Skrifberyming 40

Skrifberyming 40

1.  Ek wat die swaard dra, weerskant skerp,
waarmee 'k my vyand neer sal werp,
Ek weet jou werke en waar jy woon -
die plek waar Satan sit ten troon.

2.  Jou liefde en trou, aan My verpand,
hou in die martelvure stand;
en jou geloof is vas ten spyt
van Satans felste woede en nyd.

3.  Maar in jou midde sluip die slang
wat siele in sy liste vang.
Die lokwoord uit sy leuenmond
verlei die volk van my verbond.

4.  Waak op en stuit die kwaad! Waarom
sal Ek in gramskap na jou kom
en met die slagswaard van my mond
my vyand neerwerp teen die grond?

5.  Ek roep dit uit voor wie 'n oor,
voor wie 'n hart het - laat hom hoor,
gewillig as die Gees getuig
om na my wil sy wil te buig.

6.  Aan die oorwinnaar in die stryd
skenk Ek 'n groot verborgenheid:
die manna uit die wildernis,
maar een wat diep verborge is.

7.  'n Steen uit marmerberg vandaan,
waarop sy naam geskrywe staan,
gee Ek aan hom; daar is geeneen
wat dit kan lees, net hy alleen.