Skrifberyming 26-50

.

Skrifberyming 26

Skrifberyming 26

1.  My siel herdink met sidderbewe
hoe God, met majesteit beklee,
deur wolke en donkerheid omswewe,
sy wet op Horeb het gegee:

2.  Ek is die HEER, jou God en Koning,
wat uit Egipte jou bevry;
jou uitlei uit jou slaafse woning:
dien dan geen gode buiten My.

3.  Ek tog, Ek ywer teen my haters;
maak dan geen beeld om die te aanbid; 
Ek straf hul streng, die wetverlaters,
tot in die derde en vierde lid.

4.  Maar Ek bewys barmhartighede
en bly aan duisende getrou,
wat tot My kom met hul gebede
en wat my wette onderhou.

5.  Misbruik die Naam van God die HEER nie,
en bly altyd jou eed getrou,
want hulle wat sy Naam nie eer nie,
sal God geensins onskuldig hou.

6.  Gedenk die sabbat: in ses dae
het God die wêreld toeberei;
maar Hy het, na sy welbehae
die rusdag aan sy diens gewy.

7.  Gee eer aan vader en aan moeder,
want God regeer ons deur hul hand;
dan sal die HEER, die troue hoeder,
ons seën in ons vaderland.

8.  Jy mag nie doodslaan, jou nie wreek nie,
maar liefde moet jou steunsel wees.
Jy mag die heil'ge eg nie breek nie,
maar, kuis van hart, die HERE vrees.

9.  Laat nooit jou voet die weg betree nie
van hom wat roof nog diefstal vrees.
Jy mag geen vals getuig'nis gee nie,
maar laat jou woorde waarheid wees.

10.  Daar mag nooit in jou hart meer kom nie
die minste lus teen Gods gebod.
Maar wie se mond sal nie verstom nie
as U beveel, o heil'ge God!

11.  Ons het, o HEER, u wet weerstrewe,
genade is al waar ons op pleit;
gee ons in Christus nuwe lewe,
om dit te doen uit dankbaarheid.

Skrifberyming 27

Skrifberyming 27

1.  Ek geloof in God die Vader
wat almagtig, wys en trou,
Skepper is van alle dinge
en dit nog in wese hou.
Ek geloof in Jesus Christus,
wat ons in aanbidding eer:
Eengeboorne van die Vader,
in sy hoogheid onse Heer.

2.  Hy wat deur die Gees ontvang is
- die geheimenis is groot! -
en gebore is uit Maria,
uit die maagdelike skoot.
Wat gely het toe Pilatus
onregsvonnis het gevel -
kruis en doodsmart ondergaan het,
al die angste van die hel.

3.  Wat die derde dag verrys het,
daar die dood Hom nie kon hou;
na die hemel opgevaar het
deur die diep, onpeilb're blou.
Wat nou sit, met eer en sterkte
aan Gods regterhand omgeef,
tot Hy weerkom as die regter
van wat dood is en wat leef.

4.  Ek geloof, met stille aanbidding,
in die Heil'ge Gees wat my
in my sondedood gewek het,
my as Trooster leer en lei.
Ek geloof 'n heil'ge eenheid,
wêreldwyd, in Christus een,
wat sy roepstem sal vergader,
deur die lange eeue heen.

5.  Ek geloof aan die gemeenskap
heilige verbintenis
van wie almal saam 'n eenheid,
in hul Heer een liggaam is.
Ek geloof die skuldvergewing,
weeropstanding van die vlees,
en 'n lewe in eewge duurte,
as die dood nie meer sal wees.

Skrifberyming 28

Skrifberyming 28

1.  O Vader, in die hemel hoog,
tot wie ons ophef hart en oog,
ons bid in stille eerbiedenis:
Gee dat u Naam, wat heilig is,
deur ons geken, geëer, gevrees,
in alles mag geheilig wees.

2.  Gee dat u koninkryk mag kom,
in Christenland en heidendom,
in sy triomfe eindeloos!
En laat ons op die aarde, soos
die eng'le wat u troon omring,
gewillig, Heer, u wil volbring.

3.  Gee ons - want ons gebrek is groot -
vandag ons daelikse brood.
Bewys ons tog barmhartigheid
en skeld ons, Heer, ons skulde kwyt,
soos ons, in skuldvergiffenis,
vir hul wat aan ons skuldig is.

4.  Lei ons nie in die donker land,
die wêreld van versoeking, want
ons is so swak. Verlos ons van
die Bose as hy sy vangnet span.
Want U kom toe die majesteit
en krag en eer in ewigheid.

Skrifberyming 28b

Ons Vader wat woon in die hemel,
geheilig sy u Naam,
laat u ryk kom, u wil geskied,
soos in die hemel so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons dag se brood
en vergeef ons al ons skulde, net soos ons vergewe
die wat teen ons sondig.
Laat kom ons nie in die versoeking;
maar verlos ons van die Bose.
Van U is die ryk en die sterkte en die ere,
vir ewig en ewig, amen
vir ewig en ewig, amen.

Skrifberyming 29

Skrifberyming 29

1.  Bo lug en wolke 't ek gehoor
die "Halleluja" van 'n koor
wat aarde en swerk laat beef het.
Dit was die stem, die lofgeskal
van eng'leskare sonder tal
wat bruisend my omsweef het.

2.  "Die heil en heerlikheid en eer
en sterkte aan onse God en Heer!
Hy het as Vonnisspreker
die aartsverleidster neergestort;
van mart'laarsbloed, al weggedord,
is Hy die strenge Wreker."

3.  En nogeens het die sangerskring
hul "Halleluja" neergesing
en daardie doem verhewig.
Vir haar wat alles wou verderf,
sal nou die pyniging nie sterf:
haar rook gaan op vir ewig.

4.  Die oudstes, om die troon geskaar,
en viertal wesens wonderbaar
het neergeval tesame.
Hul het die sterke God aanbid
wat op sy hoë magstroon sit,
met "Halleluja, Amen!"

5.  'n Stem het uit die troon gegaan.
Dit spoor tot strenger spanning aan
al wie Gods lof gesing het:
Laat wie God vrees en dien, Hom eer
totdat sy glans en glorie weer
die groot heelal deurdring het.

6.  Aanswellend soos 'n onweerskoor,
het ek die sangerstem gehoor
van die verloste skare -
geweldig soos 'n donderslag,
swaar soos die dreuning in die nag
van opgesweepte bare.

7.  Hul sing die "Halleluja" weer.
"Want, " sê hul, "onse God en Heer
is aan sy Woord gedagtig:
die groot verlossingsdag is daar,
Hy het die koningskap aan vaar
en heers as God almagtig.

8.  "Laat ons verheug wees en verblyd,
en gee aan God die heerlikheid!
Na leed wat ons gely het,
staan nou die bruilofsmaal gereed,
waarvoor die Lam se bruid haar kleed
van fynste stof berei het.

9.  "Die skoonheid is aan haar gegee,
God het haar met die kleed beklee
van reine en regte dade
En - salig hy wat tot die maal
deur God genooi word en mag straal
in daardie lofgewade."

Skrifberyming 30

Skrifberyming 30

1.  Hy 't my die lewenstroon getoon
wat voortkom uit die hoë troon
van God en van die La, vanwaar
dit vonkel soos kristal so klaar.

2.  En in die middel van die straat,
in altyd blye en frisse staat,
aan weerskant van die lewenstroom,
staan juigendgroen die lewensboom.

3.  In vaste kringloop ommegaand,
gee hy sy vrug van maand tot maand.
Sy blad, wat nooit in onmag kwyn,
is vir die volke 'n medisyn.

4.  Vervloeking is daar dan nie meer;
die troon van God is by hul weer
en van die Lam. Hul sal Hom sien,
en al sy knegte sal Hom dien.

5.  Sy Naam sal nie in glorie taan,
maar blinkend op hul voorhoof staan.
En nag, wat somber skadu sprei,
is daar nie meer: dit is verby.

6.  Geen lamp of son is nodig meer:
hul lamp en son is God die Heer.
Hul sal ná smaad en druk en stryd
as konings heers in ewigheid.

Skrifberyming 31

Skrifberyming 31

1.  Toe sien ek teen die bloue vert'
'n ruiter op sy haelwit perd;
en 't was om Hom stormagtig,
want Hy, die ruiter, voer sy stryd
en oordeel in geregtigheid;
sy Naam is: Trou, Waaragtig.
Sy oog is soos 'n vlam van vuur,
sy krone skitter in die uur
van langverwagte oorwinning.
Sy Naam, diep met sy wese een,
deurgrond geen mens, net Hy alleen
in held're selfbesinning.

2.  Die kleed vol bloed vertel sy roem.
Die Naam waarmee sy volk Hom noem,
is "Woord van God". 'n Skare
van ruiters volg Hom op die voet,
hul nader soos 'n watervloed, 
soos bruising van die bare.
'n Hemelleër, skitterwit,
hul is dit wat in streng gelid
saam met Hom uitgetrek het.
En uit sy mond het uitgegaan
'n swaard waarmee Hy nasies slaan
wat, trots sy toorn gewek het.

3.  Hy sal nou met 'n ysterstaf
sy vonnis oor hul, streng en straf,
met oordeelsdaad bekragtig.
Hy trap die parskuip met sy voet,
en bring oor hul in volle gloed
die toorn van God almagtig.
En op sy kleed met bloed geverf,
en op sy heup wat heil verwerf,
staan daar 'n Naam der ere:
dié oorlog het die pleit beslis
dat Hy die "Hoogste Koning" is,
die "Heer van alle here"!

Skrifberyming 32

Skrifberyming 32

1.  Toe het die hoë lug gebeef
en eng'lestem het neergesweef:
"Nou is die koninkryke weer
die eiendom van onse Heer
en van sy Ryksgesalfde wat
die wêreld in sy vuis omvat.
Hy sal - beslis is nou die stryd -
as Koning heers in ewigheid."

2.  Toe het die vier- en twintigtal,
die ouderlinge neergeval -
hul wat voor God op trone sit -
en het die hoë God aanbid:
"Ons dank U, onse God en Heer,
U wat oor alles triomfeer,
wat is en was en kom, - u mag,
o Koning, tree nou aan die dag.

3.  "Die volke 't woedend opgestaan -
u toorn het hulle neergeslaan.
Grysskeemrend rys die oordeelsdag,
en see van dode op vonnis wag:
verderwers van die aarde erf
'n eewge toestand van verderf,
maar al Gods knegte ontvang 'n kroon
en uit genade 'n arbeidsloon.

4.  Die tempel het toe oopgegaan
waarin die heil'ge bondsark staan.
Daar straal sy glorie onbesmet,
daar leef die woorde van sy wet:
daar's bliksems wat geen weerstand stuit
en donderstemme gee geluid;
die aarde beef, daar's haelslag -
dit is die grote oordeelsdag.

Skrifberyming 33

Skrifberyming 33

1.  Wat 'n liefde en volheidslewe,
waar ons bly ons in beroem,
het die Vader ons gegewe
dat Hy ons sy kinders noem!
Maar die wêreld weet van dié
wat uit God gebore is, nie,
het die kennis van die Heer nie
as hul hoogste goed begeer nie.

2.  Wat die Heer nog meer vervul het,
bly verborge; tot die stond
al die wonders ons onthul het
van die eewge vree-verbond.
Ja, wanneer die Here kom,
dan word ons gelyk aan Hom,
want ons sal in klare omlyning
Hom aanskou in sy verskyning.

3.  Wie die Midd'laar se verskyning
inwag uit die heiligdom,
soek van harte die verreining
wat daar uit sy sterwe kom.
Teen die sonde duur die stryd:
"Sonde is ongeregtigheid!
Maar ons lewe uit God gebore,
is tot heilig-wees verkore!

Skrifberyming 34

Skrifberyming 34

1.  Die HEER is God, 'n eenge HEER;
die HEER is God, en niemand meer.
Erken dit, alle volke,
van waar die sonlig smôrens blink
tot waar dit in die purper sink
van sagdeurglansde wolke.
Die HEER is God, want Hy formeer
die dag en nag wat wend en keer
na sy verordeninge.
Hy bring die heil en onheil voort,
hul luister na sy almagswoord -
die HEER doen al die dinge.

2.  Stuur God ons sy bevrydingswoord -
bring dan, o heemle, wolke voort,
waaruit soos reënstrale
geregtigheid van uitkoms sing
en ons die blye boodskap bring
van skoonste seëprale.
Dan sal die aarde uit vrugb're kluit
die heil en vrede uit laat spruit -
geen onheil is daar meer nie!
Die reg sal uit die aarde breek,
want God die HEER het dit gespreek,
en niemand kan dit keer nie.

3.  Wee hom wat met sy Maker twis,
wat, waar hy net 'n potskerf is,
Gods weg met hom gewraak het!
'n Erdewerk, 'n nietigheid,
kan dit sy Maker ooit verwyt
dat Hy hom so gemaak het?
Maar nee, ons buig ootmoedig neer;
ons wil die hoë hande eer
wat ons so toeberei het,
ons in die hande altyd stel,
as kinders, HEER, die werk vertel
waardeur U ons verbly het.

Skrifberyming 35

Skrifberyming 35

1.  O dieptes vol geheimenis
wat vir ons oog onpeilbaar is!
O wysheidsbron en kennis wat
die som van alle dinge omvat!
Nog dieper as die hemelrond
is God se oordeel, sonder grond.
En dieper as die diepste seë,
so onnaspeurlik is sy weë.

2.  Het ooit 'n mens of hemeling
in Gods gedagtes deurgedring?
Of wie is daar so groot van gees,
dat Hy sy raadsman ooit kan wees?
Wie 't eers aan God so 'n guns bewys
dat hy van Hom vergelding eis?
Wat is by God, so onvolprese,
die mens dan in sy waarde en wese?

3.  Uit Hom - die Bron van alle goed;
deur Hom - wat alles dra en voed;
tot Hom - die eind van al wat streef,
wat is en word, wat roer en sweef,
tot Hom is alle dinge wat
Hy met een wilsgreep gans omvat,
Aan Hom, die God wat ewig lewe,
sy ewig lof en eer gegewe.

Skrifberyming 36

Skrifberyming 36

1.  Toe hoor ek uit die hemel uit
'n sangstem groot soos die geluid
van golwe wat die seekus slaan,
en donder wat die stormpad baan.
Dit het my ore ook sag gestreel
soos siters waar hul sag op speel.

2.  Met duisenderlei stemme dring
die lied omlaag wat hulle sing.
Dit was 'n lied in nuwe toon
wat hulle aanhef voor die troon
en voor die hofstoet wat met glans
van vlammelig Gods troon omkrans.

3.  En buiten hul kon niemand meer
die klanke van die loflied leer,
so diep was hulle ingelei,
in gods geheim'nis ingewy!
Hul lewe, deur die Lam gekoop,
gaan soos 'n blanke lelie oop.

4.  Dis hulle wat, op aarde rein,
voor God nou maagd'lik kan verskyn,
as eerstelinge, aan God gewy
en aan die Lam, deur loskoop vry.
Agter die Lam kom hulle aan,
hul volg Hom waar sy voetstap gaan.

5.  Deur Gods genade in Christus ryk,
was hulle aan sy beeld gelyk:
geen valse skyn het hul verblind,
geen leu'n is in hul mond gevind,
geen letsel het hul aangekleef,
wat nou by God in reinheid leef.

Skrifberyming 37

Skrifberyming 37

1.  Toe sien ek soos 'n see van glas,
deurstraal met geel-rooi vlammelig.
En die oorwinnaars van die dier -
hul wat nie voor sy mag wou swig -
het langs die see van glas gestaan,
en daar was siters in hul hand.
Hul het gesing soos Israel
gesing het aan die Skelfseestrand.

2.  Die lied van Moses, kneg van God,
het hul tot eer van God gesing,
en aan die Lam, vir hul geslag,
oorwinnaarshulde toegebring:
"Hoe groot en wonderbaar, o Heer,
hoe billik, reg en almagsterk,
hoe waar en trou, o Koning van
die heiliges is al u werk!

3.  "Wie sal, o Regter, U nie vrees,
u Naam nie in die reine sfeer,
na so 'n storm en oordeelswerk,
met sange van oorwinning eer?
U's heilig, Heer: die nasies kom
om U die hoogste eer te gee;
want nou het u regverdigheid
grootglansend aan die dag getree."

Skrifberyming 38

Skrifberyming 38

1.  Ek wat die sewe sterre dra
wat vonkel in my regterhand;
wat wandel waar die kandelaars,
die sewe goue, om My brand -
Ek ken jou werk, al die geswoeg,
en hoe geduldig dat jy ly,
dat jy die kwaad en leu'n nie duld
en vir my Naam en waarheid stry.

2.  Helaas, die bruidstyd is verby!
Jou eerste liefde 't jy verlaat.
Gedenk daaraan en soek dit weer,
die liefde met die liefdesdaad.
En as jy tog my Woord verwerp,
dan kom Ek, maar met oordeel, weer:
Ek neem jou kand'laar van sy plek
indien jou hart My nie begeer.

3.  O, luister na My as Ek roep -
dit is die roepstem van die Gees.
Al wie 'n oor het, laat hom hoor,
dat jy my bruidskerk weer kan wees.
Aan die oorwinnaar in die stryd
gee Ek die lewensvolle spys,
die altyd-nuwe vrugte van
die keurboom in Gods paradys.

Skrifberyming 39

Skrifberyming 39

1.  Dit sê die Eerste en Laaste, Hy
wat dood was maar nie dood kon bly:
Ek ken jou werke en lydenslot,
jou armoed, maar jy's ryk in God.

2.  Ek hoor die lastering en roem
van wie hulself Gods Bondsvolk noem,
maar wat die krag en wese mis
en Satans sinagoge is.

3.  Wees nie bevrees as jul moet ly;
die duiwel self sal jul bestry.
Jul mart'laarskap is kort van duur:
jul lyde is Gods beproewingsvuur.

4.  Laat wie volhard in stryd en nood,
getrou wees maar tot in die dood.
En 'k gee hul as genadeloon
die onverwelkb're lewenskroon.

5.  En laat dit klink in hart en oor,
die drangroep wat die Gees laat hoor:
Die eewge dood sal nimmermeer
oor die oorwinnaar triomfeer.

Skrifberyming 40

Skrifberyming 40

1.  Ek wat die swaard dra, weerskant skerp,
waarmee 'k my vyand neer sal werp,
Ek weet jou werke en waar jy woon -
die plek waar Satan sit ten troon.

2.  Jou liefde en trou, aan My verpand,
hou in die martelvure stand;
en jou geloof is vas ten spyt
van Satans felste woede en nyd.

3.  Maar in jou midde sluip die slang
wat siele in sy liste vang.
Die lokwoord uit sy leuenmond
verlei die volk van my verbond.

4.  Waak op en stuit die kwaad! Waarom
sal Ek in gramskap na jou kom
en met die slagswaard van my mond
my vyand neerwerp teen die grond?

5.  Ek roep dit uit voor wie 'n oor,
voor wie 'n hart het - laat hom hoor,
gewillig as die Gees getuig
om na my wil sy wil te buig.

6.  Aan die oorwinnaar in die stryd
skenk Ek 'n groot verborgenheid:
die manna uit die wildernis,
maar een wat diep verborge is.

7.  'n Steen uit marmerberg vandaan,
waarop sy naam geskrywe staan,
gee Ek aan hom; daar is geeneen
wat dit kan lees, net hy alleen.

Skrifberyming 41

Skrifberyming 41

1.  Die Seun van God, die hoogste Heer,
Hy send sy magbevele neer!
Sy oog is soos 'n vlam van vuur,
sy voet soos koper, blink geskuur

2.  Ek ken jou ywer, ongedoof,
jou liefde en diens en jou geloof,
jou lydsaamheid, nog onverkort,
en dat jou werke al skoner word.

3.  Maar daar is een wat strikke weef:
Isebel het by jou herleef;
sy wat die offermaaltyd sprei,
my volk tot sinnediens verlei.

4.  Aan hulle wat my woord bewaak,
die Satansdieptes nie genaak,
aan die getroues gee Ek las:
kleef enkel aan my woorde vas.

5.  Aan wie oorwin, onwankelbaar
my werke tot die end bewaar:
hy sal oor nasies triomfeer,
met ysterstaf sal hy regeer;

6.  soos kruike, so te pletter slaan
die leërs teen hom opgestaan.
Dis afglans van die heerskappy
wat Hy, die Vader, gee aan My.

7.  Boodskapper van die dag wat kom,
die môrester, gee Ek aan hom.
Ontwaak dan, slapers van die nag,
gee op die Gees se roepstem ag!

Skrifberyming 42

Skrifberyming 42

1.  Ek wat die sewe Geeste stuur
uit wie die lewensvonke spat,
en wat die sewe sterre omvat
wat skitter in die donker uur -
Ek ken jou werke, maar dis skyn,
die lewe 't uit jou weggekwyn.

2.  Word wakker uit die sluimerdood!
Jou dade is nie opreg en waar,
jou wese troebel, gans onklaar,
voor God lê al jou werke bloot!
Word wakker uit jou slaap en red
wat haas geen lewensasem het!

3.  My Woord was helder soos kristal,
jou bruidstyd fris soos môredou.
En hoe is dit verdonkerd nou!
Bewaar die skatte, of Ek sal
net soos 'n dief kom, onverwag,
jou opskrik in die oordeelsnag.

4.  Maar daar is enkele (hoe min!)
wat nie hul kleed besoedel het.
Hul sal Ek uit die oordeel red,
en hul sal met My wandel in
'n wit gewaad en reinheidsgeur,
omdat Ek hul dit waardig keur.

5.  Oorwinnaars sien 'k in wit kledy,
en in die lewensboek hul naam,
wat Ek voor al die eng'le saam
en voor my Vader sal bely. -
Al wie 'n hart het en 'n oor,
laat hy die Gees se roepstem hoor.

Skrifberyming 43

Skrifberyming 43

1.  Hy wat heilig en waaragtig
en omkleed is met gesag,
wat die sleutel dra van Dawid,
hoogheidsteken van sy mag -
daar is niks wat Hom kan hinder,
wat sy magsvermoë stuit,
wat kan sluit as Hy wil open,
wat kan open as Hy sluit.

2.  Al jou werke sien en ken Ek,
in hul skoonheid blink hul uit.
En Ek het 'n deur gegewe
wat geeneen vir jou kan sluit.
Dat jou krag gering is, weet Ek,
maar jy eer my Woord as skat,
en jy 't nie my Naam verloën
wat die kennis vol omvat.

3.  Oë-dienaars, trotse pralers
uit die huis van Israel,
is 'n satansinagoge
wat jou met verdrukking kwel.
Maar uit hul sal Ek laat aankom
wat hul voor jou voet sal buig;
en dat Ek jou liefgehad het, 
sal hul bly voor jou getuig.

4.  Omdat jy die Woord bewaar het
van my lyde en lydsaamheid,
is Ek jou ook 'n Bewaarder
in die uur van sware stryd
as die tye van besoeking
(elke mond sal dan verstom!)
oor die aarde en sy bewoners
in die felste smarte kom.

5.  Ek kom gou! Hou dan bestendig
wat my mond aan jou beloof.
Wees net waaksaam, en laat niemand
jou die eerkroon ooit ontroof.
Wie oorwin, hom sal'k bevestig:
as 'n suil sal hy verrys,
om daar nooit weer uit te gaan nie,
in my God se pragpaleis.

6.  Op hom sal'k die Godsnaam skrywe,
onuitwisbaar sal dit straal,
met die naam ook van die Godstad
wat van God op aarde daal.
Daar skryf Ek my nuwe Naam ook,
waar hy draer van sal wees.
Laat wie ore het, dan luister
na die roepstem van die Gees.

Skrifberyming 44

Skrifberyming 44

1.  Dis die woord van Hom, die Amen,
die Getuie, trou en waar,
die Begin van God se skepping,
sterke Skeppingsmiddelaar.
Al jou werke sien en ken Ek:
daar's by jou geen koue of gloed.
En daar rys vir jou 'n walging
uit die grond van my gemoed.

2.  "Ek is ryk, verryk, " so roem jy.
En jy ken nie jou gebrek,
dat jy, arm en blind, ellendig,
niks het om jou toe te dek.
Koop van My dan goud, gelouterd,
wat die ware rykdom gee.
Koop van My die wit gewade
wat jou, naakte, kan omklee.

3.  Koop van My die fyne mengsel
wat as oogsalf jou kan dien,
en bestryk daarmee jou oë,
dat jy, blinde, weer kan sien.
Ek bestraf al wie Ek liefhet,
en Ek tugtig in my trou.
Wees dan yw'rig tot bekering,
vurig om my Woord te hou.

4.  Wagtend staan Ek voor die deur al,
waar Ek aanklop, lank en luid.
Hoor dan een my roepstem buite,
word vir My die deur ontsluit,
dan sal'k tot sy woning ingaan.
Na die maaltyd heengelei,
sal'k in vriendskap met hom aansit,
hy sal aansit saam met My.

5.  Ek sal gee aan die oorwinnaar,
in my hoë heerskappy,
dat hy sit as wêreldheerser
op my rykstroon saam met My,
net soos Ek ook met my Vader
triomfeer die wêreld oor.
Dis die Gees se laaste roepstem -
wie 'n oor het, laat hom hoor!

 

Skrifberyming 45

Skrifberyming 45

1.  Hy het my die stad getoon,
groot en van die hemel dalend,
en, deur God se ligglans skoon,
soos 'n kleurgesteente stralend,
helder soos 'n kristallyn
wat in al sy klaarheid skyn.

2.  Rondom rys, gedug in krag,
twaalftal poorte in die mure.
Elkeen voor sy poort op wag,
staan die eng'le, glansfigure.
Bo hul blink, in vlammespel,
twaalf stamname uit Israel.

3.  Lokkend staan die poorte oop,
oop na al die wêreldoorde,
dat die nasies toe kan loop:
van die suide en van die noorde
en vandaar waar son en maan
nie meer op- en ondergaan.

4.  Uit die diepte omhoog geskraag,
rys die muur as skut en wering;
en daaronder, laag naas laag,
lê ie ewige fondering.
Van die Lam se apostelskaar
straal daaruit die name klaar.

5.  In die stad se mate was
daar geen kleinheid en geen engte.
Van die klimmende terras
het die hoogte aan breedte en lengte
in sy maat geheel gelyk,
tot die hemelblou gereik.

6.  En die muur was swaar van bou
wat die grote stad omring het;
glanse soos van môredou
was die glans wat dit deurdring het.
En die stad se boustof was
goud, deurskynend net soos glas.

7.  Fondamente uit edelsteen
was dit wat die stad omlyn het.
Pêrelpoorte daaromheen,
wat met sagte lig geskyn het.
Goudbane al die strate was,
maar deursigtig, blink soos glas.

8.  Maar 'n tempel, skoon van bou
(aan wat was nog steeds gedagtig!)
het my oog nie daar aanskou;
want die Here God almagtig
is sy tempel, en die Lam
is die helder altaarvlam.

9.  En geen lig van son en maan,
wat hul wentel langs die transe,
sal daar op- en ondergaan:
God self skyn daar met sy glanse,
en die Lam is self die lig
waar 'n eewge nag voor swig.

10.  Nasies, vry van die gerig,
kom uit nuwe wêreldlande
om te wandel in die lig.
Konings bring hul offerande
uit 'n volle wêreldskat:
eer en glorie, in die stad.

11.  Vir 'n nag van skrik en vrees
word die poorte nie gesluit nie,
want daar sal geen nag meer wees
en geen klaag- of skrikgeluid nie.
Heerlikheid en eer alleen
trek dan deur die poorte heen.

12.  Daar sal in die heiligdom
niemand wat die kwaad bedrywe,
ooit of immer binnekom.
Hul van wie die naam geskrywe
in die Lewensboek sal staan,
hulle sal daar binnegaan.

 

Skrifberyming 46

Skrifberyming 46

1.  Bo die kimme van verdwyning
rys die marmerwit verskyning -
oordeelstroon van God die Heer.
Aarde en hemel, skrikbewoë,
weggevlug het van sy oë; 
daar's geen plek vir hulle meer.

2.  Voor die regterstoel ontbode,
klein en groot staan daar die dode,
en die boeke't oopgegaan,
ook die Lewensboek met wisse,
eewge naamgeheimenisse
wat daarin geskrywe staan

3.  Alles deur die mens bedrywe,
's in dié boeke neergeskrywe
van die skeppingsdag af aan.
Alles - eeue word nou ure! -
doem dan op uit dié Skrifture:
dis waaroor die vonnis gaan.

4.  Langs hul diep, verborge weë
gee die wêreldwye seë
hulle dode almal weer.
Dood en doderyk aan bewe,
gee hul dode en oor hul lewe
stryk die laaste vonnis neer.

5.  En die dood, die strawwe koning,
met die doderyk, sy woning,
stort dan in hul vlammegraf;
en wie dan nie staan geskrewe
in die Grootboek van die Lewe,
stort met hul die steiltes af.

 

Skrifberyming 47

Skrifberyming 47

Die Here sal ons seën,
en Hy sal ons behoed.
Die Here sal sy aanskyn
altyd oor ons laat straal
en ons genadig wees vir ewig.
Hy sal sy aangesig oor ons verhef
en aan ons gee sy vrede.
Amen, Amen.

 

 

Skrifberyming 48

Skrifberyming 48

Die genade van die Here Jesus Christus
en die liefde van God
en die gemeenskap van die Heil'ge Gees,
sy met ons almal! Amen.
 

 

 

Skrifberyming 49

Skrifberyming 49

1.  Barmhartige en getroue God,
Beskikker van ons deel en lot,
ons dank U vir die troue wag
ons weer betoon in hierdie nag.

2.  Verleen ons, na die soete rus,
opnuut gesondheid, krag en lus,
wanneer ons, deur die slaap verkwik,
ons willig tot die arbeid skik.

3.  Laat ons ons amp en plig, o Heer,
getrou behartig tot u eer;
en laat u guns ons werk bekroon,
u Gees ons lei en in ons woon!

4.  Sien op ons in genade neer,
en maak ons werk voorspoedig weer;
skeld ons, na u barmhartigheid,
o HEER, ons skuld en misdaad kwyt.

5.  Verlig ons hart wat duister is;
laat ons, na u getuienis,
die duiwel en sy werk weerstaan
en yw'rig in u weë gaan.

6.  Gee ons 'n seën by u Woord;
plant self die Kerk van Christus voort;
sterk leraars, sterk alle aardse mag
wat U beklee met u gesag.

7.  Troos almal wat deur smart getref,
hul hart vol angs tot U verhef:
maak ons in teëspoede stil;
hoor ons, o God, om Jesus wil.

 

Skrifberyming 50

Skrifberyming 50

1.  O grote Christus, eewge Lig,
niks is bedek vir u gesig,
wat ons bestraal waar ons ook gaan,
al skyn geen son, al blink geen maan.

2.  Toon ons u goedheid en u mag
deur u beskerming hierdie nag;
wil in die donker oor ons waak,
sodat geen plaag ons tent genaak.

3.  Verkwik ons deur 'n soete rus,
dat ons mag werk met nuwe lus;
laat ook ons luisterende oor
die nag se diepe wysheid hoor.

4.  Leer ons om in die lewensnag
verlangend op u koms te wag,
daar ons in stil vertroue leef
dat U ons al ons skuld vergeef.

5.  Beskerm ons in die bange tyd
van sielsversoeking en van stryd;
help as die Bose ons bestry
dat hy oor ons geen voordeel kry.

6.  Bewaar die Kerk wat nou nog stry,
en wil haar onder kruis verbly;
vertroos die neergeboë hart,
genees die krankes in hul smart.

7.  O Vader, laat u liefde ons blyk;
o Seun, maak ons u beeld gelyk;
o Gees, send u vertroosting neer;
Drie-eenge God, U sy al d'eer!