Sb 12

Skrifberyming 12

1.  'n Eng'lestem het ek hoor juig,
wat aanswel uit die hemel aan:
"Nou moet voor God die Here buig
die magte teen Hom opgestaan:
want heil en krag en heerskappy
het God nou skitt'rend aan laat lig,
en Christus - so 'n glans het Hy
dat Satan blind daarvoor moes swig.

2.  Nou sal die duiwel nimmermeer
kan opstyg uit die diepte omlaag,
nou sal hy hier ook nimmer weer
Gods uitverkoornes kan verklaag.
Vors Migael - die tyd was ryp
dat hy tot kragdaad aangegord,
die Satan in sy vuis sou gryp
en in die afgrond neer sou stort.

3.  Die Lam wat hul laat triomfeer
sy bloed het hul gedek as skild
en al die pyle afgeweer.
En hul getuig'nis, nooit gestild,
dit was hul wapen in die stryd.
Hul het hul lewe as hoogste skat,
in mart'laarskap en dure tyd,
tot in die dood nie liefgehad.

4.  Kom, jubel dan op hoë toon,
o heemle, sing jul vreugde-psalm!
Laat al wie in die hoogte woon,
sy vertes met hul lied deurgalm!...
Bewoners van die aarde en see,
die duiwel 't op jul neergestort.
En daarom klaag ons oor jul: Wee!
Hy 's woedend, want sy tyd is kort.