Psalm 126-150

  

Psalm 126

Psalm 126

1.  Toe God uit smaad en slawerny
ons uit gevangenskap wou lei,
was dit vir ons, beklemd deur vrees,
net soos 'n blye droom gewees.
Ons mond was vrolik, ongebonde
ons tong van blydskap in die stonde.
Selfs heidenvolke het vertel:
Groot is Gods daad aan Israel!

2.  Groot was u daad, en ons is bly.
U het gered, en ons in vry!
Maar, HEER, u gunsvolk sit nou weer
in droefnis en ellende neer.
Wil in u trou ons nooit begewe,
maar wend ons lot, laat ons herlewe,
soos waterstrome in Suiderland
die veld laat juig na sonnebrand.

3.  Wie wenend, onder leed en smaad,
die korrels uitstrooi van die saad,
sal in die hoggehalmde graan
eerlang verblyd die sekel slaan.
Al wenend saai hy oor die akker;
maar vrolik word sy saaigraan wakker.
En eind'lik dra sy nyw're hand
die volle gerwe van die land.

 

Psalm 127

Psalm 127

1.  Laat bouers bou al wat hul kan -
vergeefs is alles wat hul bou,
as God sy hand daaraan onthou.
Vergeefs, o wagte, waak jul dan,
as God jul nie wil gadeslaan,
sy oog nie oor die stadswal gaan.

2.  Vergeefs om voordag op te staan,
vergeefs die werk-uur lank gemeet
en brood van smart met smart geëet,
God gee, hoe ander ook mag raap,
dit sy bemindes in die slaap.

3.  Seuns is 'n erfdeel van die HEER;
die gawe van die moederskoot
is 'n beloning eind'loos groot.
Soos pyle wat die vyand keer,
so is die seuns 'n bron van vreug,
die seuns gebore uit krag van jeug.

4.  Gelukkig wie dit so mag gaan,
wat soos 'n held sy hand kan vul
met sulke pyle; dit is hul
wat nie verleë hoef te staan,
wanneer die vyand in die poort
vermetel spreek sy hoë woord.

 

Psalm 128

Psalm 128

1.  Wie deur Gods vrees bewoë,
trou op die weg wil gaan,
waar hom Gods wil voor oë
en klaar getekend staan -
die arbeid van sy hande
sal hy met vreug geniet
wanneer die koringlande
met seen hul opbrings bied.

2.  Soos ons met welgevalle
die wingerdstok aanskou,
en tel die trossetalle
wat ons die blare ontvou
so sal sy in jou lewe,
die huisvrou van jou jeug,
aan jou die volheid gewe
van huiselike vreug.

3.  Soos jong olyfboomplante,
wat uitspruit sterk en fris,
so bloei aan alle kante
jou kinders om jou dis.
O wie van die getal is,
hy wat die HERE vrees,
vir wie God een en al is -
hy sal geseënd wees.

4.  Mag ryke seëninge
uit Sion jou bedou;
mag jy dié goeie dinge
van Sionstad aanskou!
mag jy nog, op jou bede,
'n nakroosseen verkry!
En, God van alle vrede,
mag Isr'els vrede bly!

 

Psalm 129

Psalm 129

1.  Al van my jeug af was ek martelaar!
Laat Israel dus klaag sy lewensklagte.
Al van my jeug af was ek martelaar! -
Oorweldig deur 'n vloed van meerd're kragte.

2.  Soos met 'n ploeg wat gaan oor akkerland,
het hul my rug geploeg met diepe vore;
hul het die skaar gedryf met strawwe hand,
maar nooit, nooit was my saak by God verlore.

3.  Wat is 't 'n troos dat God die onreg wreek!
Hy wat regverdig oor my lot gewaak het,
Hy het die ploegtou met een slag verbreek
waarmee die mens sy vore lank gemaak het.

4.  Laat hul wat Sion haat, veragt'lik wyk
en wees soos saad wat winde uitgesaai het
op hoë dak, wat gou met spruite pryk,
maar gou verdor as skroeiwind dit bewaai het;

5.  waarin die maaier nooit sy hand sal slaan
om handevol sy goue graan te maai nie;
waar nooit die gerwebinder langs sal gaan
om arremsvol sy koring op te laai nie;

6.  waar wie verbygaan nooit met handgebaar
en oestydsgroet die maaier sal bejeën,
en sê: "Mag God jul arbeid seën daar!"
waar niemand roep: "Wees in Gods Naam geseën!"

 

Psalm 130

Psalm 130 (beryming 1)

1.  Uit dieptes, gans verlore,
van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore
in wan hoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, o HERE, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in u oor!

2.  As U, o HEER, die sonde
na reg wou gadeslaan,
wie sou een enk'le stonde
voor U, o HEER, bestaan?
Maar nee, daar is vergewing
altyd by U gewees;
daarom word U met bewing
reg kinderlik gevrees.

3.  Soos een wat op die mure
as wagter uitgestel,
gedurigdeur die ure
met sy gedagte tel -
so wag my siel, en sterker,
gedurig op die HEER,
tot Hy, die Ligbewerker,
die nag in daagraad keer.

4.  Hoop, Isr'el in jou klagte;
vertrou, o volk, wat treur;
sy guns verduur die nagte,
sy heil breek eind'lik deur.
Dan skyn 'n soete vrede:
gans Israel word vry
van ongeregtighede.
HEER, doen ook so aan my!

Psalm 130 (beryming 2)

1.  Uit dieptes van my sonde,
waar wanhoop my verteer,
roep ek in hierdie stonde
tot U, my God en HEER!
Wil na my smeekstem luister,
let op my pyn en smart;
laat in u ore fluister 
die weeklag van my hart.

2.  Sou U as regter handel,
o HEER, en gadeslaan
ons goddelose wandel,
ag, wie sou dan bestaan?
Maar nee, daar is vergewing
altyd by U gewees:
So word U, HEER, met bewing
reg kinderlik gevrees.

3.  Ek hoop steeds op die HERE,
my siel wag ongestoord,
ek pleit soos ander kere
op sy onfeilbaar woord...
Soos brandwag deur die nagte
na rooidag-môre smag,
so bly ek in my klagte
op sy verlossing wag.

4.  Hoop, Isr'el, op die HERE
in bitter nood en stryd:
verlossing tot sy ere
kom ook vir jou op tyd.
Hy maak op hul gebede
eens al sy kinders vry
van ongeregtighede:
O God, doen so met my.

 

Psalm 131

Psalm 131

1.  My hart is nie hoogmoedig, HEER!
My oog nie trots nie ; ek verkeer,
ek wandel nie in wat te groot,
te diep is vir u gunsgenoot.

2.  Voorwaar my siel is in my stil,
weer een met God se heil'ge wil.
Net soos 'n kind, tevrede by
sy moeder, is my siel in my.

3.  Laat Isr'el op die HEER vertrou,
sy hoop op Gods ontferming bou,
en stil berus in sy beleid
van nou af tot in ewigheid.

 

Psalm 132

Psalm 132

1.  Gedenk aan Dawid; hoe hy, HEER,
u woning met sy sorg wou eer!
Gedenk sy eed, aan U gesweer;
aan Jakobs sterke God het hy
geloftewoord dus toegewy:

2.  "Ek sal my woning nie betree,
my nie begeef na stille stee
waar ek my oë rus sal gee,
my oëlede sluimering,
voordat ek hierdie eed volbring,

3.  "voordat ek Hom, die eewge HEER,
die Magtige van Jakob, eer;
voor 'k onder al die stamme weer
die eerbied-stille stee ontdek,
waar Hy sy woning kan betrek."

4.  Die tyding gaan van mond tot mond:
in Efrata - so klink dit rond -
daar is die ark op Jaärs grond!
Daar het ons as geheimenis
dit weer gevind, die heil'ge kis.

5.  Kom, laat ons na sy woning gaan
en, biddend in sy voorhof, aan
die voetbank van sy voete staan.
Staan op, u rusplek wag, o HEER,
U met die ark van sterkte en eer!

6.  Beklee, o hoogste Majesteit,
u priesters met geregtigheid!
U volk moet juig, in U verblyd.
En wys om Dawids wil nie meer 
u ryksgesalfde af, o HEER!

7.  U het aan Dawid in u trou
gesweer dat U sy troon sal bou
wie kan U in u mag weerhou? -
"Jou seuns, tot in die verste lid,
sal 'k op jou glorietroon laat sit.

8.  "Hou hul by verbond die wag,
gee hul op my getuig'nis ag,
dan rys oor hul 'n eewge dag:
wat ook mag wyk of ondergaan,
jou troon sal altyd vas bly staan."

9.  Want Sion word deur God geëer,
as woonplek het Hy dit begeer.
"Dit is my rusplek, sê die HEER.
"Hier vestig ek my huis en troon,
en hier wil Ek vir ewig woon.

10.  "In Sion is my seën groot,
hier reg Ek armes uit die nood,
hier is versadiging met brood.
My priesters sal 'k met heil beklee,
my gunsgenote jubel mee.

11.  "Aan Dawid gee Ek heerskappy;
'n lamp is vir hom toeberei,
en skaamte oordek sy teenparty.
Maar op sy hoof sal wonderskoon
en ewig blink die gloriekroon."

 

Psalm 133

Psalm 133

1.  Hoe goed is dit - 'n huis vol lieflikhede! -
dat broeders woon in onverstoorb're vrede.
Soos salf wat kunstig toeberei,
om Arons hoof 'n sagte geur versprei,
sy baard oordrup en heil'ge kleed deurtrek -
so sal die liefde liefde wek.

2.  Dis soos die dou van Hermon, ryk nes reën,
op Sions berg: die HEER gebied die seën,
die lewe tot in ewigheid.

 

Psalm 134

Psalm 134

1.  O priesters, wat voor God bly staan,
wanneer die sonlig ondergaan,
wanneer die laaste straal verskiet -
o loof die HEER in sang en lied!

2.  O hef vir ons 'n naglied aan,
wanneer ons weer van hier moet gaan;
hef priesterlike hande en pleit,
as alles rus in donkerheid.

3.  Die HEER se seen sal met u gaan,
en ons sal biddend voor Hom staan.
Hy wat beveel en - dit geskied,
Hy sal sy seen oor u gebied.

4.  Laat, HEER, u seën op hul daal,
u guns uit Sion hul bestraal!
U wat beveel en - dit geskied,
wil, HEER, u seen oor hul gebied!

 

Psalm 135

Psalm 135

1.  Prys die Naam van onse HEER!
Hef tesaam die lofsang aan!
Loof sy goedheid, gee Hom eer,
al wie in sy voorhof staan!
Loof Hom by die heugenis
van sy Naam wat lieflik is.

2.  Loof die HEER se goedheid luid,
al wie in sy voorhof kom!
Want Hy kies vir Jakob uit,
Is'rel tot sy eiendom.
Bo al wat die mens vereer - groot,
dit weet ek, is die HEER.

3.  In die hoogte sit die HEER;
daar doen Hy wat Hom behaag;
Hy stuur sy bevele neer,
en sy wil geskied omlaag.
See en aarde luister stil,
met die dieptes, na sy wil.

4.  Hy wat wolke en dampe stuur
van die aard' se verste end,
Hy's dit wat die bliksemvuur
in die onweerswolke wend.
Hy bring winde deur sy woord
uit sy skatgewelwe voort.

5.  Hy 't sy strafbevel gegee:
eersgeborenes verslaan,
van die mens af tot die vee.
Wonders het Hom voorgegaan -
tekens van sy strenge hand
in jou midde, Egipteland!

6.  God het Faro's mag weerstaan.
Volke en konings het beswyk.
Sihon het Hy neergeslaan
met die vors van Basans ryk.
Kana'ns ryke 't neergestort,
vir Gods volk 'n buit geword.

7.  Na die veertig jaar van swerf
het die HEER vir Israel,
vir sy volk die land laat erf
na sy vaste bondsbestel.
HEER, U Naam verduur die tyd:
dit bestaan in ewigheid!

8.  U Gedenknaam, HEER, sal leef
tot die verste nageslag.
U sal nooit u volk begeef,
maar U hou oor hul die wag.
En U knegte, skoon ontrou,
U sal hul in liefde aanskou.

9.  Gode van die heidendom,
goue of silwerbeeltenis,
waar die mens sy knie voor krom,
niks as eie maaksel is:
daar 's 'n mond, maar sonder taal;
daar 's 'n oog, maar sonder straal.

10.  Ore het hul, maar die 's doof
vir die klank van stem of taal;
ook 'n mond, maar afgodshoof
kan daarmee nie asemhaal.
Laat die wat hom dien en vrees,
soos die afgod, net so wees.

11.  Huis van Isr'el, loof die HEER!
Huis, van Aron, loof die HEER!
Huis van Levi, loof die HEER!
Almal wat Hom vrees en eer -
laat dit klink op hoogste toon:
"Loof God wat in Sion woon!"

 

Psalm 136

Psalm 136

1.  Loof die HEER met blye klank,
loof sy Naam, bewys Hom dank;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

2.  Loof die hoogste God en HEER,
wat alle aardse mag regeer;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

3.  Loof die God wat onbeperk
wonders in sy almag werk;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

4.  Hy 't alwys die eewge blou
van die hemele gebou;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

5.  En die aarde, omlaag, het Hy
oor die seevlak uitgebrei;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

6.  Loof God! Ligte, groot van glans,
stel Hy aan die hemeltrans;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

7.  Aan die son gee Hy gesag,
opperheerskappy by dag;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

8.  Maan en sterre, in minder prag,
lig en vonkel deur die nag;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

9.  Hy 't Egipte swaar getref;
teen hul kroos sy hand gehef;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

10.  En sy Isr'el uitgelei
uit Egiptes slawerny;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

11.  Sterk van hand, sy arm gestrek,
het Hy hul van daar laat trek;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

12.  Hy 't die Skelfsee deurgesny
en hul middeldeur gelei;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

13.  Faro met sy leër word
in die diepte neergestort;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

14.  En hy het sy volk gelei
deur die wilde woesteny;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

15.  Hy het koninge gedood
wat geweldig was en groot;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

16.  Hy het voor sy volk gegaan -
Og en Sihon neergeslaan;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

17.  En hul land is toe geheel
aan sy Isr'el toegedeel;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

18.  Hy 't aan ons gedink in druk;
aan ons vyand ons ontruk;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

19.  Loof die HEER wat ewig leef,
mens en dier hul spyse geef;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

20.  Loof die God, die Hemelheer,
allerhoogste in mag en eer; 
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

 

Psalm 137

Psalm 137

1.  Aan die riviere 't ons gesit
in Babel en geween,
as swerfgedagte ons hartseer wek
en trek na Sion heen.

2.  Ons het aan wilgerbome daar
ons siters opgehang.
Want hul by wie ons slaaf was, het
'n lied van ons verlang;

3.  hul wat ons onderdruk het, wou
van ons 'n feessang hoor:
"Kom, sing ons nou 'n Sionslied,
'n tempellofsang voor!"

4.  Die HEER se lied in vreemde land! -
ons kan dit hier nie sing.
Ons rou en treur, maar Sion leef
in ons herinnering!

5.  My hand sal weier om te speel
voordat ek ooit, ontrou,
Jerusalem sal kan vergeet.
Nee, 'k sal, ek sal onthou.

6.  My tong sal aan my mond bly kleef
as ek jou ooit vergeet,
en jou nie loof bo wat ek hier
my hoogste vreugde heet.

7.  O HEER, vergeld aan Edom tog
die dag van Sions nood,
toe hul gesê het: "Kom, ontbloot
dit tot die grond, ontbloot!"

8.  O Babel, wat verwoes sal word,
gelukkig prys ek hom
wat gruweldaad ons aangedoen,
weer op jou neer laat kom.

9.  Jy wat in Sion vrou en kind
verdelg het voor jou knots -
gelukkig hy wat nou jou kroos
verpletter teen die rots.

 

Psalm 138

Psalm 138

1.  'k Sal met my ganse hart, o HEER,
U loof en eer, u hoogheid huldig,
en voor die gode, in psalmgeklank,
U bring die dank, aan U verskuldig.
Ek sal my neerbuig op u eis,
na u paleis, die oog na bowe.
En om u guns en waarheid saam,
u heil'ge Naam eerbiedig lowe.

2.  Hoe hoog is nou in elke oord
u Naam en woord omhoog gehewe!
U het my siel, op sy gebed,
verhoor, gered, my laat herlewe.
Die wêreldvorste sal, o HEER,
u grootheid eer in hoë tone,
wanneer u woorde word gehoor
en aansweef oor hul wank'le trone.

3.  Dan breek hul saam in sangstem uit;
'n lofgeluid klink U dan teë.
Want groot is God in heerlikheid;
sy majesteit in al sy weë.
Hy slaan, hoewel oneindig hoog,
op hul die oog wat needrig lewe.
Maar sien van ver die kleinheid aan
van grootheidswaan wat hoog wil strewe.

4.  As in my angs en teëspoed
die krag en moed my wil begewe,
as vyande van veglus brand, 
dan keer u hand en red my lewe.
Die HEER is goed en wondersterk:
Hy sal sy werk deur niks laat keer nie.
Laat my, o HEER wat my bewaar,
tog nou nie vaar, en nimmermeer nie.

 

Psalm 139

Psalm 139

1.  Daar 's niks voor U bedek, o HEER!
U skou uit eewge dieptes neer
en sien my hart en wandel aan:
al wat ek doen, my sit en staan,
of wat in my diep weggesink het -
U weet al wat my hart bedink het.

2.  My gaan en lê, waar ek my wend -
my weë is aan U bekend;
geen woord het nog my tong ontval
of kyk, o HEER, u weet dit al.
U sluit my in: ek is gevange,
u hand 's op my in al my gange.

3.  Die kennis is te hoog vir my,
te wonderbaar - wie haal daarby?
Waar sou ek heengaan voor u Gees,
of vlug, om van U weg te wees?
'k Kan nêrens my aan U onttrek nie,
want niks kan my voor U bedek nie.

4.  As ek op vleu'ls die hemel naak,
of diep omlaag my slaapplek maak;
vlieg ek met daagraadsvlerke mee,
of woon ek aan die verste see -
daar is geen verte wat my skei nie,
dat my u hand nie daar sou lei nie.

5.  Wanneer ek sê: "Die donkerheid
bedek my voor u majesteit,
dan is die nag 'n helder lig
wat my ontdek aan u gesig.
Vir U, HEER, is die nag se duister
net soos die dag in glans en luister.

6.  U 't my geheel en al deurgrond,
selfs voor my eerste lewenstond.
Gans wonderbaarlik voortgebring,
sal ek verbaas u grootheid sing
as ek aanskou u grootheidsmerke.
Hoe wonderlik is al u werke!

7.  U oog sien in die dieptes neer,
U 't my gebeente aanskou, o HEER,
toe ek, van mense ongemerk,
soos kunsborduursel fyn bewerk,
gemaak is in die aarde onder -
'n toonbeeld van u skeppingswonder.

8.  U het, daar niks u blik weerhou,
my ongevormde klomp aanskou.
U wysheid, HEER, wat nimmer faal,
het my geboortestond bepaal;
voor iets van my 't begin te lewe,
was alles in u boek geskrewe.

9.  Hoe kost'lik u gedagtes, HEER!
Ek tel - en hul word altyd meer.
Geweldig groot is hulle som,
waar nooit my reekning by kan kom:
meer as die sand van see en mere.
Ontwaak ek - ek is by U, HERE!

10.  Mag U die goddelose tref
wat hulle trots teen U verhef!
Wyk almal weg wat my omgeef,
aan wie se hand die bloedvlek kleef,
die wat geveinsd God wel geag het,
maar vir Gods hoogheid geen gesag het!

11.  Sou ek nie haat van ganser hart
wie in hul hoogheid U wil tart?
Sou ek my nie met afsku keer
van die wat teen U opstaan, HEER?
Ek smaad - omdat hul U gesmaad het;
ek haat - omdat hul U gehaat het.

12.  Deurgrond, o HEER, en ken die swart,
verborge dieptes van my hart;
of diep in my, waar U kan lees,
'n skadelike weg mog wees.
En lei voortaan my wank'le skrede
tog op die weg van eewge vrede.

 

Psalm 140

Psalm 140

1.  O HEER, verlos my van die man
wat heil soek in geweld en kwaad,
wat hart en hand laat samespan
tot stryd en goddelose daad.

2.  Hul maak hul tong skerp soos 'n slang,
vol gif van adders is hul mond.
Help my, dat manne my nie vang
wat my wil neerwerp teen die grond.

3.  Die trotsaard loer al op my gang:
digby my voet, daar lê sy net!
Ek moet daarin, ek word gevang
as U, o God, dit nie belet.

4.  Ek het toe tot die HEER gespreek:
U is my God, wat my verhoor.
Ag, luister dan wanneer ek smeek,
en neig tot my geroep u oor!

5.  O HEER, in wie my heil sy stut,
my lewe sy gewisheid het -
U is dit wat my hoog beskut
en in die stryd my val belet.

6.  Laat dit die bose nie geluk,
maar stuit sy hand voor hy my tref;
verhinder tog sy gruwelstuk,
sodat hy hom nie trots verhef.

7.  Aanstigters van die leuenwerk,
wat steun op lis en slinkse taal -
mag die vergelding, vol en sterk,
nou op hul hoofde neer kom daal.

8.  Werp vuurge kole op hul af,
laat vlamme om hul lende slaan;;
'n diepe kuil - maak dit hul graf
waaruit hul nooit weer op sal staan!

9.  Die trouelose nietigheid
van leuenaars hou nimmer stand;
geweldenaars het korte tyd
en onheil jaag die dwingeland.

10.  Die HEER al, dis wat ek weet,
die regsaak van die arme rig;
in druk sal Hy hom nie vergeet,
maar hom die lydenslas verlig.

11.  Gewis, regverdiges sal, vry
van smaad, U loof op hoë toon,
opregtes nie meer onreg ly,
maar veilig voor u aanskyn woon.

 

Psalm 141

Psalm 141

1.  As daar vir my geen hulp of raad is,
roep ek, o HEER, hoor my gebed!
Ag, haas U tot my hulp, en red
voordat dit hier met my te laat is.

2.  Laat soos die geur van wierookbrande
my bee wees voor u aangesig;
soos offerspys, saans toegerig,
my biddend opgehewe hande.

3.  Mag nooit my woord U smaad, o HEER, nie!
Rys smaadtaal uit die hart se grond -
ag, wil dit wegweer van my mond,
dat ek u Naam nooit mag onteer nie!

4.  Bewaar my hart, gedagte en handel,
sodat ek nooit die vreug mag smaak,
of deel mag neem aan feesvermaak
van wie in goddeloosheid wandel.

5.  'k Voel my aan liefdetug verbonde:
soos hoofsalf vir my hoof is 't my
as die opregte my kasty;
want liefdetug die laat geen wonde.

6.  Teen bose daad stel ek my bede.
Is hul verleiers swaar gestraf,
gestort van hoë bergrots af,
dan sal hul weet: my woord was vrede.

7.  Net soos 'n ploeg langs donker vore
die kluite her- en derwaarts gooi -
so lê ons beendere verstrooi,
op velde van die dood verlore.

8.  Op U rig ek my wenende oë;
by U, o HERE, skuil ek. Giet
my siel nie uit in my verdriet.
Ek soek my krag in u vermoë.

9.  HEER, hou my in die regte spore,
want manne, vreemd aan trou en reg,
verberg hul vangnet langs my weg:
een misstap, en ek is verlore.

10.  Laat hulle staan waar ek gestaan het;
laat hulle met hul plan en al
tesaam self in hul vangkuil val,
terwyl ek stil verbygegaan het.

 

Psalm 142

Psalm 142

1.  Ek roep tot God met groot geluid;
ek stort my klag soos water uit;
ek klaag my node in Gods oor,
want Hy sal my gebed verhoor.

2.  Wanneer my gees van druk versmag,
ken U my pad in lydensnag.
Hul het hul vangnet, HEER, vir my
arglistig op my weg gesprei.

3.  Na regs wend ek my oë - en
daar's niemand wat my nou wil ken;
daar's nou vir my geen toevlug meer,
en niemand sorg vir my, o HEER!

4.  Wat dan? Ek wend my tot U heen;
U is my skuilplek, U alleen.
U is, so lank ek leef, my deel,
dié God aan wie ek my beveel.

5.  Hoor in die nood my roepstem, HEER,
want ek is swak en uitgeteer;
maak my van my vervolgers vry,
want hul getal oorweldig my.

6.  Voer my uit die gevangenis
waarin my siel gekerker is;
dan sal 'n skare my omring
en vrolik van u weldaad sing.

 

Psalm 143

Psalm 143

1.  O HEER, ek roep, hoor my gebede.
Daar is in my geen stilte of vrede!
Ek smeek tot U, o hoor my nou!
Ek pleit op u geregtighede,
en ek verlaat my op u trou.

2.  Ag, reken met u kneg nie af nie,
en wil my na u wet nie straf nie;
want niemand wat voor U bestaan,
kan pleit-of regsgrond ooit verskaf nie,
dat hy u vonnis sou ontgaan.

3.  Die vyand volg my op my skrede,
hy trap my afgesloofe lede
en laat my woon in duisternis,
soos een wat dood is, lank gelede
uit die herinn'ring uitgewis.

4.  My gees versmag by so 'n benouing,
my hart verstyf by die aanskouing;
en ek herdenk die beter dag
van u genadige aanskouing
van redding deur u wondermag.

5.  Ek hef my hande na die hoë,
ek kwyn voor U in onvermoë
net soos 'n dorstige akkerland,
wat in die son lê uit te droë
en gloei in hitte en somerbrand.

6.  Verhoor my, HEER; wil nie meer wag nie;
en laat my gees tog nie versmag nie!
Verberg u aanskyn nie vir my,
dat ek soos die nie word geag nie
wat in die kuil het afgegly!

7.  Laat by die eerste môreglore
u goedheid fluister in my ore!
Op U vertrou ek, laat my tref
die veil'ge pad en regte spore,
daar ek my siel tot U verhef!

8.  Verlos my, HEER, van hinderlae;
en wil my leer u welbehae.
Ek skuil by U, vat U my hand,
en laat u Gees in al my dae
my voortlei in 'n veil'ge land.

9.  Laat hier u guns my nooit begewe;
skenk om U selfs wil my die lewe!
En laat my siel weer wees verblyd,
van sy benoudheid wees onthewe.
Ek pleit op u geregtigheid.

10.  Laat dit die vyand nooit geluk nie.
Vernietig hul, laat my nie buk nie;
bring almal om wat my beveg.
Laat hulle nie meer my verdruk nie,
want, HEER, ek is, ek is u kneg!

 

Psalm 144

Psalm 144

1.  Geloofd sy God wat my in wank'le tyd
'n rotssteen is, my aangord tot die stryd;
wat tot die kryg my hande toeberei,
so goed is en 'n vestingwerk vir my;
wat my die skans tot redding wil verstrek,
by wie ek skuil, daar my sy skild oordek;
wat in die stryd my altyd trou bewaak
en nou my volk aan my gehoorsaam maak.

2.  Wat is die mens, o HEER; wat sy geslag?
En wat is hy dat U op hom sou ag?
Soos skaduwees verswind sy lewenstyd:
en sy bestaan is enkel ydelheid.
Buig, HEER, die hoë hemel en daal af!
Strek uit u hand, tref berge met u straf,
dat rook kan opstyg uit hul ingewand,
en slinger neer van bo u hemelbrand!

3.  Verwar, verstrooi my harde teenparty,
stuur uit u pyl en laat dit vir my stry.
Strek uit u hand van Hoë hemel neer
en hef my hoof uit wilde waters, HEER!
Verlos my uit 'n see van ramp en nood,
want vreemdes dreig my met 'n wisse dood.
Hul mond spreek leuens en hul regterhand
doen by hul eed die leuenwoord gestand.

4.  O God, ek wil opnuut my dank U bring
en by die harp my psalmgesang U sing,
U wat aan Dawid die oorwinning gee
oor reuse-swaard, vir sy verderf gesmee.
Verlos my uit 'n see van ramp en nood,
want vreemdes dreig my met 'n wisse dood.
Hul mond spreek leuens en hul regterhand
doen by hul eed die leuenwoord gestand.

5.  Dan sal ons seuns soos plante ons verheug:
hoog opgekweek en sterk wees in hul jeug;
ons dogters soos pilare, na die eis
gebeitel van 'n skone rotspaleis;
ons skure vol van voorraad ongeteld, ,
ons kleinvee talloos hupp'lend oor die veld,
ons beeste swaar gelaai; geen bres alom,
waar krygsgeskreeu ons stand kan binnekom.

6.  Welsalig - dus hef ek my slotsang aan -
welsalig is die volk wie 't so mag gaan!
Welsalig hul wat by die groot genot
van volle heil, die HEER het tot hul God!

 

Psalm 145

Psalm 145

1.  U Naam, o HEER, so hoog in heerlikheid,
wil ek verhef vir ewig en altyd;
u Konings-eer wat alle krone oorstraal,
wil ek verhoog in onvermoeide taal.

2.  Die HEER is groot, daar is geen sanggeluid
wat ooit sy lof in volle waarde uit!
Dit is 'n see waar niemand in kan meet,
dit is 'n vloed waar ons geen grond van weet.

3.  Omdat, o God, in die geheimenis
vir ons vernuf geen grond of einde is,
daarom prys ons u werk, u daad van krag,
van kind tot kind, tot in die nageslag.

4.  Die skitterglans wat uit u majesteit
u wonderwerk bestraal met heerlikheid,
gedugte krag wat ons van angs laat vrees,
u grootheid, HEER - dit sal my lofsang wees.

5.  Hul sal, o HEER, u goedheid bly herdink
en vir u heil die jubels op laat klink:
genadig, goed, lankmoedig soos weleer,
barmhartig en 'n redder is die HEER.

6.  Al wat deur Hom die aansyn mag geniet,
is met 'n stroom van goedheid mild oorgiet.
Daarbuite juig, gehoor en ongehoor,
sy kreatuur - 'n ganse skeppingskoor!

7.  Maar bo hul uit weerklink 'n ander prys:
Gods gunsvolk sing sy roem op klaarder wys,
dat elke volk kan hoor die groot gerug
van heerskappy wat wegdreun deur die lug.

8.  U magdaad blink - 'n son aan die gewelf!
U koninkryk is ewig soos Uself.
Tog help U, HEER, wie hier voor onheil swig,
wie neerstort, word deur U weer opgerig.

9.  Daar 's oë wat in sterk verlange smag,
hul wag op U, ja, alle skeps'le wag:
U spysig hul, u wonderhand alleen
versadig hul en strooi 'n volle seen.

10.  Die Heer is reg in al sy weg en werk,
sy goedheid ken, die wêreld deur, geen perk.
Hy is naby die siel wat tot Hom sug,
Hy troos die hart wat skreiend tot Hom vlug.

11.  Hy gee die wens van almal wat Hom vrees;
op hul geroep wil Hy 'n redder wees.
Sy hand verdelg die goddelose, maar
die wat Hom liefhet, sal die HEER bewaar.

12.  Maar nou, my siel, waar eindig ooit Gods eer?...
Nog sal ek uitroep: Lof! Lof aan die HEER!
Laat alle vlees vir ewig en altyd
sy Naam verhef so hoog in heerlikheid!

 

Psalm 146

Psalm 146

1.  Prys die HEER met blye galme,
o my siel, daar 's ryke stof!
'k Sal, solank ek leef, my psalme
vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied,
altyd groot maak in my lied.

2.  Moet op prinse nie vertrou nie,
by wie niemand heil kan vind -
op die mens jou hoop nie bou nie;
want as God hul gees ontbind,
keer hul na die aarde weer
en hul raadslag stort terneer.

3.  Salig hy wat in die lewe,
sonder hulp en sonder raad,
as hom alles wil begewe,
vlug tot God, sy toeverlaat;
en ook in die swartste nag
op die HERE alleen bly wag.

4.  Dis die HEER wat aarde en hemel,
die getuies van sy mag,
met die see en wat daar wemel,
voortgebring het deur sy krag;
wat, onwrikbaar in sy trou,
altyd sy beloftes hou.

5.  Dis die HEER wat aan die arme
in sy druk laat reg geskied,
wat uit liefderyke erbarme
hongeriges spyse bied;
wat gevang'nes vryheid skenk
en hul in hul smart gedenk.

6.  Dis die HEER se mededoë
wat die blinde oog verlig;
wie in stof lê neergeboë,
word deur Hom weer opgerig.
Hy bemin die wat opreg
wandel in sy woord en weg.

7.  Dis die HEER wat vreemdelinge
met 'n wakende oog aanskou,
weduwees in twisgedinge,
met hul wese, staande hou.
Maar sy arm, hul steun en hoop,
stuit die bose in sy loop.

8.  Dis die God der leërmagte,
troue Bondsgod van weleer,
God van wordende geslagte,
tot in ewigheid die HEER.
Sion, sing die God ter eer,
prys sy grootheid, loof die HEER!

 

Psalm 147

Psalm 147

1.  Laat voor die HEER 'n lofsang rys!
Hoe goed is dit om God te prys!
Hoe lieflik on die lof te sing,
die lof wat ons aan Hom moet bring!
Want Hy wil ons in guns aanskou,
Hy wil Jerusalem herbou
en Isr'el wat verstrooid nog swerf,
versamel op die heil'ge erf.

2.  Hy heel gebrokenes van hart,
en Hy verbind hul in hul smart.
Sy oë speur oneindig ver;
Hy tel en roep die laaste ster;
sy krag en kennis, ongemeet,
oorwelf al wat ons ken en weet.
Sagmoediges verhef Hy weer,
maar goddeloses werp Hy neer.

3.  Sing daarom voor die HEER u dank,
psalmsing Hom by die siterklank!
Hom wat die lug met wolke oorsprei
en vir die aarde reen berei,
wat op die berge gras en kruid,
die voedsel vir die vee laat spruit,
die rawe-nes op milde wys
versorg, wanneer dit roep om spys.

4.  Gods sterkte is nie soos mensemag
wat heil van oorlogsperde wag,
of van die bene, sterk gebou,
waarop die krygsman vas vertrou.
Maar hul alleen kan Hom behaag
wat needrig na sy sterkte vraag,
en, hoe dit ook mag teëloop,
Hom vrees en op sy goedheid hoop.

5.  Laat nou jou stem, o Salem, rys!
O Sion, wil die HERE prys!
Hy dek jou dig vir slag en stoot,
versterk jou poorte teen die dood.
Hy seen jou kinders met jou mee
as Hy jou land die vrede gee.
Hy laat jou akkers wuiwend staan
en voed jou met die beste graan.

6.  Hy stuur van bo sy koningswoord,
snel vlieg dit heen van oord tot oord.
Dit is die God van lug en weer
wat strooi soos wol sy sneeuvlok neer.
Natuur moet op sy wenke pas:
Hy strooi rondom sy ryp soos as,
die waters groei tot ysblok aan -
wie kan voor so 'n kou bestaan?

7.  Hy stuur sy woord, sy wind - hul smelt,
die waters stroom weer oor die veld.
So laat hy guns op almal daal,
oor Isr'el het die wonderstraal
van waarheidskennis opgegaan;
so het Hy aan geen volk gedaan.
Hul ken sy ryksverordening;
hul moet uit dank sy grootheid sing!

 

Psalm 148

Psalm 148

1.  Loof uit die heemle, loof die HEER!
Loof in die hoogtes, sing sy eer!
Loof, heil'ge eng'le, om sy troon,
die God wat in die hoogte woon!
Loof almal saam, o leërmagte,
wat Hom omring as troue wagte!
Loof, blink gesternte, maan en son:
Hy is van alle lig die bron.

2.  Loof, hemel van die heemle hoog,
en waters van die wolkeboog,
wat van die aarde 't opgevlug
tot in die boonste, ligte lug!
Want op sy woord is hul geworde;
Hy 't hul bevestig en 'n orde
vir ewig en altoos gegee -
geeneen van hul sal dit oortree.

3.  Loof van die aard; die HEER se Naam,
o walvis, met die dieptes saam!
Loof, sneeu en damp! Loof, vuur en hael
wat uit die onweershemel daal!
Loof, wind wat aanstorm oor die velde
en bruisend ons sy woord kom melde!
Loof, berg en bult, en boom en vrug,
en seders van die hoë lug!

4.  Loof, wilde diere en alle vee;
en al wat kruip, loof almal mee!
Loof, voëls in die vrye lug!
Loof, volke en konings hooggedug!
Loof, regters in jul regsgedinge;
die maagde met die jongelinge!
Sing, oud en jonk, verruk van vreug -
wees in die God van heil verheug!

5.  Laat almal saam die HERE prys:
sy Naam alleen het hoog gerys;
oor aarde en hemel, ver en wyd,
sien ons sy glans en majesteit.
Hy wou die horing vol vermoë,
die glorie van sy volk verhoë:
Sing dan, o volk, met hoog geskal
die lofsang van die groot heelal!

 

Psalm 149

Psalm 149

1.  Sing tot Gods eer met lof en dank 
'n nuwe lied met nuwe klank,
o al sy gunstelinge!
Laat Isr'el voor sy Maker juig,
laat Sion voor sy Koning buig,
die HEER van alle dinge!

2.  Hul moet sy Naam en roem laat hoor
in feesgesang en sangerskoor,
met harp en trommelslae!
Die HEER 't sy volk weer guns betoon,
sagmoediges met heil gekroon
uit vrye welbehae.

3.  Laat hulle juig in staat van eer,
juig op die bed waar hul weleer
die lydensug geslaak het!
Gods lofverheffing in hul stem,
die slagswaard in hul hand geklem,
wat tot die straf ontwaak het!

4.  Selfs konings moet in kettings gaan,
en eedles, in die boei geslaan,
is magt'loos krygsgevange.
Die eeue-oue oordeel word voltrek;
die HEER 't sy volk met roem oordek.
Loof Hom, my jubelsange!

 

Psalm 150

Psalm 150

1.  Loof God, loof sy Naam alom!
Loof Hom in sy heiligdom!
Loof die HEER se grote mag
in die hemel van sy krag!
Loof Hom om sy moëndhede,
om die menigvuldigheid
van sy mag en majesteit -
voor sy troon en hier benede!

2.  Loof God met basuingeklank!
Gee Hom eer, bewys Hom dank!
Loof Hom met die harp en luit!
Loof Hom met die trom en fluit!
Loof Hom met die blye snare!
Al wat klank het - laat dit hoor,
laat dit opklink uit die koor
van 'n juigend-blye skare!

3.  Loof God - dit is sy bevel -
met die helder simbelspel!
Loof Hom met die klinkmetaal
van die vrolike simbaal!
Loof die HEER en gee Hom ere -
al wat kruip en roer en sweef,
al wat asem het en leef!
Halleluja, loof die HERE!