My siel is aan U verkleef

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-10-15
Text: 
Psalm 63 : 4-9
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 63:4-9
Tema: My siel is aan U verkleef
Psalm 63 is ‘n lied wat sing oor ‘n kind se verlange na sy God. Dawid beskryf hierdie verlange pragtig: Ek soek u. My siel dors na u. My vlees smag na u.
Toe Dawid hierdie lied geskryf het, was hy in die woestyn van Juda. Dus hy het geweet wat dors kry is. In ‘n dor en uitgedroogde land, sonder water. Maar hierdie dors kan nie met gewone water geles word nie. Hierdie dors na God kan slegs geles word, of soos hy in vers 6 sê, sy siel kan slegs versadig word, deur God self.
Vanuit die eensaamheid van die woestyn gaan Dawid se gedagtes terug na God se heiligdom. Hy verlang om daar God se sterkte en heerlikheid te sien. En Dawid hernu weer sy gelofte: Ek sal U prys my lewe lank. In u Naam my hande ophef. Hande ophef was die gebedshouding in die Ou Testament.
‘n Biddende lewe.
Soos by die heiligdom, God se huis, offers gebring is, en die mense wat offers gebring het, dankbaar in God se aanwesigheid daarvan mog eet, van die vettigheid, so dink Dawid nou daaraan. Maar met die woorde vet en vettigheid in vers 6 bedoel hy meer as net die dierevet waarvan hy mog geniet as hy by die tempel was. Vettigheid is hier simbolies vir God se seën oor sy hele lewe.
God se goedertierenheid in alle opsigte. Ja God se goedertierenheid is beter as die lewe. Ook nou hier in die woestyn. Hierdie woorde laat mens dink aan die pragtige oproep uit Jesaja 55:
“O almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!
Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.” (Jes 55:1-2) Ook hier word die HERE se seën oordragtelik vergelyk met om jou te verlustig in vettigheid. Om by die HERE en naby sy huis te mag lewe, dit is nie ‘n honger lewe nie, dit is nie ‘n maer lewe nie, maar dit is ‘n ryk geseënde en oorvloedige lewe.
Dawid is vol van God. God deurtrek sy hele bestaan: ek dink aan U op my bed.
In die nagwake peins ek oor u. Dawid praat hier baie direk met God. Tot vyftien keer toe gebruik hy in hierdie kort psalm die woordjie “U”.
Hy is direk in gesprek met God.
Is u in u lewe ook direk in gesprek met u God en Heiland? Is dit vir u ‘n hartsverlange om in die skaduwee van God se vleuels te skuil, soos Dawid dit uitdruk? Hierdie is ‘n pragtige beeld wat Dawid ongetwyfel daar in die rotswoestyn van Juda gesien het. Hoe ‘n arend op sy onbereikbare kransnes sy vleuels oor sy kuikentjies uitsprei. Ja al was Dawid op daardie oomblik nie naby die tempel nie, het Hy geweet die Almagtige sprei ook daar in die eensame woestyn sy vleuels oor hom uit. Ons weet nie presies wanneer Dawid hierdie psalm gedig het nie. Was dit toe hy op die vlug was vir sy vyande?
Wie was sy vyande? Uit Dawid se lewensgeskiedenis kan mens aan verskillende episodes dink. Maar tog voel Dawid homself hier in die woestyn veilig by God. Soos ‘n kuiken skuil onder die vleuels van sy ma hoog op ‘n onbereikbare kransnes, so weet Dawid dat sy vyande nie naby hom sal kan kom nie, omdat die Here sy vleuels oor hom uitgesprei het.
Dawid gebruik sterk, baie intieme woorde. My siel is aan u verkleef. Hy bedoel: Ek hou aan U vas, orals waar U gaan, gaan ek agter U aan. Soos ‘n babadiertjie wat aan sy ma vasklou, en orals saamgaan waar sy ma gaan.
Pragtig dat ons sulke gevoelvolle, sulke emosionele woorde in die Psalmboek het. Ons mag dit ons eie maak. Is jou siel ook aan die Here verkleef? Is jou lewe verkleef aan die diens van die Here? Verkleef, dis soos vasgeplak. As jy dit probeer losskeur, dan breek dit. Alleen ‘n lewe met God is werd om geleef te word.
Hierdie is ‘n pragtige psalm om elke oggend te sing. My God, wat tog my lewe is, hoe smag my hart as’k U moet mis. Ek wil U prys my lewe lank.
Hierdie psalm, Psalm 63, het bekend gestaan as die môrelied van die vroeë kerk. In die vroeë kerk is hierdie psalm in die gebedsliturgie gebruik waarmee elke oggend begin is. Ons kan ook hieruit leer. Om elke oggend jou geestelik te oefen om die dag saam met die Here te begin, om naby Hom te leef, om te besef dat Hy alles in jou lewe is. Dat jy nie net aan die Here dink as jy in sy huis kom nie, maar elke dag van jou lewe.
Ook as jy ver weg van God se huis is, soos Dawid nou hier in die woestyn.
Soos ons weet, het Dawid sy vyande gehad. ‘n Opregte kind van die Here sal altyd vyande hê. As jy ‘n gelowige is, en jy het nie vyande nie, dan is daar iets nie in orde nie. Maar Dawid voel veilig, want God se regterhand ondersteun hom. God sal hom beskerm teen sy vyande. Die vyande sal omkom, soos vers 11 sê, die deel van die jakkalse sal hulle word. Dawid verwys hier na mense wat omkom in ‘n veldslag sonder dat hulle begrawe word. Hulle word voer vir die jakkalse. Hierdie beeld is spreekwoordelik vir hulle wat ver van God lewe.
Hulle het geen toekomsvooruitsig, hulle het geen ewigheidsperspektief nie.
Daarenteen sal hulle wat by God skuil, tot in ewigheid bewaar word.
Ja selfs deur die graf heen.
Dors u na God?
Ook as jy nog volop in die lewe staan, as jy meer as besig is met jou werk, en jou sosiale lewe, en jou vakansielewe? Besef jy dat, al leef jy nou voluit, en al het jy die gevoel dit sal altyd so aanhou, besef jy dat dit nie so is nie?
Soos Dawid in Psalm 103 sê: “Die mens – soos gras is al sy lewensdae, ‘n blom wat ons aanskou met welbehae, maar wat kortstondig is en baie teer.”
Dit geld ook vir jou. In terme van die ewigheid is jou lewe op aarde ‘n oogwink. Maar in hierdie lewe moet die beslissende keuses gemaak word.
In hierdie lewe, wat met ‘n gewone geboorte begin het, moet daar ‘n wedergeboorte plaasvind, om die ewige koninkryk te kan ingaan.
Ons mog vandag gaste wees aan Christus se tafel. Mag dit die vrug van vandag se nagmaal wees, dat u weer die kerk verlaat met hierdie belydenis:
My siel is verkleef aan my Heiland en Saligmaker.
Niks op aarde sal my meer van Hom skei nie.
Vir Hom wil ek lewe, tot my laaste asemtog.
Amen.

Liturgie: 

Votum
Seën
Ps 63:1,2
Wet
Ps 119:45
Gebed
Nagmaalsformulier (p.14)
Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
1e tafel: Skriflesing: Psalm 63; Ps 63:3
2e tafel: Skriflesing: Jesaja 55; Ps 63:4
3e tafel: Danksegging; Ps 103:8,9
Dankgebed
Teks: Psalm 63:4-9
Preek
Ps 63:5,6
Gebed
Kollekte
Ps 103:10,11
Seën