Sb 7

Skrifberyming 7

1.  Wie het gelowig hart en oor
geneig om na Gods Woord te hoor?
Die arm van God, aan wie en waar
is dit in krag geopenbaar?
Hy tog, die swakke loot, het uit
'n dorsland voor Hom opgespruit,
en prag of heerlikheid vir wie
Hom aansien, had die spruitjie nie.

2.  Hoe sou ons Hom dan kon begeer?...
Hy was verlate, ongeëer,
vir almal net 'n smarteman,
die lydensnaar altyd gespan.
Vir Hom, deur wreedste smart geterg,
het ons die aangesig verberg;
en in die ruwe lydensnag
het ons Hom in sy leed verag.

3.  Hy het die lyde op Hom geneem,
wat nou ons hart van Hom vervreem;
en al die smarte wat ons pla,
het Hy gewilliglik gedra.
Maar ons het in sy ongeluk
gesien die hand van God wat druk,
wat, om sy lyde te verskerp,
Hom altyd dieper neer wou werp.

4.  Die misstap wat ons voet begaan,
die misdaad deur ons hand gedaan,
die straf uit swaarste regsgeding,
wat ons die volle vrede bring,
die wonde wat ons wonde heel -
dit alles was sy lydensdeel.
Ja, al die kwaad deur ons gedaan,
het God die HEER oor Hom laat gaan.

5.  Terwyl ons op die dwaalweg gaan,
storm al ons sondes op Hom aan;
maar Hy 't mishandel, neergebuk,
sy mond nie oopgemaak in druk.
'n Lam, ter slagting heengelei,
so stil en stemmeloos was Hy,
en soos 'n skaap voor wie hom skeer,
so stil en sonder teëweer.

6.  Uit druk en strafgerig bevry,
merk niemand dit met medely
dat Hy van mense weggestoot
en prysgegee is aan die dood.
My volk se sonde het op Hom
as sware smartplaag neergekom,
en hul het Hom 'n grafstee by
die goddelose toeberei.

7.  En Hy, van aardse goed ontbloot,
was by 'n ryke in sy dood;
want Hy 't geen onreg ooit gedaan, '
geen leu'n het uit sy mond gegaan.
Dit het die Here self behaag
Hom te verbrysel. Toe sy plaag
die diepste lydensgrond genaak,
het God sy kneg doodkrank gemaak.

8.  Het eers sy offerbloed gevloei,
dan sal vir Hom 'n nakroos bloei,
en eeu-omvattend bring sy hand
Gods werk voorspoediglik tot stand.
Hy sal, vir al sy sielsverdriet,
sy werk aanskou en vol geniet,
en deur sy suiwer kennislig
regverdig maak en vryheid stig.

9.  Dan kom 'n leërskaar hierna
vir wie Hy al die skuld wou dra;
en aan Hom word met grotes mee,
met magtiges 'n deel gegee,
omdat sy siel in lydensnood
vol uitgestort is in die dood,
en Hy, deur smaadheid diep gekwel,
by die oortreders is gestel.

10.  Hy het gedra die sondelas
wat op sy hart gebonde was,
en het - 'n lydenswonder dit! -
vir hul behoudenis gebid.