Psalm 51-75

   

Psalm 51

Psalm 51

1.  Ontferm, o God, ontferm U tog oor my! 
Ontsluit die bron van u barmhartighede;
wis uit die smet wat kleef aan al my lede,
en maak my siel van sondeskuld weer vry!
Was my geheel tot my behoudenis,
was weg tog, HEER, die skandvlek van die sonde,
die kwaad wat my altyd voor oë is.
Hoe voel ek nou die brandpyn van my wonde!

2.  U, HEER. wat my deurskou geheel en al,
is van my euweldaad die hoogste weter;
U het die kwaad gesien; dus niemand beter
wat my kan vonnis in my droewe val.
Teen U het ek my sondedaad begaan,
ja, voor u oog deur swaar misdryf gesondig;
dus sal u woord regverdig bly bestaan,
en rein u vonnis, oor my afgekondig.

3.  Dis nie dié sonde alleen wat roep om straf:
ek is in ongeregtigheid gebore,
en lê voor U in doemskuld gans verlore
al van die uur van my ontvang'nis af.
U eis is waarheid in my binnenst', HEER;
en ek is tot my wesensgrond toe skuldig!
Daal af in my verborge diepte en leer
my daar u wysheid, diep en menigvuldig.

4.  Net soos die lyder, van melaatsheid vry,
verlangend na die teer gemeenskapsbande,
besprinkel word deur priesterlike hande -
ontsondig, HEER, ontsondig so ook my!
Was my met suiwer water van dié smet
en sneeu in blankheid sal nie witter wees nie.
Laat die gebeent' wat U verbrysel het,
weer in my juig, nie meer verbrysel wees nie.

5.  Verberg u oog, die vlammelig wat oor
my sonde brand en speur deur al my lede.
Was weg, delg uit my ongeregtighede,
herskep my hart wat wegdwing uit u spoor.
Gee my opnuut, o HEER, 'n vaste gees,
dat ek nie só weer van u baan mag gly nie!
Laat my voor U tog geen verstootling wees,
en neem u goeie Gees nie weg van my nie.

6.  Gee my weer lewensvreug, die soete smaak
wat ek moet mis, in sondesmart verlore;
gee my gewilligheid, uit vreug gebore,
wat weer u diens vir my 'n vreugde maak.
Dan hoor ek nie die wrede aanklag meer:
"Kyk hoe het hy, die kind van God, gesondig!"
Ek wil oortreders dan u weë leer,
bekering aan die sondaars bly verkondig.

7.  Skrikbeeld van smet wat in my siel bly heg,
en my herinner aan my sware skande:
vergote bloed besoedel my die hande!
God van my heil, werp tog dié bloedskuld weg!
Dan sal'k aan u geregtigheid weer dink,
wanneer my mond wat stom was deur die sonde,
deur U geopen, weer u lof laat klink,
my tong, lank vas, in juigtoon word ontbonde.

8.  Gebroke hart en gans verslae gees -
dit is u offers, HEER! Geen altaardiere,
geen bloed of vet van kleinvee of van stiere,
kan voor u oog die ware offers wees.
Doen goed aan Sion, wees dit welgesind,
en bou weer op Jerusalem se mure;
dan sal ons hand die regte offers vind,
brandoffers opgeur uit die altaarvure.

Psalm 52

Psalm 52

1.  Wat roem jy, wreedaard, so hooghartig?
Gods guns duur vir my voort!
Jou tong is vlymend soos 'n skeermes,
net valsheid is jou woord.
Net kwaad, geen goed; net leu'ns, geen reg -
dit is jou woord en weg.

2.  Jy hou van woorde skerp soos swaarde,
o tong, aan tug ontwend!
God sal jou neerwerp, wegruk ewig,
jou uitsleep uit jou tent,
ontwortel totdat daar van jou geen wortelvesel hou.

3.  Opregtes sal dit sien en huiwer,
en - oor die trotsaard lag:
"Kyk nou die man wat in sy hoogheid,
die hulp van God verag;
wat steun op rykdom sonder perk,
in roofbegeerte sterk!

4.  Maar ék sal wees soos groen olywe,
en, in Gods huis geplant,
vertrou ek op sy guns vir ewig,
my steun en onderstand.
En singend wag ek op sy Naam,
met al Gods gunsvolk saam.

Psalm 53

Psalm 53

1.  Vermeetle dwaas wat hoogwys spot,
sê in sy hart: "Daar is geen God"
Hul dade is afskuw'lik, sleg
geeneen wat goed doen in sy weg.

2.  God het die mens se werk betrag
uit hemelhoë en helder dag,
of Hy ook by die mensekind
verstand mét ware Godsvrees vind.

3.  Maar almal het tot groter kwaad,
in hul ontaarding, God verlaat;
van almal is hul dade sleg,
geeneen wat goed doen in sy weg.

4.  Is daar dan by die sondaarskind,
hul wat my volk soos brood verslind,
geen kennis van die waarheid meer,
dat hulle God nie soek en eer?

5.  Maar skielik het hul skrik gekom:
God slaan hul deur sy oordeel stom:
want God verstrooi die been're van
wie almal teen jou saam wou span.

6.  Jy het hul daar beskaamd laat staan,
want God sien hul nie langer aan. -
Mag maar ons bede nooit verstom:
"Laat Isr'els heil uit Sion kom!"

7.  As Isr'els God in hul ellend
sy volk se lotgeval wil wend,
sal Jakob jubel bly van gees,
en Israel sal vrolik wees.

Psalm 54

Psalm 54

1.  O God, verlos my deur u Naam,
toon my u mag en rig regvaardig!
HEER, neem my aan, hoeseer onwaardig,
hoeseer tot bidde onbekwaam!
Want vreemdes, teen my opgestaan,
tiranne, aan misdaad oorgegewe,
soek bloedbegerig na my lewe;
Gods hoogheid jaag geen vrees hul aan!

2.  Maar ek sal op u bystand bou:
U sal hul op die oorlogsvelde
die kwaad, my aangedoen, vergelde.
Vernietig hulle in u trou!
Dus sal 'k met vreug in my gemoed
gewillig aan U offer, HERE;
ek sing my lof, u Naam ter ere,
want, HEER, u Naam alleen is goed.

3.  Dit was op my so angstig-nou.
U Naam, gedug bó vestingwalle,
laat nou my oog met welgevalle
die oordeelstraf van God aanskou.

Psalm 55

Psalm 55

1.  Verhoor, o God, verhoor my klagte,
as ek, gekwel in my gedagte,
geen rus kan vind of plek van vrede.
Net onrus is daar in my hart:
ek dwaal, ek duisel, voel verward.
Verberg U nie, maar hoor my bede!

2.  Ek hoor die roep van goddeloosheid.
Hul wentel op my in my broosheid
hul onreg af. Verward van sinne,
sien ek hoe hul in vyandskap
my die verkrimpte hart vertrap;
'n doodskrik val op my van binne.

3.  Ag, was ek nou, deur angs omgewe,
maar soos 'n duif, omhoog gehewe -
ek sou met snelle vleuelslae
wegvlieg tot waar die wildernis
my skuiling bied, waar 't veilig is
teen alte felle onweersvlae.

4.  Verwar hul spraak! By dae en nagte
omsingel, HEER, ontroue wagte
die Sionsvesting op sy mure.
En in die stad - daarbinne is
geweld en onheil, moeite en twis.
O, wat deurleef ek donker ure!

5.  Dis nie 'n vyand wat my smaad nie,
of trotse haters wat my haat nie -
dán sou ek stil my leed gely het!
Maar dis my vriend wat my nou kwel,
met wie ek, as my metgesel,
my in Gods heiligdom verbly het.

6.  Kom, dood en doderyk, verdelg hul!
O aarde, ontsluit jou en verswelg hul
nog lewend, in jou diepste gronde,
in allerswartste duisternis,
waar daar geen end of weerkeer is,
tot straf van hul vermeetle sonde!

7.  Ek roep. Tot God klim nou my bede.
Hy sal verlos, Hy gee my vrede.
By aand en môre en middag hoor Hy;
Hy red my siel met sterke hand
wanneer die stryd teen my ontbrand -
met menigtes staan hul teenoor my.

8.  Hoog bo die mens, hier groot-vermetel,
staan ewig God se regtersetel.
Hy sal sy volk nooit laat verdruk nie.
waartoe hul straf lank opgeskort,
daar 't tog met hul nooit ander word
wat voor Gods hoogheid nie wil buk nie?...

9.  Hy wat sy hande uitgesteek het
teen my, ons vriendskapsbond verbreek het -
sy bottergladde tong bied vrede,
sy hart is stryd! Soos olie gly
sy woorde, maar hul steek en sny
soos swaarde, glimmend uit die skede!

10.  Wil met jou sorg jou nou begewe
tot God, beskermer van jou lewe.
Ek sal nie wankel. Maar dié manne
wat my bestry - vernietiging
sal God die HERE oor hul bring.
Die dood oorval hul met hul planne.

Psalm 56

Psalm 56

1.  Genade, o God! Ek hoop op U alleen.
Die vyand staan met trots en haat my teen;
hy veg, verdruk, vertrap. Waar moet ek heen?...
Op U, my God, vertrou ek.
U gee u woord, dit sal my nooit begewe,
daar leef ek mee, dit dra my deur die lewe;
ek gee my hart, tot U omhooggehewe -
wat sou ek vlees dan vrees?

2.  My heil en vrede 't hulle my ontvoer.
My aan te val, my inwag, skelm beloer,
my kwaad doen - dis wat hul gedagtes roer.
Die toeleg is my lewe!
Hul ongeregtigheid, hoe menigvuldig!
Hul skuld, hoe groot! Bly hul dan nog onskuldig?
Hul trots, hoe hoog! Is U dan nog geduldig?...
Werp volke neer, o God!

3.  Hoe hulle my op elke vlugpad kwel,
U weet dit, HEER; my trane 't U getel,
dit in u Boek op eewge skrif gestel.
Só was U my gedagtig!
My vyand vlug, U, Redder van my lewe,
U is by my en sal my nooit begewe.
My hart is stil, tot U omhooggehewe.
Wat sou ek vlees dan vrees?

4.  Toe smart reeds bruisend oor my heen wou slaan,
het ek, o HEER, geloftes U gedaan.
En nou, nou dink ek dankbaar-bly daaraan
en bring my dankbetaling.
My siel 's gered: geen dood wat ek gewaar nie.
My voet was vas: geen vyand is meer daar nie.
Niks wat my hinder om op U te staar nie,
o grote Lewenslig!

Psalm 57

Psalm 57

1.  Wees my genadig, o my God! Ek soek
'n skuilplek in die dag van nood en stryd -
daar waar u vleu'ls hul oor my uitgestrek het,
diep in hul skadu, soek ek veiligheid,
totdat die onheil weer verbygetrek het.

2.  Ek roep tot God, die allerhoogste HEER,
wat tot die end getrou by my sal staan,
wat my sal help terwyl 'n ruwe bende
hul smaadgeroep nog oor my op laat gaan.
Hoe goed en trou is God in my ellende!

3.  Ek is hier by 'n volk van leeue-aard.
Hul tande staan soos spiese in hul mond;
hul tong is skerp soos skerpgeslypte swaarde.
verhef U, HEER, hoog bo die hemelrond,
en straal tog neer u glorieglans op aarde!

4.  Hul het 'n strik en kuil vir my berei,
my siel laat buig by so 'n bitter lot.
Maar in die vangkuil wat hul slim berei het,
is hul gevang! Nou rus my hart in God.
en 'k juig, omdat Hy my so wys gelei het.

5.  Waak op, my eer! Waak op, my harp en luit
Laat my die rooidag wek met sanggeluid!
U wil ek loof tot by die verste volke.
U guns en trou straal bo die hemel uit.
Verhef, o God, u eer bo lug en wolke!

Psalm 58

Psalm 58

1.  Spreek jul wel waarlik reg, o regters?
En vonnis jul die mense reg?...
Jul hart is ver, ver daarvan weg,
en in jul hand is gruweldade.
Die bose is net afvalligheid,
die leuenspreker dwaal altyd.

2.  Hul gif is dood die gif van slange.
Hul is soos adders wat nie hoor -
geen towerspreuk kan hul bekoor.
O God, verbreek nou hulle tande!
Die jong, sterk leeus, belus op buit -
o HERE, slaan hul tande uit!

3.  Laat hul vergaan, verdwyn soos water.
En laat hul pyle magt'loos blyk.
'n Slak wat wegsmelt in sy slyk
sover hy kruip - maak so hul gange!
Laat soos 'n misdrag hul verdwyn,
waaroor geen sonlig ooit sal skyn.

4.  Voordat hul spys die gloed gewaar het,
storm God dit weg saam mét die vuur!
Regverdiges beleef die uur
van wraakvergelding ná hul lyde.
Ja, daar's 'n God wat waar en reg
die mens se saak op aard' besleg.

Psalm 59

Psalm 59

1.  Red my, o God, wil my bewaar!
Die vyand kom, 'n sterke skaar.
Neem my tog in u hoede en wag
vir teëstanders en hul mag;
die manne wat net onreg werk,
is in hul bloeddors my te sterk.

2.  Want kyk, hul lê en loer op my.
Hoe sterk is nou my weerparty!
Hoe maak hul klaar, storm op my aan,
al het ek nooit teen hul misdaan.
Ontwaak, my tegemoet, aanskou
hoe ek op U alleen vertrou!

3.  O HEER, oneindig groot van mag,
o Isr'els God, gedug in krag,
ontwaak, en straf dié heidendom
dat daar geeneen u wraak ontkom!
Wees nie genadig, daal met straf
op al die troueloses af.

4.  Oordag in skuilplek weggevlug,
kom hul by donker weer terug
en huil soos honde deur die stad.
Hoe giftig is hul woorde wat
soos swaarde my die hart deurboor.
"En wie, " sê hulle, "sal dit hoor?"

6.  O HEER, moet hulle nie laat sterf,
maar laat hul soos 'n balling sterf;
sodat my volk dit sien en weet,
en u gerig nooit mag vergeet.
Werp hul, o God, my Skild, terneer
as trotse skenders van u eer!

7.  Wat is hul ongesnoerde mond?
Hul woord?... 'n Dolksteek wat deurwond.
O, dat hul trots hul mag verstrik,
deur eie vloek en leu'ns verskrik.
Vernietig, HEER, in toorn en mag
die onregverdige geslag,

8.  dat elkeen helder kan bemerk
by so 'n straf en oordeelswerk
dat God regverdig vonnis vel
en Koning is in Israel;
dat Jakobs God sy heerskappy
oor elke land en volk verbrei.

9.  Oordag in skuilplek weggevlug,
kom hul by donker weer terug
en huil soos honde deur die stad.
Dan swerf hul rond langs donker pad;
kom hul geen spyse op die spoor
dan bly hul loer, die heel nag oor.

10.  Maar ék sal van u sterkte sing,
u goedheid vroeg my jubel bring:
U was my toevlug in die nag,
in angs het ek op U gewag.
God van genade en sterk daarby,
aan U sal ek my loflied wy!

Psalm 60

Psalm 60

1.  O God, hoe het U ons verstoot!
U grimmigheid was oor ons groot.
Herstel ons; laat die land herleef
wat U geskeur het en laat beef!
Herstel, genees sy breuke weer,
want alles wankel voor U, HEER!
U 't ons 'n harde saak laat sien
en swymeldrank ons toegedien.

2.  U hef vir ons 'n vaandel hoog
waar ons kan heenvlug vir die boog -
'n reddingspaal het U geplant.
Verhoor ons, red ons deur u hand!
God het dit uit sy tempel al
laat klink met hoogste jubelskal:
"'k Sal Sigems stad my eie heet
en Sukkot as my erfdeel meet.

3.  "Oor Gilead sal 'k heerser bly,
Manasse, dié is ook van My,
Éfraïm weer die aanval af,
en Juda is my veldheerstaf.
Van Moab sal 'k my waskom maak;
oor Edom, nog belus op wraak,
sal Ek in hoogheid triomfeer.
Juig, Filistéa, tot my eer!"

4.  Wie bring my in 'n vaste stad?
Wie baan na Edoms land my pad?...
U, HEER, wat ons nie by wil staan,
nie met ons leërs saam wil gaan!
Gee ons u bystand in die stryd,
want mensehulp is nietigheid.
Deur Gód sal ons tot kragdaad stap;
ons vyand sal Hy self vertrap!

Psalm 61

Psalm 61

1.  Neig, o God, tot my die ore!
Ver verlore,
ver van hulp en heil vandaan,
as my hart in my geen krag het,
al versmag het,
roep ek U as helper aan.

2.  Op 'n rots waar 't hoog en yl is,
my te steil is,
laat u hand my daar gelei,
God is my 'n sterke toring;
daar 's verhoring,
skuiling teen die storm vir my.

3.  Graag sou ek, van sorg onthewe,
heel my lewe
my verskuil diep in u hut,
waar u goedheid, my geneë,
met 'n breë
almagsvleuel my beskut.

4.  My geloftes en gebede,
nietighede,
het die HEER nogtans gedenk:
en Hy het vervul sy woorde,
skone oorde
as besitting my geskenk.

5.  U sal in u welbehae
lange dae
oor die koning heen laat gaan;
en sy troon, deur U gestewig,
sal vir ewig
voor u aangesig bly staan.

6.  Send, o HEER, tot sy beskerming
u ontferming
en getrouheid as 'n wag.
Dan, dan loof ek, en dan sing ek,
en dan bring ek
U my offers dag ná dag.

Psalm 62

Psalm 62

1.  Gewis, my siel is stil tot God!
My redding kom op sy gebod,
geen vyand hoef ek nou te dug nie.
Hy is my rots, 'n skans vir my,
Hy sal my voetstap ook dán lei
wanneer ek nêrens meer kan vlug nie.

2.  Hoe lank, o wreedaards, soek jul dan
die onheil nog van so 'n man,
'n enige wat diep in nood is?
teen hom soos teen 'n muur wat hang,
'n klipmuur wat al omgestoot is?

3.  Hul soek om van sy hoë plek,
deur God bepaal, hom neer te trek.
Hul het in leuentaal behae.
Hul mond is seën, liefde, guns,
maar in hul hart - die leuenkuns,
met ywersug en vloek en plae.

4.  Maar jy, my siel, swyg stil voor God,
beskikker van jou lewe en lot,
wat nooit sy woord ontrou sal wees nie.
God is my rots, 'n skans vir my,
Hy sal my voetstap veilig lei,
ek hoef geen wankeling te vrees nie.

5.  In God is al my heil, my eer,
my sterke rots en teëweer.
God is my toevlug in die lewe.
Vertrou op Hom, o volk, in smart
stort voor Hom uit jul hele hart,
God is 'n skuilplek, hoog verhewe.

6.  Hoe nietig is die mensekind;
ook hy wat roem en aansien vind
is enkel waan, 'n skimverskyning.
Saam in die weegskaal opgeweeg
is hulle niks nie, nietig, leeg,
'n môrewolk in sy verdwyning.

7.  Vertrou nie op geroofde geld,
tirannemag of handgeweld,
of op die vastheid van jou gang nie.
As rykdom jou sy vreug berei,
jou met sy skynsel wil verlei,
laat dan jou hart nie daaraan hang nie.

8.  'n Godspraak ruis my in die oor.
Twee woorde het ek toe gehoor:
"By God alleen is sterkte en kragte!"
"Ook is by U die goedheid, HEER!
Dus is daar vir die sterfling weer
vergelding na sy werk te wagte.

Psalm 63

Psalm 63

1.  My God, wat tog my lewe is,
hoe smag my hart as 'k U moet mis!
Ek soek U, HEER, terwyl ek kwyn
in sielsverlatenheid en pyn.
Ek smag soos alles hier om my
waar 'k swerf in wilde woesteny,
'n dor en uitgedroogde land
waarop die son se vlamme brand.

2.  Ek het voorheen, in stille wag,
U in u heiligdom betrag,
waar U in glans, aanbidd'lik skoon,
en alvermoënd sit ten troon.
Want bo ons lewe in kommernis,
wat sonder U geen lewe is,
skat ek u grote goedheid, HEER,
waarvoor my mond U dankend eer.

3.  Ek wil U prys my lewe lank,
my hande ophef en U dank.
Want, soos met vettigheid, sal weer
my siel versadig word, o HEER!
My mond sal jubelend U noem,
my lippe hoog u weldaad roem
wanneer die aarde in nag versink -
dan sal ek peinsend aan U dink.

4.  U was, o God, 'n hulp vir my.
U het u vleuels uitgesprei
om met beskerming my te dek
en jubels in my hart te wek.
O God, só met my lot begaan,
hoe kleef my siel U agteraan!
Vertrouensvol op U geleun,
voel 'k hoe u hand my ondersteun.

5.  Maar wie my op die pad laat swerf
en rust'loos soek na my verderf -
hul stort in hul verdelgingsdrang
self in die kuil van ondergang;
en, weggedryf uit vaste stee,
word hul die slagswaard oorgegee,
om op die velde neergestort,
vir wilde diere 'n prooi te word.

6.  Maar ek is in die HERE bly
met almal wat sy Naam bely;
ons roem, daar Hy die boosheid stuit
en streng die leuenmonde sluit.

Psalm 64

Psalm 64

1.  O God, verhoor nou my gebed
wanneer ek smeek en roep, en red
my van die mens wat my belaag
en met sy skrik my wil verjaag!

2.  Verberg my vir die sluwe raad
en wilde woeling vn wie kwaad
teen my versin. Hul tonge smee
hul spits soos swaarde, skerp van snee.

3.  Soos pyle lê hul woorde reg;
soos pyle vlieg hul skielik weg,
om heim'lik uit 'n skuilgewes
opregtes in die siel te kwes.

4.  'n Fyn beraamde plan is klaar;
gespan het hul èn strik èn snaar.
Die mens, in sondelus verward -
hoe diep, hoe grond'loos is sy hart!

5.  Maar God se pyl lê ook al klaar,
en - skielik is hul wonde daar.
Hul éie tong verklaag hul al;
geheime kragte bring hul val.

6.  Al wie dit aansien, skud die hoof;
hul vrees en moet Gods werke loof
as hul aanskou èn nou èn weer
hoe God dit àl tot glorie keer.

7.  Regverdiges sal bly van gees
en vrolik in die HERE wees;
hul sal, daar Hy die wag wil hou,
met roemtaal op die HEER vertrou.

Psalm 65

Psalm 65

1.  Na bange tyd van somerdroogte
is daar die uitkoms weer!
Nou pas dit ons op Sionshoogte
U lof te sing, o HEER!
Nou sal hul aankom uit die stamme;
geloftes word betaal,
die offerdier rook in die vlamme,
uit verste veld en kraal.

2.  Dis waar, 'n donker skuldverlede
leef in ons heugenis;
maar al ons ongeregtighede
word deur U uitgewis.
Welsalig wie in skuld verlore,
versoeningswoord hoor ruis;
vir wie U uitkies, lank tevore,
'n woonplek in u huis.

3.  Ons sal ons in u huis versadig
met hoogste gunsbewys:
met heil'ge goed wat U milddadig
laat stroom uit u paleis.
U antwoord ons in reddingsdade:
gedug is U in mag
Ons prys die blyk van u genade;
die vyand toon ontsag.

4.  U is tot in die verste lande,
oor velde grenseloos,
tot by die allerverste strande
die mens se hoop en troos.
Die berge 't U van oue tye
gegrondves deur u mag;
U is omring van alle sye
met wonderbare krag.

5.  U demp die bruising van die bare
in donker storme-weer;
die woeling van die volkeskare
lê U met een woord neer.
U almag ken geen paal of perke,
geen grens het u gesag; 
die verste volk vrees vir u werke
as tekens van u mag.

6.  U laat die uitgang van die morge
en van die awend juig;
en wil dat ons vir al u sorge
ootmoedig dank betuig.
Die land besoek U met u seën,
en deur U droog gemaak,
verryk U dit met milde reën
wat tot die wortel raak.

7.  Die stroom van God wat neergestraal het
deur volle hemelsluis;
die voor waarin die graan gedaal het,
waar nou die koring ruis;
die druppels wat die halm verkwik het;
die weekheid van die kluit -
dis alles soos die HEER beskik het,
Hy seën en - dit spruit!

8.  U kroon die jaar met ryke vrugte -
wie kan u seen belet?
U wolkewa trek deur die lugte,
sy spore drup van vet.
Die veld vang nou die reëndruppel,
die weiding bly nie droog;
die heuwels, in hul blydskap, huppel
in groen gewaad omhoog.

9.  Ons sien die kleinvee langs die hange
wat juigend veld toe gaan;
ons hoor omlaag die windgesange
van hooggehalmde graan;
omlaag die dale, omhoog die rante,
ja, alles jubel weer;
dit sing en roem van alle kante
die goedheid van die HEER.

Psalm 66

Psalm 66

1.  Juig, aarde, juig met blye galme,
laat jubels opstyg uit die stof!
Sing tot Gods eer jul dankb're psalme,
en maak Hom heerlik in jul lof.
Sy grootheid ken geen maat of perke,
geen grens is daar vir sy gesag;
die vyand sien met skrik sy werke
en buig hom kruipend voor sy mag.

2.  Die aardryk met sy verste lande
moet biddend voor die HERE buig;
die volke van die verste strande
moet met hul lofstem voor Hom juig.
Kom en aanskou Gods wonderdade,
wat is sy werking hoog gedug.
Smeek Hom, o volke, om genade,
want niemand kan sy hand ontvlug.

3.  Die HEER het deur die woeste seë
en wilde strome 'n pad gebaan;
soos wand'laars op gebaande weë
het Hy sy volk daardeur laat gaan.
Vir ewig heers Hy uit die hoë
en straal sy glans op aarde af;
oor al die volke gaan sy oë
om die oortreders streng te straf.

4.  Laat, aardse volke en wêreldmagte,
vir Isr'els God jul lofsang hoor;
want Hy het nie in lydensnagte
ons voet laat uitgly uit sy spoor.
U het ons in vergange tye,
o HEER, getugtig en bedroef,
en ons gelouter deur die lye
nes silwer deur die vuur beproef.

5.  U het, o HEER, deur vyandshande
ons in die vangnet ingevoer;
U het rondom met enge bande
in diensbaarheid ons ingesnoer;
die oorlogsperd en sy beryder
het ons vertrap; deur vloed en vuur
het ons gegaan - maar ons Bevryder
het sy verkwikking ons gestuur.

6.  Ek sal, verlos uit doodsgevare,
nou dat ek weer kan asemhaal,
my offers bring op u altare
en my geloftes U betaal.
Ek sal laat opgaan in die vlamme
die vetste vee uit veld en wei;
ek sal by rookwerk van die ramme
ook beeste en bokke toeberei.

7.  Kom luister toe, o Godgesinde!
Kom, almal wat die HERE vrees!
Ek sal vertel aan al sy vrinde
wat Hy gedoen het aan my gees.
Ek het geroep, God het geluister
toe alles nag was om my heen;
en voor die lig skyn deur die duister,
was God my lof, net Hy alleen.

8.  Was ek deur ongeregtighede
en hul aanloklikheid bekoor,
dan het die HEER na my gebede
en jammerklagte nie gehoor.
Maar Hom, die kenner van die harte,
was ook my diepste wens bekend;
Hy get gehoor, en in my smarte
die oor na my gebed gewend.

9.  Lof sy Gods goedertierenhede,
sy Naam sy ewig lof en prys!
Hy het gehoor na my gebede,
my onverhoord nooit afgewys.

Psalm 67

Psalm 67

1.  Wees ons, o HEER, wees ons genadig
en seën ons by owervloed;
U aanskyn, laat dié weer weldadig
ons koester met sy liefdegloed;
dat vir verste volke deur ontslote wolke
kennislig kan breek;
nasies met verblyding van die blye tyding
in hul land kan spreek!

2.  Die nasies wat U nou nie prys nie,
hul sal U loof, hul almal saam.
Die volk wat U geen dank bewys nie,
sal sing die grootheid van u Naam.
U, hul loflied waardig, oordeel hul regvaardig,
U wat nasies lei.
Lande vergeleë / juig oor verre seë,
in u goedheid bly.

3.  Die aarde het sy vrug gelewer;
ons sal deur U geseënd wees.
U sal ons seën; U, die Gewer,
sal al wat leef, eerbiedig vrees.

Psalm 68

Psalm 68

1.  Die HEER sal opstaan tot die stryd;
Hy sal sy haters, ver en wyd,
laat wegvlug voor sy oë.
Hoe hoog die mens se trots mag gaan,
hy sal geen oomblik kan bestaan
voor God se alvermoë.
As U, o HEER, in mag verskyn,
sal hul soos rook en damp verdwyn,
deur stormwind voortgedrewe.
Soos was wat smelt voor hitte en vuur,
het almal voor Gods glans geen duur
wat goddelooslik lewe.

2.  Maar al Gods volk, in Hom verheug,
sal opspring in hul sielevreug
en huppel voor sy oë;
sy mag, wat alle mag oortref
en uit verneedring hul verhef,
sal nooit hul val gedoë.
Hef tot Gods eer 'n danklied aan;
verhoog, verhoog voor Hom die baan;
sing, al wat leef, sy ere!
Berei die weg, in Hom weer bly
wat deur die wye vlaktes ry:
sy Naam is HEER der here!

3.  Hoog bo die onreg wat hier woel,
staan God se heil'ge regterstoel,
van waar Hy in ontferming
die weduwees hul reg verskaf,
die wees se onderdrukkers straf
en waak tot hul beskerming.
Wie eensaam is, hom stel Hy in
die volheid van 'n huisgesin.
Hy breek die slawebande
van wie hier in gevang'nis smag;
Maar wie Hom hoon in sy gesag,
dié woon in dorre lande.

4.  O God, toe U uit slawerny
u volk na Kana'n heen wou lei,
om voor u oog te huppel,
het onweer hul vooruitgestreef,
die aarde het gesidderbeef,
die hemel het gedruppel.
Selfs Sinaï se ruwe top
skrik uit sy vaste eeuslaap op,
voor Isr'els God aan bewe.
En toe u erfdeel mat was, HEER,
stuur U die reëndruppels neer
wat dit weer laat herlewe.

5.  U kudde, HEER, het daar gewoon;
U was die land, so vrugbaar-skoon,
'n vriend'like Beskermer;
U het ellendiges die land
laat erwe deur u goeie hand,
o Israels Ontfermer!
Ja, daar was ryke juigenstof,
om God se wonders en sy lof
met jubelsang te melde.
Die lofsang van 'n vrouekoor
klink al die stryders in die oor
en ruis oor berg en velde.

6.  Die koninge, hoeseer gedug,
het voor die onweer weggevlug
wat U teen hul verwek het.
Die manne kom terug met buit;
die vrouens deel die roofskat uit
asof hul meegetrek het.
Maar straal daar vrede op Isr'el neer,
dan skitter hy in luister weer,
tot nuwe skoon herbore -
net soos die duif met silwerwit,
en goud wat op sy vere sit
by helder sonneglore.

7.  Laat Basans hemelhoë rots
hom ophef in sy yd'le trots
met al sy bulte en berge;
wat spring jul, berge, rug aan rug,
geweldig in die hoë lug
om Sions kruin te terge?
God self het hierdie berg begeer,
om daar in lig, in glans en eer,
volmaakter, skoner, witter
as sonneglans en sonneskoon
vir ewig by sy volk te woon
en voor hul oog te skitter.

8.  Gods eng'lemagte bo die swerk
het, tien en tien maal duisend sterk,
slagvaardig uitgeswewe;
by hulle is sy majesteit
'n Sinaï in heiligheid,
deur bliksemlig omgewe.
U het omhoog gevaar vol eer;
die kerker was u buit, o HEER,
en gawes u beloning
wat neerdaal op die mensekind;
selfs wie opstandig is, dié vind
by U, o HEER, 'n woning.

9.  Geloofd sy God met diep ontsag,
want Hy oorlaai ons dag aan dag
met ryke seëninge.
Wie sou Hom dan nie dank bewys,
die God van saligheid nie prys,
met al die hemelinge?
Dié God van volle saligheid
versterk ons in die dag van stryd
en dra ons deur die lewe.
Hy kan en wil en sal in nood,
selfs as ons sidder vir die dood,
volkome uitkoms gewe.

10.  Gewis, hoe hoog die nood mag gaan,
God sal die vyandskop verslaan,
die skedel so doemskuldig
wat God se heiligheid wou tart,
en daar hy in die kwaad volhard,
sy skuld vermenigvuldig.
Die HEER het self ons toegeseg:
"Ek sal deur mag en wyse oorleg
uit Basan jul vergader;
wanneer jul deur die diepte tree,
dan sal geen golfslag van die see
jul veil'ge voetstap nader.

11.  "Dan sal jul uit die ballingskap
weer bly oor jul verdrukkers stap
op die bebloede velde;
jul honde sal die bloedplas lek
wanneer God weer sy ywer wek
om onreg te vergelde."
O grote God, gedugte HEER,
U gange is vol roem en eer
in Isr'els heiligdomme.
Die sangers gaan die spelers voor,
en rondom juig 'n blye koor:
die maagde met die tromme.

12.  Loof God in sy gemeente alom,
o volk, uit Jakob voortgekom,
die eerste stammevader.
Hoe vrolik gaan na Sions top
die stamme uit hul wonings op
om voor Gods troon te nader!
Die kleinste, Benjamin, is daar,
'n vors weleer; en Juda's skaar
met al die leeuestryders;
ook Sébulon en Naftali
wat vir geen vyand sidder nie -
van ouds die volksbevryders.

13.  Ons prys U, HEER, in sang en lied.
U het u sterkte ons gebied
toe 't nag was, lank gelede;
U het gehoor na ons gebed,
U het ons roemryk uitgered -
o hoor nou weer ons bede!
Dan pas die vorste tot u eer
en om u huis ontwil, o HEER,
eerbiedig op u wenke.
Hul sal U dan van alle kant,
selfs uit die allerverste land,
vereer met hul geskenke.

14.  Omgord U, HERE. tot die kryg
teen hom wat soos 'n ondier dreig
met al die oorlogsbendes -
die volk wat stukke silwer bring
net soos 'n onderworpeling,
maar loer op ons ellendes.
Gewis, ons sien hul al verstrooi
wat hunker na die oorlogsprooi.
Maar uit die pragpaleise
van Nylgebied en Moreland
kom manne wat tot God die hand
sal strek met eerbewyse.

15.  O Koninkryke, sing Gods lof!
Laat psalme oprys uit die stof -
dis God wat uitgetrek het!
Hy ry, bekleed met eer en mag,
hoog deur die hemel van sy krag
wat Hy met storms bedek het.
Die donderstemme, swaargedug,
verkondig in die hoë lug
sy mag voor al die volke.
Gee sterkte aan God - sy hoogheid is
oor Israel, sy erfenis;
sy mag is in die wolke.

16.  Hoe vreeslik is U, HEER, alom
uit u verhewe heiligdom,
omring deur sterkte en ere!
Dis Isr'els God wat wonders werk
en wat sy volk met krag versterk:
U loof ons, HEER der here!

Psalm 69

Psalm 69

1.  Help my, o God, want ek vergaan!
Ek het in modder ingegly 
waar daar geen staanplek is vir my;
en oor my storm die waters aan.
Ek roep my hees, my oog versmag,
waar ek vergeefs op U bly wag.

2.  Meer as die som wat ek kan tel,
en meer as my geringe krag,
vermeerder hul in tal en mag
wat my, onskuldig, neer wil vel.
Hul laat my sonder oorsaak boet.
Dit jaag en storm deur my gemoed!

3.  Voor U alleen wil 'k skuld bely.
My dwaasheid, ag, die klaag my aan.
Maar laat om my beskaamd nooit staan
wie op U wag. U weet ek ly
en dra my smaad geduldig-stil
om U, o HEER, om U ontwil!

4.  Ook my geslag verwerp my, want
'n ywer vir u huis en eer -
dit het my soos 'n vuur verteer
en in my soos 'n vlam gebrand;
smaadwoorde sonder maat of tal
het, HEER, om U op my geval.

5.  Ek kwel my siel met vas en ween,
maar dit het my tot smaad geword;
met sakkleed het ek my omgord,
maar is 'n spot vir iedereen.
Die praters praat op straat van my,
en dronkaards sing hul lied daarby.

6.  Maar my gebed is tot U, HEER!
Daar is 'n tyd dat U verhoor:
in grote goedheid, neig u oor,
en deur u trou, verlos my weer.
Verlos my uit die modderpoel
en waterstroom wat om my spoel.

7.  Wil, HEER, die waters om my stuit,
laat nie die dieptes my verslind;
die put waarin ek my bevind,
laat hom sy mond nie bo my sluit.
Verhoor my, want u guns is goed,
u medelye 'n owervloed.

8.  Aanskou my in barmhartigheid:
dit is vir my benoud en nou.
Verhoor my, HEER, verhoor my gou,
en maak dit om my heen weer wyd.
Die skande en smaad wat my onteer,
my vyand self, U ken hul, HEER.

9.  Die smaad het my die hart gebreek;
ek beef en wag op medely;
maar tevergeefs, geen troos vir my.
Hoe ek al mom erbarming smeek,
gal het hul my as spys gegee;
asyn - hul les my dors daarmee.

10.  Hul tafel - maak dit tot 'n strik:
dat hul hul ondergang daar vind!
Slaan met u straal hul oë blind,
en laat hul heupe altyd swik!
Stort grimmigheid oor hulle uit,
'n toornvuur wat hul vaart sal stuit!

11.  Maak van hul laer 'n woesteny,
want hul belaster en verjaag
wie deur u smartwond is geplaag.
Vergroot hul skuld, spreek hul nooit vry;
wil uit u Boek hul naam uitwis
waarin u volk geskrywe is.

12.  Al is ek, HEER, in pyn en nood,
u hulp sal soos 'n skild verrys!
Daarvoor bring ek U lof en prys,
ek maak U in my danklied groot.
Dit sal die HERE allermees
as offer welgevallig wees.

13.  Sagmoediges sal dit aanskou
en bly wees as hul dit beleef.
Laat dié wat hul tot God begeef, 
herleef, met frisse krag bedou.
God hoor hul wat behoeftig is
en kwyn in die gevangenis.

14.  Laat aarde en hemel Hom dan prys,
die see en al wat dit deursweef!
Want God sal Sion laat herleef,
en Juda's stede sal herrys.
Dan vind Gods volk 'n erfdeel weer
en wonings wie sy Naam vereer.

Psalm 70

Psalm 70

1.  O God, my Hulp in nood, help nou!
O HEER, my Redder, maak tog gou!
Maak hul beskaamd wat my verdruk
en hunker na my ongeluk.
Laat hulle wyk na agter om
en haastig in die skande kom;
laat hul met skaamte rugwaarts gaan
wat met hul smaad teenoor my staan.

2.  Maar laat u volk, van sorge vry,
in U weer vrolik wees en bly,
en uitroep by hul heilgenot:
"Hoe groot, hoe wondergroot is God!"
Maar in ellende roep ek luid:
"My God, ag haas U, help my uit!"
U is my hulp, o HEER, by wie
ek bystand soek. Vertoef tog nie!

Psalm 71

Psalm 71

1.  Op U alleen, my Rotssteen bou ek.
Laat my dan nimmermeer
in smaad verval, o HEER!
Op u geregtigheid vertrou ek.
Verhoor my, red my lewe;
dis aan U oorgegewe!

2.  Wees my 'n rotssteen hoog verhewe,
hoog teen 'n bergwand aan,
waar 'k altyd in kan gaan.
U het beveel dat ek sal lewe;
en 'k leef, o grote Ontfermer,
my Toevlug en Beskermer!

3.  Ruk my tog uit die wrede kloue
van hul wat onreg werk,
geweld'naars my te sterk.
U is die God van my betroue
vanaf my eerste skrede
en jonkheids ver verlede.

4.  Ek het gesteun op u vermoë;
van moeders liggaam aan
het U my bygestaan.
Daarom loof ek u mededoë;
my loflied tot u ere
sal nie verstom, o HERE!

5.  'n Wonder vir wie my aanskou het,
was ek, want inderdaad
was U my toeverlaat
oor wie ek roem, op wie 'k vertrou het.
My loflied tot u eie
sal nie verstom, o HERE!

6.  As haas my lewensdag gedaan is
en skemering daal neer -
verlaat my dan nie, HEER!
Versterk die krag wat al vergaan is,
dat met die aardse lewe
u hulp my nie begewe.

7.  My haters loer nou op my lewe,
die vyand hoor ek praat;
tesame hou hul raad:
"Sy God, sy vriend, het hom begewe;
vervolg, gryp aan, beset hom,
want niemand help of red hom!"

8.  My God, wees tog nie ver van my nie;
kom haastig na my aan 
dat hul beskaamd kan staan!
Betoon aan hul geen medely nie,
en laat hul skendershande
hul wikkel in hul skande.

9.  Ek voel my sterk, aan U verbonde;
my mond vind tot u lof
gedurig ruimer stof.
U redding meld ek elke stonde;
al kan ek dit nie skat nie,
besyfer of bevat nie.

10.  Nou kom ek aan met forse skrede,
my lof is sonder maat,
vir u verlossingsdaad.
Ek meld van jeugtyd en verlede -
hoe U my, onervare,
gelei het al my jare.

11.  Ek soek, o God, aan U verbonde,
u hulp, nou ouderdom
en grysheid oor my kom.
Verlaat my nie; gun tyd en stonde;
Dan stel 'k u magsvermoë
Aan kind en kroos voor oë.

12.  Ek roem, o God, u alvermoë,
'k roem u geregtigheid,
wat uitstraal ver en wyd
en heerlik skitter uit die hoë.
Wie is soos U, o HERE,
So groot in mag en ere.

13.  U het my baie teëspoede
laat sien; maar U sal my
weer van die dood bevry,
my ophaal uit die watervloede.
My grootheid - maak dit meer,
En troos U my, o HEER!

14.  Ek sing 'n lofsang by my snare,
'n lied van troos en trou
waarin 'k u lof ontvou,
o Heilige by Isr'els skare!
Ek roep, tot vreug herbore:
"Verlos, en nie verlore!"

15.  Ek meld teenoor hul onheilsplanne,
My vyande ten spyt
Steeds u geregtigheid.
Daar stuit hul nou, die onregsmanne,
Op eie kronkelweë,
Verlate en verleë.

Psalm 72

Psalm 72

1.  Gee aan die Koning, HEER, u regte
en u geregtigheid
aan Koningskind, dat Hy u knegte
kan rig met wys beleid.
Dan vind u volk weer 'n beskermer,
een wat hul saak besleg,
ellendiges weer 'n ontfermer
wat oordeel volgens reg.

2.  O saalge ryk waar enkel vrede
oor berge en heuwels sweef;
die Vors na Gods geregtighede
sal heers oor wat daar leef;
waar Hy in strenge strafgedinge,
sy swaard die skede ontruk,
die arme ophef en geringe,
maar neerslaan wie verdruk.

3.  So lank die son se flonkervure
'n lig by dag sal wees,
die maan 'n lamp by donker ure -
so lank sal hul Hom vrees.
Hy sal so mild wees so die reën
wat neerdaal op die gras;
soos druppels wat met volle seën
besproei die veldgewas.

4.  Dan kom die tyd van welbehae,
wanneer die vrede bloei;
regverdiges sal in sy dae
in volle wasdom groei.
Van see tot see - geen grensomlyning,
orals gebied sy staf,
totdat die maan, die bleek verskyning,
val van die hemel af.

5.  Hul kniel, uit lande vergeleë;
sy vyand lek die stof;
en Tarsis voer, oor verre seë,
geskenke na sy hof.
Die konings van die verste strande
bring almal gifte mee;
en Skeba, met die ver weg lande,
stuur goud en vredesbee.

6.  Ek sien al vorste, ryk en magtig,
wat buigend voor Hom staan,
en al die nasies wat eendragtig
Hom dien as onderdaan.
Want Hy sal die verstotelinge,
die wat geen helper het -
die stilverloorne en geringe -
sal Hy verhoor en red.

7.  Hul roep: dit is vir Hom die tyding:
sy arm is al gereed;
vir hul is daar by Hom bevryding
uit alle nood en leed,
Dreig daar geweld van alle sye,
al gaan dit nog so hoog,
hul bloed, hul trane en hul lye
is dierbaar in sy oog.

8.  Mag Hy, die Koning, altyd lewe!
Mag hul uit Skeba goud
met onbekrompe hand Hom gewe
met heilbee duisendvoud.
Mag koring, selfs langs hoë hange
van berge uitgesaai,
soos Libanon laat hoor sy sange
wanneer die bergwind waar

9.  Mag die bewoners van die stede
daar's geen ellende meer -
soos plante groei by volle vrede
en sing die Vors se eer.
Mag nooit sy Naam en grootheid kwyn nie
dit is 'n voorspoedsuur! -
geen sonneglans so helder skyn nie
of langer wees van duur!

10.  Laat al die volke uit wydste kringe
aan Hom hul dank bewys
vir matelose seëninge,
en Hom gelukkig prys.
Klim op, my lof, na hoër sfere!
Van bowe kom die seen;
want Isr'els God - aan Hom die ere! -
doen wonder, Hy alleen.

11.  Sy Naam, bo alle naam verhewe,
sy uit eerbiedenis
die volle roem en eer gegewe
so lank daar wêreld is!
En laat so ver die sonlig bewe,
so ver die sonpyl skiet,
sy heerlikheid die aarde oorswewe!
En "Amen" sê my lied!

Psalm 73

Psalm 73

1.  Voorwaar, God is vir Isr'el goed,
vir wie opreg is van gemoed.
Gods weg kan nooit so donker wees nie,
dat Hy nie sorg vir wie Hom vrees nie.
Maar ag, hoewel my siel dit weet,
tog het my voet haas in my leed
gewankel, en dit was vir my
so donker dat my voet wou gly.

2.  Ek het gepeins, diep in my hart
in lewensraaisels lank verward,
toe 'k moes aanskou met lede oë
hoe boosaards aangroei in vermoë.
Hul is gesond en lewe lank,
maar ander word van kwellings krank;
op hulle rus geen ongeluk,
maar ander slyt hul lewe in druk.

3.  Net soos 'n snoer van edelsteen
swaai trotsheid om hul nekke heen;
en hul geweld en gruweldade 
bedek hul lyf soos praalgewade.
Hul oë puil van vet na voor,
inbeeldings van hul hart loop oor.
Hul spot, verdruk, en in hul oog
is net hulself, geen ander hoog.

4.  Hul spot, en van hul spotterny
raak ook die hemel self nie vry,
terwyl hul tong om aarde wandel
en grootspraak voeg by bose handel.
Daarom draai sondaars na hul heen,
met hul in misdaad lotgemeen,
en roem: Sou ons die Heer moet vrees?
Sou daar by Hom dan kennis wees?

5.  Die trotsaards leef gerus en bly,
in rykdom, onbesorg en vry.
Vergeefs dat ek so opgepas het,
my hande in onskuld rein gewas het!
Dit help my nie: ek word geslaan,
die plae oorstroom my, af en aan;
en nooit was daar 'n môre of
my klaagsang kry weer nuwe stof.

6.  Maar nee, al wil my hart ook breek,
my mond mag só oor God nie spreek:
dan sou 'k verraai wie ek bemin het,
Gods volk met wie 'k die stryd begin het.
Nogtans het ek weer nagedink,
weer in die raaisel ingesink,
maat 't was net moeite in my oog,
vir my bevatting gans te hoog.

7.  Maar nou, hoe anders is dit my!
Gods heiligdomme ingelei,
straal my 'n ander ligglans teë;
ek sien hul end... dis gladde weë
waarop die HEER die voet laat gaan
van boosaards wat Hom trots weerstaan.
Hul wankel al om neer te stort -
'n bouwerk wat 'n puinhoop word.

8.  Hoe swak en onvas dat hul staan!
Hoe gou dat hul te gronde gaan!
Hoe nietig is hul weelde en vrede!
Hoe huiwer skrik deur al hul lede!
As U, o HEER, die vonnis stryk,
dan moet hul soos 'n droombeeld wyk
wat, in die slaap wel skoon van skyn,
by die ontwaking plots verdwyn.

9.  Hoe voel ek nou my sondesmart!
Toe ek, verbitterd in my hart,
in eie warnet ingewikkel,
diep in my niere was geprikkel,
was ek voor U, o wyse God,
in al my woorde dwaas, 'n sot.
Ek was, vir alle wysheid sku,
net soos 'n domme dier by U.

10.  Nogtans sal 'k altyd by U bly;
niks sal my van u liefde skei -
U wat my regterhand gevat het,
vir wie 'k van harte liefgehad het.
U sal my voortlei deur u raad,
O God, my Hulp, my Toeverlaat,
en na die dag van aardse stryd,
my opneem in u heerlikheid.

11.  Wie het ek in die hemel, HEER -
wie kan ek newens U begeer?
Wat het ek waar my hart, onrustig,
hom op die aarde in kan verlustig?
Beswyk dan ooit in bittersmart
of bange nood my vlees en hart,
dan sal U wees vir my gemoed
my rots, my deel, my eewge goed.

12.  Wie ver van U sy weg wil gaan,
stap op 'n donker afgrond aan.
U roei hul uit wat U gesmaad het,
in troueloosheid U verlaat het.
Maar dis my goed, my saalge lot,
as ek naby is by my God.
Ek het my hoop op God gestel
om al sy werke te vertel.

Psalm 74

Psalm 74

1.  Waarom, o God, vind ons geen medely?
Waarom verdryf u toorn ons altyd verder
Ons is u kudde, U die kuddeherder
wat deur u hand ons uit en in wou lei.

2.  Dink aan u volk, aan u gemeente weer,
wat U voorheen as gunsvolk uitgelei het,
die stam wat U as erfdeel toe verkry het
aan Sions berg, u woonplek van weleer.

3.  Hef op u voete na die eewge puin!
Dit is u heiligdom wat neergestort het,
van plunderaars geheel 'n prooi geword het!
Hoog rys hul vaandel nou op Sions kruin.

4.  Hul hamers het die houtwerk neergeslaan;
hul byle het geswaai, gekap, gekerwe,
hul ruwe hand die tempelskoon bederwe,
verdelgingsvuur oor alles heen laat gaan.

5.  U heiligdom is deur die vuur geskend;
niks kon sy glans teen hul geweld beveilig.
Die pronkpaleis, u woning, is ontheilig,
tot puin en as het hul dit omgewend.

6.  Hul het gesê:"Laat ons met ruwe hand
hul almal saam verdruk deur strafgerigte."
Hul ruwe vuis het al die Godsgestigte,
u Naam tot hoon, verbrysel en verbrand.

7.  Ons sien geen tekens in die donker uur
van u verbond, en daar s geen profete
wat ons meer troos of bring die dieper wete
hoe lank ons druk en hartseer nog moet duur.

8.  Hoe lank, o God, sal nog die teenparty
ons smaad en tart? Sal dan in ewighede
u Naam beskimp word in sy lasterrede?
Wat toef U nog en trek u hand tersy?

9.  Strek uit u hand, die regterhand so sterk,
vernietig hul, die skenders van u woning!
U is, o God, van ouds af tog my Koning,
U wat op aard' verlossingswonders werk.

10.  Mag die ontwaak, u hand, en hul verstrooi -
U wat voorheen in stormsee al die drake,
seemonsters, Leviatans ope kake
oorweldig het, die roofgediert' ten prooi.

11.  U guns, o HEER, was oor ons van omhoog,
't sy U fonteine uit 'n rots laat spring het,
of waters, wat uit dieptes saamgedring het,
'n volle stroom, deur U is uitgedroog.

12.  Aan U behoort die son wat ons bestraal,
die sterrenag is maaksel van u hande,
die see wat spoel langs vasgestelde strande;
die jaarseisoen het U vir ons bepaal.

13.  Gedenk hieraan, o God van grote krag:
Vermeetle tonge het u Naam gelaster;
die vyand, van u vrees en diens verbaster, 
het U geterg, gehoon in u gesag.

14.  Gee aan gediert' wat om ons roof en skeur,
die lewe van u tortelduif nie oor nie;
laat dit nie wees asof U ons nie hoor nie,
asof U ons vergeet het altyddeur.

15.  Ons is omring deur skrik en duisterheid:
uit donker plekke loer die onheilsmagte.
Maar bo ons skyn die helder sterrewagte
van u verbond, waarop ons voor U pleit.

16.  Mag ons, o HEER, u bystand maar erlang!
Maak ons in ons gebedsroem nie verleë.
Staan op, o God, en stap u vyand teë,
sodat ons U kan grootmaak in gesang.

17.  Vergeet nie, HEER, die onverdraag'bre hoon,
die spotgeroep van al u teenpartyders,
rumoerigheid van al u magsbestryders,
wat tartend opstyg na u hemeltroon.

 

Psalm 75

Psalm 75

1.  U alleen, U loof ons bly -
ja, ons jubel tot u eer!
Want u Naam is, troue HEER,
vir u volk tot troos naby.
Daarom roem ons in ons land
al die wonders van u hand.

2.  Al vertoef Ek, spreek die HEER;
al gaan jare langsaam om -
eind'lik sal my regsdag kom,
en dan daal my oordeel neer.
Wat ook wankel - deur my hand
bly die aarde in vaste stand.

3.  Laat die rasers dan nie raas;
laat geen goddelose kop
hef die hoë horings op -
in verwaandheid opgeblaas.
Want God sal die horing tref,
en die mond wat hom verhef.

4.  Die verlossing, roem en eer
kom nie uit woestyne ver,
nie uit oos of weste her;
want die Regter is die HEER.
Hy sit bo die hemelboog -
Hy verneder en verhoog.

5.  In Gods hand 'n beker blink;
en die druppels skuim en spring
uit die bitter mengeling
waar die sondaars van moet drink;
ja, die goddelose mond
suig die droesem tot die grond.

6.  God van Jakob, lof en prys
sing ek ewig tot u eer!
Hoë horings werp ek neer
wat teen U het opgerys.
Maar ons horing, swaar getref,
word deur God weer opgehef.