III. Dankbaarheid (Sondag 32-52)

Die derde deel: die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is (Sondag 32-52)

Sondag 32

SONDAG 32

86.  Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?

Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d).

    (a)Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.
 

87.  Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).

    (a)1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14.
 

Sondag 33

SONDAG 33

88.  Vraag: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?

Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (a).

    (a)Rom 6:1, 4-6; Ef4:22-24; Kol 3:5, 6, 8-10; 1 Kor 5:7; 2 Kor 7:10.
 

89.  Vraag: Wat is die afsterwing van die ou mens?

Antwoord: Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug (a).

    (a)Rom 8:13; Joël 2:13; Hos 6:1.
 

90.  Vraag: Wat is die opstanding van die nuwe mens?

Antwoord: Dit is 'n hartlike vreugde in God deur Christus (a) en 'n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe (b).

    (a)Rom 5:1; 14:17; Jes 57:15. (b) Rom 6:10, 11; Gal 2:20.
 

91.  Vraag: Wat is goeie werke?

Antwoord: Slegs die wat uit 'n ware geloof (a), volgens die Wet van God (b), tot sy eer gedoen word (c), en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie (d).

    (a)Rom 14:23. (b) Lev 18:4; 1 Sam 15:22; Ef 2:10. (c) 1 Kor 10:31. (d) Eseg 20:18, 19; Jes 29:13; Matt 15:7-9.

Sondag 34-44 Die Wet

DIE WET (SONDAG 34-44)

SONDAG 34

92.  Vraag: Hoe lui die Wet van die Here?

Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.

Die eerste gebod
Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

Die tweede gebod
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder die aarde is of van wat in die water onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en nie dien nie, want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en die vierde geslag van die wat My haat. En Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.

Die derde gebod
Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

Die vierde gebod
Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die Here, dan mag jy geen werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Hy die sabbatdag geseën en dit geheilig.

Die vyfde gebod
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.

Die sesde gebod
Jy mag nie doodslaan nie.

Die sewende gebod
Jy mag nie egbreek nie.

Die agste gebod
Jy mag nie steel nie.

Die negende gebod
Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste spreek nie.

Die tiende gebod
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg, of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
 

93.  Vraag: Hoe word hierdie gebooie ingedeel?

Antwoord: In twee tafels (a), waarvan die eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor God moet gedra, die tweede in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is (b).

    (a)Deut 4:13; Eks 34:28; Deut 10:3, 4. (b) Matt 22:37, 40.
 

94.  Vraag: Wat gebied God in die eerste gebod?

Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery (a), towery, waarsêery, bygeloof (b), aanroeping van heiliges of ander skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken (d), Hom alleen vertrou (e), my slegs aan Hom met alle nederigheid (f) en geduld onderwerp (g) en van Hom alleen alle goeie dinge (h) verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê (i), vrees (j) en eer (k). Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel (1).

    (a)1 Joh 5:21; 1 Kor 6:10; 10:7, 14. (b) Lev 19:31 Deut 18:9, 10, (c) Matt 4:10; Op 19:10; 22:8, 9. (d) Joh 17:3. (e) Jer 17:5, 7. (f) 1 Pet 5:5. (g) Heb 10:36; Kol l:11; Rom 5:3, 4; I Kor 10:10; Fil 2:14. (h) Ps 104:27; Jes 45:7; Jak 1:17. (i) Deut 6:5; Matt 22:37. (j) Deut 6:2; Ps 111:10; Spr 1:7; 9:10; Matt 10:28. (k) Matt 4:10; Deut 10:20. (1) Matt 5:29; 10:37; Hand 5:29.
 

95.  Vraag: Wat is afgodery?

Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel (a).

    (a)Ef 5:5; 1 Kron 16:26; Fil 3:19; Gal 4:8; Ef 2:12; 1 Joh 2:23; 2 Joh 9; Joh 5:23.
 

 

SONDAG 35

96.  Vraag: Wat eis God in die tweede gebod?

Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).

    (a)Jes 40:18, 19, 25; Deut 4:15, 16; Rom 1:23; Hand 17:29. (b) 1 Sam 15:23; Deut 12:30; Matt 15:9.
 

97.  Vraag: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?

Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).

    (a)Jes 40:25. (b) Eks 34:17; 23:24; 34:13; Num 33:52.
 

98.  Vraag: Mag ons beelde as "boeke van die leke" in die kerkgebou toelaat?

Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).

    (a)Jer 10:8; Heb 2:18. (b) Rom 10:14, 15, 17; 2 Pet 1:19; 2 Tim 3:16, 17.
 

 

SONDAG 36

99.  Vraag: Wat eis die derde gebod?

Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur 'n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).

    (a)Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps 50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim 6:1.
 

100.  Vraag: Is dit dan so 'n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie?

Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).

    (a)Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
 

 

SONDAG 37

101.  Vraag: Mag 'n mens ook godvresend by die Naam van God 'n eed sweer?

Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik (b).

    (a)Deut 6:13; 10:20; Jes 48:1; Heb 6:16. (b) Gen 21:24; 31:53; Jos 9:15; 1 Sam 24:23; 2 Sam 3:35; 1 Kon 1:29; Rom 1:9; 9:1; 2 Kor 1:23.
 

102.  Vraag: Mag 'n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?

Antwoord: Nee, want om 'n regte eed te sweer, beteken dat ek God aanroep as die enigste kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer (a). Hierdie eer kom geen skepsel toe nie (b).

    (a)2 Kor l:23; Rom 9:1. (b) Matt 5:34-36; Jak 5:12.
 

 

SONDAG 38

103.  Vraag: Wat gebied God in die vierde gebod?

Antwoord: God wil Ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g).

    (a)Tit 1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2 Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11; 68:27; Hand 2:42. (c) 1 Tim 4:13;1 Kor 14:29. (d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim 2:1; 1 Kor:l4:l6. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes 66:23.
 

 

SONDAG 39

104.  Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?

Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).

    (a)Ef 6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22; Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks 21:17; Rom 13:1. (b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet 2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol 3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21.
 

 

SONDAG 40

105.  Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?

Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).

    (a)Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
 

106.  Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?

Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku.. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).

    (a)Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
 

107.  Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?

Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).

    (a)Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
 

 

SONDAG 41

108.  Vraag: Wat leer die sewende gebod ons?

Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d).

    (a)Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.
 

109.  Vraag: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?

Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, 'n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat 'n mens daartoe kan verlei (c).

    (a)Ef 5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.
 

 

SONDAG 42

110.  Vraag: Wat verbied God in die agste gebod?

Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of 'n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, (d), geld, deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy gawes (g).

    (a)1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1. (c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d) Spr 11:1; 16:11; Eseg 45:9, 10; Deut 25:13. (e) Ps 15:5; Luk 6:35. (f) 1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21; 21:20.
 

111.  Vraag: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?

Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil he dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).

    (a)Matt 7:12. (b) Ef 4:28.
 

 

SONDAG 43

112.  Vraag: Wat eis die negende gebod?

Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie 'n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d). Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).

    (a)Spr 19:5, 9; 21:28. (b) Ps 15:3; 50:19, 20. (c) Rom 1:30. (d) Matt 7:1; Luk 6:37. (e) Joh 8:44. (f) Spr 12:22; 13:5. (g) 1 Kor 13:6; Ef 4:25. (h) 1 Pet 4:8.
 

 

SONDAG 44

113.  Vraag: Wat eis die tiende gebod van ons?

Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en 'n begeerte tot alle geregtigheid hê (a).

    (a)Rom 7:7.
 

114.  Vraag: Maar kan die wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?

Antwoord: Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar 'n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid (a), maar tog so dat hulle met 'n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe (b).

    (a)1 Joh 1:8; Rom 7:14, 15; Pred 7:20; 1 Kor 13:9. (b) Rom 7:22; Ps 1:2.
 

115.  Vraag: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?

Antwoord: Ten eerste sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken (a), en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek (b). Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik (c).

    (a)Rom 3:20; 1 Joh 1:9; Ps 32:5. (b) Matt 5:6; Rom 7:24, 25. (c) 1 Kor 9:24; Fil 3:12-14.

Sondag 45-51 Die Gebed

DIE GEBED (SONDAG 45-52)

SONDAG 45

116.  Vraag: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?

Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a): En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (b).

    (a)Ps 50:14. (b) Matt 7:7; Luk 11:9, 13; 1 Tess 5:17.
 

117.  Vraag: Hoe moet 'n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?

Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het (a), van harte aanroep (b) vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid (c). Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken (d) sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig (e). Ten derde het ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g) soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het (h).

    (a)Op 19:10; Joh 4:22-24. (b) Rom 8:26; 1 Joh 5:14; Jak 1:5. (c) Joh 4:24; Ps 145:18. (d) 2 Kron 20:12. (e) Ps 2:11; 34:19; Jes 66:2. (f) Rom 10:14; Jak 1:6. (g) Joh 14:13;16:23; Dan 9:18. (h) Matt 7:8; Ps 27:8.
 

118.  Vraag: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?

Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het, in die gebed wat Hy self aan ons geleer het (a).

    (a) Jak 1:17; Matt 6:33.
 

119.  Vraag: Hoe lui hierdie gebed?

Antwoord: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

    (a)Matt 6:9-13; Luk 11:2-4.
 

 

SONDAG 46

120.  Vraag: Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?

Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dit moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het, en dat Hy ons veel minder dit wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders aardse dinge ons ontsê (a).

    (a)Matt 7:9-11; Luk 11:11-13.
 

121.  Vraag: Waarom word hier bygevoeg: wat in die hemel is?

Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie (a) en van sy almag alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het (b).

    (a)Jer 23:23, 24; Hand 17:24, 25, 27. (b) Rom 10:12.
 

 

SONDAG 47

122.  Vraag: Wat is die eerste bede?

Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg ken (a) en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter (b). Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word (c).

    (a)Joh 17:3; Jer 9:24; 31:33, 34; Matt 16:17; Jak 1:5; Ps 119:105. (b) Ps 119:137; Luk 1:46, 47, 68, 69; Rom 11:33. (c) Ps 71:8;115:1.
 

 

SONDAG 48

123.  Vraag: Wat is die tweede bede?

Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e).

    (a)Ps 143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps 51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom 16:20. (d) Op 22:20; Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor 15:28.
 

 

SONDAG 49

124.  Vraag: Wat is die derde bede?

Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee (a) om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees (b), sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer (c) soos die engele in die hemel (d).

    (a)Matt 16:24; Tit 2:11, 12. (b) Luk 22:42; Ef 5:10; Rom 12:2. (c) 1 Kor 7:24. (d) Ps 103:20, 21.
 

 

SONDAG 50

125.  Vraag: Wat is die vierde bede?

Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is (a), sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is (b), en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie (c). Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel (d).

    (a)Ps 145:15; 104:27; Matt 6:26. (b) Jak 1:17; Hand 14:17; 17:27. (c) 1 Kor 15:58; Deut 8:3; Ps 37:16; 127:1, 2. (d) Ps 55:23; 62:11; 146:3; Jer 17:5, 7.
 

 

SONDAG 51

126.  Vraag: Wat is die vyfde bede?

Antwoord: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Dit is: Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie (a). Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe (b).

    (a)Ps 51:3; 143:2; 1 Joh 2:1; Rom 8:1. (b) Matt 6:14
 

 

SONDAG 52

127.  Vraag: Wat is die sesde bede?

Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die wêreld (c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk (e) nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal (f).

    (a)Joh 15:5; Ps 103:14. (b) 1 Pet 5:8; Ef 6:12. (c) Joh 15:19. (d) Rom 7:23; Gal 5:17. (e) Matt 26:41; Mark 13:33. (f) 1 Tess 3:13; 5:23.
 

128.  Vraag: Hoe sluit jy jou gebed af?

Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee (a) sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word (b).

    (a)Rom 10:12; 2 Pet 2:9. (b) Joh 14:13; Jer 33:8, 9; Ps 115:1.
 

129.  Vraag: Wat beteken die woord Amen?

Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer (a).

    (a)2 Kor 1:20; 2 Tim 2:13.