II. Verlossing (Sondag 5-31)

Die tweede deel: Die verlossing van die mens (Sondag 5-31)

Sondag 5

12.  Vraag: Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?

Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word (a). Daarom moet ons òf deur onsself òf deur 'n ander ten volle betaal (b).

    (a)Gen 2:27; Eks 23:7; Eseg 18:4; Matt 5:26; 2 Tess 1:6; Luk 16:2. (b) Rom 8:4.
 

13.  Vraag: Kan ons deur onsself betaal?

Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter (a).

    (a)Job 9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3; Matt 6:12; 18:25; 16:26.
 

14.  Vraag: Kan enige ander skepsel vir ons betaal?

Antwoord: Nee, want Ten eerste wil God aan geen ander skepsel die skuld straf wat die mens gemaak het nie (a). Ten tweede kan geen gewone skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie (b).

    (a)Eseg 18:4; Gen 3:17. (b) Nah 1:6; Ps 130:3.
 

15.  Vraag: Hoe 'n middelaar en verlosser moet ons dan soek?

Antwoord: So een wat 'n ware (a) en regverdige (b) mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is (c).

    (a)1 Kor 15:21: (b) Heb 7:26. (c) Jes 7:14; 9:5; Jer 23:6; Luk 11:22.

Sondag 6

SONDAG 6

16.  Vraag: Waarom moet hy 'n ware en regverdige mens wees?

Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie (b).

    (a)Eseg 18:4, 20; Rom 5:18; 1 Kor 15:21; Heb 2:14-16. (b) Heb2:26, 27; Ps 49:8; 1 Pet 3:18.
 

17.  Vraag: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?

Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van God (b) aan sy mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee (d).

    (a)Jes 9:5; 63:3; (b) Deut 4:24; Nah 1:6; Ps 130:3. (c) Jes 53:4, 11; (d) Jes 53:5, 11.
 

18.  Vraag: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens is (c)?

Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het (e).

    (a)1 Joh 5:20; Rom 9:5; 8:3; Gal 4:4; Jes 9:6; Jer 23:6; Mal 3:1: (b) Luk 1:42; 2:6, 7; Rom 1:3; 9:5; Fil 2:7; Heb 2:14, 16, 17; 4:15. (c) Jes 53:9, 11; Jer 23:5; Luk 1:35; Joh 8:46; Heb 4:15; 7:26; 1 Pet 1:19; 2:22, 3:18. (d) l Tim 2:5; Matt 1:23; 1 Tim 3:16; Luk 2:11; Heb 2:9..(e) 1 Kor 1:30.
 

19.  Vraag: Waaruit weet jy dit?

Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld; (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (e).

    (a)Gen 3:15: (b) Gen 22:18; 12:3; 49:10. (c) Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6, 22, 23; Jer 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41, Miga 7:18-20; Hand 10:43; 3:22-24; Rom 1:2; Heb 1:1. (d) Heb 10:1, 7; Kol 2:7; Joh 5:46. (e) Rom 10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17.

Sondag 7

20.  Vraag: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

Antwoord: Nee; (a); maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem (b).

    (a)Matt 7:14; 22:14. (b) Mark 16:16; Joh 1:12; 3:16, 18, 36; Jes 53:11; Ps 2:12; Rom 11:20; 3:22; Heb 4:3; 5:9; 10:39; 11:6.
 

21.  Vraag: Wat is 'n ware geloof?

Antwoord: 'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.

    (a)Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21; 10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal 5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef 2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44; 16:14. (e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:10, 38; Gal 2:16.
 

22.  Vraag: Wat moet 'n Christen glo?

Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

    (a)Joh 20:31; Matt 28:19; Mark 1:15.
 

23.  Vraag: Hoe lui die artikels?

Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10) die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en 'n ewige lewe.

Sondag 8

24.  Vraag: Hoe word hierdie artikels ingedeel?

Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
 

25.  Vraag: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees (a)?

Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.

    (a)Deut 6:4; Ef 4:6; Jes 44:6; 45:5; 1 Kor 8:4, 6. (b) Jes 61:1; Luk 4:18; Gen 1:2, 3; Ps 33:6; Jes 48:16; Matt 3:16, 17; 28:19; 1 Joh 5:7; Jes 6:1, 3; Joh 14:26; 15:26; 2 Kor 13:13; Gal 4:6; Ef 2:l8; Tit 3:5, 6.

Sondag 9 - GOD DIE VADER EN ONS SKEPPING

26.  Vraag: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en ook as 'n getroue Vader wil doen (g).

    (a)Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Heb 1:3; Ps 104:27-30; 115:3; Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33; 7:9-11.
 

Sondag 10

27.  Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

    (a)Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.
 

28.  Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

    (a)Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.

Sondag 11 - GOD DIE SEUN EN ONS VERLOSSING

29.  Vraag: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).

(a)Matt 1:21; Heb 7:25. (b) Hand 4:12; Joh 15:4, 5; 1 Tim 2:5; Jes 43:11; 1 Joh 5:11.
 

30.  Vraag: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?

Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a). Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie 'n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).

(a)1 Kor 1:13, 30, 31; Gal 5:4..(b) Heb 12:2; Jes 9:6; Kol 1:19, 20; 2:10; 1 Joh 1:7.

Sondag 12

31.  Vraag: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).

    (a)Ps 45:8; Heb 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18. (b) Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37; Jes 55:4. (c) Joh 1:18; 15:15. (d) Ps 110:4. (e) Heb 10:12, 14; 9:12, 14, 28. (f) Rom 8:34; Heb 9:24; 1 Joh 2:1; Rom 5:9, l0. (g) Ps 2:6; Sag 9:9; Matt 1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.

32.  Vraag: Waarom word jy 'n Christen genoem (a)?

Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).

    (a)Hand 11:26. (b) 1 Kor 6:15. (c) 1 Joh 2:27; Hand 2:17. (d) Matt 10:32; Rom 10:10. (e) Rom I2:1; 1 Pet 2:5, 9; Op 1:6; 5:8, 10. (f) 1 Pet 2:11; Rom 6:12, 13;. Gal 5:16, 17; Ef 6:11; 1 Tim 1:18, 19. (g) 2 Tim 2:12; Matt 25:34.

Sondag 13

33.  Vraag: Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem terwyl ons tog ook kinders van God is?

Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is (a), terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is (b).

    (a)Joh 1:14; Heb 1:1, 2; Joh 3:16;1 Joh 4:9; Rom. 8:32. (b) Rom 8:16; Joh 1:12; Gal 4:6; Ef 1:5, 6.
 

34.  Vraag: Waarom noem jy Hom ons Here?

Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).

    (a)1 Pet 1:18, 19; 2:9; 1 Kor 6:20; 1 Tim 2:6; Joh 20:28.

Sondag 14

SONDAG 14

35.  Vraag: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?

Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is (a) en bly (b), die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria (c) deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het (d). So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid (e), in alles aan sy broers gelyk (f), behalwe die sonde (g).

    (a)1 Joh 5:20; Joh l:l; 17:3; Rom 1:3, Kol 1:15. (b) Rom 9:5. (c) Gal 4:4; Luk 1:31, 42, 43. (d) Matt 1:20; Luk 1:35. (e) Rom 1:3; Ps 132:11; 2 Sam 7:12; Luk 1:32; Hand 2:30. (f) Fil 2:7; Heb 2:14, 17. (g) Heb 4:15.
 

36.  Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).

    (a)Heb 7:26, 27. (b) 1 Pet 1:18, 19; 3:18; 1 Kor 1:30, 31; Rom 8:3, 4; Jes 53:11; Ps 32:1.

Sondag 15

SONDAG 15

37.  Vraag: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?

Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het (a). So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf (d).

    (a)Jes 53:4; 1 Pet 2:24; 3:18; 1 Tim 2:6. (b) Jes 53:10; Ef 5:2; 1 Kor 5:7; 1 Joh 2:2; Rom 3:25; Heb 9:28; 10:14. (c) Gal 3:13; Kol 1:13; Heb 9:12; 1 Pet 1:18, 19. (d) Rom 3:25; 2 Kor 5:21; Joh 3:16; 6:51; Heb 9:15; 10:19.
 

38.  Vraag: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?

Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word (a) en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom (b).

    (a)Joh 18:38; Matt 27:24; Luk 23:14, 15; Joh 19:4. (b) Ps 69:5; Jes 53:4, 5; 2 Kor 5:21; Gal 3:13.
 

39.  Vraag: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf het nie?

Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het (a), omdat die kruisdood deur God vervloek is (b).

    (a)Gal 3:13. (b) Deut 21:23.

Sondag 16

SONDAG 16

40.  Vraag: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?

Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).

    (a)Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.
 

41.  Vraag: Waarom is Hy begrawe?

Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).

    (a)Hand 13:29; Matt 27:59, 60; Luk 23:53; Joh 19:38.
 

42.  Vraag: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?

Antwoord: Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).

    (a)Mark 8:37; Ps 49:8. (b) Fil 1:23; Joh 5:24; Rom 7:24.
 

43.  Vraag: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?

Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c).

    (a)Rom 6:6. (b) Rom 6:6, 12. (c) Rom 12:1.
 

44.  Vraag: Waarom volg daar: en neergedaal het na die hel?

Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely.het.

    (a)Jes 53:5. (b) Ps 18:5, 6; 116:3; Matt 26:38; 27:46 Heb 5:7
 

Sondag 17

SONDAG 17

45.  Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Ten derde is die opstanding van Christus vir ons n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

    (a)Rom 4:25; 1 Pet 1:3; 1 Kor 15:16. (b) Rom 6:4; Kol 3:1, 5; Ef2:5, 6. (c) 1 Kor 15:20, 21.

Sondag 18

SONDAG 18

46.  Vraag: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?

Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem (a) en Hy is vir ons daar ten goede (b) totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het (c).

    (a)Hand 1:9; Mark 16:19; Luk 24:51: (b) Heb 9:24; 4:14; Rom 8:34; Kol 3:1. (c) Hand 1:11; Matt 24:30.
 

47.  Vraag: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?

Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie (c).

    (a)Matt 28:20. (b) Heb 8:4; Matt 26:11; Joh 16:28; 17:11; Hand 3:21. (c) Joh 14:18; Matt 28:20.
 

48.  Vraag: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

    (a)Jer 23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh 3:13; 11:15; Matt 28:6.
 

49.  Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).

    (a)1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.

Sondag 19

SONDAG 19

50.  Vraag: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan regterhand van God?

Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy Christelike kerk (a) kan betoon, deur wie die Vader alles regeer (b).

    (a)Ef 1:20-23; Kol 1:18. (b) Matt 28:18; Joh 5:22.
 

51.  Vraag: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort (a). Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar (b).

    (a)Hand 2:33; Ef4:8. (b) Ps 2:9; 110:1, 2; Joh 10:28: Ef 4:8.
 

52.  Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?

Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).

    (a)Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt 25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.

Sondag 20-22 GOD DIE HEILIGE GEES EN ONS HEILIGMAKING

GOD DIE HEILIGE GEES EN ONS HEILIGMAKING (SONDAG 20-22)

SONDAG 20

53.  Vraag: Wat glo jy van die Heilige Gees?

Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (a). Ten tweede is Hy ook aan my gegee (b) sodat Hy my deur 'n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, (c) my troos (d) en ewig by my bly (e).

    (a)1 Joh 5:7; Gen 1:2; Jes 48:16;1 Kor 3:16; 6:19; Hand 5:3, 4. (b) Gal 4:6; Matt 28:19, 20; 2 Kor 1:22 ; Ef 1:13. (c) Gal 3:14;1 Pet 1:2;1 Kor 6:17. (d) Joh 15:26; Hand 9:31. (e) Joh 14:16;1 Pet 4:14.
 

 

SONDAG 21

54.  Vraag: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).

    (a)Ef 5:26; Joh 10:11; Hand 20:28; Ef 4:11-13. (b) Gen 26:4; Op 5:9. (c) Rom 8:29; Ef 1:10-13. (d) Jes 59:21; Rom 1:16; 10:14-l7; Ef 5:26. (e) Hand 2:42, Ef4:3-5. (f) Ps 71:17, 18; Jes 59:21; 1 Kor 11:26. (g) Matt 16:18; Joh 10:28-30; Ps 129:1-5. (h) 1 Joh 3:I4, 19-21; 2 Kor 13:5; Rom 8:l0. (i) Ps 23:6; 1 Kor 1:8, 9; Joh 10:28; 1 Joh 2:19; 1 Pet 1:5.
 

55.  Vraag: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a). Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).

    (a)1 Joh 1:3; Rom 8:32; 1 Kor 12:12, I3; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12:21; 13:1, 5; Fil 2:4-8.
 

56.  Vraag: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?

Antwoord:. Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer (a) wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie (c).

    (a)1 Joh 2:2; 1:7; 2 Kor 5:19. (b) Rom 7:23-25; Jer 31:34; Miga 7:19; Ps 103:3, 10, 12. (c) Joh 3:18; 5:24.
 

 

SONDAG 22

57.  Vraag: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

    (a)Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.
 

58.  Vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit - 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys (b).

    (a)2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.
 

Sondag 23

SONDAG 23

59.  Vraag: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?

Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is (a).

    (a)Hab 2:4; Rom 1:17; Joh 3:36.
 

60.  Vraag: Hoe is jy regverdig voor God?

Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b) en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart (j) aanneem.

    (a)Rom 3:21, 22, 24; 5:1, 2; Gal 2:16; Ef 2:8, 9; Fil 3:9. (b) Rom 3:9. (c) Rom 7:23. (d) Rom 4:4; 2 Kor 5:19. (e) Tit 3:5; Deut 9:6; Eseg 36:22. (f) Rom 3:24; Ef 2:8. (g) 1 Joh 2:2. (h) 1 Joh 2:1. (i) 2 Kor 5:21. (j) Rom 3:22; Joh 3:18.
 

61.  Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?

Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).

    (a)1 Kor 1:30; 2:2. (b) 1 Joh 5:10.

Sondag 24

SONDAG 24

62.  Vraag: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie?

Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem (a) en omdat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is (b).

    (a)Gal 3:10; Deut 27:26: (b) Jes 64:6.
 

63.  Vraag: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon?

Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee (a).

    (a)Luk 17:10.
 

64.  Vraag: Maar maak hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie?

Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie (a).

    (a)Matt 7:18; Joh 15:5.

Sondag 25-30 Die Heilige Sakramente

DIE HEILIGE SAKRAMENTE (SONDAG 25-30)

SONDAG 25

65.  Vraag: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan?

Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente (b).

    (a)Ef 2:8; 6:23; Joh 3:5; Filp 1:29. (b) Matt 28:19; 1 Pet 1:22-23.
 

66. Vraag: Wat is sakramente?

Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God vanweë die enige offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit genade skenk (a).

    (a)Gen 17:11; Rom 4:11; Deut 30:6; Lev 6:25; Heb 9:7-9, 24; Eseg 20:12; Jes 6:6, 7; 54:9.
 

67.  Vraag : Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus wat aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?

Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons volbring is (a).

    (a)Rom 6:3; Gal 3:27.
 

68.  Vraag: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?

Antwoord: Twee, naamlik die heilige doop en die heilige nagmaal.


 

 

DIE HEILIGE DOOP (SONDAG 26-27)

SONDAG 26

69.  Vraag: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Antwoord: So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). Daarby het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c) as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.

    (a)Matt 28:19. (b) Matt 28:19; Mark 16:16; Hand 2:38; Joh 1:33; Matt 3:11; Rom 6:3, 4. (c) 1 Pet 3:21; Mark 1:4; Luk 3:3.
 

70.  Vraag: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?

Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).

    (a)Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33; 3:5; 1 Kor 6:11; 12:13; Rom 6:4; Kol 2:12.
 

71.  Vraag: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?

Antwoord: Met die instelling van die doop wat soos volg lui: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees..." (Matt 28:19); en: "Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word" (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem (Tit 3:5; Hand 22:16).


 

 

SONDAG 27

72.  Vraag: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?

Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b).

    (a)Matt 3:11; 1 Pet 3:21; Ef 5:26. (b) 1 Joh 1:7; 1 Kor 6:11.
 

73.  Vraag: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?

Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.


74.  Vraag: Moet die jong kinders ook gedoop word?

Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c), beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is (f).

    (a)Gen 17:7. (b) Matt 19:14. (c) Luk 1:15; Ps 22:11; Jes 44:1-3; Hand 2:39. (d) Hand 10:.47. (e) Gen 17:14. (f) Kol 2:11-I3.
 

 

DIE HEILIGE NAGMAAL VAN ONS HERE (SONDAG 28-30)

SONDAG 28

75.  Vraag: Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?

Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof (a), Ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.

    (a)Matt 26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19, 20; 1 Kor 10:16, 17; 11:23-25; 12:13.
 

76.  Vraag: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?

Antwoord: Dit beteken nie slegs om met 'n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is (c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees - soos die ledemate van die liggaam deur een siel - ewig lewe en geregeer word (e).

    (a)Joh 6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Joh 6:55, 56. (c) Ef 5:29, 30; 3:16; 1 Kor 6:15; 1 Joh 3:24; 4:13. (d) Kol 3:1; Hand 3:21; 1 Kor 11:26. (e) Joh 6:57; 15:1-6; Ef4:l5, l6.
 

77.  Vraag: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?

Antwoord: By die instelling van die nagmaal wat soos volg lui (a): "In die nag waarin Hy verraai is, het die Here Jesus brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: `Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete met die woorde: Hierdie beker is die nuwe vtestament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle van hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom" (1 Kor 11:23-26). Hierdie belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: "Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood" (1 Kor 10:16, 17).

    (a)Matt 26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19, 20.
 

 

SONDAG 29

78.  Vraag: Verander die brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?

Antwoord: (a) Nee, maar soos die water by die doop nie in die bloed van Christus verander of die afwassing van sonde self is nie, maar slegs 'n Goddelike teken en versekering daarvan (b), so verander die brood by die nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie (c). Ooreenkomstig die aard en gebruik van die sakramente word die brood egter die liggaam van Christus genoem (d).

    (a)Matt 26:29. (b) Ef 5:26; Tit 3:5. (c) 1 Kor 10:16; 11:26. (d) Gen 17:10, 11; Eks 12:11, 13; 13:9; 1 Pet 3:21; 1 Kor 10:3, 4.
 

79.  Vraag: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus?

Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat, soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe (a). Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang (b). Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle betaal het.

    (a)Joh 6:55. (b) 1 Kor 10:16.
 

 

SONDAG 30

80.  Vraag: Wat is die onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?

Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring het (a), en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word (b), wat nou na sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader (c) is en daar deur ons aanbid wil word (d). Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe daarin aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as 'n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus en 'n afgodery wat vervloek is (e).

    (a)Heb 10:10, 12; 7:26, 27; 9:12, 25; Joh 19:30; Matt 26:28; Luk 22:19. (b) 1 Kor 10:16, 17; 6:17. (c) Joh 20:17; Kol 3:1; Heb 1:3; 8:1. (d) Matt 6:20, 21; Joh 4:21; Luk 24:52; Hand 7:55; Kol 3:1; Fil 3:20; 1 Tess 1:10. (e) Heb 9:26;10:12, 14.
 

81.  Vraag: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?

Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes 'n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink 'n veroordeling oor hulleself (a).

    (a)1 Kor 11:28; 10:19-22.
 

82.  Vraag: Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?

Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.

    (a)1 Kor 11:20, 34; Jes 1:11; 66:3; Jer 7:21; Ps 50:16.

Sondag 31: Die Kerklike Tug

DIE KERKLIKE TUG (SONDAG 31)

SONDAG 31

83.  Vraag: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.
 

84.  Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

    (a)Joh 20:21-23; Matt 16:19.
 

85.  Vraag: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).

    (a)Matt 18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor 2:6-8.