Sb 11

Skrifberyming 11

1.  Die laagte deur waar die olywe staan,
het hul met Jesus na die berg gegaan;
en daar het Hy, in stilte ongestoord,
tot hul gespreek sy laaste lewenswoord:

2.  "Jul wat so na die Godsryk al verlang,
sal nou die kragte van die Gees ontvang,
en oor die wydtes dan van land en see
uit nuwe krag van My getuig'nis gee."

3.  En toe het Hy, terwyl hul na Hom staar,
geruisloos opgestyg en weggevaar.
'n Digte waas het Hom geheel oordek,
'n wolk het Hom sag aan hul oog onttrek.

4.  Terwyl hul smagtend na die hemel kyk
en Jesus altyd verder van hul wyk,
het daar twee manne in wit gewaad kom staan,
die spreek hul met 'n hemelboodskap aan:

5.  "O manne, nou vereensaamd en alleen,
wat staan en staar jul na die hemel heen?
Die Jesus wat gevaar het na omhoog,
sal net so kom, verheerlik voor die oog."

6.  En van die berg waar die olywe staan,
het hul met blydskap na die stad gegaan.