God is barmhartiger as mense

Text: 
Dordtse Leerreëls 1,15-18
Date: 
2017-08-21
Preek Inhoud: 

Dalk het u gedink, toe u vanaand in die kerk kom en u kyk op die liturgiebordjie:

Aggenee! alweer oor die Dordtse Leerreëls. Daardie vervelige en ingewikkelde belydenisskrif, wat die heeltyd aanhou en aanhou oor dieselfde onderwerp.

Die uitverkiesing is tog onverstaanbaar, hoekom so baie woorde daaraan spandeer?

Gemeente, is die Dordtse Leerreëls vervelig? Ek wil u vra om vir ‘n oomblik te dink aan iemand wat in die verlede lid van die kerk was, maar wat op hierdie oomblik nie meer kerk toe kom nie. As u vanaand met daardie persoon in u agterkop na die preek luister, dan sal dit nie eentonig wees nie. Want dit gaan vanaand oor daardie persoon. En dit gaan uiteraard ook oor uself.

Verder wil ek u vra om krities na hierdie preek te luister, en daarmee bedoel ek spesifiek die volgende: In die slotwoord oftewel besluit van die Dordtse Leerreëls staan daar naamlik ‘n spesiale instruksie vir elkeen wat oor die uitverkiesing preek. Ek wil dit graag voorlees.

Dit staan agter in u Psalmboek op bladsy 106:

“Ten slotte doen hierdie Sinode ‘n beroep op alle mededienaars in die evangelie van Christus om hulle in die behandeling van hierdie leer in die skole en in die kerke godvrugtig en eerbiedig te gedra. Hulle moet hierdie leer, sowel mondeling as skriftelik tot eer van die Naam van God, tot heiligmaking van die lewe en tot troos van die verslae harte uitlê. Hulle moet in ooreensteming met die Skrif nie alleen na die reël van die geloof dink nie, maar ook praat. Eindelik moet hulle hulle weerhou van alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry ...”

Om saam te vat:

as daar oor die uitverkiesing gepreek word, moet dit wees:

  • tot eer van God
  • tot opbou van die geloofslewe
  • tot vertroosting;
  • en dit alles binne die perke wat  God se Woord stel.

Ek verkondig dan vanaand vir u die Evangelie met hierdie tema:

Tema: God is barmhartiger as mense

Ek sal nou aan die artikels wat ons vanaand gelees het, een vir een aandag skenk.

U kan u Psalmboek oophou by hierdie artikels. Ons begin by artikel 15, waarin benadruk word dat dit ‘n voorreg is as jy uitverkies is. Veral as jy daaraan dink dat nie almal uitverkies is nie. Sommiges het God verbygegaan. Hulle laat bly God in die gemeenskaplike ellende. Gemeenskaplik bedoel om te sê: die uitverkorenes het ook daarby gehoort, deur hulle eie skuld! Sommiges, hoe moeilik ons dit ook kan sê, is dit wel so dat God hulle verbygaan. Direk word wel hierby genoem: dit maak God beslis nie die bewerker van die sonde nie. Dit is nie God se skuld dat hulle verlore gaan nie. Dis hulle eie skuld. Hulle het naamlik geweier om God se uitgesteekte hand beet te pak. Hier hoor ons weer beide kante van dieselfde muntstuk. Die een kant is dat God hulle verbygegaan het.

Die ander kant is dat hulle God se uitgestoke hand nie wou aangryp nie.

Daar bestaan geen dubbele predestinasie nie. Dubbele predestinasie is ‘n karikatuur wat die Remonstrante van die Bybelse openbaring van die uitverkiesing gemaak het. Asof die verwerping op dieselfde manier die oorsaak van ongeloof is, as wat verkiesing die bron van geloof is.

Vervolgens skenk artikel 16 aandag aan die twyfelaars. Elkeen wat soms homself afvra: glo ek wel? En, indien wel, glo ek wel goed genoeg? Lewe ek wel goed genoeg?Hierdie vrae hang soms soos ‘n swaard bo ons kop. Is ek uitverkies, of dalk verwerp? Mens kan soms angstig en radeloos daarvan word. Artikel 16 help jou uit die nagmerrie uit. As jy die vraag – is ek wel uitverkies – as ‘n nagmerrie ervaar; die vraag of God jou wel goed genoeg vind. Ook die jong Marten Luther het slapelose nagte gehad, en die vraag het hom ook gemartel: is ek wel uitverkies? Johannes Calvyn skryf oor hierdie soort aanvegting:

Met geen versoeking tref die satan die gelowiges ernstiger of gevaarliker, as wanneer hy hulle onrustig maak met die twyfel aan hulle verkiesing (Institusie 3,24,4).

Artikel 16 help jou uit die nagmerrie. Wat moet jy doen as jy angstig is?

Dieselfde as wat jy as kind gedoen het toe jy ‘n nagmerrie gehad het. Gaan na jou hemelse Vader toe. Soos hier staan: mense wat hierdeur gepla word moet nie mismoedig word nie as hulle lees oor die verwerping, hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes skaar nie, maar hulle moet voortgaan om die middele trou te gebruik. Middele verwys na die genademiddele – die Skrif, die prediking, kerk toe kom, die sakramente gebruik, bid. Bly trou die middele gebruik.

Verlang na beter tye, waarin jy die genade ook mag ervaar. Dus, is jy angstig?

Gaan na jou hemelse Vader toe. Soek kontak met Hom. Bid tot Hom. Lees sy Woord. Praat met ander mense wat Hom ook dien. Besoek die kerkdienste.

Dit is die middele. En dan word nog ‘n keer eksplisiet gesê:

die leer van die verwerping is nie bedoel om twyfelaars angs aan te jaag nie.

Die barmhartige God het belowe – Jesaja 42 en Mattheüs 12 – dat Hy die geknakte riet nie sal verbreek nie en die lamppit nie sal uitblus nie.

Daarenteen is dit wel die bedoeling dat hier leer skrikaanjaend is vir hulle wat geen rekening met God hou, wat nie belangstel in sy Seun wat sy lewe aan die kruis geoffer het nie. Skrikaanjaend vir hulle wat net fokus op die lewe in hierdie wêreld; wat hulle laat lei deur sondige begeertes. Angsaanjaend, solank as wat hulle hulle nie ernstig tot God bekeer nie.

Artikel 17 wys ons daarop dat ons nie te veel, maar ook nie te min moet sê nie.

Oor die wil van God kan ons slegs dinge sê op grond van sy eie Woord. Nie te veel nie. Dit wil sê, jy mag nie meer sê as wat die Bybel doen nie. Laat ek ‘n voorbeeld noem. Ons het soms die neiging om iemand tot in die hel te praat. As iemand so openlik sondig gelewe het, so baie dinge stukkend gemaak het, dan moet hy wel in die hel brand. Maar artikel 17 waarsku dat ons versigtig moet wees. Ons kan nie self oordeel nie. Slegs Hy wat op die troon sit, mag oordeel.

God se Woord gee ons nie die ruimte om konklusies te trek oor wie in die hel is nie. Gelukkig maar. Want God is barmhartiger as mense. Verstaan my goed, ek bedoel nie hiermee te sê dat die hel uiteindelik nie sal bestaan nie. Nee, die hel bestaan en daar is nou ook al mense in die hel. Daaroor is die Bybel baie duidelik. Maar God se Woord laat nie toe dat ons oor iemand die konklusie trek: die en die is nou in die hel. Ons gaan nie daaroor nie. Ons weet nie wat daar gebeur tussen God en ‘n mens nie, dalk in sy laaste lewensure. Wie het verwag dat die een moordenaar aan die kruis nog die hemel sou binnegaan?

Tog het dit gebeur. Laat ons versigtig wees.

Dus, nie te veel, nie meer as die Bybel sê nie. Maar daar is ook die ander kant.

Laat ons ook nie te min sê nie. Want, inderdaad, die hel bestaan. Dis verskriklik om net daaraan te dink. Tog moet ons daaroor praat, en onsself en ander daarop wys: Wie ‘n lewe lei los van God, los van sy kerk en sy Woord, kies ‘n pad wat na die hel lei. As jy volhard in ‘n lewe los van God, is dit jou voorland. Kom tog tot inkeer! Dus ook nie te min sê nie, nie die werklikheid van die hel verdoesel nie.

Mens is geneig om stil te bly oor sulke dinge, want die hel is tereg ‘n verskrikking. Maar mag die konfrontasie met hierdie werklikheid tog ‘n heilsame uitwerking hê! Mag dit die sondaars in Sion laat bewe, mag dit die roekeloses laat sidder! Mag die idee aan hierdie verterende vuur, hierdie ewige gloed, hulle laat omdraai! (Jesaja 33:14) Laat ons dus ook nie te min sê nie.

Die skrik kan heilsaam wees.

 

En dan is daar nog iets waaroor ons ook nie te min moet sê nie, en dit is oor die hemel. Die Bybel leer ons om versigtig te wees met die konklusie dat iemand in die hel is. Die Bybel leer ons wel met sekerheid praat oor mense in die hemel.

Daarom mag ons tot ons troos op ‘n begrafnis sê: Die Here het hierdie broeder of suster tuisgehaal. Dus, laat ons tot ons troos, nie te min sê nie. Onsekerheid is nie ‘n kenmerk van vroomheid nie. En dit geld in besonder ook – hierop vestig artikel 17 eksplisiet ons aandag – vir jong kinders. Vroeër het daar baie kinders by geboorte of voor geboorte gesterf. Ouers het hulleself afgevra: wat gebeur daar met my kindjie se siel? Ook vandag is daar baba’s wat in die moederskoot reeds sterf. ‘n Stil verdriet vir baie ouers. Dan is daar ook babatjies wat met soveel afwykings gebore word dat hulle nie lewensvatbaar is nie. Artikel 17 raak ‘n gevoelige snaar. Artikel 17 gee ook ‘n antwoord op vrae waarmee hierdie ouers rondloop.  Balsem vir die wonde.

Godvresende ouers moenie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat reeds in hulle kinderjare uit hierdie lewe weggeneem word nie.

Nou is hierdie antwoord nie bedoel om die ouers nog meer te laat twyfel oor die vraag of hulle wel Godvresend genoeg is, of hulle wel goed genoeg glo nie. Want, mag ‘n twyfelde ouer redeneer, as ek nie goed genoeg glo nie, sal nie net ek, maar ook my kinders verlore gaan. Ons moenie artikel 17 op so ‘n manier lees nie. Dikwels is ouers, wat sopas ‘n kindjie aan die dood moes afstaan, in rou en het ook hulle geloof ‘n geweldige knou gekry. Maar laat dit duidelik wees: hulle en net so min hulle kinders sal gered word op grond van hulle geloofsprestasie.

Al wat hulle moet doen, is om maar net aan Christus te bly vashou. Om die middele trou te bly gebruik. Ouers wat in die verbond lewe, al voel hulle hulleself hoe sondig, kry hierdie sekerheid. Vir u is die belofte, naamlik die saligheid, vir u en vir u kinders (Handelinge 2:39).

Miskien wonder u nog oor die volgende:

Artikel 17 skryf oor jong kinders. Maar wat van ouer kinders? Wat van volwasse dooplede? Hulle is tog ook verbondskinders? Wat van hulle wat hulle rug op die kerk gedraai het? Sê nou maar ‘n onverskillige dooplid word plotseling uit hierdie lewe weggeruk? Gee die Bybel ook sekerheid, troos, vir ouers, vir nabestaandes van sulke kinders? Gemeente, ook hier geld: nie te veel sê nie, ook nie te min nie. Die oordeel kom God toe. Gelukkig maar. God is baie barmhartiger as mense. Daarom kan ons by God rus vind. Die hart van elke mens bly onrustig, totdat dit rus vind by God.

Dit is een van die pragtige uitsprake van die kerkvader Augustinus. Dit geld ook vir ‘n ouer van ‘n verbondskind wat geen geheim daarvan maak dat hy nie meer wil glo nie. Ons hoef nie te oordeel nie. Ons laat dit aan God oor. By Hom vind ons rus. Hy is die groot Barmhartige. Mog so ‘n onverskillige verbondskind te sterwe kom, het ons in daardie geval geen sekerheid van die ewige saligheid vir daardie persoon nie, dit is baie pynik. Maar ook dan vind ons hart rus by God.

Want om steeds angstig te wees of iemand in die hel is, dit is ook al ‘n vorm van oordeel. Laat die oordeel maar aan God oor. Hy die Almagtige, wat sowel sy regverdigheid as barmhartigheid in Christus getoon het.

Daar is baie twyfelaars, sowel binne as buite die kerk. Mense het twyfelaars dalk al afgeskryf. Maar God sien die hart aan. Hy laat sy kinders, met wie Hy ‘n verbond gesluit het, nie sommer los nie.

Ons kom nou ten slotte by artikel 18.

Hierdie artikel onderstreep nogmaals die belang van die manier waarop.

In die vorige preek oor die Dordtse Leerreëls, verlede week, het ons ook al daaraan aandag geskenk. Na aanleiding van artikel 14. Die manier waarop ons oor die uitverkiesing praat, is wesenlik. Meer spesifiek: dat mens dit net op die regte tyd en plek doen. En, beklemtoon artikel 18, met ‘n houding van aanbidding. Aan elkeen wat durf praat oor die onverdiende genade van die uitverkiesing; en aan elkeen wat durf praat oor die regverdige verwerping, woord voorgehou:

“Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?” (Rom 9:20)

Dit staan hier veral vir hulle wat opstandig is, en op ‘n verwytende toon na God toe praat. Christus sê: “staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?” (Matt 20:15) ‘n Houding van aanbidding, dis die manier waarop. Ons aanbid hierdie heilsgeheim. Saam met die apostel roep ons uit:

O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit Hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom 11:33-36).

Gemeente, miskien het u vanaand na hierdie preek geluister met die naam van iemand in u agterkop. Iemand wat nie of nie meer kerk toe gaan nie. Wat kan jy vir daardie persoon doen? Ek hoop dat dit duidelik is: nie oordeel nie. Ons kan, ons mag nie oordeel nie. Wat kan ons doen? Bid, die Here herinner aan hierdie verbondskind. Hom vra om vir jou duidelik te maak wat jy konkreet vir hom of haar kan sê of doen. En as jy nie antwoord op hierdie vraag kry nie, weet dat die Here wel met hom besig is. God is baie barmhartiger as mense.

En ons, as ons naby God lewe, word ons ook steeds barmhartiger.

Barmhartigheid stoot nie af nie, maar trek aan.

Barmhartigheid soek hulle op wat verlore dreig te gaan.

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

Nagmaal, aand-diens:
Votum
Seën
Ps 134:1-3
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Ps 116:1
1e tafel: Skriflesing: Jesaja 42:1-7 & Mattheüs 12:9-21; Ps 116:2-4
Lofverheffing & Gebed
Teks: Dordtse Leerreëls 1,15-18
Preek
Ps 111:2-4
Gebed
Geloofsbelydenis (Nicea)
Ps 85:3
Kollekte
Ps 85:4
Seën
Preek: Dordtse Leerreëls 1,15-18

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata