Skrifberyming 42

Skrifberyming 42

1.  Ek wat die sewe Geeste stuur
uit wie die lewensvonke spat,
en wat die sewe sterre omvat
wat skitter in die donker uur -
Ek ken jou werke, maar dis skyn,
die lewe 't uit jou weggekwyn.

2.  Word wakker uit die sluimerdood!
Jou dade is nie opreg en waar,
jou wese troebel, gans onklaar,
voor God lê al jou werke bloot!
Word wakker uit jou slaap en red
wat haas geen lewensasem het!

3.  My Woord was helder soos kristal,
jou bruidstyd fris soos môredou.
En hoe is dit verdonkerd nou!
Bewaar die skatte, of Ek sal
net soos 'n dief kom, onverwag,
jou opskrik in die oordeelsnag.

4.  Maar daar is enkele (hoe min!)
wat nie hul kleed besoedel het.
Hul sal Ek uit die oordeel red,
en hul sal met My wandel in
'n wit gewaad en reinheidsgeur,
omdat Ek hul dit waardig keur.

5.  Oorwinnaars sien 'k in wit kledy,
en in die lewensboek hul naam,
wat Ek voor al die eng'le saam
en voor my Vader sal bely. -
Al wie 'n hart het en 'n oor,
laat hy die Gees se roepstem hoor.