Die Godheid van Jesus Christus blyk uit die name wat die Skrif Hom gee

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-11-24
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 10
Preek Inhoud: 

Ons mog vandag weer die nagmaal vier.

Hoewel die Name van al drie Persone in God Drieënig genoem is, het die fokus vandag veral op God die Seun, ons Here Jesus Christus geval.

Hy was die Gasheer aan die nagmaalstafel.

Dit is sy kruisoffer wat ons herdenk het.

Ons het teruggedink aan sy bloed wat gevloei het, as ‘n versoening van al ons sondes, doelbewuste en selfs onopsetlike sondes.

 

In artikel 10 van die NGB is alle fokus ook op Hom.

In artikel 10 bely ons as kerk sy Godheid.

Die NGB spreek bloot die Skrif na.

As mens die hele openbaring van die Skrif kan saamvat, kan mens sê dat Jesus Christus se Godheid op viervoudige wyse uit die Skrif tot ons kom.

Christus is God, want eerstens: die Skrif gee aan Hom Goddelike name.

Christus is God, want tweedens, die Skrif openbaar aan ons sy Goddelike eienskappe.

Christus is God, want derdens, die Skrif beskryf sy Goddelike werke.

En vierdens, Christus is God, want die Skrif gee aan Hom Goddelike eer.

‘n Viervoudige getuienis.

Ons sal elkeen van die hierdie vier aspekte een vir een behandel.

Vanaand se preek fokus op die eerste aspek, naamlik die Goddelike Name wat die Skrif aan ons Heiland gee.

 

Tema: Die Godheid van Jesus Christus blyk uit die name wat die Skrif Hom gee

 

Inderdaad, Jesus ontvang in die Skrif name wat nie gepas is vir ‘n mens om te dra nie.

Die NGB skryf: “Hy is van ewigheid die Seun van God.”

En: “Hy is dus ware, ewige God, die Almagtige.

Hierdie is enkele name, in die Skrif is daar veel meer.

In vanaand se leerpreek gaan ons ‘n paar van hierdie Goddelike name behandel.

Saam met die kerk uit die verlede bely ons as kerk vandag in die hede, dat Christus God is.

Om ons heen word hierdie belydenis van alle kante af aangeval.

Nie net van die kant van Jode en moslims nie.

Ook mense wat hulleself Christene noem, soos die Jehovah Getuies.

Ook mense wat hulleself Gereformeerd noem, maar wat in vaarwaters beland het waar Christus se Godheid geloën word, of dit nou links liberale of regs konserwatiewe vaarwaters is.

Van alle kante probeer Satan hierdie leerskat van die kerk in diskrediet te bring.

Die bedoeling van vanaand se leerpreek is daarom om u toe te rus, sodat u nie met ‘n mond vol tande staan, as u mense ontmoet wat Christus se Godheid loën nie.

As ons aan ander rekenskap gee van dit waarin ons glo, dan moet ons dit altyd op ‘n beleefde en nederige manier doen, en terselfdertyd vasstaan in ons belydenis.

 

Nou in die eerste plek is dit ‘n feit dat die Skrif vir Jesus gewoonweg God noem.

Niks meer, niks minder nie.

Die evangelis Johannes skryf oor Jesus as die Woord wat vlees geword het.

In Johannes 1:1 skryf hy dan: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

Verder, in die twintigste hoofstuk noteer die evangelis wat Thomas se belydenis was, toe hy oog in oog met die opgestane Here Jesus Christus te staan gekom het:
“En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!”

Jesus het Thomas nie hieroor bestraf nie, Jesus het hierdie belydenis aanvaar, en gesê:

“Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Joh 20:28-29)

Ook in die Romeinebrief word Jesus reguit God genoem: “Christus ... Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!” (Rom 9:5)

 

Hoekom is dit so dat sommige sektes die teks van die Bybel verander het, sektes soos byvoorbeeld die Jehovah Getuies?

Dit is om Bybeltekste soos hierdie die swye op te lê, Bybeltekste wat nie in hulle sisteem inpas nie.

Bybeltekste wat sonder omhaal van woorde vir Jesus God noem.

 

Nou word Jesus in die Bybel God genoem, maar nie net dit nie.

Ons vind nog meer Goddelike name vir Hom in die Skrif.

So word Hy in Filippense 2:11 Here genoem: “en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”

Die Griekse woord wat hier met Here vertaal is, is Kurios.

Dit is ‘n woord wat die Romeinse keiser in daardie tyd vir homself toegeëien het, wat niemand anders mog gebruik nie.

Dit was ‘n woord wat op die goddelikheid van die Romeinse keiser gewys het.

In die Nuwe Testament, soos hier in Filippense, word die woord Kurios egter nie vir die keiser gebruik nie, maar bewus vir Jesus Christus.

Nie die keiser in Rome nie, maar Jesus Christus, wat opgevaar het na die hemel en aan die regterhand van God sit, dit is Hy wat Heer is oor alle dinge!

 

Dan is daar nog ‘n naam in die Bybel wat op Jesus se Goddelikheid dui, en dit is Messias.

Nou is dit so dat die woord Messias, wat van Hebreeuse afkoms is, of die Griekse vorm wat Christus is, dat dit ‘n naam is wat op sig ook vir ‘n mens gebruik kon word.

Messias of Christus beteken naamlik gesalfde.

En soos ons weet was daar byvoorbeeld in die Ou Testament mense wat gesalf is as koning, of profeet, of priester.

Maar, in die konteks van die verwagting van die koms van die groot Messias, kom wel sy Goddelikheid na vore.

Dan dink ek veral aan ‘n Bybelteks soos Johannes 1:41,

In hierdie teks word vertel hoe Andreas opgewonde vir sy broer Simon sê: “Ons het die Messias gevind”!

In Andreas se entoesiastiese opmerking resoneer die Ou Testamentiese profesieë, waarin God beloof het om ‘n Messias te stuur om sy volk te verlos.

As mens daardie profesieë lees, word duidelik dat hierdie beloofde persoon Goddelike eienskappe sal hê.

Dit sal nie bloot net nog ‘n mens wees nie.

 

En al is Jesus as ‘n mens gebore, blyk ook uit die woorde van die engel aan Maria, dat Hy meer as net ‘n mens was:

“Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word” (Luk 1:32).

Aan die herders het die engel gesê: “dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.”

Die Engel gee hier verskillende name vir Jesus:

  • Christus,
  • Here,
  • Seun van die Allerhoogste,
  • Saligmaker.

Dit is name wat te pretensieus vir ‘n mens is.

Neem byvoorbeeld die naam: Seun van die Allerhoogste.

Hierdie einste benaming was die rede hoekom die Joodse Raad vir Jesus ter dood veroordeel het.

Die Joodse Raad het gesukkel om ‘n beskuldiging teen Hom te vind wat die doodstraf verdien.

Mattheüs skryf: “En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie. En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie.”

Jesus het toe self ‘n aanklag hulle in die skoot gewerp.

Die hoëpriester het Hom gevra: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?”

Jesus het toe positief daarop geantwoord.

En Hy het toegevoeg dat hulle Hom sal sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.

Die hoëpriester was toe geweldig geskok oor hierdie woorde.

Hy het sy klere geskeur en geroep: “Hy het godslastering gespreek”.

Inderdaad, dit is godslastering as iemand homself aan God gelykstel.

Maar dit is presies wat Jesus gedoen het.

As Jesus net ‘n mens was, sou dit absolute grootheidswaansin en godslastering gewees het.

Maar Jesus het Homself nie geskaam vir wie Hy was nie.

Hy is gevonnis vir wie Hy was – naamlik gelyk aan God, ja God self.

 

En so is daar nog meer name in die Bybel wat totaal onvanpas is om aan ‘n mens te gee.

Neem byvoorbeeld wat daar in Openbaring 1:5 staan:

Hy is die “Owerste oor die konings van die aarde!”

Sjoe, dit is nogal iets om oor ‘n mens te sê.

En dan ‘n mens wat hier op aarde glad nie ryk of belangrik was nie.

Vergeleke by die keiser in Rome, vergeleke by Herodes en Pilatus, vergeleke by die hoëpriester, was Jesus ‘n niksseggende persoon, uit die veragte Nasaret.

Hoe kom iemand dan daarby om so ‘n persoon die Owerste oor die konings van die aarde te noem?

Wel, dit het te make met die dinge waarvan die apostels, soos Johannes, ooggetuie was.

Net voordat Johannes Hom “Owerste oor die konings van die aarde” noem, skryf hy:

Jesus Christus is die “eersgeborene uit die dode”.

Die apostels was inderdaad ooggetuies daarvan dat Jesus die dood oorwin het, dat Hy met ‘n verheerlikte liggaam uit die graf opgestaan het.

Die apostels was ooggetuies dat Hy op ‘n wonderbaarlike manier na die hemel opgevaar het, iets wat ‘n gewone mens nooit sou kon doen nie.

Hulle was ooggetuies van die uitstorting van die Heilige Gees.

Hulle was ooggetuies van ... en en en!

Soos ‘n apologeet ‘n keer in sy boek geskryf het: òf Jesus was ‘n mens met ‘n geweldige afwyking van grootheidswaansin; òf Jesus is inderdaad alles wat daar oor Hom in die Bybel staan.

As kerk van Christus bely ons natuurlik die laaste.

Hy IS God, Here, Messias, Seun van die Allerhoogste, Saligmaker, Owerste oor alle konings van die aarde!

Ja Hy is, en dit kan ook nie van ‘n mens gesê word nie, Hy is die Almagtige! – Openbaring 1:8:

“Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

 

En so is daar nog verskeie ander name uit die Skrif wat ons hieraan kan toevoeg.

Die lys van name is indrukwekkend.

Hy is ons hemelse Advokaat (1 Joh 2:1).

Hy is ons Leidsman en Voleinder van die geloof (Heb 12:2).

Hy is die Brood van die lewe (Joh 6:35).

Hy is Hoof bo alle dinge (Ef 1:22).

Hy is ons hemelse Regter (Hand 10:42).

En dan nog ‘n teksvers wat gereeld klink in Kerstyd, die profesie van Jesaja wat in Christus tot volle vervulling gekom het:

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: [en hoor nou gemeente die Goddelike Name] Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde”. (Jes 9:5-6)

 

Geliefde gemeente, ek weet, ek hoef u nie meer te oortuig van Christus se godheid nie.

As u nie daarin geglo het nie, sou u nie belydenis in hierdie kerk kon gedoen het nie.

Maar, feit bly dat die Satan aanhoudend besig is om te knibbel aan dit wat ons glo.

Feit is dat Satan aanhoudend probeer om êrens twyfel in ons koppe te saai.

Feit is dat daar baie om ons heen is, soms ook selfs van ons eie familie, wat ook twyfel in ons koppe saai.

Laat die prediking, en die nagmaal wat u vandag gevier het, u daarom weer bemoedig, versterk, weerbaar maak.

Gebruik al Christus se name, ook in die week wat kom.

Moenie skaam wees vir sy goddelikheid nie.

Bely dit en verwag alles daarvan, ook in jou lewe van elke dag.

Oefen jouself daarin om hierdie name ook in jou eie gebedslewe te gebruik:

Saligmaker, Seun van die Allerhoogste, Owerste oor die konings van die aarde, Almagtige, hemelse Advokaat en Regter, Leidsman en Voleinder van die Geloof, Brood van die lewe, ensovoorts.

 

En julle amspdraers, nuwe ampsdraers en die wat hier voor in die banke sit, sorg dat julle onderlê is die Skrif.

Dat julle al die Goddelike Name van Christus uit julle kop ken.

Wees ‘n voorbeeld vir die gemeente.

Werk met hierdie preek wat julle nou ontvang het.

Moenie dat dit so is dat jy vanaand huistoe gaan, met die nuwe week begin, en as ek jou teen Dinsdagaand vra: Waaroor het die preek van Sondag gehandel, dat jy dit nie meer weet nie.

Gebruik die tegnologie.

Laai hierdie preek van die webwerf af.

Druk dit uit.

Sit dit op jou kantoortafel, of in jou motor.

Lees weer daaruit, as jy vir ‘n oomblik op iets sit en wag.

Stel jouself ten doel: Aan die einde van die week ken ek al die Goddelike Name van Christus wat in hierdie preek bespreek is – uit my kop.

Aan die einde van die week ken ek ‘n Skrifverwysing by elke Naam.

Sodat ek nie met ‘n mond vol tande staan, die oomblik as iemand my rekenskap vra oor Christus se Godheid nie.

 

Ek neem waar dat ons so dikwels gemaksugtig geword het.

Ons het toegang tot ‘n geweldige skat aan geestelike materiaal, maar ons doen die minimum daarmee.

As dit nie soos fastfood opgedis word nie, stel ons nie meer belang nie.

‘n Aantal jare gelede het ek klasgegee aan ‘n aantal studente op die eiland Ciprus, wat uit die Midde-Ooste afkomstig was, gebiede waar Christene randfigure is, gediskrimineer en vervolg word.

Die klasse het twee weke geduur.

Die een Saterdag het die Stigting die MERF, dalk ken sommiges van u hierdie stigting – Middle East Reformed Fellowship – die een Saterdag het hulle ‘n uitstappie gereël sodat al die kursiste die eiland kon besien.

Wat my verbaas het, was egter dat ‘n paar broeders wat uit Sudan afkomstig was, nie saamgegaan het op die uitstappie nie, maar die hele dag in die biblioteek bly sit en lees het.

Ek het vir hulle gevra, hoekom gaan hulle nie saam om die eiland te verken nie.

Hulle antwoord was: Ons gaan waarskynlik nooit weer die geleentheid hê om by so baie boeke oor die Bybel te wees nie.

Ons moet nou ons kans gebruik.

Ek het selfs een nag 3 uur wakker geword, en toe sien ek ook die biblioteek se lig is aan en van hulle sit daar en lees.

 

As ek aan hierdie voorbeeld dink, dan vra ek myself af.

Waar is ons passie vir die Woord van God?

Ek vra nie dat elkeen in die gemeente ‘n dominee word, en ure per dag met sy neus in die Bybel sit nie.

Ek roep U op tot ‘n lewende geloof, en nie net die ‘aftick van boksies’ nie.

As ons teen Dinsdag alweer vergeet het wat ons Sondag gehoor het?

En dit terwyl ons so baie tegniese hulpmiddels het.

 

Wat beteken die Goddelike Name van Christus vir jou?

Gaan hierdie week, en skryf vir jou op ‘n papier, wat dit vir jou persoonlik beteken, die feit dat sy Naam is:

 

Advokaat

Voleinder van die Geloof

Brood van die Lewe

Hemelse Regter

Wonderbaar

Raadsman

Eersgeborene uit die dode

Allerhoogste

Owerste oor die konings van die aarde

Saligmaker

Christus

Here

Sterke God

 

Weet jy, as jy die dag sterf, dan gaan jou kinders baie waarde heg aan so ‘n papier, waarop jy geskryf het wat elke Naam van Christus vir jou beteken.

Dit gaan meer waarde hê as om iets anders van jou te erf.

 

Elkeen van hierdie name staan nie toevallig in die Bybel nie.

Aan Hom kom toe, ja Hy verdien die eer en prys en roem in verlede hede en toekoms.

Hy is God self, die Alfa en Omega, Ewige Vader en Vredevors.

Hy is die blink môrester (Open 22:16).

Ons sien uit na sy wederkoms.

Ja kom, Jesus, God almagtig, Maranata!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 110:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

1e tafel: Lukas 1:26-33 & 2:8-11; Joh 1:1-5 & 20:24-31;  Sb 3:1

Lofverheffing & gebed

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 10

Preek

Sb 8:1,4

Bevestiging ouderling & diakens

Ps 134:4

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 8:5

Kollekte

Ps 110:3,5,6

Seën