Psalm 97

Psalm 97

1.  God heers as hoogste HEER;
die aarde moet Hom eer,
en juig, saam met die strande
van afgeleë lande.
Daar's wolkedonkerheid
rondom sy majesteit;
sy rykstroon is gestig
op oordeel en gerig
en op geregtigheid.

2.  'n Vlam van vuurgerig
wat voor sy aangesig
ontbrand aan alle sye,
verteer sy teenpartye.
Sy skerpe bliksemspeer
skiet op die aarde neer
en straal na alle kant;
die aardryk sien die brand
en sidder vir die weer.

3.  Wanneer die onweersvuur
wat God het uitgestuur,
daarheen storm, smelt die trotse
gebergtes met hul rotse.
'n Ganse hemelveld,
van skok en skrik ontsteld,
het Gods geregtigheid,
sy eer en majesteit
aan alle volk gemeld.

4.  Beskaamd word alle siel
wat voor die beelde kniel, 
met lofwoord en gebede
gerig tot nietighede.
Hoog bo hul sit die HEER;
Hy's God, en niemand meer!
Hul buig hul, diep en stom,
die ganse godedom,
voor God se grootheid neer.

5.  Maar Sions burg die hoor, 
met Juda's dogterkoor,
en jubel van verblyding,
wanneer die oordeelstyding
oor Juda's berge kom.
Dan swyg die vyand stom,
want God, die hoogste HEER,
Hy sit en - triomfeer
oor lae godedom.

6.  Beminnaars van die HEER,
haat wat sy Naam onteer,
en wandel in sy weë.
Hy is sy volk geneë
en sal in doodsgevaar
sy gunsgenoot bewaar;
Hy red hom van die hand
wat dreig van alle kant,
van die geweldenaar.

7.  Gods vriend'like aangesig
straal vrolikheid en lig
deur duisternis en smarte
vir alle opregte harte.
Regverdiges, wees bly!
En sing 'n lied daarby!
Verheug u in die HEER!
Lofsing sy Naam tot eer,
Hy's hoog en heilig, Hy!