwelse greep los te trek om dit weer vir die HERE diensbaar te maak.

Nee, ons is nog nie volmaakte christene nie. Die sonde laat ook ons nog dikwels struikel en val. Maar ons mag opstaan en met 'n vrye gewete aangaan, want daar is vergewing om Christus ontwil.

Moet ek vanaand nougeset vir u gaan uitwerk hoedat die lewe van 'n christen moet wees, broeders en susters? Moet ek beklemtoon dat u die naam van Christus nie regtig kan bely nie as u gemaksugtig in u Bybelstudie is, nie aan die vereniging deelneem nie, of wel die vereniging besoek maar nie werklik probeer om 'n sinvolle bespreking te bereik nie. Moet ek noem dat dit belangrik is dat u beter lektuur lees as Beeld of Die Transvaler, Die Huisgenoot of Sarie?

Moet ek noem dat jy nie 'n lewende dankoffer aan die HERE is nie as jy alle aande voor jou televisie sit en kyk en nie bereid is om ook jou vrye tyd in die diens van die HERE te bestee nie?

Moet ek noem dat jy nie regtig teen die sonde en die duiwel stry, en dus ook nie 'n vrye gewete kan hê nie, as jy onbekommerd jou lewe vir die invloede van die duiwel oopsit of selfs die duiwel in sy eie speelhol opsoek?

Maar u weet dit mos! U kan dit altans weet, want dit is al so dikwels vir u gesê.

Nee, ek sê vanaand dit: die Kategismus leer in Sondag 12 nie soseer hoe dat dit feitlik in die lewe van 'n christen moet word nie. Maar ons hoor hoedat dit onvermydelik sal wees. Met ander woorde: die eise vir die christen-wees word hier nie aan ons voorgehou nie, maar die vanselfsprekende gevolge word hier aangewys. As die lewe regtig Christus geword het en sy Gees dus ook u Gees geword het, bly die gevolge nie uit nie. dan kom daar soos vanself al daardie sake wat ek nou net genoem het en nog baie meer. Dan leef u nie meer u eie lewe nie, maar Christus leef in u. Dan trek alles in u lewe na God toe en na die nuwe aarde sonder sonde. Dan word vandag al die begin van die verloste ewige lewe in u sigbaar.

Want Christus dryf ons deur sy Gees nie tot slawediens nie. Ons lewe word nie lastig en moeilik noudat u 'n christen geword het nie. Nee wat! As u lewe Christus is, is die sterwe wins, het Paulus geskrywe. Maar die sterwe kan wins wees omdat die hele lewe wins geword het! Want ons lewe het weer lewe vir Gòd geword. Erediens. En dus kom die Paradys terug in ons lewe. Ja, die nuwe Paradys word in ons lewe alreeds sigbaar, waarin ons saam met Christus in ewigheid oor alle skepsels mag regeer. Onderkonings in 'n herskape wêreld.

Maar dan sê ek weereens: die Kategismus sê nie: so moet dit in u lewe feitlik word nie. Maar die Kategismus sê, in navolging van God se Woord: so word dit in 'n lewe van 'n christen al sigbaar en merkbaar. As die Gees van Christus in hom of haar woon.

En moet nou dus maar in u eie lewe nagaan, broeders en susters, of u die naam 'christen' wel vrymoedig kan dra.

Dis nie God se skuld as u nie regtig 'n christen is nie. Die Gees van Christus het u ook vandag weer gesoek,

AMEN

(Pretoria, 30 Oktober 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)