'n Hemelse leër veg vir God se volk

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2008-10-19
Text: 
Daniël 10
Preek Inhoud: 

Liturgie:

Votum en seengroet
Ps 27:1,2
Wet
Ps 27:6
Gebed
L. Daniël 10
Ps 35:1 3
Prediking oor Daniël 10:12,13
Ps 91:2,6
Gebed
Kollekte
Ps 69:6,12
Seen

Ons het die afgelopen weken in ‘n paar preken God se engelen in die kollig gehaal.  Daardie knegte van de HERE wat ons daagliks omring, dophou en bescherm .
Nou ja: “in die kollig gehaal”- letterlik is dit vir ons natuurlik nie moontlik nie. Want hulle doen hulle werk meestentyds onsigbaar. Maar deur middel van die bybel het ons hulle in die oog gekry.

Daar s egter nie net goeie engele nie. Daar is ook bose geeste, handlangers van die duiwel wat op allerhande maniere probeer om die lewe hier op aarde te beskadig. 
Ons het dus met sowel engele as duiwels te doen. Goeie en bose geeste.

Maar daardie twee het ook met mekáár te doen. As soldate van twee vijandige koninkryke voer hulle oorlog met meEn daarby gaan dit oor ons, God se kinders. Ook hiervan kry ons gewoonlijk niks te sien nie. En daarom staan ons daar ook meestal nie so by stil nie. Maar in die bybelgedeelte wat ons vanoggend gekies het word daar ‘n tippie van die sluier gelig. Want uit Daniël 10 word dit vir ons duidelijk:

'n Hemelse leër veg vir God se volk

1. teen die geweld van duiwelse geeste
2. as gevolg van die gebed van God se kerk


     1. Ja, ons kry in Daniël 10 'n blik agter die skerms, gemeente. Veral ons teksverse gee ons 'n bietjie insig in die onsigbare stryd wat agter die sigbare botsing van kragte hier op aarde in die hemelse geweste gevoer word.
Daniël het, blykens vs.12, die HERE vir so'n insig gevra. Hy wou so graag bietjie meer weet as wat hy met sy oë kon sien en met sy ore kon hoor. Aangesien hy danig van stryk geraak het van wat wat hy gesien en gehoor het.

Dit gaan naamlik nie goed met God se volk wat nog onlangs na Jeruzalem mog terugeer om daar die stad en die tempel weer op te bou nie.
Ons bevind ons hier in die derde jaar wat koning Kores, die koning van die Perse, aan die regering is in Babel. Kores het direk in sy eerste regerings-jaar in Babel daardie koninklike besluit uitgevaardig. Ons weet dit uit die eerste verse van die boek Esra.
Daardie vrylating was 'n wonder van God gewees. Dit was soos 'n droom toe die HERE die gevangenes van Sion laat weerkeer het, sing Psalm 126.
Ek reken ook Daniël was toe diep ontroerd. Al het hy self ook nie meer saam teruggegaan nie  hy was al oud en boonop het die HERE vir hom 'n taak gehou aan die hof van Babel  het hy in hierdie verlof om te mag teruggaan 'n nuwe toekoms vir God se volk sien oopgaan. 'n Magtige toekoms!
Hy het mos indrukwekkende visioene gesien: 'n klein klippie wat eiehandig deur God losgemaak is en tot 'n groot berg geword het wat die hele aarde op die ou end bedek het  God se Koninkryk wat alle ryke van die aarde sou vergruisel.
En 'n Seun van 'n mens wat met die wolke tot voor God se troon genader het en alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het.
God se volk sou tog weer 'n toekoms hê. Onder 'n nuwe, goddelike Koning. Al het God hulle eers ook totaal van die wêreldkaart gevee.

Maar nou, omtrent twee jaar later, het Daniël se dankbaarheid en ontroering in kommer en onrus omgeslaan. Dit lyk asof die nuwe begin nou al sal vasloop.
Blykbaar het Daniël aan die hof die een en ander gehoor oor die ontwikkelinge in en rond Jerusalem. Die tempelbou wil maar nie van die grond af opkom nie. Die moed het al gou in die skoene gesak toe daar teenwerking van die kant van die Samaritane af gekom het.
En wat dit net erger gemaak het, die vyande het met omkoopgeld gewerk om daarmee die raadsliede aan die hof van koning Kores teen die Judeërs om te koop. Jerusalem mag nie weer opgebou word nie.

Dit gaan dus glad nie goed in Jerusalem nie. Daniël raak al hoe meer bekom-merd. En hy verstaan ook nie mooi nie hoekom die HERE dit so laat gebeur nie. Wat van die mooi beloftes en visioene wat Hy gegee het?
Dis dié dat hy besluit het om te treur en te vas en te bid, hopende dat die HERE hom meer insig in sy planne wil gee.
Hy gaan die HERE bestorm met sy gebede, 3 weke aanmekaar.

En dan ontvang Daniël na daardie 3 weke van aanhoudende gebed 'n hemelse verskyning, broers en susters. 'n Baie besondere verskyning hierdie keer. Nie slegs 'n engel nie. Ook nie die spesiale engel Gabriël nie, Maar 'n oogverblindende verskyning wat uitvoerig vir ons beskryf word in vs.5 en 6.
Moet hierdie beskrywing 'n slag vergelyk met wat ons in Openbaring 1 lees. Dan sal u 'n verregaande ooreenkoms ontdek tussen hierdie verskyning aan Daniël en die verskyning van ons Here Jesus Christus wat die apostel Johannes op Patmos gesien het.
Ons mag daarom aanneem dat dit Hy, God die Seun, is wat hier al voor sy menswording in 'n hemelse gedaante na Daniël toegekom het.
Ons Heiland het alreeds onder die Ou Verbond meermale na sy volk toe gekom, in die gedaante van "die Engel van die HERE", die hemelse Generaal van God se engeleleër. Gedurigdeur het Hy al voordat Hy ‘n Mens geword het, sy volk te hulp gekom.
En Hy is nou ook hier, om vir Daniël van sy kommernis af te help. Wanneer Daniël sy hart vashou oor die ontwikke-linge, staan skielik groot Generaal self voor hom om hom gerus te stel. Die Engel van die HERE van Wie ons so pas in Ps.35 gesing het: "Die Engel Gods, laat Hy hul (die vyande) vind, verstrooi, verjaag op donker pad."
Hierdie goddelike Generaal het gekom om vir Daniël die begeerde insig te gee. Uitvoerig sal Hy vir hom vertel watter toekoms God vir sy volk beplan het. En dat alles sál regkom, al moet hulle ook eers 'n moeilike pad loop.

En daarby gun die Engel van die HERE vir Daniël (en dus ook vir ons) ook 'n oom-blik 'n kykie agter die skerms. Hy vertel nie net van allerlei verbete stryd hier op die aarde nie. Van die sigbare moeites waar God se volk nou maar eenmaal deurheen moet gaan nie. Hy gee nie net 'n oorsig van die aktiwiteite van soldate en diplomate, van politieke magstryd ens. hier benede nie. Hy gee ook 'n bietjie insig in die stryd wat daarágter en daarbó in die hemelse geweste gestry word.

Dit wat Hy daarvan vertel is maar min.
Ons sou graag baie meer wil weet. Daar word net 'n tippie van die sluier gelig. Maar wel soveel dat dit vir ons duidelik word dat daar in die geestewêreld, die wêreld van die engele, 'n belangrike botsing van kragte plaasvind waarmee ons alles te doen het.
Die hemelse Generaal praat van 'n konflik met die "vors van die koninkryk van die Perse". Toe Hy, aangespoor deur Daniël se gebed, dadelik aksie begin onderneem het, het hy op 'n duiwelse teenstander gestuit wat hom op daardie oomblik met sy divisie helse geeste besiggehou het met die ryk van die Perse.
As daar in ons vertaling van 'n "vors" gepraat word, broeders en susters, moet u dié keer nie aan 'n aardse maghebber dink nie; maar aan 'n bevelhebber, ‘n offisier oor duiwelse geeste.  Moet maar kyk: ook die aartsengel Migael, die aanvoerder van God se getroue engelebrigade, word in vs.13 'n "vors" genoem: "een van die vernaamste vorste'. Die Nuwe Afrikaanse Bybvelvertaling skryf daarom ook: “ngel”.
Die duiwel het, op aarde onsigbaar, maar wel deeglik merkbaar, een van sy handlangers met 'n afdeling bose geeste op die Persiese hof afgestuur. Daniël se gebed was regtig nie onnodig nie. Daar is sekerlik iets gaande.
Maar dit wat Daniël hier op áárde bemerk het, het dus sy agtergrond in 'n gevaarlike ontwikkeling in die hémelse geweste. Daar is duiwelse kragte werksaam. Bose geeste word uitgestuur om mense te beïnvloed, om raadsmanne aan die Persiese hof ontvanklik te maak vir omkoopgel, om adviseurs van koning Kores aan te hits teen daardie handjievol Israeliete in Jerusalem, om Kores self teen daardie Jode in die harnas te jaag.

Ons moet dit weet. Ook vandag.
Ons moet daarmee ernstig rekening hou. Die stryd van die kerk hier op aarde is nie net ‘n geveg teen vlees en bloed  nie, maar teen die owerhede (die vorste!), teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis, teen die bose geeste in die lug, soos Paulus ook aan ons voorhou in sy brief aan die Efesiërs, hoofstuk 6.
As hier op aarde 'n oorlog uitbreek, is daar onsigbare duiwelse kragte betrokke, wat agter die skerms die ontwikkelinge beslissend probeer beïnvloed.
Agter rewolusionêre kragte orals in die wêreld werk duiwelse geeste.
Rebellies, betogings, aanslae deur terroriste- dis alles die gevolg van ‘n duiwelse beïnvloeding. Ateïstiese filosofieë, kommunistiese idees  dit alles word ingefluister deur bose geeste.
Die angswekkende opkoms van die Islam orals in die wêreld, daaragter werk die Bose met sy leër.
Politiese veranderinge, onderhandelinge of juis die mislukking daarvan, daarin speel die duiwel sy rol.
Maar ook: dwaalleer in die kerk waardeur die betroubaarheid van die HERE se Woord aan die mense ontneem word, ‘n toenemende wêreldse lewensstijl  dit word ingeblaas deur die duiwelse geeste.
‘n Terugval op die sendingsterreine  dit bewys dat die bose geeste steeds besig is.

Die leërs van die duiwel beïnvloed die geeste op talle maniere. Hulle infiltreer die koerante en tydskrifte, die televisie en die radio, die musiekwêreld, die wêreld van vermaak, ja enigiets. En die duiwel het met dit alles slegs een doelwit: hy wil God se wêreld in 'n chaos verander en voorkom dat God vanuit die kerk sy herskeppingswerk regkry.
Dis hoekom hy in Daniël se dae 'n aanvoerder van sy helse leër na die Perse toe gestuur het. God se stad en tempel mog nie weer opgebou word nie!
Dis hoekom hy ook vandag nog orals in die wêreld en hier in Suid-Afrika gevaarlik aktief is: die kerk mag geen toekoms hê nie, die wêreld moet in ‘n chaos ten onder gaan.

Ons moet dit weet, broeders en susters, en daarmee terdeë rekening hou. Ons moet weet wat agter die skerms aangaan.
Maar as ons dit weet en huiwer vir dit wat nog alles kan gebeur, hoor ons in ons teks vir ons sê: "Wees nie bevrees nie!".
Daar is genoeg redes om te huiwer, nogtans staan ons nie alleen nie. Die wat by ons is, is darem meer as die wat by hom, by die duiwel, is. Sou ons onsself sonder hulp moes verdedig teen so'n onophoudelike aanval van bose geeste  sou ons ten onder gaan.
Die kerk sou lankal nie meer bestaan nie.
Maar, en dit is die bemoedigende boodskap in ons teks: daar is 'n sterk Held wat ons help. Die Opperbevelhebber van die hemelse leër in eie persoon het Hom vir ons in die stryd gewerp. Die Engel van die HERE het sy kragte kom ingooi as die voorvegter van die kerk. En Hy beskik oor alle hemelse legioene van engele om vir ons in die bres te spring.

Met name word daarby die aartsengel Migael genoem waarvan later, in hoofstuk 12, gesê word: "die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan (NBV: waghou)".
Die duiwel het spesiale bevelhebbers om die volkere en die leiers teen die kerk op te steek. Maar die HERE het die engel Migael tot die spesiale beskermengel van God se volk gemaak.
En daar is nie alleen derduisende duiwelse geeste nie. Daar is ook ontelbare gehoorsame engele van God wat op God se bevel die bose geeste die baas is.
'n Hemelse leër onder aanvoering van Migael breek die duiwelse kragte en invloede en maak ruimte vir die Heilige Gees.

Op watter manier hullie dit doen, gemeente? Ek sou graag meer daarvan kon vertel, maar ek weet dit self ook nie. Dit maak ook nie saak nie. Ons weet die vernaamste: en dit is dat die stryd vir ons gestry word.
Dit was al so in Daniël se dae. Maar toe moes die beslissende geveg nog gevoer word. Die Engel van die HERE moes, nadat Hy 'n mens soos ons geword het, heeltemal alleen, sonder die hulp van engele, die stryd met die duiwel aangaan om hom vernietigend te verslaan.
Ons weet egter dat ook daardie stryd inmiddels klaar gestry is. Paulus kon inmiddels skryf in sy brief aan die Kolossense, 2:15: "Hy het die owerheden en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer”.

En Johannes het in een van sy visioene op Patmos gesien dat die engel Migael met sy divisie op die hemelvaartsdag van ons Heiland die duiwel en sy engele eens en vir altyd uit die hemel uitgegooi het.
Dáár is hulle rol klaargespeel. Op die aarde het hulle nog wel die ruimte, vir ons hier is die gevaar nog nie verby nie. Maar in Christus is ons vandag tog reeds meer as oorwinnaars. Ons staan nie alleen teenoor die geweld van die hel nie. Inteendeel, Christus veg vir ons met die hele hemelse leë van engele. En ons mag versekerd wees dat selfs geen bose engele of magte ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

     2.  Ja, u mag sélf Christus se engeleleër aanspoor om aktief te raak. Deur u gebed. Dis nog ons tweede punt.
Dit is naamlik nog 'n belangrike onder-deel in ons teks.
Alles begin mos in Daniël 10 daarmee dat Daniël besluit om te bid, aanhoudend te bid. Al moet dit vir drie volle weke wees.

Dit was "in die eerste maand", lees ons in vs.4.
Die eerste maand is die maand waarin die Pasga gevier is. Die fees wat herinner aan God se groot verlossing wat Hy in Egipte bewerk het. Waar is die God van die uitredding uit Egipte? Waar is die God wat inmiddels 'n nog groter uitredding uit Babel gegee het?

Daardie gebed het iets losgemaak in die hemel. Die Engel van die HERE vertel vir Daniël dat sy woorde vanaf die eerste dag wat hy begin bid het, in die hemel gehoor is. En nog daardie einste dag het die hemel in beweging gekom.
Al is dit inmiddels 3 weke later, 21 dae, die hemel het regtig nie teruggesit en niks gedoen nie. Die gebed is rêrig nie tevergeefs gebid nie.
Inteendeel, daar is in die afgelope dae al 'n hele stryd gestry, vertel die Engel van die HERE. Dit was op die aarde nie sigbaar nie, maar dit was wel baie belangrik. En dit alles as gevolg van Daniël se gebede.
Soveel beteken ons gebede by die HERE, broeders en susters. Die HERE laat Hom daardeur aanspoor. Hy het ons gebede ‘n plek gegee in die uitwerking van sy raad. Ons mag, deur te bid, op ‘n manier daaraan saamwerk. Dis mee as gevolg van ons gebede die engele aan die werk spring.
Wanneer u die duiwelse kragte hul verwoestende werk sien doen, in die wêreld, maar ook in die kerk, dalk in u eie gesin by een van u kinders, mag u 'n beroep doen op die leër van ons Here Jesus Christus. En sommer dadelik  meteens sal Hy sy engele ten stryde laat trek.

Sal u dit onthoud? Maar sal u dit dan ook onthou om in u gebede vir meer sake te bid as as net vir u eie kleine lewentjie met sy bekommernisse en probleme? Ons is dikwels maar so selfgesentreerd in ons gebede. Dan vra maar net vir gesondheid en kos, genesing van siekte, 'n goeie nagrus, voorspoed vir die familie ens.
Ons moet ons egter nes Daniël betrokke weet by die geskiedenis van God se Kerk en voorbidders wees vir God se groot saak hier op aarde.
Ons moet op hoogte wees van die politiese veranderinge, ons moet bekend wees met allerhande filosofieë en teorieë wat deurentyd in die geskiedenis die denke van die mense beïnvloed het.
Ons moet meeleef met die kerklike ontwikkelinge, hier en orals in die wêreld, meeleef met die voortgang van die sending  en evangelisasiewerk.
Al daardie dinge moet in ons gebede die bo toon voer.

As ons so aanhoudend bid, is ons gebed 'n magtige wapen in die stryd teen die bose, duiwelse geeste, gemeente.
Dan maak ons die hemelse kragte los wat nodig is om God se kerk en wêreld na die uiteindelike bevrydingsdag toe te lei.
Ons sê partymaal: nou kan ons nog slegs bíd! En dan voel ons taamlik magteloos. Kon ons maar meer doén... Maar ons kan nie. Ons kan alleen maar bid.
Maar as ons bid, doen ons juis baie!! Ons doen dan die belangrikste ding. Oor die res hoef ons dan glad nie meer bekommerd te wees nie: dit  wórd  vir ons gedoen. Deur God se engele. Agter die skerms beveg hulle dan die oorwinning vir ons.
Ons sien dit nie altyd dadelik nie. Soms moet ons 'n hele ruk wag voordat ons iets daarvan bemerk dat God met sy engele agter die skerms wel verder werk. Daniël moes ook 3 weke wag waarin hy gedink het sy gebed word nie gehoor nie. Terwyl daar tog al die tyd baie beslis iets met sy gebed gebeur het.
Dit kan ook gebeur dat dit lyk asof sake  as gevolg van ons gebed net versleg.
Ons hoef egter nooit en te nimmer te wanhoop nie. Ons bid nie 'n tevergeefse gebed nie. Al sien ons ook niks gebeur nie, mag ons glo dat Christus vanaf sy troon in die hemel, waar Hy alreeds as die Oorwinnaar mag sit, aanhou stry met inskakeling van Migael en sy divisies vir die uiteindelike oorwinning. Totdat Hy, soos daar staan in 1 Kor.15: "alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het"  die hele bende van die Bose.

In dié geloof mag ons leef.
In dié geloof moet ons bid.
Want hoe meer ons ‘n biddende kerk is, des te meer is ons ‘n strydende kerk.                                     AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)