Skrifberyming 33

Skrifberyming 33

1.  Wat 'n liefde en volheidslewe,
waar ons bly ons in beroem,
het die Vader ons gegewe
dat Hy ons sy kinders noem!
Maar die wêreld weet van dié
wat uit God gebore is, nie,
het die kennis van die Heer nie
as hul hoogste goed begeer nie.

2.  Wat die Heer nog meer vervul het,
bly verborge; tot die stond
al die wonders ons onthul het
van die eewge vree-verbond.
Ja, wanneer die Here kom,
dan word ons gelyk aan Hom,
want ons sal in klare omlyning
Hom aanskou in sy verskyning.

3.  Wie die Midd'laar se verskyning
inwag uit die heiligdom,
soek van harte die verreining
wat daar uit sy sterwe kom.
Teen die sonde duur die stryd:
"Sonde is ongeregtigheid!
Maar ons lewe uit God gebore,
is tot heilig-wees verkore!