Sb 4

Skrifberyming 4

1.  En daar was by Betlehem
in die stilte van die nag
herders in die vrye veld
by hul skape op die wag,
toe 'n engel van omhoog
skielik neerdaal voor hul oog.

2.  Voor die heerlikheid van God
het die donker nag moes swig,
maar die herders het gevrees
vir die wonderbare lig
wat met hemelse gestraal
skielik oor die velde daal.

3.  Maar die engel het geroep:
"Moenie skrik nie, moenie vrees,
want ek boodskap vreugde wat
vir die hele volk sal wees."
"Die Verlosser", juig sy stem,
"is gebore in Betlehem."

4.  "Hy, die Heer en Christus, lê
- dis die teken van die Kind -
rustig in die voerkrip neer
en in doeke toegebind."
En toe klink 'n lofsang daar
van 'n ganse engelskaar:

5.  "Eer aan God, die hoogste Heer!"
ruis dit uit 'n stemmesee.
"Vrede op aarde, vrede weer!"
En die donker nag ruis mee.
"Welbehae, eind'loos groot,
in die mens, Gods gunsgenoot!"

6.  Toe die engele weer gaan
na die hemel, hoog en klaar,
en dit stil was op die veld,
sê die herders vir mekaar:
"Laat ons gaan en sien die saak
deur die Heer bekend gemaak!"

7.  En die herders het gegaan;
en hul het die Wonderkind
in die voerkrip toegedek
by die moedermaagd gevind,
en hul het in blye taal
van die Wonderkind verhaal.

8.  Almal was verwonderd oor
wat die herders openbaar;
maar Maria het die woord
peinsend in haar hart bewaar.
En hul stem het God geprys
vir sy woord en gunsbewys.