Psalm 98

Psalm 98

1.  Sing nuwe lof aan God die HERE, 
die God wat wonders het gedaan;
sy regterhand, vol sterkte en ere,
sy heil'ge arm bring redding aan.
Hy het sy heil en alvermoë
die volkere alom gemeld;
geregtigheid blink voor hul oë
soos sonnestrale oor berg en veld.

2.  Hy het gedink aan sy genade,
sy trou aan Isr'el nooit gekrenk;
dit slaan die wêreldeindes gade
nou onse God sy heil ons skenk.
Juig voor die HEER met blye galme,
o ganse aarde, juig van vreug!
Meld vrolik in verhewe psalme:
dit is Gods heil wat ons verheug.

3.  Laat by die psalm, in vreug gebore,
jul harp en stem Hom loof en dank;
laat opklink deur jul tempelkore
trompette en basuingeklank!
Laat vreug die HEER se huis deurbewe,
want groot is Isr'els Vors en HEER;
die see en alles wat daar lewe,
die ganse wêreld moet Hom eer!

4.  Laat al die strome nou die hande
in jubel saamklap van omlaag;
laat die gebergtes langs hul wande
die juigtoon altyd verder draag!
Hy kom, die Regter van die volke,
omstraal deur reg en majesteit;
Hy span sy vierskaar in die wolke
en oordeel in regmatigheid.