Skrifberyming 37

Skrifberyming 37

1.  Toe sien ek soos 'n see van glas,
deurstraal met geel-rooi vlammelig.
En die oorwinnaars van die dier -
hul wat nie voor sy mag wou swig -
het langs die see van glas gestaan,
en daar was siters in hul hand.
Hul het gesing soos Israel
gesing het aan die Skelfseestrand.

2.  Die lied van Moses, kneg van God,
het hul tot eer van God gesing,
en aan die Lam, vir hul geslag,
oorwinnaarshulde toegebring:
"Hoe groot en wonderbaar, o Heer,
hoe billik, reg en almagsterk,
hoe waar en trou, o Koning van
die heiliges is al u werk!

3.  "Wie sal, o Regter, U nie vrees,
u Naam nie in die reine sfeer,
na so 'n storm en oordeelswerk,
met sange van oorwinning eer?
U's heilig, Heer: die nasies kom
om U die hoogste eer te gee;
want nou het u regverdigheid
grootglansend aan die dag getree."